Nederlandse Letterkunde. Jaargang 5
(2000)– [tijdschrift] Nederlandse Letterkunde– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 268]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
Die orale tradisie in die werk van twee Afrikaanse outeurs
| |||||||||||||||||||||||||||||||
President Mandela en die pryssangersGeen ondersoek na die herontdekking van ouer skrywers in Afrikaans kan dus volledig wees sonder aandag aan ook die vertellers en die naamlose digters in die orale tradisie nie.Ga naar eind1 Met die politieke bevryding en die bewindsoorname in 1994 het daar bowendien in die oratuur interessante ontwikkelinge plaasgevind. Toe president Nelson Mandela in 1994 ingehuldig is, was daar op die podium twee figure in tradisionele Xhosa-drag wat buitelandse joernaliste stomgeslaan het en van wie ook nie alle Suid-Afrikaners geweet het wat hulle funksie was nie.Ga naar eind2 Die optrede van hierdie izimbongi of pryssangers (enkeloud=imbongi) daardie dag, sê Russel Kaschul (1995, 69) tereg, was waarskynlik ook vir vele Suid-Afrkaners die eerste kennismaking met een van die oudste kunsvorme van Afrika, die izibongo, prysliedere, die uitstorting van poëtiese aanprysing, gewoonlik (hoewel uiteraard nie by die inhuldiging nie) in kombinasies met sosiale kritiek. Die imbongi komponeer die prysliedere nie vooraf nie, dit ontstaan tydens die voordrag en in vele gevalle is dit eenmalige geleentheidsliedere. Prysliedere kan aristokratiese mag, militêre prestasies, persoonlike oorwinnings, selfs die inisiasie van seuns aanprys (De Wit en Erasmus 1993, 49 ev). Dié vir vroue van koninklike herkoms, heet izihasho - en nóg izibongo nóg izihasho is net aanprysend (Turner 1955; 59 ev.). Die izihasho lewer ook sosiale kommentaar, vertel wat die gemeenskap dink. In izibongo het die imbongi insgelyks 'n sosio-politieke funksie, hy is die stem van die gewone onderdane; hy moet ook aan die heerser nie slegs die lof en eer van sy volgelinge toebring nie, | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 269]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
maar ook kritiek laat hoor, hy moet kenbaar maak wat die volgelinge van 'n sekere saak dink. Volgens Kashula (1995, 67) is die imbongi juis as gevolg hiervan geëerde lede van die gemeenskap en is vele van hulle tydens die apartheidsera selfs tronk toe gestuur vanwee hul volgehoue kritiek op hoofmanne en politici wat saamgewerk het met die apartheidsregering. Hoe verskillend ook die figure was oor wie die buitelandse besoekers so verbaas was by pres. Mandela se inhuldiging, hulle was 'n bekende verskynsel in 'n nuwe gedaante: die imbongi het, wat betref sy funksie, iets weg van die ‘court jester’, die hofnar vir wie dit ook gaan om ‘the conscience of the King’. Dit was, soos in vele ander gevalle, die voorkoms, die verskyningsvorm wat vreemd, misleidend was. Die pryssanger is maar een van die vele ‘outeurs’ en prysliedere maar een van die vele genres in die mondelinge tradisie. Saam met die verskilende vorme van ‘volkskuns’ wat opgeteken is, vanaf die eerste geskrifte, vorm al die verskillende soorte verhale, dierestories, spookstories, sprokies, al die verskillende spontane poëtiese uitinge van die Afrika-mens (liries of dramaties voorgedra) 'n ryk tapisserie. | |||||||||||||||||||||||||||||||
Mondelinge oorlewerings as grondstofVir die doel van hierdie essay is nagegaan hoe aspekte van hierdie mondelinge oorlewerings gebruik is as grondstowwe in die Afrikaanse werke van twee outeurs. Vir die prosa fokus die ondersoek op Eugène Marais se sg. ‘dwaalstorie’, getiteld ‘Klein Riet-alleen-in-die-Roerkuil’, waarin elemente uit die BoesmanGa naar eind3 en Khoisan mitologie herkenbaar is. Vir die poësie is daar gekyk na hoe Boerneef die Afrikaanse volkspoësie van die landstreek bekend as die Koue Bokkeveld in sy poësie integreer. Eerstens die prosa. | |||||||||||||||||||||||||||||||
Verkenners, optekenaars en verwerkers - 'n klein inventarisDie Afrikaanse skrywer het nie by die volkeprobleem begin nie. Hy het eers in tien- en tientalle studies sy mede-vastelandbewoners begin verken, begin verstaan... (Louw 1964, Inleiding, 7). Die bekendste ‘verkenners’, die eerste optekenaars in die Afrikaanse letterkunde van die mondelinge oorleweringe van die Boesman en die Khoikhoi is naas G.R. von Wielligh, met sy genoemde Boesman-Stories, ook die sendelingseun en Sothokenner, G.H. Franz, met Moloisi die Wyse en Moeder Poulin. In 'n meer romantiese toonaard is daar P.J. Schoeman se verskillende Fanie boeke: Fanie se veldskooldae en Fanie word grootwildjagter, soos ook sy Swerwersprokies en Op ver paaie. Byna altyd vergesel van belangrike volkekundige wetenswaardighede is Minnie Postma se optekening van verskeie Sotho-legendes, waarvan 'n keur saamgestel is met 'n belang- | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 270]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
rike voorwoord deur Hennie Aucamp onder die titel, As die maan oor die lug loop. Bleek en Lloyd se standaardwerk van opgetekende en vertaalde Boesmanverhale Specimen of Bushmen Folklore het in Engels verskyn. In sy versameling Afrika-verhale, Wys my waar is Timboektoe meld Hennie Aucamp (1997, 3) dat die publikasie van etniese materiaal vroeër 'n belangrike komponent was in Afrikaanse tydskrifte en dat hierdie verhale gewild was omdat die Afrikaanse leser daarin sy eie préliteratuur herken het: jagstories, liegstories, spookstories. Hy noem ook die name van ander optekenaars: Otto Schwelnuss, Hélène de Villiers, J.H. Bothma en Marié Opperman. Hierdie tydskrifpublikasie van opgetekende stories het in die laat veertigerjare begin afneem, veral nadat G.H. Franz se werk deur 'n leser van Die Huisgenoot as ‘kaffergemors’ verwerp is in 'n brief aan die tydskrif. Apartheid en rassisme het 'n tol begin eis ook in die ‘verkennings’. Dit kon egter niks verander nie aan een van die blywendste, toe reeds gevestigde, erfenisse uit hierdie optekeninge: die figuur van die wyse Afrika-vader of -moederfiguur (Moloisi, Poulin, die vaderfigure in Schoeman se verhale, die outa Hendrik van Marais se ‘dwaalstories’), almal natuurlike begeleiers, gesagsfigure met kennis en lewenswyshede wat geslagte opgedoen het in hul oorlewingstryd teen 'n genadelose natuur. Daar is tans in aansluiting by tendense wêreldwyd, soos o.a. Helize van Vuuren (1996: 50) aantoon, by veral Afrikaanse skrywers, ironies genoeg, 'n herlewing in die gebruik van materiaal uit die Boesmankultuur, ironies want ‘soos die autochtone in Noord-Amerika, Nieu-Zeeland, Australië en elders is ook die Boesmans deur die eerste nedersetters uitgewis en vervolg.’ Die hernieude gesprek met die kuiture van ook ander inheemse Afrika-mense is nie, soos dit mag voorkom, 'n funksie van slegs die politieke bevryding nie. Benewens die vroeë verkenners het dit in die sestigerjare reeds hervat in byvoorbeeld die poësie van Abraham Fouche: Weeskinders van die hemelgod (1967) en Boesmanverse (1972). Meer resente werke is Thomas Deacon se Die predikasies van Jacob Oerson (Griekwaverse); Donald Riekert se Halfmens en Heuning uit die swarthaak (Tswanas en Boesmans). Op hoër niveau is daar die afdeling ‘volopkos’ in Petra Müller se My plek se naam is Waterval en Wilma Stockenström se bundel, Van Vergetelheid en van Glans. Van laasgenoemde sê John Kannemeyer (1983, 517) tereg: ‘'n Mens kry die gevoel dat sy feitlik die hele kollektiewe onbewuste van Afrika met haar saamdra.’ In die prosa maak George Weideman in sy kortverhaalbundel Die donker melk van daeraad gebruik van ‘oustories’ van veral Namas, Oranjerivier-mense. Daar is Piet van Rooyen se Die spoorsnyer en Agter 'n eland aan (Boesmans) en in Riana Scheepers se verhaal ‘Babanango’ teken sy die Zoeloeverhaal op oor die oorsprong van hierdie pleknaam in Zoeloeland; nog interessanter is haar ‘Abantu oNgoye’ (albei uit Die ding in die vuur), 'n moderne volksvertelling oor die stigting van die Universiteit van Zoeloeland. | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 271]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
Dwaalstories en veral klein riet, die boesmantjieDie mondelinge tradisie van Afrika bestaan uit die verhale en die liedere en die wyshede en die lewensinsigte en ook die praktiese oorlewingskennis van kleine mense in 'n ontsaglike groot ruimte. In die werklike lewe is die kleinstes van postuur die Boesmans. En een van ‘voorstes’ onder hulle, so vertel Eugène N. Marais se verhaal is die ‘vaal Boesmanjie’, ‘Klein Riet-alleen-in-dieRoerkuil’. Hierdie verhaal is een van die vier sogenaamde ‘Dwaalstories’ wat van Mei tot Augustus 1921 in Die Boerevrou verskyn het, volgens Marais self, die benaming vir 'n inheemse soort sprokie ‘..sommige net 'n aaneenskakeling van woorde met 'n dowwe skaduwee van betekenis.’ In 1927, toe dit in boekvorm verskyn, voeg hy 'n ‘Inleiding daaraan toe, waarvolgens hy hierdie stories by 'n sekere ‘ou Boesman’, ou Hendrik gehoor het. Hy het 'n paar onmiddellik na die vertel neergeskryf, maar nie ‘woord vir woord’ nie. Hoewel daar 'n tekening van ou Hendrik bestaan deur die bekende kunstenaar Erich Mayer ‘waarop Ou Hendrik, ondanks sy verflenterde hoed en klere nog steeds 'n waardige, patriargale indruk maak’, waarsku Leon Rousseau (1974, 255) dat Marais dikwels sy lesers op 'n dwaalspoor lei. Hy vermoed dat die benaming, ‘dwaalstories’ (soos Marais se skuilnaam, Klaas Vakie) subtiele spot kan wees met sy eie morfienverslawing en miskien ook met Hendrik, want die beste storievertellers daardie jare was ook daggarokers, die gebruik van dagga is oogluikend toegelaat. (Dagga=cannabis.) Waaroor dit hier gaan, is die vormgewing, wat afwyk van die ander opgetekende Boesmanstories. Van Wyk Louw (1961, 133) het waarskynlik gelyk in sy vermoede dat Marais ‘sy eerste Dwaalstories gans anders geskryf is as die paar Boesmanstories wat hy geken het....en dat hy met hierdie enkele bladsye 'n volkome eie literêre rigting ingeslaan het’. Louw se verslag van sy leeservaring van die dwaalstories stem in vele opsigte ooreen met die meningskurwe wat deur die jare in die literatuur oor die verhale ontstaan het: Moet ek erken, heel vroeg was hierdie stories vir my ‘oulik’, ‘nie onaardig’, ‘fyn’? Eers baie, baie later ‘sjarmant’, ‘fassinerend’. Vandag sou ek sê: hierdie vier stukke is van die grootste prosa in ons taal. Vir die Europese leser behoort die verhaal van Riet bekend voor te kom, maar in 'n ander gedaante. Watter gedaante hou ek vir 'n oomblik agterweë. Hierdie ‘dwaalstories’ is nie variasies op opgetekende Boesman of Khoisan verhale nie. Daar kom in Riet-alleen net een herkenbare naam voor: Heitsi-Eibib. Die ander: Nagali, Rooi Joggom, Klipdag-Eenoog, en die plekname: Gammadoekies, Moetmekaar se drif, Middelberg se nek is nie bekende figure of plekke nie. Wat gebeur in hierdie verhaaltjie? Op 'n plek genaamd Gammadoekies kom daar 'n ‘groot gevaar’. Die ‘tgorra’ waar Gammadoekies se mense die hele nag om die vuur sit en kajuitraad hou, is volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal 'n | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 272]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
vlak watergat, gew. een waarin water syfer en wat in droë rivierbeddings of dryfsand gegrawe is; syfergat, syferwater, graafwater - veral in N.W. Kaapland en Suid-Wes-Afrika. Gorra in Hottentots beteken ‘na water grawe’, of ‘water wat deur grawe verkry is’, graafwater. Maar water is daar dié nag juis nie in die tgorra nie, daar brand 'n vuur. En juis die vuur in die tgorra verskaf 'n moontlike verklaring vir die ‘groot gevaar’. Syferwater is vir hierdie nomade 'n laaste hoop in tye van droogte; as daar nie meer syferwater in die tgorra is nie is die groot gevaar 'n groot droogte. Op die droogtegevaar reageer hierdie mense vreemd: die vrouens (‘meide’) skree: ‘Hot-'tgorra’ en die mans ‘is so bang dat hulle toonnaels kletter en die sweet drup van hulle lyf in haelkorrels. Elkeen kan die vuur met een asem doodblaas.’ As 'n mens bang word kan, in Afrikaans, jou tande opmekaar klap, maar darem nie jou toonnaels nie. Vir wie droogte 'n lewensgevaar is, moet egter die gode oorhaal om dit te laat reën. En in verband met die reënmaakseremonies van die Khoisan haal Schapera (1930, 220) Hahn se waarnemings aan: die reënmakers het hul urine in die brandende vuur gesprinkel, hulle naels afgesny en in die vuur gegooi en dan was hulle verseker daarvan dat dit sou reën. Ek vermoed dat die vrouens se 'tgorra in ‘hot - 'tgorra!’ nie dieselfde is as die nag se sitplek nie, maar 'n voorspelling van wat met Riet sal gebeur as hy verkeerd maak; ‘tgorra’ is ook herleibaar tot 'n woord wat in Afrikaans voorkom as ‘ghoera’, 'n snaarinstrument. Indien my redenasie korrek is, kan die ‘hot-’ voor die ‘t'gorra’ gelees word as 'n uiting waarmee maat gehou word, dus die ‘hot-’ van die woord ‘hottentot’ (sien Nienaber 1963, 73). Die vroue inkanteer dus die belangrikste woord in die dreigement: ‘ritme-ramkie, ritme-ramkie’. 'n Onheilspellende voorspelling. Hierdie klein boodskapdraer, wat so vinnig kon hardloop, word na ene Rooi Joggom gestuur met 'n boodskap wat die siener Klipdas-Eenoog agtermekaargesit het, en hy word gewaarsku: ‘Pasop vir Nagali: sy sal jou op baie maniere voorlê; sy het sterk toorgoed. As jy verkeerd maak, word jou lyf so styf gespan soos die snaar van die groot ramkie.’ Wie Nagali is, weet ons nie, maar wel wie die boodskap gegee het en na wie toe hy gestuur is. Die boodskap kom van sy oupa (sy ta se ta), ou Heitsi-eibib, volgens Hahn (op. cit.) een van die drie gode in die Khoisan-mitologie. Heitsi-eibib se teenstander in die goderyk was //Gaunab, die naam wat deur sendelinge gebruik is vir die duiwel, wat aanspreeklik was vir alle kwaad. Die derde god was 'n soort reddersfiguur, die reëngod, Tsui//Goab, wat volgens oorlewering in die ‘rooi hemel’ of ‘rooi lug’ gewoon het en wie se naam soms vertaal word met ‘Rooi Dagbreek’, die Rooi Joggom van die verhaal. Die gebeure kan soos volg vereenvoudig word: Heitsi-eibib stuur, vanweë die groot gevaar van droogte, sy kleinseun, klein Riet, na Tsui//Goab (Rooi Joggom) met 'n boodskap. Hy waarsku die boodskappertjie teen //Gaunab (Nagali). Riet vertrek ‘toe die dag wit word’, hy dra sy ‘uitspeelstel’ saam en, om nie te vergeet nie, sê hy die boodskap op en slaan met sy regtervuis teen sy voorkop. Die woord ‘uitspeelstel’ is nie in Afrikaans bekend nie, die funksie daarvan kan egter | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 273]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
afgelei word uit die aandag wat die ‘skraal Boesmanmeidjie’ daaraan skenk. As die ou siener sê: ‘Arrie! Die vonke sit in die wolf se stert’ is dit waarskynlik nog 'n voorspelling: Riet is nou haastig, maar hy gaan 'n draai hardloop en terugkom. Volgens Marais se aantekeninge by Dwaalstories en ander vertellinge van 1927 is ‘wolf’ die bynaam vir iemand wat mank is in die een been, dus in 'n oop wêreld sonder bakens, soos die woestyn, in 'n sirkel kan loop. In wat vervolgens met hierdie boodskappertjie gebeur, word hy toenemend 'n slagoffer, toenemend personifikasie van noodlot; die ‘skraal Boesmanmeidjie’ vat sy uitspeelstel, Nagali se warrelwind uit die groot woestyn is kennelik ‘bo sy vuurmaakplek’ (in haar spot met hom gebruik sy hierdie bekende Afrikaanse gesegde vir magteloosheid). Die tweede dwaling skakel direk met die eerste. Volgens alle aanduidings in die teks hardloop hy, toe hy die dreigement onthou, hard (hy ‘eet die pad’; hy ‘stuit’ by die Boesmantjie). Daarom dat die vaal Boesman se vraag so uittartend is: ‘Wat is die treur dat my boet vandag so stadig loop?’ In hierdie dwaling bepaal die Boesman ook nou die rigting waarin hulle moet hardloop (leegte toe in plaas van berg uit) en weereens herken Riet die gevaar, Nagali se oribietjie (soort bokkie), te laat. By Moetmekaar se drif kom die gevolge van al Riet se dwalings bymekaar: hy het sy boodskap vergeet, hy het ook vergeet Nagali het die mag gekry oor die krokodil. As gevolg van die ompad saam met die laaste Boesman kom hy in die donker daar aan en sien dus die krokodil aan vir 'n soetdoringstomp. Die voorspelling in sy naam word bewaarheid, hy beland in die maalgat, en daarvandaan op die sandwal waarvandaan hy gekom het, maar nou sonder om dit te weet. Hierdie monster-in-die-fontein situasie by Moetmekaar se drif kom in vele sprokies en legendes voor: Beowolf, Siegfried; ook in Marais se eie gedig, ‘Mabalel’. Meer nog: Heitsi-eibib was, volgens Hahn (1881; 4 ev.) ook 'n profeet ‘who could tell to new born children as well as to heroes their fate’. Toe sy kleinseun nog in die dra-vel sit, het hy hom dan ook 'n naam gegee het wat sy toekoms ongenadig reg voorspel het. Die nag by Moetmekaar se drif het hy letterlik Riet- alleen-in-die-Roerkuil geword. As die krokodil hom op die sandwal uitgooi, onthou hy weer die boodskap, maar die skade is gedaan, sonder om dit te weet, hardloop hy terug Gammadoekies toe, waar hulle ‘die vuurtjie dood(..)maak van Riet-alleen-in-die-Roerkuil’. Opsommend: 'n uitsonderlike indiwidu (‘eerste boodskapdraer’) kry 'n opdrag en word gewaarsku teen gevare langs die weg. Die gevare is egter vermom, word almal te laat herken, en hulle oorrompel die gestuurde. Die opdrag (‘boodskap’) gaan verlore en die held kom tot 'n tragiese einde. ‘Klein Riet-alleen-in-die-Roerkuil’ volg dus ongeveer dieselfde verhaalpatroon as Rooikappie. Die broeders Grimm se ‘Rothkäppchen’ uit 1812 was die eerste waarin die die jagter-redder voorkomGa naar eind4 ter bevestiging van die Biedermeier of Victoriaanse beeld van klein meisetjies. In die veel vroeëre Charles Perrault-variant, ‘Le Petit chaperon rouge’ eindig die verhaal, soos in die oudste volksvertelling, met die ouma en die dogtertjie wat deur die wolf opgevreet is, gevolg deur 'n moraliserende gediggie: | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 274]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
The story teaches that the very young
and little girls more surely than the rest,
- sweet, dainty things, clothed in their Sunday best -
should never trust a stranger's artfull tongue.
Small wonders if these guileless young beginners
provide the wolf with some of his best dinners. (Degenaar, op. cit.)
Die realiteitsbeeld van noodlot en magteloosheid kom ook voor in ander werke van Marais: in die volkome weerloosheid voor die dood van van 'n Mabalel wat deur die krokodil, Lalele ingewag word en wat selfs nie deur die ‘spiere van 'n tier of die vlerke van'n gier’ gered kan word nie; in die eensaamheid van die meisie wat permanent alleen bly (‘Die Towenares’), in die almag van die Noodlot (‘Skoppensboer’). Die klassieke sprokie is bevestigend van die sosiale orde, daar is aanvaarding dat ‘domination and submission are the natural bases of human relationships’ (Stiebel, aangehaal deur Degenaar, op. cit.) Daarom dat John Miles in 1991 die struktuur van Riet-alleen gebruik in sy onthutsende semi-dokumentëre ‘polisieroman’ Kroniek uit die doofpot (sien Roos in Bronnelys), 'n roman wat verslag doen van die ondergang van 'n goeie mens en leier omdat hy met vuur speel in sy onvermoë om die magshiërargie in die polisiediens te aanvaar as skuiling vir misdadigheid. Interessantheidshalwe: in die Sotho-variasie van Rooikappie, ‘Makwabitsana’, soos opgeteken deur G.H. Franz, is die hooffiguur, anders as Rooikappie in al die verskillende variasies, ook 'n seuntjie. | |||||||||||||||||||||||||||||||
2 Boerneef en die Afrikaanse volkspoësieDie digter D.J. Opperman se bekende hommage aan Boerneef lui soos volg: Ek dank jou vir jou menslike relaas
van stedelinge in 'n stad misplaas.
Wat anders is die lewe as 'n hunkering
verby die stoflike na 'n Boplaas.
Uit Blom en Baaierd
Boplaas is die naam van die boerdery in die streek bekend as die Koue Bokkeveld, waar die latere I.W. van der Merwe op 11 Mei 1897 gebore is en opgegroei het. Sy prosa, veral in Stad en land, en gedeeltelik ook sy poësie tematiseer inderdaad, soos vele ander werke oor die trauma wat verstedeliking vir die plattelandse Afrikaanssprekende ingehou het, die verskille tussen die (verromantiseerde) plaaslewe en die negatiewe eienskappe van die grootstadsbestaan: | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 275]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
Van al my land se Tafelberge
is daar vir my maar twee
dis die Tafelberg by Boplaas
en sy Ouboet by die see
by Boplaas se berg was ek 'n kind
met 'n kind se huil en lag
by sy Ouboet word ek rebelserig oud
met 'n ou man se dink en wag
die begin op die plaas was waterpasreg
maar hoe rym jy die ouderdom weg
met 'n ou man se pieker en wag
(uit Palissandryne, 1964)
In vele, en van die beste, vroeë Boerneef-verse is die spel met klank, met assosiatiewe spronge - dit wat 'n mens assosieer met die eksperimentele poësie - nog in balans met ‘inhoud’: besinnings oor lewe, dood, ouderdom, verlange, ens. In die volgende gedig bly die Boesmanlandse Alleman onderweg: land bly laan, plek bly weg, Boesmanland word, soos Boplaas in Opperman se spel met die plaasnaam, 'n uiteindelike staanplek, plek van aankoms, 'n soort hemel, maar, ‘moersver hiervandaan’: Lokkiester lokkiemaan?
geen dwaallicht vaak voor starren aan?
maar Boesmanland bly Boesmanlaan
en staanplek moersver hiervandaan
(uit Ghaap en Kambro)
(Eerste regel: lok die ster? Lok die maan? Tweede regel: vgl. Ndl. Gesang 20. 3: Hij die zijn eigen weg wil gaan,/ Ziet dwaallicht vaak voor starren aan...) | |||||||||||||||||||||||||||||||
Eenvoud nie beperkendIn wat volg, sal ek aantoon dat die relatiewe eenvoud van hierdie Bokkeveld-‘grondstowwe’ nie so beperkend is as wat die nadruk op die teenstelling stad en land laat vermoed nie, dat die ooreenkomste met die Nederlandse eksperimentele poësie van die Vijftigers ingrypender is as wat aanvanklik vermoed is en dat sommige aspekte van Boerneef se poësie inhoudelik veel ryker is as palissandryne en ander ryme ‘so borenstevol plaaslikheid’. Die ‘grondstowwe’ van Boerneef se poësie is vir die meerderheid Afrikaanse leser herkenbaarder as dié van Marais se dwaalstories. Dit is voortdigtings op, variasies van, verwerwerkings en uitbreidings van, reaksies op ‘allemansgoed’ (veral uit, | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 276]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
maar nie beperk tot, sy jeugwêreld, die Koue Bokkeveld): raaisels, spreekwoorde, byname, kindergedigte, boererate, volksmedikamente, toorliedjies, dansritmes, volksliedjies, dop- en daggaryme, geestelike liedere. En in die verwerking hiervan word daar gebruik gemaak van verskillende sprekers: ontheemdes en misplaasdes, stemme van stad en land, maar ook vele meer, onder ander:
In Afrikaans is die term ‘eksperimenteel’ van vroeg af al in verband gebring met wat hierbo die ‘grondstowwe’ van Boerneef se poësie genoem is en die moontlike ooreenkomste tussen Boerneef se poësie en die van die atonales word telkens genoem. Op die vraag of daar in Afrikaans ook ‘eksperimentele poësie’ bestaan, sê Van Wyk Louw dat hy omstreek 1955 aan sy gespreksgenote in Nederland verduidelik het: ‘Ons hét; maar óns soort eksperiment met poësie sal nie in die kafee of kunstenaarskroegie alleen kan plaasvind nie; dit sal ook met die ashoop, die vuurtjie op die werf, die oesland, die volk se dans, toor en godsvrees te doen hê.’ (1982, 138). Hoewel hy hier hoogswaarskynlik verwys het na die afdeling ‘Klipwerk’ in sy bundel Nuwe verse (1954) is die ‘eksperimentele poësie’ soos hier begryp, ook van toepassing op Boerneef.Ga naar eind5 In 1967 skryf W.E.G. Louw in 'n artikel ‘Het vertolker van Boerelewe in Afrikaans geword’ by geleentheid van Boerneef se sewentigste verjaarsdag: ...ook in die na-oorlogse sg. ‘esksperimentele’ poësie word verskeie van die aspekte [musikale aspekte in Gezelle se sg. ‘kleem-gedichtjes’ -AdV] weer vir ons eie tyd vrugbaar gemaak. Dit het Boerneef ook gedoen met die taal en die verbeeldingswêreld van die boer en die bruinmense. Ook C.N. van der Merwe (1981, 17) verwys in sy ‘Boerneef-boek’ na die ooreenkomste tussen die Bokkeveldse ‘rympies’ en die werk van die Vijftigers: | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 277]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
Dit sou Hendrik Vuurdassie verbaas het om te weet dat sy rympies aansluit by die heel jongste ontwikkeling (op daardie stadium) in die Nederlandse poësie, nl. dié van die sg. ‘Vijftigers’ wat die digkuns van die oorheersing van die logika wou bevry en geëksperimenteer het met die moontlikhede van klank. Dit is egter eers in 'n essay, ‘'n Vijftiger in die Koue Bokkeveld?’ wat in verkorte vorm gebruik is in sy Inleiding tot sy Boerneef-keur, Die berggans het 'n veer laat val, dat Wium van Zyl die ooreenkomste tussen die werk van die Nederlandse Vijftigers en Boerneef in detail ondersoek. Hy vind dat hierdie ooreenkomste die rede mag wees waarom sy poësie in 1958 en daarna so 'n moderne indruk gemaak het. ‘Hy het,’ sê Van Zyl (1998, Inleiding) ‘daarin geslaag om die kunsgrepe van die radikale vernuwers van die Nederlandse poësie in die twintigste eeu te heg aan demente in die Afrikaanse kultuur wat oënskynlik die grootste afstand met Europa vertoon, naamlik die volkspoësie. Só het hy hulle groot strewe na die primitiewe oortref.’Ga naar eind6
Ek skenk vervolgens aandag aan tematiese momente in Boerneef se poësie wat vreemd is aan die stad-en-land-literatuur, en toon aan hoe een van hierdie momente ontwikkel uit die ‘grondstof’. Van Wyk Louw (1970, 48) het reeds beweer: ‘Hy het later in sy Bokkeveldtaal oor dinge gepraat waarvan ons ouer Bokkeveld nooit geweet het nie, en met woorde wat hulle moeilik sou verstaan het.’ In teenstelling tot die ander stad en land literatuur, kom in sy gedigte dikwels 'n bewustheid voor van verskillende aspekte van dig en gedigte, bv. die oorsprong van verse (‘Hy praat nog so toe gebeur daar 'n ding/ wat 'n rympie knaend deur sy kop laat sing’ - Palissandryne), van prosesse in die digkuns (‘Ou Sakman skryf die woorde moeisaam neer’), van die elemente, bv. klank (‘van betekenis kry ek soms meer as genoeg/ ek verseg om te vra wat beteken die klank’- Palissandryne), bewustheid van die aard van die produkte as woordwerk (‘hoevil woorde is daar nodig/die meeste is tog maar oorbodig’ - Op die flottina) en bewustheid van die beperkinge van die digterskap (‘my spel is alte nietig vir die ewigheid/ klink skaars 'n rukkie hoorbaar voor dit sterf’ - Op die flottina). Bewustheid ook van die historiese konteks waarbinne die gedig verskyn (‘Hy' 'n rymelaar van toet/ wat alte kleurloos skryf/ en niks oor 1963...’ - Palissandryne). Die bundeltitels met hul musikale en digterlike assosiasies Mallemole, Pallisandryne en Op die flottina is trouens al 'n aanduiding van hierdie digkuns as 'n bewuste proses. Van die volgende gedig is verskillende variante bekend. As daggarym, 'n rympie wat opgesê is voor en tydens die rook van cannabis, is dit opgeteken deur D.H. van Zyl in Swerwerspore, en daarna deur Hennie Aucamp (1997, 190 ev). Die variant wat Van Zyl opgeteken het (1984, 90) is 'n mengsel van doprym, snelsêer en tongknoper. In die Sederberge kom die Alkaster-‘skinnerstorie’ oor herkoms van die ‘skinnerstorie’ oor herkoms van die ‘duusbaster?) wat Van Zyl opgeteken het (1984, 90) voor as doprym, snelsêer en tongknoper: | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 278]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
Klein Kootjie Alkaster
die wille witkoppie
die dysbaster
is die lekkerloop van Thys
as vlooi deur die dons spring
spring wolf deur die dorings...etc.
In Boerneef-verse kom, soos in sy kortverhale, raspejoratiewe en stereotipes algemeen voor. Lang Loekas Alkaster is, in sy voortdigting op hierdie snelsêer, buite die eg gebore, sy pa is 'n Kapenaar van gemengde bloed. ('n Geelbek is 'n soort vis, vandaar die assosiasie met waarskynlik die Kaapse weskus.) Die belangrikste toevoeging in die Boerneef-vers is dat, soos Andries Harlekyn in ‘Teen die helling’ simbool word van die mens se vreemdelingskap op aarde, so word Lang Lukas Alkaster, wat vanaf die vierde alinea self aan die woord is, nie net die temmer (‘leiselhouer’) wat met vaste hand die wa en osse oor ‘moerasrivier’ moet kry nie. Daar huiwer ook op die agtergrond die kunstenaar wat nie bang is vir vormdissipline (‘vir die blink stang van die hotvoorhings’) nie en wat met rym en klank (‘gee die rieme en snare’), sorg dat die wa (die kunswerk?) oor die drassige, die ongevormde, ‘dreun’. Die opvallende ‘volkswaarheid’ oor die vlooi en die wolf word weggelaat; sou dit die nadruk te veel laat val op die ‘skinnerstorie’? Lang Loekas Alkaster
die ongeëgte kjend
van die ou bruin geelbekbaster
sê wies dan bang
vir die blink stang
van die hotvoorhings
ek is die leiselhouer van Boplaas
keelspek en kaiïngs
gee die rieme en die snare
ek vat hulle vas aljimmers vaster en vaster
swernoot ja staan syntoe staan trug
hoor hoe dreun die wa oor moerasrivierserug
(Uit Palissandryne)
Aanvullend tot die kunsbewustheid word in sy latere werk ook die beeldende kuns, die Nederlandse letterkunde, klassieke musiek en die werke van ander Afrikaanse digters as verwysingsvelde gebruik: die skilder Pranas Domsaitis se Karoolandskappe, Jeroen Bosch se ‘Tuin van aardse vreugdes’, die werke van Etienne Leroux, J.C. Bloem, N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, die musiek van Mozart. So sluit die spotvers ‘Vannie eenkant skollie poelpetane’ (Op die flottina) aan by Opperman se ‘Sprokie van die Spikkelkoei’ en is ‘Jy kla dat ek en anner vir | |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 279]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
jou lag’ 'n antwoord op Van Wyk Louw se ‘Man in frokkie’ in Tristia. Trouens, daar ontstaan in hierdie verse 'n duidelike verdeling tussen dié waarin die ander kunswerke as verrykende verwysing gebruik word (Pranas Domsaitis se Karoolandskap in ‘Erens in die Kro het ek 'n skerm’ (Op die flottina) en dié waarin daar op minder geslaagde wyse gereageer word op ander kunswerke, soos in byvoorbeeld ‘Nou skryf ek malkopwoorde’, waarvan Hennie Aucamp selfs twyfel of dit heeltemal tot sy reg kom sonder verwysing na die tekening, ‘People thinking’ van Sheila McCorkindale na aanleiding waarvan dit geskryf is; in Op die flottina het hierdie verwysing weggeval. Reeds al ingebed in die algemene volkskuns is die agtergrond van ‘Die skunnige skinnery..’ in Palissandryne. Volgens Van Zyl (1975, 64) is dit die volgende: in J. van Vloten se Nederlandsche Baker- en Kinderrijmen (1872) verskyn 'n ‘speelrijm’ wat dan mettertyd as ‘snelsêër’ of tongknoper in Afrikaans 'n hele aantal variante kry. In die Nederlandse gediggie en in die variant daarvan wat in die Koue Bokkeveld bekend is, is daar 'n waarskuwing dat ene Anke Manke Janse Jan Franken (Janke Melanke Langklaas Franke in die Bokkeveld) planke verkoop wat 'n mens liewer nie moet aanskaf nie, dis ‘bedorwene planke’. Te Rotterdam op de Keizersbrug
Stond een ventje met een kromme rug,
Hij heet Anke Manken,
Janse Jan Franken.
Hij verkoopt delen en planken.
Vrienden, zie toe,
Dat jij geen planken
Janse Jan Franken
Op en doet
Want die planken
van Anke Manken
Janse Jan Franken
Zijn zelden goed.
Boerneef se gedig, 'n speelse verdediging van ‘die kranke Jankemalanke’ se Sederbergse sederhoutplanke teen die jaloerse ‘skunnige skinneraars’ is benewens snelsêër, met byvoeging van 'n paar klankknopers, ook 'n klein inventaris van die gebruike van sederthoutplanke deur die ‘Kouebokvellers’: Die skunnige skinnery van die skinneraars darem
opdeesaardbobeven
dink maar net aan die geval van die kranke Jankemalanke
Langklaasfranke en die skunnige skinnery
oor sy vrot eikehoutplanke
| |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 280]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
alles onwaar suiwer skunnige skinnery en louter
laelakkery
Jankemalanke Langklaasfranke se planke was immers
altyd sederhoutplanke
van die Sederberg se alleronverganklikste
sederhoutplanke doodkisplanke en annerkisplanke
en altevol spoggerige
breë lekkerruikbinnedeurplanke
vra gerus vir die Kouebokvellers en die Klanwieljammers
en die Woeperdallers
hulle sal sê Jankemalanke Langklaasfranken se planke
was altyd sederhoutplanke
en nooit vrot eiekehoutplanke nie
darie storie van die vrot eikehouplanke
was die skunnige skinnerstorie van die jaloerse Kwaadstokerkwanselaar
wat van sy eie vrot eiekehoutplanke nie ontslae kon raak nie en toe met sy
skunnige skinnery teen Jankemalanke Langklaasfranke begin het
o, die skunnige skinnery van die aardse aartskinneraars
darem tot op hierdie heden opdeesaardbobeven
(uit Palissandryne)
| |||||||||||||||||||||||||||||||
Plaassimbole en mallemoleLaastens is daar die gedigte waarin met transponering van volksidioom en met behoud van 'n minimalistiese wêreld: 'n grasperk, 'n tuinslang, 'n bank (‘Jy gee vir ons net kriesels en skerwe’ is die klagte in Krokos al) nie meer net die bekende plaassimbole van berge, dors en veldkos, aan bod is nie, maar die ‘mallemole’ van iets dreigenders, meer chaoties, mal selfs (‘mallemo’), maar dan mal as as enigste antwoord op 'n kosmiese waarom (‘warombamba’): Pierambamba koesnaatjie is klein
mallemo mallema mallemyn
kierangkarba te vrank jou wyn
mallemo mallema mallemyn
dit is dit issie dit is asyn
mallemo mallema mallemyn
warombamba warombambyn
mallemo mallema mallemyn
(uit Mallemole)
| |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 281]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
Palissanderhout is 'n donker houtsoort. Dat daar 'n ooreenkoms is tussen sy eie flottinaspel en palissandryne, en die slampamperliedjies, die woordpaljas van die digter, Leipoldt word bevestig in Boerneef se hommage aan sy groot voorganger: Langs hierdie selfde state op hierdie einste plek
het 'n groot digter loop en slampamper
eensnaarramkietjie was sy instrument
boege en kanniedood sy woordpaljas
met reënboogskuim van storremsee
om krag aan die paljas te gee
hoe het hy tog ons Boland liefgehad
ek dank hom vir polfyntjie en slampamper
met hierdie donker fluit van palissander
(uit Palissandryne)
Oor die wat hy noem die dubbelbodem van Boerneef se ewig-jeugdige poësie: die hart van die volkse en die allerpersoonlikste van bv. hierdie later gedigte, sê André P. Brink (1980, 41) die volgende: Wat essensieel dan gebeur, is dat by Boerneef die digaksie as sodanig 'n proses van werklikheidskepping word: nie ‘emotion recollected in tranquility’ nie maar herinnering omvorm tot blywende musiekspel waar alles in verhoogde intensiteit saambestaan (‘geen lam blêr so geen geel is ooit so geel/ laat ek my dan van die dinge maar verbeel/ hier by Drie Susters en die pranasgeel’)... Daarom word dinge meer as dinge: daarom word hulle oerdinge - daarom gryp vers na vers (soms spontaan, soms te opsetlik) uit 'n stadsbestaan na onthoude vertroude dinge wat deur die onthou verewig word: na jakkalskosgirnaat laans Krovuurvlam’, na ‘Krogoed’,.... na die soort geloof wat voortkom uit ‘jare van opgeefsel en brand’. Ten slotte: hierdie ondersoek het klem gelê op verwerking as literêre aktiwiteit wat, naas die optekening van orale vertellings en volkspoësie, daartoe bydra om hierdie ‘verkennings’, wat nogtans ‘randverskynsels in die literêre sisteem’ gebly het (Hattingh 1994, 39), te verwerk tot hoofstroommomente. Hierdie aktiwiteit, hierdie geïnspireerde wisselwerking tussen twee vastelande, tussen Afrika en Europa, vind reeds van vroeg af vorm in die Afrikaanse letterkunde. | |||||||||||||||||||||||||||||||
Bronnelys
| |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 282]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
| |||||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 283]
| |||||||||||||||||||||||||||||||
|
|