| |
| |
| |
'n Blik van binne: Gerrit Komrij se bloemlezing De Afrikaanse poëzie 1000 en enkele gedichten
Lina Spies
Die grensoorskrydendste daad om in die laaste desennium van die twintigste eeu weer kulturele bande tussen Suid-Afrika en Nederland te herstel, was volgens my ongetwyfeld meesterbloemleser Gerrit Komrij se samestelling van die bloemlesing De Afrikaanse poëzie in 1000 en enkele gedichten. Tereg sê hy self in die voorwoord: ‘Dit is, op de rand van de eenentwintigste eeuw, de grootste bloemlezing die ooit uit de Afrikaanse poëzie werd gemaakt’ (Algemeen Dagblad 13.3.99).
Geoordeel aan die uitgebreide artikels oor die bloemlesing in die Nederlandse dagbladpers na die bekendstelling is daar enorme belangstelling by die Nederlandse publiek vir dié monumentale werk. Wat die betekenis daarvan vir sowel Nederlandstalige as Afrikaanstalige lesers sal wees, moet nog blyk, maar wat wel vas staan is dat die moontlikheid vir Nederlanders geskep is om, weliswaar met 'n sekere inspanning, weer poësie te lees in die taal wat die intiemste aan Nederlands verwant is. Afrikaanstaliges kan op hulle beurt daarvan kennisneem dat hulle familie is van ruim 20 miljoen sprekers. Van Woerden het inderdaad gelyk as hy beweer: ‘... het vlies dat Nederlands en Afrikaans scheidt is transparant’ (NRC Handelsblad 17.9.99). Sodra die drumpel tussen die twee tale oorgesteek is, wag daar vir hoorders en lesers aan beide kante van die skeidslyn 'n ryke beloning. Jan Robbemond wys in sy interview met Komrij in die Algemeen Dagblad van Saterdag 13.3.99 op sy geloofwaardigheid as bloemleser: ‘Gerrit Komrij heeft een rijke ervaring in het samenstellen van bloemlezingen. De pracht van de Nederlandse poëzie heeft hij zichtbaar gemaakt in zijn trilogie De Nederlandse poëzie in 3000 en enige gedichten, waarin hij de door hem uit het stof opgedolfen schatten tentoonstelt van de twaalfde tot en met de 20ste eeuw...’ Die prag van die Afrikaanse poësie wou Komrij kennelik ook blootlê in die bloemlesing van ‘1000 en enkele Afrikaanse gedichten’ wat hy aan sy trilogie toegevoeg het. Oor sy ontdekking van die Afrikaanse poësie het hy aan Robbemond gesê: ‘Meteen bij de eerste kennismaking bleek dat het een grote, mooie literatuur is met veel gedichten die allemaal op een of andere manier fascineren. Ik deed ontdekking
| |
| |
op ontdekking, ik stuitte op verrassing na verrassing.’
Die hoop wat Komrij teenoor Robbemond uitgespreek het dat Suid-Afrikaners 'n bietjie hartliker sal wees as Nederlanders en hulle waardering sal laat blyk, sal seker nie beskaam nie. Eweneens sal kritiek nie uitbly nie, veral nie van geïnformeerde lesers nie. Geïnformeerde lesers waartoe ek myself in alle beskeidenheid reken, is noodwendig ook kritiese lesers.
Komrij het inderdaad na verborge bronne neergedaal en gedigte opgehaal waarvan die mees belese liefhebber van die Afrikaanse poësie nog nooit gehoor het nie. Sy bloemlesing neem 'n aanvang met die vroegste tekste wat nog in Nederlands op Suid-Afrikaanse bodem geskryf is en die leser kan dus sien hoe Nederlands uit die pen van hierdie vroeë ‘digters’ moeisaam en tastend tot 'n nuwe taal ontwikkel en langsamerhand 'n steeds geskikter en gevoeliger medium vir die skryf van poësie word.
Onwillekeurig roep Komrij se bloemlesing by die geskoolde Afrikaanstalige leser onmiddellik 'n vergelyking op met D.J. Opperman se Groot Verseboek waarvan die eerste uitgawe in 1951 verskyn het en die laaste in 1983. In die tydperk toe Opperman dit reëlmatig hersien en uitgebrei het, was dit die onbetwiste barometer vir die stand van die Afrikaanse poësie en in 'n hoë mate is dit nog die geval. Naas die omvangryke bloemlesing Poskaarte (1997) van Ronel Foster en Louise Viljoen, wat die Afrikaanse poësie vanaf sestig tot hede verteenwoordig, vul Komrij se bloemlesing op eiesinnige wyse die leemte wat na die laaste verskyning van Groot Verseboek ontstaan het.
Die vroegste gedigte in Afrikaans met poëtiese waarde was geestige verse. Komrij en Opperman is kennelik eenstemmig oor die geestige verse uit die tweede helfte van die negentiende eeu wat 'n mens nie in enige bloemlesing uit die Afrikaanse poësie sou wou mis nie. In albei bloemlesings verskyn F.W. Reitz se humoristiese ‘Klaas Geswind en syn perd’ en ‘Di steweltjies fan Sannie’ en S.J. du Toit se ‘Hoe di Hollanders di Kaap Ingeneem het’, Pikkedel se ‘Op Hartebeesfontyn’ en C.W. Joubert se ‘nuttige Reseppe’. Ook Pulvermacher se kostelike ‘Dopper Joris en zijn zijltje’, deur Opperman se Groot Verseboek bekend en geliefd by vele Afrikaanse lesers, ontbreek nie by Komrij nie en gelukkig neem hy ook Pulvermacher se ander klein juweeltjie ‘Ou Abel Rasmus’ op.
Maar waar Opperman volstaan met enkele verse van kultuur-historiese belang, dog met weinig poëtiese waarde, vind 'n mens by Komrij 'n ruim aantal: verse wat getuig van 'n ontwakende taaltrots en nasionale gevoel met as keersy dikwels 'n anti-Engelse gesindheid. Van C.P. Hoogenhout wat homself genoem het ‘oom Jan wat versies maak’ en seker nie die pretensie gehad het van 'n digter te wees nie, neem Opperman twee verse op en Komrij sewe: 'n beduidende verskil. Michaël Zeeman kom tot die gevolgtrekking: ‘... de negentiende eeuw duurt lang, in elk geval in de Afrikaanse poëzie’ (De Volkskrant 24.9.99). Hy het nie gelyk nie en al neem die Afrikaanse verse uit die negentiende eeu nie meer as ongeveer 100 van
| |
| |
die 1065 bladsye van Komrij se bloemlesing in beslag nie, raak Zeeman tog die kern van my beswaar teen dié monumentale publikasie aan nl. dat die oorwig aan triviale gedigte 'n vertekende beeld gee van die Afrikaanse poësie.
Die omvang van die bloemlesing veroorsaak kennelik vir die Nederlandse resensente 'n leesversperring. Met hulle ingekorte geheue as gevolg van die jarelange taboe op die Afrikaanse letterkunde - vae herinneringe aan Afrikaanse liedjies uit die Anglo-Boere-oorlog en aan enkele gedigte in vroeë Nederlandse skoolboeke - duik resensente in Komrij se bloemlesing en vind soos Henk van Woerden in die NRC Handelsblad dat hulle ‘duisel’. Dié duiseling by Nederlandse kritici gee daartoe aanleiding dat hulle nie tot ewewigtige oordele kan kom nie.
In al die resensies waarvan ek kennisgeneem het word na die skatologiese gedig ‘De lof der stront’ van J.E. de Jong (1847-1915) verwys en daaruit aangehaal met uitsondering van Hans Ester wat hom nie verwerdig om daaruit te siteer nie maar dit tereg 'n ‘volstrekt waardeloze gedicht’ noem (Reformatorisch Dagblad 15.12.99). Indien 'n sekere verkneukeling in die skatologiese 'n hebbelikheid van Komrij is (hy neem ook die waardelose ‘Durban se poepwedstryd’ op), gun ek hom dit graag, maar dan vind ek dit uiters jammer dat Nederlandse resensente daarop fikseer ten koste van gedigte wat bepalend is vir die hoë peil van die Afrikaanse poësie en wat nou in besprekings nie aan die bod kom nie.
Dis te verwelkom dat Komrij in sy bloemlesing ruimte maak vir digters van ‘speelse verse’: liedtekste, kinderryme en abecedariums. Van hierdie verse gaan ongetwyfeld 'n eie bekoring uit en hulle behoort tot 'n onmiskenbare tradisie in die Afrikaanse poësie en word beoefen deur onder andere R.K. Belcher, Boerneef, Ellen Botha en Philip de Vos. Ook binne hierdie tradisie staan die digters wat in Kaaps, 'n variant van Afrikaans, skryf soos Loit Sols en Peter Snyders en die beoefenaars van die kindervers soos Hester Heese, Helena J.F. Lochner en Elizabeth van der Merwe. Van Hennie Aucamp, bekroonde kortverhaalskrywer wat ook die kabaret in Afrikaans geïntroduseer het, neem Komrij agt liedtekste en vier kwatryne op. Op dié wyse brei hy die register uit van wat as die Afrikaanse digkuns beskou word en gee hy erkenning aan poësie waarmee dusver nie erns gemaak is nie.
Met 'n te groot verteenwoordiging van die soort speelse gedig ontstaan egter ook weer 'n wanbalans wat by die reeds gesiteerde Michaël Zeeman 'n verdere onbehae skep. Dis simptomaties van die fiksering op trivialiteite dat hy die obskure digteres Tante Kota se naïewe vingerrympie en aanraakliedjie siteer, dus 'n variant van 'n Nederlandse kinderrympie, en nie 'n oorspronklike Afrikaanse kindervers van onbetwiste literêre waarde soos dié van Hester Heese nie. Zeeman se negatiewe beoordeling van die Afrikaanse poësie is te wyte nie aan die poësie self nie, maar aan sy onvermoë om selektief te lees.
Geen bloemleser is sonder voorkeure nie. Komrij se besluit om alle Afrikaanse digbundels waarop hy die hand kon lê te lees om sodoende nie 'n belangrike digter oor te slaan nie, impliseer alreeds 'n sekere vooringenomenheid, nl. om nie voor- | |
| |
af kennis te neem van die kanon nie. Die gekanoniseerdes staan egter almal in sy bloemlesing, onder andere die drie grotes aan wie liefhebbers en kenners van die Afrikaanse poësie onmiddellik dink: Elisabeth Eybers, N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman.
Die kanonisering van Van Wyk Louw en Opperman is die resultaat van die grootheid van hulle digterskap waaraan Komrij met die keuse uit hul oeuvres geen reg laat geskied nie. Hy verteenwoordig albei digters ook slegs met tien verse, die maksimum wat hy besluit het om per digter toe te laat. Daar is geen verontskuldiging vir die onreg wat op die wyse geskied nie. Van Wyk Louw se biograaf J.C. Steyn wys juis daarop dat Louw se grootheid gouer deur Nederlanders, o.a. deur die digters Marsman en Greshoff, raakgesien is as deur sy tydgenote in Suid-Afrika (1998:1133). Steyn haal Pierre Dubois uit Het Vaderland (27.3.71) aan waar hy oor Louw sê: ‘Het is voor een belangrijk deel aan zijn dichterlijk genie te danken dat het Afrikaans een zo bewonderenswaardig poëtisch instrument kon worden, dat zich volwaardig met de Westeuropese letteren kan meten’ (1998:1134).
Die grotes word verder oorskadu deurdat Komrij ook ‘minor poets’ met tien gedigte verteenwoordig, onder meer A.D. Keet en A.G. Visser. Keet en Visser behoort tot die Twintigers wat aan die woord gekom het na die sogenaamde ‘Driemanskap’: Jan F.E. Celliers, Totius en C. Louis Leipoldt. Leipoldt het aan die individu stem verleen en dis by sy werk dat die digters van Dertig wat verantwoordelik was vir die belangrikste episode van vernuwing in die Afrikaanse poësie kon aansluit. Binne die ontwikkelende Afrikaanse poësietradisie het Keet en Visser te staan gekom ná Leipoldt en voor die Dertigers wat hulle vlot versifikasie, retoriese taalgebruik en nogal vlak sentimente aan die lig gebring het.
Van Wyk Louw het seerseker nie ten onregte nie in 1938 'n skerp en destyds gewraakte uitspraak oor Visser gemaak: ‘... verbeel jou die volk wat 'n literatuur van A.G. Vissers het, of waarin A.G. Visser een van die hoogtepunte is’ (Steyn 1998:874). In 'n latere herwaardering van Visser het Louw egter groot lof gehad vir sy geestige verse. Hierin lê inderdaad Visser se wesenlike bydrae wat ook, helaas, nie deur Komrij genoegsaam belig word nie. Die negentiende eeu wil maar nie in hierdie bloemlesing tot 'n einde kom nie: Komrij neem twee eerste onbeholpe verse van Visser (nog in die ongestandaardiseerde spelling van Afrikaans) op, nl. ‘Di cigarette’ en die samespraak ‘'n Saak het twé kante’. Met sy verdere keuse van die twee sentimentele, geswolle liefdesverse ‘Rosa Rosarum’ en ‘Eheu fugaces...’ uit Visser se werk is daar niks wat hom in hierdie bloemlesing opsigtelik onderskei van sy tydgenoot Keet nie en ken Komrij aan hulle 'n status toe wat hulle nie verdien nie.
Die onderbeligting van gekanoniseerde digters en meermale Komrij se keuse uit hulle oeuvres het verder tot gevolg dat sy bloemlesing nie 'n ontwikkelende poësietradisie laat blyk nie. Maar meer nog as deur die verduistering van gekanoniseerdes word die Afrikaanse poësietradisie onherkenbaar deurdat hy die digters chronologies rangskik op grond van hulle geboortedatums en nie na aanleiding
| |
| |
van die verskyningsdatums van hulle bundels nie. Losgemaak uit die digtersgenerasie waartoe hulle behoort, kom digters naas mekaar te staan wat niks gemeen het nie behalwe geboortedatums soos Elisabeth Eybers en die kinderboekskryfster en essayis Freda Linde wat albei in 1915 gebore is. Om Linde se drie spreukryme na Eybers se tien grandiose verse te lees, doen byna absurd aan. Die opposisie tussen swak en sterk verse wat op die wyse ontstaan, werk vertroebelend.
Waar Komrij se bloemlesing nie 'n beeld gee van 'n literatuurgeskiedenis nie, regverdig dit egter nie ongeverifieerde uitsprake oor die Afrikaanse poësie soos wat Rob Schouten hom veroorloof nie. Reeds die titel van sy resensie is simptomaties van sy denigrerende houding: ‘Van God en huisgezin tot coke en sodomie’. Sy bewering dat 'n mens van vroeëre digters - waartoe hy Leipoldt, Van Wyk Louw en Opperman reken - 'n indruk oorhou dat hulle ‘een soort vriendelijke, huiselijke variant leverden van het Nederlandse symbolisme en dat ze Boutens maar ook Nietzsche en Dostojevskie vooral gelezen hadden met een erg christelijke zonnebril op’ (Vrij Nederland 11.9.99) is van alle waarheid ontdaan.
Een van die groot Verdienstes van die Dertigers was juis dat hulle die gedig bevry het uit die diens aan volk, politiek en godsdiens. Bowendien behoort die drie digters wat hy in een asem noem tot verskillende digtersgenerasies. Daarbenewens was individualistiese, kosmopolitiese Leipoldt 'n agnostikus en sowel Van Wyk Louw met sy verwerping van sekerhede en aanvaarding van die irrasionalisme as Opperman met sy bewussyn van die evolusionistiese en panteïstiese aard van die natuur geen tradisionele Christene nie.
Schouten betreur ook die ostentatiewe afwesigheid van strominge soos die dadaïsme en die surrealisme in die Afrikaanse poësie; strominge wat beswaarlik invloed kon uitgeoefen het op 'n literatuur in sy kinderskoene. Maar as die dadaïsme 'n ‘provokatiewe anti-konformistiese beweging’ was (Meiring 1992:62) en die surrealisme as 'n ‘avontuur van die gees (...) bevrydend en verkennend’ (Meiring 1992:512), dan het dit opgeklink in die stem van protes teen die politieke status quo in die patois van die bruinman - reeds so vroeg as in S.J. du Toit se alleenspraak ‘Hoe die Hollanders die Kaap ingeneem het (vertel deur ou Danster 'n Griekwa)’ uit die 19de eeu en in Peter Blum se ‘Kaapse sonnette’ uit die jare vyftig van die 20ste eeu.
Dit was die begin van 'n rigting waarby bruin digters later kon aansluit. Waar S.V. Petersen en P.J. Philander nog in die standaardvariant van Afrikaans uitdrukking gegee het aan die lotgevalle van hulle mense, het Adam Small dit skerper, bitterder en selfs aangrypender (kan 'n mens sê outentieker?) gedoen in Kaaps, die vanselfsprekende gemoedstaal van die bruinmens. Small se voorbeeld is gevolg deur onder andere Peter Snyders en Marius Titus.
Gesien dat uit al hierdie digters se werk gedigte in Komrij se bloemlesing staan (van Petersen en Small die maksimale tien) is Schouten weereens onregverdig met
| |
| |
nog 'n opsetlik ontluisterende opmerking, nl. dat ‘de Afrikaanse poëzie zeker niet de onderdrukte bevolking in haar emancipatie heeft begeleid’. Dis veral nie waar van die Afrikaanse poësie as sodanig nie maar waar Schouten sy indruk op die bloemlesing grond, wil ek toegee dat Komrij meer antiapartheidsgedigte kon opgeneem waarvan daar vele fel voorbeelde is, ook in die werk van blanke digters. Ek dink aan Opperman se ‘Draaiboek’ en ‘Nagwag’ uit sy sublieme bundel Blom en baaierd van 1956 wat Komrij nie met een vers verteenwoordig nie. Opperman se nagwag kom in die debat wat hy met homself voer tot die oortuiging:
En wie is ek en hoe 'n man?
Dit is mos net afhanklik van
hoe ver mens van die vuurtjie sit!
Die nag kan hom, soos God, nie steur
aan 'n man se afkoms en sy kleur.
In haar Brusselse lesing oor die poësie van 1963 het Elisabeth Eybers gesê: ‘Ek vermoed dat een van die redes waarom iemand verse skryf, is omdat daar vir hom dinge is, te intiem, of te aangrypend, of te onvatbaar-op-eerste-sig, of te ongerymd om in die openbaar mee te deel. Hulle moet gesing of gesuggereer of oorgesein word’. Ek deel die voorkeur vir indirekte beelding bo direkte bewering waarvan Eybers se poësie in toenemende mate binne haar oeuvre 'n glansende voorbeeld is. Komrij se hoë waardering vir Afrikaanse digteresse berus egter juis op die ‘onthutsende, bijna pornografische directheid’ van hulle ‘onthullingen over hun lichamelijke ervaringen’ (Algemeen Dagblad 13.3.99). Maar laat ek aan alle poësielesers, bloemlesers en resensente hul voorkeure gun. Mens kan nog altyd verantwoordelik verskil en geesdriftig saamstem en ek vind nie ernstig fout met Komrij se keuse uit die werk van digteresse nie: Eybers, Ingrid Jonker, Olga Kirsch, Antjie Krog en Wilma Stockenström word elkeen met tien sterk verse verteenwoordig.
Elisabeth Eybers het in haar Brusselse lesing die poësie ook genoem ‘daardie eeueoue altyd-nuwe, vreemde, vertroude ompad en kortpad tussen mens en mens.’ Gerrit Komrij het met sy bloemlesing na al die jare van vervreemding die pad tussen Afrikaanstaliges en Nederlandstaliges weer oopgemaak. Dit skep die moontlikheid van 'n ontmoeting wat veral bewerkstellig kan word deur verantwoorde en entoesiastiese leiding van resensente aan lesers in Suid-Afrika én in Nederland.
| |
Bibliografie
A
Eybers, E., ‘Oor poësie.’ In: Voetpad van verkenning. (Red. J.C. Kannemeyer), Human en Rousseau, Kaapstad, 1978: 107-112. |
| |
| |
Komrij, G., De Afrikaanse poëzie in 1000 en enkele gedichten, Bert Bakker, 1999. |
Meiring, E., ‘Dada’, ‘Surrealisme’. In: Cloete, T.T. (red.) Literêre terme en teorieë, HAUM-Literêr, Pretoria, 1992: 62-63, 512-514. |
Opperman, D.J., Digters van Dertig, Nasionale Boekhandel Bpk., Kaapstad, 1962. |
Steyn, J.C., Van Wyk Louw: 'n Lewensverhaal (Deel 2), Tafelberg-Uitgewers Bpk., Kaapstad, 1998:874, 1133-1134. |
| |
B
Ester, H., ‘Poëzie voor het Nederlandse oor’. In: Reformatorisch Dagblad, 15 Desember 1999. |
Robbemond, J., ‘De nieuwe passie van Gerrit Komrij’. In: Algemeen Dagblad, 13 Maart 1999:. |
Schouten, R., ‘Van God en huisgesin tot coke en sodomie’. In: Vrij Nederland, 11 September 1999. |
Van Woerden, H., ‘Baie dankie mineer Komry!’ In: NRC Handelsblad, 17 September 1999. |
Zeeman, M., ‘Net soelank jy my verstaan’. In: De Volkskrant, 24 September 1999. |
|
|