Zuid-Afrika
Stamnuus uit Suid-Afrika.
Die betrekkings tussen Nederland en Suid-Afrika tree nou beslis 'n nuwe tydperk tegemoet. Die wedersydse belangstelling wat daar altyd tussen die twee stamlande aanwesig was, uit ideële en kulturele dryfvere, staan op die punt om oor te slaan in vrugbare samewerking ook op stoflike gebied. Skeepvaart, nywerheid en handel is onmisbaar vir die handhawing en versterking van die goeie verstandhouding wat uit die gevoel van geestelike saamhorigheid spruit.
Suid-Afrika het nou 'n Nasionale Regering wat nie slegs na Engeland wil en sal kyk nie, maar in belang van land en volk ook die oog na andere wêrelddele sal rig en vir sy betrekkings op die vasteland van Europa veral Holland as steunpunt sal beskou. Die aanstelling van 'n Handelskommissaris in Rotterdam is deur die vorige regering gedaan op die onvermoeide aandrang van dié manne wat nou aan die bewind gekom het. Hulle eie werk sal hulle dus nie afbreek nie, maar uitbrei en verbeter.
Binnekort moet die seeposooreenkoms weer vernuwing ondergaan. Hierby sal deur die nuwe regering alle kante van die saak in belang van Suid-Afrika noukeurig ondersoek word en partydigheid seker geen rol speel nie.
Die ineensmelting van die Hollandse stoomvaartlyne wat op Suid-Afrika vaar, is seker vir ons nouere aanraking nie van belang ontbloot nie. Dit is te hope, dat die verandering in beleid daartoe sal lei, dat die Engelse alleenheerskappy veral wat die aanvoer van Suidafrikaansche vrugte na die Europese markte betref op 'n end sal kom. Dit kan, as in die eerste plek die Hollandse bote hulle koelkamers wil inrig meer in verhouding met die behoeftes van Suid-Afrika en die reis met 'n paar dae verkort.
Dit is noodsaaklik, dat die leidende persoonlikhede van die twee stamlande op watter gebied ook in hierdie gunstige tyd ooreenstemming en samewerking met mekaar naarstiglik soek en vind.
Daar hang veel van af vir ons gesamenlike toekoms.
PHILIP R. BOTHA.