Dit is moontlik dat by sommige Afrikanervriende in Holland die ywer sal verslap as hulle weet dat ‘Hoog Hollands’ vir altyd afgedaan het in Suid-Afrika, en dit was daarom miskien beter politiek om die waan nie te verstoor nie. Miskien! Maar dit sou oneerlik wees. En buitendien leer die ondervinding dat manne as Prof. Pont en Prof. Casimir, wat in Suid-Afrika self die insigte en die wil van die Afrikaanse volk leer ken het, daardeur allermins verkoel is in hulle toewyding aan die Afrikaanse saak.
Dit is natuurlik dat die Hollander - ek gebruik Hollands en Hollander in die betekenis van Noord-Nederlands en Noord-Nederlander - ongaarne afwykinge van die Hollandse standaard teënkom, veral as die afwykinge bewus en opsetlik is. Dit was natuurlik veel mooier as in Suid-Afrika dieselfde vorm van Hollands bestaan het wat in Holland self bestaan. Hoe nouer die taalgemeenskap hoe sterker. Ook uit kommersiële en ekonomiese standpunt was daar alles te sê vir een selfde taalvorm.
Maar as gevolg van die historiese ontwikkeling van eeue bestaan nou eenmaal die verskil in vorm. Mog die Hollander van vandag dit betreur...die Afrikaner het daar nie alleen ‘skuld’ aan nie. Die verskil in vorm het ongetwijfeld al bestaan nog voor die Engelse besetting van die Kaap.
Hoe dit sy, die Afrikaner neem met blymoedige dankbaarheid sy Afrikaanse vorm van die Nederlandse taal aan, en die Hollander doen verstandig om sig daarby neer te lê, ook liefs met blymoedigheid. Want dat Afrikaans ooit vanself terugkom tot Hollands is so onmoontlik as dat water vanself opdraand loop.
Die vergelyking met Vlaams gaan nie op nie. Wel is Hollands, Vlaams en Afrikaans drie verwante vorme van Nederlands, maar die afstand tussen Hollands en Afrikaans is veel groter as die tussen Hollands en Vlaams. Deur die hoogste gesag, die letterkundige fakulteite van die Hollandse hoëskole, is Afrikaans dan ook erken as selfstandige taal.
Wat woordeskat en klanke betref, staan Afrikaans so dig by Hollands, dat 'n boer uit Noord- of Suid-Holland 'n Afrikaanse boer vermoedelik makliker sal verstaan as 'n Groningse of Limburgse. Maar in sommige ander opsigte is die afstand tussen Hollands en Afrikaans groter as tussen Hollands en Duits, selfs wanneer Hollands ontdaan word van sy ouerwetse spellingkleed. ‘Hij heeft een man gezien’ en ‘hy het 'n man gesien’ is wesenlik dieselfde. Dat die Duitser hier moet sê: ‘einEN Mann’ vorm 'n wesenlike verskil. Nog veel groter egter is die verskil tussen ‘ons het 'n man gesien’ teenoor ‘Wij hebbEN een man gezien’ en ‘Wir habEN einEN Mann gesehen’. Wat betref afwykinge van die Germaanse vormleer gaan Afrikaans in die meeste essensiële punte nog verder as Engels, so veral by die tydvorme van die werkwoord. Ten opsigte van afwykinge van die Germaanse vormleer kry ons die rangskikking: Duits, Hollands, Engels, Afrikaans, met o.a. nog Deens tussen Hollands en Afrikaans in. In die sin waarin 'n taalgeleerde as Jespersen praat van taalontwikkeling, kan Afrikaans dan ook die verstontwikkelde Germaanse taal genoem word.
Vir die meeste klink dit stellig belaglik. 'n Taaltjie, by die vorming waarvan Hottentotte en slawe 'n groot rol gespeel het, wat een slag 'n baster-, dan weer 'n mengel-, en honderdmaal 'n kombuistaal genoem is, die verstontwikkelde Germaanse taal! Wat grammatika betref, ja.
Oor die waarde wat 'n eenvoudige grammatika vir 'n taal het, kan miskien nog verskil van opinie bestaan. Daar was 'n tyd dat taalgeleerdes gepraat het van die heerlike volheid en rykdom van vorme, soos in Goties habaideda, teenoor die verskrompelde armoede van b.v. die ooreenkomstige Hollandse had, maar dié opvatting is grotendeels prysgegee. Daar is dan ook seker min taalgeleerdes wat vandag sal ontken dat die Afrikaanse grammatika nader by die ideaal kom as die Hollandse. Die Afrikaanse byvoeglike naamwoord het ongelukkig in baie gevalle 'n lastige en oorbodige stertjie oorgehou, wat die skoolmeester en die skryftaal ons nog lank sal laat behou, maar verder het ons vrywel skoonskip gemaak wat sulke twyfelagtige taalsierade betref.
Of ons nie partymaal die kind met die badwater uitgegooi het nie? In 'n paar gevalle bestaan daaroor verskil van opienie ook onder Afrikaanse taalgeleerdes. Persoonlik lyk my die verlies van die verlede tyd werd en die dreigende verlies van die verlede tyd had betreurenswaardig. Maar op die gebied van die vormleer is dit dan ook sowat al verliese wat te betreure val.
Anders is dit op die gebied van die woordeskat en tot op geringer hoogte ook op die gebied van die sintaksis. Hier het Afrikaans baie ingeboet, of histories miskien juister uitgedruk, weinig of geen vooruitgang gemaak nie. Die eerste Afrikaanse koloniste was mense sonder kultuur, met 'n primitiewe gedagtelewe en weinig behoefte aan hoër geestesuiting. Behalwe op godsdienstige gebied ontbreek dit die taal van die Suid-Afrikaanse boer dan ook ernstig aan benaminge vir afgetrokke begrippe, en in minder mate aan taalmiddele om 'n ingewikkelde gedagtegang weer te gee.
Die intellektueele Afrikaner van die 20ste eeu lê daarom ook beslag op soveel van die Hollandse woordeskat en sintaktiese middele as hy noodig het.
Die Hollander hoef nie te kla dat ons hier geen toenadering soek nie! Van Afrikaanse standpunt beskou, bestaan selfs die gevaar - waarteen dikwels gewaarsku word - dat ons meer sal opneem as ons kan verteer. Losstaande woorde van suiwer Nederlandse oorsprong lewer geen gevaar op vir die Afrikaanse taalkarakter nie, hoewel daar beswaar gemaak word b.v. teen samestellinge soos oer-dom, in-lief, wat in die voorvoegsels taalmasjienerie bevat wat onafrikaans aandoen.
Om dieselfde rede as die Afrikaner genoop is om met volle emmers te skep uit die Hollandse taalbron, staan sy sinsbou ook sterk onder Hollandse invloed, so sterk dat dit in baie gevalle onmoontlik is om te onderskei tussen Hollandse en suiwer Afrikaanse sinswendinge, soos dit van 'n hele massa woorde onmoontlik is om te sê of hulle suiwer Afrikaans dan wel Hollandse ontleninge van later tyd is.
Die feit dat Afrikaans toenadering soek tot Hollands in woordeskat en sinsbou, verplig is om toenadering te soek, moet van weerskante lei tot meerdere begryp en inleef in die taal van die ander. Weens die groot eenvoud van die Afrikaanse grammatika kan die Hollander daar weinig las mee hê, en die gemiddelde Afrikaner, wat tog ook Engels en Duits of Frans wil leer, sal hom deur die moeilikhede van die Hollandse grammatika nie laat afskrik nie. Buitendien lê dit in die mag van die Hollanders om nader te kom tot die taaleenvoud van Afrikaans, deur hulle eie taalfeile in hul skryftaal te erken, en nie onnodig vas te hou aan verouderde taal- en spellingvorme nie.
In so ver as die spellingkwessie in Holland 'n spesifiek Hollandse belang is, mag ons ons daar nie mee inlaat nie. Maar omdat dit ook 'n meer algemeen Nederlandse belang is, mag ten minste die versugting ons veroorloof word, dat die strewe van die Vereenvoudigers, in so ver as hulle aandring op erkenning van werklike, beskaafd-Hollandse taalfeite, algemeen ingang mag vind. Dan sou die kloof tussen Hollands en Afrikaans tot sy werklike kleiner wydte teruggebring word, en baie van die onwil en kleinagting wat Afrikaans nog in sekere Hollandse kringe ontmoet, sou verminder, so nie verdwyn nie.
Ek hoop dat ek in die bowestaande, sonder om goed Hollandse gevoelens en geregvaardigde Hollandse aspirasies seer te maak, maar met volle eerlikheid teenoor wat ek beskou as Hollandse illusies, duidelik gemaak het dat daar selfs onder die grootste Afrikaanse vriende van Holland en Hollands in Suid-Afrika geen hoop of wens gekoester word dat Hollands weer in Suid-Afrika sal