Nederlandse Letterkunde. Jaargang 11
(2006)– [tijdschrift] Nederlandse Letterkunde– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 166]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
Die saamstel van bloemlesings as kanoniserende strategie
| |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 167]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
diskussie oor ‘Afrikanisering’ van leerplanne; vir die regering 'n ononderhandelbare kwessie. Om die werk en lewens van minderheidsgroepe in die kurrikulum in te sluit in die VSA, was om aan hul 'n teenwoordigheid te gee in opvoedkundige instellings. Hul toetrede tot die literêre (didaktiese) kanon was terselfdertyd 'n verowering van 'n magsbasis, wat verreikende gevolge gehad het vir die posisie van minderhede op veral tersiêre instellings. Veranderinge aan die didaktiese kanon in literatuurstudie het dikwels gesentreer rondom bloemlesings vanweë die sentrale posisie wat hul inneem in enige literêre kurrikulum. Weens geld- en tydsbeperkings word dikwels gebruik gemaak van versamelings (korter) tekste in die onderrig van letterkunde. Betreffende die samestelling van bloemlesings het die debat in die VSA veral gehandel oor twee moeilik versoenbare uitgangspunte: dié van representatiwiteit aan die een kant en dié van estetiese oorwegings (die ‘beste’) aan die ander kant (Lauter, 1991: 103). Hierdie twee uitgangspunte was ook voortdurend ter sprake gewees in die eerder vermelde polemiek na aanleiding van die drie Afrikaanse bloemlesings. Miskien is dit goed om Lauter (1991: 107) se woorde soos die draad van Ariadne in die hand te hou: ‘Standards of literary merit are not absolute but contingent. They depend, among other considerations, upon the relative value we place on form and feeling in literary expression as well as on culturally different conceptions of form and function. Thus, in seeking to teach “the best” - as we should - of the various literatures that constitute our national culture, we need constantly to reexamine our cultural yardstick.’ Overgesetsynde: (literêre) waarde is nie absoluut nie, maar relasioneel en hou direk verband met 'n literatuursiening en die gepaardgaande kriteria. In die Komrij-debat is konkurrerende literatuursienings en kanonopvattings op die spits gedryf (vgl. o.a. Hugo, 2000a en b; Kannemeyer, 2000b, Diedericks, 2000, De Lange, 2000a). | |||||||||||||||||||||||||||||||
Omskrywing van die begrip bloemlesingWanneer na verskillende definisies van die begrip bloemlesing gekyk word (o.a. Aucamp, 1993: 41; Whittemore, 1997: 10; Conderaerts, 1985: 392 en Van Gorp, 1998: 31) blyk groot ooreenstemming. Begrippe soos ‘seleksie’, ‘versamel’, ‘beste’ of ‘mooiste’ staan sentraal. Uit hierdie tentatiewe definies blyk dat 'n bloemlesing literatuur beskikbaar stel wat andersyds verspreid en dikwels moeilik bekombaar is en daarom veral in literatuuronderrig 'n onontbeerlike hulpmiddel is. 'n Bloemleser se keuse berus op literêr-historiese en literêr-teoretiese uitgangspunte; word dikwels gesien as kultuuragent (Wright, 1996) en as verkapte literatuurgeskiedenis. Bloemlesings verskraal helaas altyd die oorspronklike kontekste deur hul dekontekstualiserende werking en verander derhalwe ook die oorspronklike funk- | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 168]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
sies van tekste. ‘Gedicht staat naast gedicht’ in die oorspronklike bundeling en ‘gedichten lenen vaak van en leunen op ander gedichten’ (Zuiderent, 2000: 347). Die samesteller(s) van bloemlesings skep in feite 'n nuwe konteks waarin tekste nuwe verbande met mekaar aangaan. Kopieregweierings kan dikwels ook tot gevolg hê dat 'n vertekende beeld van 'n bepaalde historiese tydperk gegee word (vgl. Hauptfleisch, 1996: 116 en Grové, 1997: 10). Bloemlesings vorm literêre smaak, soos Komrij ook in sy kwasi-outobiografie, Verwoest Arcadië, getuig (Zuiderent, 1990: 23-24). Bloemlesings ‘maak’ ook literatuur (Conderaerts, 1985: 393), in die sin dat dit 'n bewaringsaksie is waardeur reputasies nie net gevestig word nie, maar ook op durende wyse in stand gehou word - Groot Verseboek verteenwoordig vir geslagte studente die Afrikaanse poësie. Wat daardeur ook in stand gehou word, is die literatuuropvatting (s) en ideologie wat so 'n keuse onderlê (vergelyk Willemse, 1999). Soms is die versweë doelwit van bloemlesings om die ‘minder opgevoede klasse’ bloot te stel aan 'n nasionale literêre tradisie om juis daardeur ook 'n bepaalde estetika en ideologie te stut (sien ook Wright, 1996: 359). Deur die bestudering van bloemlesings, en veral deur konsentrasie op in- en uitsluitings, kan byvoorbeeld afgelei word hoe bepaalde groepe (soos vrouens en mense van kleur) gemarginaliseer is en hoe beeldvorming aangaande sulke groepe geskied het binne die literatuursisteem (Pace, 1992; Spies, 1999). Uit Steven Gray (1991) se verslag van sy rol as bloemleser blyk dat hierdie aktiwiteit 'n makabere magspel kan raak waarin literêre oorwegings dikwels ondergeskik raak aan ekonomiese, politieke en persoonlike belange. | |||||||||||||||||||||||||||||||
Bloemlesings - herkomsUit 'n historiese oorsig van bloemlesings (kyk Van Coller, 2002a) blyk dat die kanon meestal slegs selekteer uit die hoofstroom en dat die ander, ‘meer populêre’ tradisies met verloop van tyd in bykans alle literature verlore gaan. Enige bloemlesing-praktyk het hierdie selfde voor- en nadele: dit selekteer sogenaamd die ‘beste’ en mees ‘verteenwoordigende’ tekste en bewaar dit sodoende as (enigste) kulturele erfenis. Tog kan dit anders gestel word: dit is nie die kanon wat selekteer nie; daar is altyd agente, figure in die ‘literaire circuit’, wat deel het aan die siftingsproses: skrywers, tydskrifredaksies, uitgewers en kritici. Hierdie prosesse van seleksie, klassifisering, hiërargisering en kanonisering bepaal beeldvorming. In literatuurgeskiedenisse ‘vernemen we doorgaans weinig van deze processen; we krijgen alleen de resultaten ervan te zien (Van den Akker en Dorleijn, 1996: 2). Dit sou korrek wees om te sê dat bloemlesings slegs die resultate weergee van hierdie proses, wat soms heel grillig kan verloop - die stryd om literêre wins kan op selfsugtige en meedoënlose wyse gevoer word. | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 169]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
Bloemlesings binne die literêre veldVolgens Bourdieu is die literêre veld gestruktureer deur die verspreiding van beskikbare posisies (bv. die gevestigde kunstenaar vs. die opkomende kunstenaar) en dit impliseer 'n voortdurende stryd. So sou die stryd tussen Van Wyk Louw en die Dertigers aan die een kant, en Pienaar en Malherbe aan die ander kant, deur Bourdieu nie beskryf word in persoonlike terme nie, maar as posisie-innames binne die literêre veld (Johnson, 1993: 17). Die dinamiek van veranderinge in die literêre veld kan goed geïllustreer word aan die hand van aanpassings van die literêre kanon. Die maak van bloemlesings sou hiervolgens die aktiwiteit wees van 'n individu (agent) wat teen die agtergrond van bepaalde opvattings (wat bv. bestaan oor genres en periodes) handelend optree om reputasies te vestig: ‘De bloemlezer stelt een daad die een ideale ordening vormgeeft: schrijver A mag erin, maar slechts met één gedicht, schrijver B krijgt het maximale aantal, maar auteur C wordt niet opgenomen’ (Dorleijn, 1996: 52). Vanselfsprekend funksioneer hierdie daad as ‘provokatie’ en veroorsaak dit 'n debat wat (volgens Dorleijn, 1996: 52) literatuuropvattings ter diskussie stel omdat die opname en die omvang van gedigte in bloemlesings (en die plek van digters in literatuurgeskiedenisse) gewoonlik gelegitimeer word deur middel van literatuuropvattings. Waar digters self bloemlesers is, beteken dit dat huile op 'n verdubbelende wyse kanoniserend optree (kyk ook Van Coller, 1994). Hul keuse is nie net 'n illustrasie van hulle eie literatuuropvattings nie; in feite is dit ook legitimering van hul eie interne poëtika. Deur hul bloemlesings legitimeer hulle dikwels ook indirek hulself as digters. Omdat die maak van bloemlesings eintlik ‘'n soort kritiek is’, het Van Wyk Louw bv. krities gestaan teenoor persone wat keuses uit hulle eie werk saamstel (Steyn, 1998b: 894). Uit Van Coller (2002a: 72) blyk dat die bekendste bloemlesers in alle literature dikwels digters is. Verklarings vir hierdie opmerklike verskynsel is daar wel. Omdat digters self nie kwene is nie en by wyse van spreke self 'n eier kan lê, dink hulle dikwels dat hulle die beste beoordelaars van die smaak daarvan sou wees. Anders gestel: digters, as kenners van die poësie en die ontwikkelingsgang daarvan in 'n bepaalde taalgebied, sou intuïtief weet waar die poëtiese hoogtepunte te vinde is - so is waarskynlik die veronderstelling. 'n Ander waarskynliker verklaring het te make met digters se strewe na sentrale posisie-inname binne die literêre veld. Komrij se voorkeur vir die ‘lichte, het bizarre, het ontregelende’ soos dit in sy eie poësie voorkom, word byvoorbeeld weerspieël in sy eie bloemlesing-samestellings (Zuiderent, 1990: 25). Zuiderent gaan so ver dat hy sê dat indien Komrij ooit 'n bloemlesing sou saamstel van ‘wêreldpoësie’, ‘de hele wereldpoëzie eruit (zal) zien alsof zij door Komrij hoogstpersoonlijk geschreven is’! (Zuiderent, 2000: 348). Die Amerikaanse digter-bloemleser Kenneth Koch is nog so 'n sprekende voor- | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 170]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
beeld van 'n digter-bloemleser wat sentrale aspekte van sy eie poëtika gebruik as seleksiekriteria (vgl. De Moor, 1989: 397). In die Afrikaanse literatuur is D.J. Opperman en N.P. van Wyk Louw sprekende voorbeelde van digter-bloemlesers. Groot verseboek word allerweë beskou as een van die beste versamelings Afrikaanse gedigte, maar dit legitimeer ook 'n bepaalde poëtika wat Opperman by herhaling gestel het (kyk Grové, 1989: 2; Botha, 1995: 3 en veral Ohlhoff, 1999: 139). Hoofelemente hiervan is die opvatting dat die kunstenaar nie moet ‘onthul’ nie, maar dat emosies ‘verhul’ moet word, indirek weergegee moet word à la Nijhoff, Yeats en Eliot (Opperman, 1959: 147); dat eksegese liefs nie binne 'n kunswerk behoort te geskied nie (Opperman, 1974: 74); dat poësie moet voldoen aan die eis van strukturele integrasie, wat die ‘'verantwoording van elke poëtiese element en die verwikkeldheid van die gedig’ as uitvloeisel het (Willemse, 1999: 6). Willemse (op cit.) toon aan dat hierdie eise (gepaardgaande met bepaalde ideologiese voorkeure) ook in die gedigkeuse van Groot verseboek gereflekteer word. In Louw se self saamgestelde bloemlesing Treknet, en die bloemlesingagtige platereeks Klank in poësie (kyk ook Van Coller, 1994: 18-19) wyk die gedigkeuses in bepaalde gevalle opvallend af van dié van Opperman. Veral word die sogenaamde ‘volkspoësie’, soos dit uiting vind in volksrympies en in die poësie van bv. Abraham Fouché, gerehabiliteer. Wanneer Louw se eie poëtikale uitlatings van daardie tyd beskou word (veral sy klem op die belang van volkspoësie en die verband eksperimentele poësie en volkspoësie) (vgl. Van Coller, 1994: 21), is dit duidelik dat sy keuses in die bloemlesings 'n bewuste posisie-inname is om sy eie poëtika te onderskraag en te kanoniseer. | |||||||||||||||||||||||||||||||
Bloemlesings as literêre strategieDorleijn (1996) gee 'n uiteensetting van Paul van Ostaijen se bloemlesing-lotgevalle. Interessant is veral die wyse waarop aangetoon word hoe die bloemleser Dirk Coster in vier opeenvolgende uitgawes van sy invloedryke bloemlesing, Nieuwe geluiden, telkens sy nuwe keuse uit Van Ostaijen se digwerk, motiveer. Hierdie nuwe keuses (vgl. Dorleijn, 1996: 67-68) is nie primêr vanweë 'n veranderende oordeel nie, maar 'n direkte gevolg van veranderinge in die ‘literêre veld’. Soos Van Ostaijen se reputasie gegroei het, só is die keuse uit sy poësie deur Coster aangepas. Wat egter intakt bly, is die onderliggende ‘poëtikaal-levensbeschouelijke visie’ van Coster (Dorleijn, 1996: 67-68). Coster se ‘aanpassings’ is derhalwe strategiese posisieveranderings binne die dinamiek van die literêre veld; hy pretendeer dat sy seleksiekriteria onveranderd gebly het, maar pas dit in der waarheid aan. Die bekende polemiek tussen Opperman en Van Wyk Louw oor A.G. Visser en die aard van sy digterskap (vergelyk Opperman, 1974: 8-18; Kannemeyer, 1990: 275; Steyn, 1998b: 874) is 'n soortgelyke geval. In die eerste uitgawe van Groot Verseboek | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 171]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
word vier gedigte van Visser opgeneem (‘Die roos’, ‘Die swarte osse’, ‘Toe die wêreld nog jonk was’ en ‘In die Sondagskool’). Na die polemiek waarin deur Louw aangevoer is dat Visser se waarde lê in sy vernufspoësie, word die keuse aangepas. In die tweede uitgawe kry Visser tien gedigte waarvan die oorgrote meerderheid vernufspoësie is. Hierdie keuse word tot in die laaste (negende) uitgawe gehandhaaf. Hoeseer Opperman dalk gelyk moet kry in sy aandrang dat hy self tot 'n ander waardebepaling van Visser gekom het, is dit onwaarskynlik dat sy nuwe, uitgebreide keuse totaal onafhanklik was van 'n beeldvormingsproses in die literêre veld, waardeur 'n bepaalde soort poësie - vernuftiger, spottender en volkser - en die verteenwoordiger daarvan (naamlik Visser) gerehabiliteer is. In die tydperk na die eerste publikasie van Groot Verseboek verskyn Van Wyk Louw se ‘Klipwerk’, Boerneef se Krokos (1958) en Ghaap en Kambro (1959) asook Blum se eerste twee bundels, wat almal trekke vertoon van hierdie ander aanslag. 'n Volgende soortgelyke geval is Opperman se keuse uit die werk van J.C. Steyn. In die agtste uitgawe van Groot verseboek (1980) verskyn vier gedigte van Steyn. Daarteenoor word sewe gedigte in die negende uitgawe van 1983 opgeneem; 'n keuse wat volgens Brink se mededeling in die verantwoording, deur Opperman gedoen is. Gesien Steyn se groeiende reputasie in die literêre veld, lyk dit asof dit 'n strategiese aanpassing deur Opperman is. Ohlhoff (1995: 45) gee nog duideliker voorbeelde van strategiese verskuiwings deur Opperman in Groot Verseboek ten opsigte van Leipoldt, Stockenström en Cussons. | |||||||||||||||||||||||||||||||
Bloemlesings: 'n voorlopige tipologieConderaerts (1985) probeer om 'n klassifikasiemodel vir bloemlesings op te stel aan die hand van die bekende (stimulus-en-respons) model van kommunikasie: sender-boodskap-ontvanger. Bloemlesings word hiervolgens ingedeel volgens die sender (met onderskeidings soos onder andere ouderdom, geslag en geografiese gebied); ontvanger of leser (met onderskeidinge soos kinders, skoliere, studente, ens.) en ten slotte die boodskap of die gedigte self (deur indelings te volg soos temas, gedigsoorte en die tydperke en tydskrifte waarin gepubliseer is). Na my gevoel bied dit 'n nuttige vertrekpunt vir 'n tentatiewe tipologie van bepaalde kategorieë wat wedersyds uitsluitend is. As basiese uitgangspunt kan gestel word dat alle bloemlesings as kanonvormende handelinge direkte verband hou met die kanon of met bepaalde kanons (soos die didaktiese kanon). Bloemlesings kan derhalwe (die) bestaande kanon(s) aanval of uitbrei; dit stabiliseer, bevestig, legitimeer of populariseer. Laastens kan die kanon (terugskouend) ge(re)konstrueer of geïnterpreteer word. Hierdie drie basiese handelinge is dus toekoms-, hede- óf verlede-gerig. Bloemlesings soos Brekvis met vier (Leroux e.a.), waarmee Daniël Hugo, Etienne van Heerden, André le Roux du Toit en Peter Snyders in 1981 debuteer, en Paul | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 172]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
Rodenko se Nieuwe griffels schone leien (waarmee ‘de poëzie der avantgarde’ in 1954 bekendgestel is), was duidelik bedoel om nuwe digters en/of 'n nuwe soort poësie aan lesers bekend te stel. Dit is trouens ook die geval met letterlik duisende bloemlesings met poësie van debutante, vrouedigters, gay- of lesbiese verse, ensovoorts. Hierdie (programmatiese of ideologiese) bloemlesings het een aspek gemeen (hoewel hul seleksiekriteria telkens radikaal verskil): die strewe om die kanon binne te dring, te konfronteer, aan te vul of te vervang. 'n Interessante strategie van digters is om bloemlesings saam te stel uit ander tale (of tydperke) om daardeur juis ruimte te skep vir 'n sekere soort poësie in die bestaande kanon. Van Wyk Louw se medewerking aan die Marsman-bloemlesing (1943), Pinthus se 1920-bloemlesing oor die Ekspressionisme, Piontek (1972) se versameling (en veral die Kollektivausgabe, Agitprop [Fuhrmann (s.d.]), asook Apporteerverse no 1 - 'n bloemlesing (De Jager, 1999) is almal sprekende voorbeelde hiervan. Kenmerkend van bloemlesings wat onder hierdie rubriek tuishoort, is dat hulle dikwels vergesel is van 'n (uitvoerige) inleiding of ander ‘eksterne’, begeleidende teksstrategieë soos foto's, opvallende omslae, ensovoorts. Hierdie versamelings verskyn ook gewoonlik by klein uitgewerye wat dikwels slegs ‘marginale’ literatuur (soos gay- of lesbiese literatuur) publiseer en by geleentheid ook slegs een uitgawe tot hul krediet het. Carole Boyce Davies (1994: 199-221) bied hiervan 'n boeiende oorsig. Sodanige bloemlesings verskyn dikwels as kollektiewe uitgawes sonder samestellers. Waar daar wel samestellers is, is samestellers dikwels (gemarginaliseerde) figure met 'n sterk belang by hierdie aanval op die kanon. Apporteerverse verskyn by BENT-uitgewers met 'n aantal foto's van die medewerkers en 'n polemiese inleiding deur Peter Snyders. Op die blakerskrif staan 'n programmatiese verklaring deur Johann de Jager (wat ook as die samesteller opgetree het) waarin lesers aangemoedig word om die woord ‘Bent’ (‘groep van kunstenaars’) in die H.A.T. op te soek. Gesien De Jager se behoudende politieke ideologie soos dit na vore kom in sy tydskrif Komsat (gepubliseer sedert 1992), is die voorwoord van Peter Snyders (wat ideologies baie van De Jager verskil) op die eerste sig vreemd. Waarskynlik het hul gemene grond met hul afkeer van die Groot Afrikaanse Letterkunde (‘GAL’). Stabilisering van die kanon vind ons gewoonlik in tematiese bloemlesings met ‘die beste’ as sub-titel. Hierdie versamelings mag nuwe verse (of digters) na vore bring en probeer om die kanon binne te dring, maar is meer dikwels 'n keuse uit die bestaande kanon of ‘deelkanons’, soos vernufspoësie, limirieke, ensovoorts. Lina Spies se bloemlesing, Sy sien webbe roer, is 'n tipiese voorbeeld: dit is ‘stabilisering’ van 'n bepaalde deelkanon deur 'n gevestigde digter-literator en verskyn by 'n gevestigde uitgewer. In 'n voorlesing benut Odendaal (2001) van Coller se klassifikasiemodel hierbo (reeds in 1999 uiteengesit in die D.J. Opperman-gedenklesing) en toets dit veral aan die hand van tematiese bloemlesings. Sy bevinding is dat die model ‘baie nuttig is’ as klassifikasiemodel (Odendaal, 2001: 54) en bevind verder dat die meerderheid tematiese bloemlesings in Afrikaans sedert 1986 kanonstabi- | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 173]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
liserend fungeer, maar dat daar ook 'n paar sodanige bloemlesings is wat trag om die kanon uit te brei. Bloemlesings se funksies kan ook met verloop van tyd verander. Nieuwe griffels schone leien sou vandag, bykans vyftig jaar na die eerste verskyning daarvan as aanval op die destydse kanon, eerder gelees word as 'n versameling wat die kanon stabiliseer. Popularisering van die kanon tref ons veral aan in bloemlesings wat gemik is op spesifieke groepe lesers, waardeur die kanon dikwels ook toegankliker gemaak word. Bloemlesings wat hieronder ressorteer, verskyn meestal by gevestigde uitgewers, saamgestel deur persone wat 'n gevestigde reputasie het. 'n Derde groep is bloemlesings wat die kanon retrospektief (re)konstrueer of interpreteer, tipies van die literêr-historiese bloemlesing. Weer eens kan sodanige bloemlesings saamgestel word op grond van verskillende kriteria (digters, periodes, genres), maar die gemeenskaplike eienskap is dat hulle telkens 'n eietydse perspektief op die verlede bied. Die bekende versamelings van Komrij, Opperman en die Norton-uitgawes hoort hier tuis. Hoewel hierdie bloemlesings altyd 'n konstruksie is van die verlede, beteken rekonstruksie 'n relatief nuwe weergawe van 'n bepaalde historiese tydperk. Paula B. Bennett se bloemlesing van 1997, Nineteenth-Century American Poets: An Anthology, kan as voorbeeld van laasgenoemde geld, omdat dit deur die revolusionêre keuse van gedigte 'n totale nuwe blik bied op 'n bepaalde tydperk. Sodanige bloemlesings toon bepaalde ooreenkomste met die eersgenoemde kategorie, omdat dit in bepaalde gevalle ook 'n aanval op die gevestigde kanon behels, hoewel dan retrospektief. Indien hierdie onderskeidinge nou gepaar word met Conderaerts se voorstelle, kan bloemlesings telkens netjies geklassifiseer word. 'n Bepaalde bloemlesing, soos Brekvis met vier, is dan 'n bloemlesing wat op toekomsgerigte wyse die kanon wil binnedring en sendergerig is omdat dit die byeenbring van vier (gelykgestemde?) jong, manlike digters verteenwoordig. Poskaarte val in die tweede kategorie (boodskapgerig) en is veral rekonstruksie van die kanon omdat dit as literêr-historiese bloemlesing 'n bepaalde tydvak herinterpreteer. Word so 'n herinterpretasie radikaal (soos in die geval van Paula B. Bennett se bloemlesing), hoort dit eintlik al tuis by die eerste kategorie, naamlik ‘aanval op of uitbreiding van die kanon’. Lina Spies se bloemlesing is 'n stabiliserende bloemlesing, sendergerig én tematies ingeperk. So 'n tipologie is veral handig as beskrywingsmodel. Tog kan dit, naas die funksie as klassifiseringsmiddel, van besondere heuristiese waarde wees en moontlik selfs evaluerend funksioneer.Ga naar eind1 | |||||||||||||||||||||||||||||||
Afrikaanse poësiebloemlesings - 'n kort oorsigVolgens Kannemeyer (1978: 61) is F.W. Reitz ons ‘eerste bloemleser’ met die uitgawe Vyftig uitgesogte Afrikaanse gedigte in 1888. Hierdie uitgawe verskyn daarna nog twee keer (in 1897 en 1909); telkens in uitgebreide vorm. Dit moes baie gewild gewees | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 174]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
het, want dit beleef selfs 'n vierde en vyfde druk. Reitz se versameling word vergesel van 'n kort voorwoord, waaruit duidelik blyk dat hy met hierdie vyftig gedigte mense wil oortuig dat Afrikaans meer is as net ‘maar Kombuis- of Hotnots-taal’. Die gedigte is 'n keuse uit die gedigte wat Reitz gelees het in koerante en tydskrifte en daarom verskyn baie sonder outeursname daarby (kyk ook Burger, 1978: 99). Anders as wat Kannemeyer beweer, is die eerste Afrikaanse bloemlesing 'n versameling van tien jaar vroeër as dié van Reitz. Afrikaanse gedigte (Eerste versameling) verskyn in 1878 by D.F. du Toit & Co. 'n Tweede versameling verskyn in 1881 en 'n derde tot sewende versamelings agtereenvolgens in 1882, 1883, 1885, 1889 en 1901. Daarna verskyn Afrikaanse Gedigte, ‘byeenversameld uit wat in di laaste 30 jaar ferskyn is, 1876-1906’. Pheiffer (1987: 1) is skynbaar onseker oor wie die samesteller was, want hy haal Kannemeyer (1978: 56) aan wat beweer dat dit S.J. du Toit was. Die samesteller was ‘Oom Jan wat versies maak’ (C.P. Hoogenhout), soos ook blyk uit Nienaber (1951: 117). 'n Ander bloemlesing wat ook voor dié van Reitz verskyn, is Klaas Gezwint en zijn paert and other Songs and Rijmpies of South Africa (1884), waarskynlik versamel deur J. Noble. Hierdie versameling van Engelse en Afrikaanse gedigte is 'n opvallende voorloper van die veel latere tweetalige bloemlesing S.A. in poësie / S.A. in Poetry (1988). In sy oorsig van die ‘buitekanonieke’ literatuur beskou Willemse (1999) die bloemlesing van E.C. Pienaar, Digters uit Suid-Afrika as een van die invloedrykste. Sy oordeel word reeds bevestig deur die publikasiegeskiedenis. Dit verskyn in 1917 onder die titel Dichters uit Zuid-Afrika en beleef in 1941 sy tiende ‘vermeerderde en hersiene druk’ ten spyte daarvan dat ‘die jongste ontwikkeling van ons digkuns sedert omstreeks 1930’ ongelukkig ‘om verskeie redes’ (sic!) nie in die bloemlesing weerspieël word nie. Hierdie redes wat so half terloops genoem word, word deeglik gedokumenteer deur Kannemeyer (1990: 61/2 en 98) en Steyn (1998a: 205-207). In 1947 beleef hierdie versameling sy veertiende hersiene druk. Omdat die Dertigerpoësie so 'n sentrale plek ingeneem het binne die literêre veld, moes Pienaar die weglating nou motiveer. Volgens hom is dit 'n moderne rigting wat nie by die Tweede Beweging aansluit nie. Op die spore van sy Afrikaanse voorgangers gaan dit ook in Pienaar se versameling nie primêr om die letterkunde per se nie, maar om die beeld wat hierdie verse bied van wat al bereik is in 'n jong taal, asook van 'n ontluikende Afrikanernasionalisme. Hierdie laasgenoemde kriterium geld dan as belangrike maatstaf vir opname (Willemse, 1999: 5). Vanweë die baanbrekerswerk van Gustav Preller (en later van G. Dekker) ontstaan daar 'n strenger Afrikaanse literêre kritiek waarin estetiese oorwegings dikwels belangriker geag word as suiwer nasionalistiese eise. Dit vind sy kulminasie in die Beweging van Dertig en veral Van Wyk Louw gee aan die nasionalisme 'n estetiese onderbou (vgl. Steyn, 1998a: 151-177). In Opperman se Groot verseboek (1951) staan estetiese oorwegings volgens hom | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 175]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
sentraal. Waar hy sy keuse uit die werk van W.E.G. Louw verantwoord, sê hy onomwonde: ‘Die “goeie” en die “nuwe” word tog ook bepaal deur die gehalte van die vers - daarom is my uitgangspunt in die eerste plek die estetiese en die historiese is bloot sekondêr’ (Kannemeyer, 1990: 292). In Van Wyk Louw se antwoord laat hy blyk dat geen literêr historiese bloemlesing kan ontkom van die kultuurhistoriese kyk nie (ibid.). Hierdie twee opponerende sienings van die funksie van 'n bloemlesing speel later in die polemiek rondom Poskaarte en die Komrij-bloemlesing, steeds 'n rol. Opperman se kriteria het reeds eerder ter sprake gekom; Willemse (1999: 6) noem die eerste uitgawe van Groot Verseboek ‘'n nasionalistiese daad: 'n poëtiese “literatuurgeskiedenis” wat die kulturele wasdom van die Afrikaner dokumenteer’, ook as gevolg van die feit dat dit histories saamval met belangrike gebeurtenisse in die vestiging van Afrikanernasionalisme as politieke instrument. Dit staan buite kyf dat Opperman met Groot verseboek (en sy kleiner gesinslede) deur dekades die belangrikste kanoniseerder was van die Afrikaanse poésie, ten spyte van die konkurrensie van alternatiewe versamelings soos P.J. Nienaber se Digters en digkuns (eerste druk 1951) en Nienaber en Nienaber-Luitingh se Digters en digsoorte (1973). Selfs nie die lank verwagte Treknet (1966) van Van Wyk Louw en Ernst Lindenberg vind groot byval by kritici nie (Steyn, 1998b: 1078). Tog kan die sukses van Groot Verseboek nie alleen toegeskryf word aan Opperman se status as digter en die geredde voorskryf daarvan op ‘universiteits-, onderwyskollege- en skoolvlak’ soos Willemse (1999: 7) te kenne gee nie.Ga naar eind2 'n Belangrike rede vir die sukses van Groot Verseboek lê in Opperman se vermoë om 'n digterskap in te skat en te ‘tipeer’ aan die hand van enkele verse. Die verskyning van die ‘revisionistiese bloemlesing, SA in poësie / SA in poetry’ (Willemse, 1999: 8) in 1988 vloei voort uit (en gee verdere stukrag aan) belangrike maatskaplike verskuiwings en 'n kritiese herbesinning oor die kanon onder Afrikaanstalige en Engelstalige literatore (vgl. o.a. Visser, 1989; Maughan-Brown, 1989; Mzamane, 1989; Lindfors, 1996 en Coullie en Gibbon, 1996). In hierdie selfde tydsgewrig word verskeie Afrikaanstalige ‘little magazines’ opgerig (o.a. Donga, Graffier en Stet) asook die belangrike Engelse literêre tydskrif Staffrider, wat die eerste keer verskyn in 1978. In al hierdie tydskrifte word die kanon (en alle instandhouders daarvan) in wisselende mate onder vuur geneem, veral uit ideologiese posisies wat radikaal verskil het van die toenmalige regering s'n. Veral Staffrider dryf verskillende literatuuropvattings op die spits (vgl. Maughan-Brown, 1989; en veral Visser, 1989) en word die belangrikste literêre uitdrukkingsmiddel van skrywers wat hul geskaar het by die ‘Black Consciousness’-groepering. Tradisionele literêre waardetoekenning op grond van veral estetiese oorwegings word toenemend bevraagteken. Literatuur, en veral poësie, word gesien as middel tot bevryding. Opperman se Groot verseboek verskyn die laaste keer in 1983, bygewerk deur André P. Brink. Vanselfsprekend laat dit 'n groot hiaat, omdat min van die poësie | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 176]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
van ná 1980 hierin opgeneem kon word. Hierdie leemte moes gevul word deur 'n nuwe bloemlesing. In antwoord op Hambidge (1996) se lamentasie oor die gebrek aan 'n nuwe bloemlesing, sê Lappies Labuschagne, die hoofbestuurder van Tafelberg-Uitgewers dat hulle Groot Verseboek beslis nie sal laat verdwyn nie. Hy stel 'n bloemlesing (Poskaarte) in die vooruitsig wat in sy eie woorde in verband met die voortsetting (‘voortbestaan’) en uitbreiding van Groot Verseboek gesien moet word. By die verskyning van Poskaarte in 1997 word dit in die persverklaring deur die uitgewer daarvan nie net bestempel as 'n ‘uitsonderlike en vernuwende bloemlesing nie’, maar ook onomwonde as ‘aanvulling tot die Groot Verseboek’ bestempel. In die ‘Inleiding’ word ook gesê wat ‘tekskeuses betref, is daar probeer om nie met die Opperman-bundel te oorvleuel nie’ (p. xxv). Die rede is voor die hand liggend: sodat hierdie keuse as ‘aanvullende’ bloemlesing naas dié van Opperman voorgeskryf sou kon word. Dit is opvallend dat die twee samestellers hulle in 'n koerantonderhoud (Viljoen, 1997) distansieer van Opperman se bloemlesing wat ‘die mooiste Afrikaanse gedigte probeer versamel’ het, omdat ‘die maatstaf vir só iets’ subjektief is. Hierdie standpunt word in die ‘Inleiding’ (p. xxiv) herhaal. By wyse slegs van spreke sou Opperman, Viljoen en Foster inderdaad nie alte rustig lê in dieselfde (literêre) bed nie. Daarvoor is die onderliggende teoretiese uitgangspunte van die twee bloemlesings, té verskillend. Opperman volstaan vir bykans dertig jaar met 'n skraal inleidinkie, wat benewens kleiner wysigings ten opsigte van veranderende feite, so te sê onveranderd bly en dit algaande duideliker stel dat estetiese oorwegings by hom voorrang geniet - ‘van die mooiste Afrikaanse gedigte’ word byvoorbeeld stilletjies ‘die mooiste Afrikaanse gedigte’ (Ohlhoff, 1995: 42)! Poskaarte vermy inderdaad volgens Kannemeyer (1998) doelbewus die benaming ‘bloemlesing’, omdat dit nie in die tradisionele sin van die woord die ‘mooiste’ verse wil opneem nie. Hiervoor verkwalik hy die samestellers pertinent, want ‘(b)aie van dié verse is só swak dat hulle nooit gepubliseer moes gewees het nie’ (Kannemeyer, 1998: 14). Dit is 'n pan-estetiese standpunt wat deur Van Peer (1996: 104) soos volg verwoord word: ‘Only when literary texts show us values and ideas that transcend the historical situation in which they are embedded, is there any guarantee against the erosion of time’. Die samestellers se uitgangspunt is anders: ons lewe in 'n postmoderne tydsgewrig waarbinne hiërargieë afgebreek word; daarom word hier slegs beelde gegee van ontwikkelings binne die Afrikaanse poésie. As gevolg van hierdie uitgangspunt word verse geplaas volgens verskyningsdatum van die bundels waaruit dit geneem is. Binne my eerder vermelde tipologie staan Poskaarte met sy lang inleiding ook nader aan rekonstruksie van die kanon (‘kanonhersiening’, noem Lourens 1998 dit) as Groot Verseboek wat kanonstabiliserend is. Met uitsondering van Kannemeyer (1998: 14) is die meerderheid resensente redelik positief oor die keuse van die samestellers. Die meeste kritiek geld die werkswyse self en die verantwoording daarvan in die ‘Inleiding’. Kannemeyer | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 177]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
(1998) en Olivier (1998) is veral skerp krities oor die indelingsprinsipe omdat daar as gevolg van die verspeide verse oor jare heen byvoorbeeld moeilik 'n ‘beeld’ van 'n digterskap tot stand kan kom - iets wat gewoonlik van die literêr historiese bloemlesing verwag word. Hagg (1987) se opmerkinge oor verskuiwings in die kanoniserende praktyke in die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis is hier ter sprake. Pienaar se bloemlesing is hiervolgens 'n voorbeeld van volksideologiese kanonisering, waar byvoorbeeld nasionalistiese ideale die keuses bepaal. Opperman se Groot Verseboek skep die indruk dat dit hoort by objektiwiteit en neutraliteit omdat estetiese oorwegings oorheers. S.A. in poësie / S.A. in Poetry en Poskaarte is albei voorbeelde van wat Hagg kontekstualisering noem. Die eersgenoemde bloemlesing plaas die klem op 'n sosiopolitieke raamwerk; laasgenoemde wil verskeidenheid in 'n bepaalde tydsgewrig (‘ná sestig’) vooropstel. Elkeen van hierdie ‘kanoniserende paradigmas’ (Hagg, 1987) word bedreig deur gevare: laasgenoemde benadering veral deur willekeurigheid, omdat rekonstruksie van die verlede nie 'n selfverduidelikende sisteem bied nie en dit boonop mag lei tot relativisme en historiese impressionisme (Hagg, 1989: 5). Kannemeyer (1998) en Grové (1997) se besware staan in verband met periodisering. Hulle wys op die willekeurigheid van die jaar ‘1960’ as aanvangsdatum, omdat dit weinig meer is as 'n gerieflike markeringspunt. Du Plooy (1998) suggereer versigtig dat die indruk wat gewek mag word dat die Afrikaanse poësie sedert sestig postmodernisties is, aanpassing nodig het. Charl-Pierre Naudé (1998) is daarteenoor kategories in sy kritiek: die samestellers het gedigte opgeneem wat volgens hulle toenemend postmodernistiese elemente vertoon en dit is gewoon nie waar nie; die meerderheid gedigte in Poskaarte is eerder modernisties. Van Vuuren (1999) eggo hierdie sentiment in haar poësieperspektief in die tweede deel van Perspektief en profiel. 'n Ander kritiek sou kon wees dat ‘die ideologiese stramien wat in meesternarratiewe tot uiting kom (...) 'n bepalende rol (speel) by die kanonisering van “nuwe” (...) tekste’ (Breytenbach, 1997: 1168). Met ander woorde: Poskaarte ondermyn sy eie postmodernistiese standpunt deur alle tekste in die keurslyf van die meesternarratief van ons dag, die postmodernisme, in te pas. Sentraler ten opsigte van dié artikel is twee ander kanttekeninge by hierdie versameling, naamlik die wyse van seleksie en die basis waarop die samestellers se keuse berus: [1] 'n Bedenking ten opsigte van Poskaarte se seleksie is die feit dat daar slegs uit gepubliseerde digbundels geselekteer is. Gepubliseerde digbundels het reeds 'n hele keuringsproses deurgaan en gedigte moes inderwaarheid by heelwat hekwagters deurglip: keurders enersyds, maar andersyds ook finansiële en ideologiese hekwagters van die betrokke uitgewerye. Publikasies van onafhanklike uitgewerye was in die periode sedert sestig onderworpe aan sensuur en finansiële beperkinge. Soos vroeër vermeld, is die werklik vernuwende literatuur in hierdie periode gepubliseer in ‘little magazines’ (kyk ook Snyders, 1999) of dit is voorgedra en in mondelinge vorm bewaar. Hieruit blyk inderwaarheid ook die behoudende aard van Poskaarte. | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 178]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
[2] Die samestellers wil deur die uiteenlopende beelde van die Afrikaanse poësie iets weergee van die wye verskeidenheid daarvan, terwyl daar deur hierdie chronologiese ordening ook 'n soort ontwikkelingsgang gekonstrueer word. Slegs heel terloops word toegegee dat ‘kriteria soos gehalte, skoonheid en verteenwoordiging (...) steeds 'n rol gespeel het by die seleksie van tekste vir Poskaarte’ (p. xxv). Hoewel die kriteria dus ‘demokratieser’ en aanvaarbaarder mag wees binne die huidige tydsgewrig (vgl. veral Esterhuyse, 1998 en Lourens, 1998), is die samestellers steeds besig met seleksie (insluiting en uitsluiting) en dus met kanonisering.
Uit Jansen (1998) se (nie heeltemal korrekte) lysie, blyk dat die belangrikste, ‘gekanoniseerde’ digters (op grond van die aantal gedigte in Poskaarte opgeneem) die volgende is: Breytenbach (32); Krog (18); Cussons, Hambidge en De Lange (17); Eybers (15); Stockenström (13); Opperman, Rousseau, Cloete en Hugo (met 12 elk) en Spies en Toerien (10 gedigte elk). As eerder van Opperman se maatstaf gebruik gemaak word en die aantal reëls as kriterium gebruik word, blyk die volgende ‘rangordening’: Breytenbach (1191 r) is in die eerste posisie, met De Lange (494 reëls) ver agter. Dan volg agtereenvolgens Hambidge (407 r), Cussons (385 r), Stockenström (379 r), Opperman (366 r), Eybers (343 r), Spies (307 r), Cloete (293 r) en Rousseau (276 r). Ten slotte, iets verder agter in die elfde, twaalfde en dertiende posisie, staan Hugo (238 r), Van Heerden (232 r) en Toerien (218 r). Sonder om die aantal gepubliseerde bundels en gedigte van die betrokke digters in ag te neem, kan ons aflei dat hierdie ‘ranglys’ die Afrikanse poësie van na sestig weerspieël. In Perspektief en profiel (Deel 2) word aan elkéén van die eerste tien digters (met die uitsondering van De Lange) inderdaad ook 'n profiel gewy.Ga naar eind3 De Lange, veral, figureer prominent in Van Vuuren se perspektief in dié publikasie. Hieruit blyk dat daar bykans perfekte ooreenstemming bestaan tussen die keuse van 'n resente bloemlesing en 'n nog resenter literatuurgeskiedenis. So blyk onomwonde dat die poësiebeeld wat Poskaarte bied, in sy kern behoudend is en inderwaarheid slegs op die periferie beduidend afwyk van die kanon. Die waarde van Poskaarte lê veral daarin dat die samestellers 'n klomp gemarginaliseerde digters na die hoofstroom teruggebring het. Boonop het die polemiek na die verskyning daarvan die aandag opnuut gevestig op die kanoniserende aard van bloemlesings. Wat Mzamane (1989: 40) gesê het oor die Staffrider-bloemlesing, geld eintlik vir alle bloemlesings en mutatis mutandis vir Poskaarte. ‘(A)nthologies are by their very nature, neat academically sanctitised packages. Compiling them involves inclusion and exclusion, quirky references, good or bad taste; but you cannot conceivably put in everything (...) the selections might have been different but the effect probably much the same.’ | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 179]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
'n Omstrede bloemlesing - konfrontasie binne die literêre veldMet die verskyning van Gerrit Komrij se bloemlesing Die Afrikaanse poësie in duisend en enkele gedigte in 1999, onstaan daar 'n nog veel hewiger polemiek as in die geval van Poskaarte. Uit deelnemers se woordkeuses (veelal aggressief en konfronterend) blyk dat Bourdieu se literêre veld met sy onderliggende mededingingsmodel, in die kol is. Resensente en korespondente se resepsie kan taamlik radikaal verdeel word in aanprysende en afwysende reaksies. Persone wat positief gereageer het, doen dit veral op grond van kulturele en/ of kanoniserende redes. Uiteenlopende resensente (soos Deloof, 2000; en Van Coller en Odendaal, 2000) verheug hul oor die bekendstelling van die Afrikaanse poësie by Nederlandse lesers en by 'n ‘wye publiek’ (Van Zyl, D (2000), met die onuitgesproke veronderstelling dat hierdie bloemleser daardeur ook die taak van ‘kultuuragent’ vervul. Daarbenewens wys heelwat korrespondente (o.a. Scheepers, 1999; Du Plessis, 2000; Van Zyl, D (2000) en Diedericks, 2000) daarop dat die Komrij-bloemlesing die bekende kanon verruim. Du Plessis 2000: 4 verwyt ‘skrywers... van “groter statuur”’ dat hulle as gekanoniseerde digters geld gemaak het uit hul kanonieke status, terwyl baie ‘“ander” Suid-Afrikaanse skrywers’ (waaronder, by implikasie, hyself) publiseer, ‘simpel en naïef genoeg bloot omdat hulle omgee vir die taal’. Diedericks (2000) praat van Komrij se perspektief en benadering as ‘'n vars bries in die bedompige kamer waar sekere van ons kritici en literêre ghoeroes agter toe deure vergader en literêre rangordes en voorkeurlyste opstel’. Die smalende verwysing na die kanon as 'n moeilik deurdringbare entiteit en die implikasie van geheime knoeiery is in pas met die verwyte wat ook gerig is aan kanoniserende instansies in die V.S.A. (Lauter, 1991: 22 e.v.). Selfs in die redelik negatiewe resensie van De Lange (2000a) word Komrij geprys omdat hy ‘verwaarloosde figure’ herevalueer en die kanon verruim deur ook te fokus op digterlike tradisies anders as ‘die meer formele digtradisie’. In sy felle verwyte aan die adres van die uitgewers Tafelberg en Human & Rousseau laat blyk Komrij (2000) dat sy intensie met die samestelling van die bloemlesing inderdaad ikonoklasties was. Hy praat van Groot Verseboek as die ‘lyk van Opperman’ wat tot lewe gewek is en daardie ‘bastion en boegbeeld van al wat blank en bejaard en bang is’. Daar is 'n Suid-Afrikaanse (sic!) literatuur wat deur John Kannemeyer uitgevind is en dan is daar ‘een Zuid-Afrikaanse literatuur met bruine, jonge en dwarse schrijvers.’ Dit is kennelik die laaste (soort) literatuur wat neerslag vind in sy bloemlesing. Minder entoesiastiese resensente en korrespondente wat redelik negatief staan teenoor die Komrij-bundel kritiseer veral Komrij se antikanonieke instelling. In die woorde van Hugo (2000a): ‘Intussen het ouer én jonger kritici soos John Kannemeyer en Johann de Lange reeds laat blyk dat die literêre establishment nie gediend is met Komrij se skynbaar oneerbiedige omgang met die groot kanonne | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 180]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
van ons digkuns nie’. Kannemeyer (2000a) kritiseer Komrij veral oor die opname van talle swak gedigte; die swak inskatting van digterlike oeuvres; die besluit om gedigte op te neem volgens digters se geboortedatums, en die foutiewe ontwikkelingsgang van die Afrikaanse poësie wat sodoende ontstaan. Waar hy aanvanklik nog ‘agteroor (...) buig om so vriendelik as moontlik te wees’, is Kannemeyer later krasser in sy oordele (Kannemeyer, 2000b) en som hy sy afwysende resensie so op: ‘(T)ussen die reëls moet die intelligente leser kan agterkom wat ek in werklikheid wil sê, naamlik dat Komrij se boek in die laaste instansie 'n uiters swak bloemlesing is, totaal ongeskik om ons poësie in Nederland bekend te stel.’ Naas Komrij se ‘swak keuse’ van gedigte, die ‘yl begroeide akkertjies’ soos De Lange (2000a) dit noem, word hy verwyt vir die feit dat hy, met sy besluit om slegs tien gedigte per digter op te neem, die kanon skeeftrek (Deloof); 'n oormatige klem plaas op tegendraadse verse (Van Coller en Odendaal, 2000); en deur sy besluit om digters op te neem volgens hul geboortedatum (en nie hul publikasiesdatum nie), die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse poësie skeeftrek (Van Coller en Odendaal, 2000). In die weinige stiltes van hierdie polemiek kan jy bykans die verwyt van kritici hoor: dat hierdie arrogante Hollander, wat soos ‘'n spons’ alles absorbeer (Kannemeyer, 2000c), hom nou waarlik aangematig het om binne 'n japtrap 'n bloemlesing oor Afrikaanse gedigte saam te stel! En dit dan nog met behulp van Daniel Hugo, wat beloon is met 'n gratis vliegkaartjie én, deur sy invloed op Komrij se keuses, boonop sy eie vernufspoësie veel meer na die sentrum van die Afrikaanse poësiekanon kon haal. Hierdie bloemlesing is omgewe van beskuldigings wat heen en weer geslinger is: die Afrikaanse uitgewers het hul Afrikaanse digters in die steek gelaat deur nie tantieme te eis vir die Nederlandse uitgawe nie; net sekere digters (bowendien die mindere digters) het finansieel daarby gebaat (o.a. deur hul betaalde promosietoer na Nederland - Hambidge, 2002a); die bundel is swak beplan en bemark (Komrij, 2000 en Hugo, 2000a en 2000b); en duistere motiewe word veral uitgewers ten laste gelê. Selfs nie besadigde antwoorde en verduidelikings deur Hannes Van Zyl (2000) en Kerneels Breytenbach (2000) kon die stof gaan laat lê nie. Miskien kan die voorafgaande polemiek vanuit die vroeëre tipologie en die sisteemteorie verklaar word. De Geest (1997: 165) se model sou dalk nuttig kon wees. | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 181]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
De Geest verduidelik dat die boonste deel van die vierkant byna binêr funksioneer; hier kry jy wat hy noem ‘de expliciete normatieve codering’ wat onder andere by Luhmann voorkom. Die onderste gebied bied veel meer ruimte vir minder skerp teenstellings. ‘Bijgevolg is vooral deze zone onderhevig aan discursieve spanningen, verschuivingen en vernieuwende tendensen, bijvoorbeeld via de productie of de introductie van nieuwe, niet-gecanoniseerde en/of exogene elementen’ (De Geest, 1996: 177). Die pole ‘nieverbod’ en ‘nieverpligting’ is dus maklik te oorbrug, selfs dié tussen ‘verpligting’ en ‘nieverbod’. Daarteenoor is daar 'n absolute konflik tussen ‘verpligting’ en ‘verbod’. Overgesetsynde: die kanon sal nog 'n alternatiewe niekanonieke bloemlesing (Brekvis met vier, byvoorbeeld en Poskaarte) verdra; en selfs dalk 'n bloemlesing op die trant van Helen Steiner Rice se verskuns (buitekanoniek). Uitdaging van die kanon lei egter tot verwerping; en dit is wat die Komrij-bloemlesing in hoë mate gedoen het. Sy bloemlesing is binne die vroeër-uiteengesette model sterk ontvangers-gerig, dit wil die Afrikaanse poësiekanon terugskouend herinterpreteer en uitbrei; selfs omvorm. Vanweë die feit dat dit die gevestigde beeld, veral ten aansien van die ‘groot’ digters radikaal wysig, is dit herkonstruerend eerder as konstruerend. Strategies is dit beter om die kanon ‘aan te vul’, soos Paul Rodenko indertyd gedoen het, of Viljoen en Foster ook voorgegee het om met Poskaarte te doen. Komrij se eie Nederlandse bloemlesings kan gesien word as konfrontasie van die kanon of uitbreiding daarvan, afhangende van die gehanteerde kanonkonsep en poëtika van die ondersoeker (kyk o.a. na Bernlef, 1982; De Moor; 1982; Niemeyer, 1982; Van Deel, 1982 en Warren, 1982). Indien sy bloemlesing van die 19e en 20e eeuse poësie nagagaan word van die eerste uitgawe in 1979 tot en met die tweedelige uitgawe van 2004, val op hoe hy aanvanklik die bestaande kanon aanval om dit daarna gereeld strategies uit te brei. | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 182]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
Die ‘ou grote’ in 'n nuwe baadjieLaat in 2000 verskyn André P. Brink se Groot Verseboek 2000. Die naam is reeds 'n strategiese keuse: dit bevestig die band met Opperman se suksesvolle, kanoniserende bloemlesing, maar impliseer ook 'n afstandname en vernuwing. Die voorkoms verskil opvallend van Poskaarte én die Komrij-bloemlesing, omdat dit in gelamineerde hardeband verskyn en daarom 'n ‘formeler’ voorkoms het. Op die oog af word dus gesuggereer dat hierdie bloemlesing dié een is wat die amptelike kanon mag/kan weerspieël. Groot Verseboek 2000 se ontvangs was redelik positief, hoewel bepaalde keuses en klemplasings van meet af aan hierdie bloemlesing deur omstredenheid omgewe het. 'n Paar bekende digters het gedreig om hul gedigte (en die digterlike nalatenskap waaroor een beskikking gehad het) te onttrek toe die name van die ‘medelesers’ bekend geraak het en 'n ewe bekende en omstrede vroulike digter se naam daaronder was. Tydens 'n ‘Boekemakiti’ in Bloemfontein (20 Oktober 2000) merk Stephen Johnson (van Randon House Uitgewers) op dat hierdie boek ‘swak uitgegee’ is. Van die drukker se kant is daar inderdaad swak gehaltebeheer toegepas; tien present van die eerste oplaag vertoon foute en word teruggetrek. Die probleme word met die verdere drukke uitgestryk. Die nuwe uitgawe van Groot Verseboek is in baie opsigte 'n voortsetting van die Opperman-model. Brink beperk hom tot ‘Afrikaanse gedigte’ (anders as Komrij) en groepeer die gedigte van digters (anders as Viljoen en Foster) byeen en ook meestal (anders as by Komrij) volgens publikasiedatum - die datum ‘waarop hul tot die groot gesprek toegetree het’. Vir Brink beteken dit meestal die publikasie van die eerste beduidende bundel. Hy wyk wel van Opperman se beginsel af deur ook gedigte wat in tydskrifte verskyn het op te neem en volg hierin die voorbeeld van Viljoen en Foster. Anders by as Komrij word die aantal gedigte per digter nie beperk nie en die aantal gedigte (of reëls) per digter funksioneer daarom evaluerend. Hoewel Brink moeite doen om die subjektiwiteit van gedigkeuses te beklemtoon, impliseer hy 'n objektiewe maatstaf deur te sê dat sy keuse (ook) op gehalte berus. Dit val ook op in hoe 'n mate die twee onlangse voorgangers tog die werkwyse beïnvloed het. Op die spoor van Poskaarte ag Brink representatiwiteit belangrik en trag hy doelbewus om 'n beeld te gee van die gevarieerdheid van die Afrikaanse poésie, op tematiese en tegniese vlak. In navolging van Komrij besluit hy om (anders as Opperman) die oorspronklike spelling van gedigte te handhaaf en om die kanon doelbewus oper te maak deur die insluiting van veral talle bruin digters. Net soos Komrij neem hy ook 'n hele klomp anonieme volksverse op, wat die beeld van die ouer Afrikaanse poësie nuanseer. Brink se kyk op die Afrikaanse poësie is uiteraard 'n persoonlike perspektief waaruit byvoorbeeld sy ideologie ook by tye na vore tree. Sy retrospektiewe blik kan ook ‘perspektiwisties’ genoem word, omdat dit lyk asof hy die verlede doelbewus | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 183]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
betrag uit 'n eietydse perspektief: keuses uit die ouer digters word veelal ingekort ten behoewe van 'n groter hoeveelheid kontemporêre poësie. Desondanks strewe hy daarna om nie té drasties af te wyk van die geykte beeld van die kanon nie. ***
Bloemlesingsamestelling (en die skryf van 'n literatuurgeskiedenis) is geen neutrale handeling nie. As kanoniserende optrede is dit in wese ideologies van aard en 'n duidelike openbaarmaking van literatuuropvattings. Sodoende is dit 'n provokatiewe posisieinname binne die literêre veld en verg dit naas goeie insig ook veel durf. | |||||||||||||||||||||||||||||||
Bibliografie
| |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 184]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
| |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 185]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
| |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 186]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
| |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 187]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
|
|