Vooruitgang.
Iedereen wat nog trots is op sy Dietse afkoms en belang stel in die vooruitgang van sy taal en stam, van watter politieke gevoelens hy ook al is, moet verheug wees oor die vooruitgang van 'n eg Afrikanerinstelling as die Nasionale Pers. Hier die maatskappy wat vandag 'n groot aantal nuusblaaie en tydskrifte uitgee en 'n magtige middel geword het vir die verspreiding van Hollandse en Afrikaanse wetenskaplike en kunssinnige leesstof, is in 1915 opgerig op die puinhope van twee Engelse dagblaaie. Die drukgereedskap van die ten onder gegane ‘Transvaal Leader’ het die uitgawe van ‘Die Burger’ moontlik gemaak en die geboue wat pas opgerig was met die oog op die hedendaagse behoeftes van 'n groot dagblad vir die ‘South African News’, kon weens die staking van dié Engelse dagblad gehuur word vir die huisvesting van die Nasionale Pers.
Vir 'n aantal jare was die helfte van die gebou voldoende vir die bedryf van die genoemde Afrikaanse uitgewersaak. Later moes ook die ander helfte gehuur word, en verlede maand het die bestuur besluit om die gebou te koop vir £ 30,000. Die Nasionale Pers is derhalwe nou in volledige en vaste besit van een van die nuuste en geskikste geboue in Suid-Afrika vir die uitoefening van 'n uitgewersbedryf. Dit sal seker die vertroue van alle Afrikaners versterk in die bevoegdheid van hulle volk om ook op die gebied van handel en nywerheid 'n eervolle plek in die land van hulle inwoning in te neem. En wat iedere Groot-Nederlander moet verheug, is, dat hierdie bedryf juis gegrondves is op die kulturele ontwaking en bestaanswil van die Afrikanervolk.
PH.R. BOTHA.