Nederlandse Letterkunde. Jaargang 5
(2000)– [tijdschrift] Nederlandse Letterkunde– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 252]
| ||||||||||||||||||||||||||||
Met die verlede die toekoms in: vroueskrywers van die negentigerjare in Afrikaans
| ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 253]
| ||||||||||||||||||||||||||||
indringend aandag gegee aan tekste van Elsa Joubert, Marlene van Niekerk en Lettie Viljoen (Ingrid Winterbach) en geïllustreer hoe daar op verskillende maniere te werk gegaan word om die verlede te besweer. Ek beperk my fokus tot die Afrikaanse prosa aangesien 'n verkenning van die drama en die poësie nie binne die omvang van 'n artikel soos hierdie gemaak kan word nie. Uiteraard bly die bespreking oppervlakkig en word die teoretiese onderbou ook nie uitvoerig beredeneer nie. Die doel van die artikel is om aan te toon in welke mate en op welke maniere vroueskrywers in Afrikaans in en deur hulle skryfwerk die kompleksiteite van die Suid-Afrikaans situasie probeer peil en hoe elke teks wat dit doen bydra tot die polifonie van stemme in Suid-Afrika, stemme wat almal gehoor moet word om heling te bewerkstellig. | ||||||||||||||||||||||||||||
2 Suid-Afrika in die negentigerjare van die twintigste eeuDie soeke na insig en begrip en die psigologies-terapeutiese werking van sowel die vertelhandeling as die lees van narratiewe tekste, word deur teoretici en skrywers van verskillende oortuiginge en uit verskillende periodes van die literatuur en die literatuurstudie omskryf (vgl. Caserio 1979, 288; Elsbree 1982, 11; Du Plooy 1986, 372-377; Ankersmit 1990, 11; Varga, 1990, 21 en 22; Estes 1992, 15; Smuts 1997, 1-7; Van Coller 1997, 17-18; Burger 1997, 26). Maar waar dit in die algemeen geld vir alle literatuur en waar die literatuur in verskillende tale tans rondom die eeuen milleniumwisseling op meerdere wyses ingespan word om bestek op te neem en te herwaardeer, is dit in besonder aktueel vir die Suid-Afrikaanse situasie aan die einde van die twintigste eeu. Na die dramatiese politieke veranderinge sedert 2 Februarie 1990 en die eerste algemene verkiesing in April 1994, is daar 'n sterk gevoel dat die land en sy mense hulleself wil en moet herdefinieer en herposisioneer met die oog op die toekoms. Die verhale van baie individue en die verhale van die land word nuut oorvertel in informele situasies soos gesprekke en redenasies sowel as in formele situasies soos by die Waarheid-en Versoeningskommissie en die Amnestiekomitees. In skerper gedefinieerde maar ook meer geskakeerde vorm is daar 'n groot aantal literêre tekste, sommige populêr en ander ernstig, waarin die hervertelling en herinterpretasie van die verhale van die land en sy mense aangebied word (vgl. Van Coller 1997; Burger 1998, 69). Suid-Afrikaanse skryfwerk vertoon 'n groot verskeidenheid in die periode vanaf 1990 tot 2000, maar die bemoeienis met die verlede is baie prominent. Die oorgang na 'n nuwe millenium bring natuurlikerwyse 'n behoefte aan bestek na vore, maar daar is ook in die Afrikaanse letterkunde 'n bykomend verskerpte bewussyn van die geskiedenis vanweë die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). Verder staan kulturele en nasionale identiteit skerp in | ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 254]
| ||||||||||||||||||||||||||||
die fokus, hetsy in die vorm van kritiese beskouinge van vroeëre opvattings oor identiteit of die herdefiniëring van die identiteit met die oog op die toekoms (vgl. Du Plooy 1999, 206 en 207-209). Die tendense wat in die Afrikaanse literatuur van die afgelope dekade merkbaar is, sluit aan by internasionale tendense soos die kritiese herskrywings van die geskiedenis in historiografiese metafiksie (Van Heerden 1997, 21-23) en die hernude belangstelling in biografieë, outobiografiese tekste, die sogenaamde getuienisliteratuur (‘testimonial literature’) en die problematiek van persoonlike en kulturele identiteit (vgl. Swanepoel 1996; Swanepoel 1998; Van Coller 1997; Van Coller 1998; Burger 1997; Burger 1998; Smuts 1997; Segers, 1996). In die Afrikaanse literatuur is daar twee belangrike stilistiese strome merkbaar wat verreken moet word as nie-hiërargiese kulturele verskynsels. Waar sommige skrywers gesofistikeerd en postmodernisties skryf, is daar ander wat op grond van die oortuiging dat persoonlike ‘waarheid’ of getuienis die belangrikste is, eenvoudig en ‘realisties’ vertel van die herhaaldelik geproblematiseerde geskiedenis van die land en sy mense. Wat deurlopend merkbaar is, is dat daar 'n duidelike strewe is om al die mense van die land te laat hoor, om die meerstemmigheid van die land te laat spreek (vgl. Du Plooy, 1997). | ||||||||||||||||||||||||||||
3 Vroueskrywers van die negentigerjareVir die grootste gedeelte van die twintigste eeu is daar in die Afrikaanse letterkunde nie aan vroueskrywers die aandag gegee wat hulle verdien nie en was daar waarskynlik ook nie die nodige aanmoediging vir vroue om met 'n professionele ingesteldheid te skryf nie. In die sewentigerjare is daar egter 'n groot toename in die publikasie van werk van vroueskrywers en volgens Annemarie van Niekerk (1999, 308) ‘behoort die negentigerjare weer aan die vrou’. Voordat ek na spesifieke skrywers verwys, noem ek 'n paar sake wat myns insiens in gedagte gehou moet word om die bespreking in perspektief te plaas.
3.1 Die werk van vroueskrywers in Afrikaans staan nie los van die groter korpus van skryfwerk in Afrikaans nie. Tot 'n groot mate vind 'n mens 'n bemoeienis met dieselfde onderwerpe, dieselfde temas en stilistiese verskynsels by manlike en vroulike skrywers en by jonger en ouer skrywers. Die skrywers skryf immers vanuit dieselfde werklikheid en binne dieselfde nasionale en internasionele literêre klimaat. 'n Waarneming wat gemaak word in resente studies oor die ontwikkeling van vroueskryfwerk in Afrikaans, is dat feministiese geskrifte en geslagspolitieke temas minder prominent is as wat 'n mens sou verwag (vgl. veral Van Niekerk 1999, 308; vgl. ook Wenzel 2000). Ek vermoed dat een van die redes daarvoor waarskynlik die feit is dat eksterne sosio-politieke probleme in die konteks waarbinne geskryf is, telkens so dominant was dat dit die denk- en leefwêreld van die skrywers van beide geslag- | ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 255]
| ||||||||||||||||||||||||||||
te oorheers het en ook die ontvangersruimte en mark bepaal het. Dit geld vir sowel die eerste as die laaste dekades van die eeu (met die Anglo-Boereoorlog aan die begin van die eeu en die afloop van apartheidsera aan die einde).Ga naar eind2 3.2 Vroueskrywers in die laaste dekades van die eeu sluit duidelik aan by die tradisie van voorafgaande vroueskrywers, soos wat Annemarie van Niekerk (1999, 306) met verwysing na Lina Spies en Maaike Meijer aantoon. In die beginjare van die eeu het daar verskeie werke van vroueskrywers verskyn waarin die oorlogsherinneringe op 'n direkte en eenvoudige wyse verhaal is. In hierdie werk val die klem minder op tegniese afronding en literêre bewustheid as op die tematiese belang van wat daar te vertel is. Mense soos Marie Koopmans-De Wet, T.C. Pienaar, Sarah Raal, Maria A. Fischer en veral M.E.R. speel 'n belangrike rol om by wyse van hulle skryfwerk mense te help om die oorlogsmart te verwerk (Van Niekerk 1999, 311-312 en 345-348). Dit is hoofsaaklik gedoen deur daarop te wys dat 'n mens selfrespek kan en moet behou en daarop geregtig is ten spyte van verlies, armoede en moedeloosheid. Daar het weldra boeke verskyn waarin die oorlogsgegewens vir kulturele en politieke mobilisasie gebruik is byvoorbeeld Die Boervrouw, moeder van haar volk (1914) van W. Postma en Die vrou in die geskiedenis van die Hollands-Afrikaanse volk (1921) van Erik Stockenström (Van Niekerk 1999, 311; Du Plooy 1990). Dit wil egter tog voorkom asof die werk van vroueskrywers meer terapeuties ingestel was deurdat daar sterker op die belewenis en emosionele uitwerking van verlies en smart gefokus is.Ga naar eind3 Daar is heelwat kontemporêre werke van vroueskrywers wat duidelik met heling gemoeid is, sowel tematies as ten opsigte van die skryfhandeling, en wat so by die tradisie aansluit. Daar is onder meer Liesbet Delport se oorlogsboek (1998) van Berna Ackerman, wat handel oor die uitwerking van die Tweede Wêreldoorlog op 'n Afrikaanse gesin, Pouoogmot (1997) van J.M. Gilfillan, Verbeelde werklikheid (1996) van Eleanor Baker en selfs Joan Hambidge se Die judaskus (1998) (laasgenoemde eksplisiet ten opsigte van 'n persoonlike problematiek). Berta Smit se Juffrou Sophia vlug vorentoe (1993) handel oor 'n ouer vrou wat van 'n siekbed herstel nadat ingrypende politieke veranderinge plaasgevind het tydens haar siekte. In die herstelproses is sy gekonfronteer met haarself en opnuut ook met die kompleksiteite van die Suid-Afrikaanse werklikheid. Al dié dinge trek saam in haar skrywerskap en die roman waarin dit beslag kry, sodat die heling en vertelling daarvan byna ononderskeibaar vervleg is in die roman. 3.3 In die negentigerjare verskyn daar steeds werk van gevestigde vroueskrywers, maar daar is ook baie nuwe stemme. Daar is egter in die werk van sowel gevestigde as jonger skrywers 'n sterk fokus op temas wat met verwerking en herskrywing van die verlede te make het. Ek noem 'n paar voorbeelde om die omvang van die verskynsel te illustreer. Jeanne Goosen se novelle Ons is nie almal so nie (1990) handel oor die lewe in 'n gewone Afrikaanse gesin tydens die vyftigerjare en die tydperk, waarin apartheid in sy ongesonde werklikheid so duidelik geword het, word op onthutsende en aangrypende wyse deur die oë van 'n voorskoolse dogtertjie vertel. Die impak van hierdie werk op die leesgemeenskap in Suid-Afrika was besonder | ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 256]
| ||||||||||||||||||||||||||||
groot. Daar is ook die werk van kortverhaalskrywers soos Riana Scheepers, Rachelle Greeff, Emma Huismans en Corlia Fourie en die dramaturg Reza de Wet (veral haar Vrystaat-trilogie) waarin die uitpraat en uitskryf en uitspeel van individuele en kollektiewe trauma sterk figureer. Ook in romans wat as populêre literatuur beskou kan word (die sogenaamde goeie gewilde prosa) kom >n bemoeienis met oorvertellings van die verlede voor.Ga naar eind4 'n Belangrike bydrae hier is die werk van E.K.M. Dido, die eerste bruin brou wat 'n roman in Afrikaans skryf. Veral haar eerste roman Die storie van Monica Peters (1996) is direk gemoeid met die struggle-geskiedenis en die uitskryf van vroeër ongesêde dinge. 3.4 Die bemoeienis met die verlede het dikwels te make met 'n ondersoek van of herdefinisie van identiteit. In die groot aantal romans en verhale oor die Anglo-Boereoorlog, val die fokus dikwels eerder op die implisiete vraag oor hoe die historiese gegewens lig werp op die huidige identiteitsproblematiek as op die blote historiese gegewens self, soos byvoorbeeld in sommige verhale in die bundel Boereoorlogstories (1998) onder redaksie van Jeanette Ferreira (1998) (vgl. Du Plooy 1999).Ga naar eind5 | ||||||||||||||||||||||||||||
4 Skryf in Suid-Afrika en die toekomsVan buite mag dit lyk asof Suid-Afrika deur die moeras is, asof die wonderlike en vreedsame oorgang na 'n nuwe politieke en kulturele bedeling soos 'n gloed van geluk steeds oor die land en sy mense hang en daar sal bly hang. So ongekompliseerd is dit egter nie. Dit is en bly so dat Suid-Afrika se geskiedenis vir 'n groot deel van sy bevolking 'n las is om te dra. Die skuldiges en slagoffers is oral en aan alle kante, die herinterpretasies van skuld en onskuld dikwels verwarrend, die persoonlike waarhede dikwels onmoontlik om te verwerk. Die onlangse verlede se ellendes is ook nie die enigste faktore wat die lewe en werklikhede hier beïnvloed nie - die meeste dinge kom 'n lang pad en die hede bring onvermydelik elke dag nuwe kwellinge. Die meeste mense besef dat dit nodig is om vrede te maak met die verlede voordat die toekoms met energie en entoesiasme binnegetree kan word. Dit is egter nie so maklik nie. Dit gaan nie net om dit wat verteer en verwerk en afgelê moet word nie, dit gaan ook oor die gevolge daarvan. Die herinnering bevat nie net die verkeerde stelsel, die vergrype, die smart, die verskrikking en lyding nie. Dit sluit ook in die wete van hoe hierdie dinge hanteer is op amptelike vlak, deur elke groep se eie mense en deur elkeen self. Die wete dat nie net die verlede op sigself die boustene van die toekoms is nie, maar dat die verwerking van die verlede net so bepalend is, maak mense versigtig en terughoudend. Daar is byna 'n oorbewustheid van die wete dat enigiets verkeerd kan ontwikkel en van die onopsigtelike bose in elke mens. Die struikelinge van die verlede is onuitwisbaar, maar in 'n geweldgeteisterde land weet 'n mens dat die hede geen utopie is nie. Die hede met sy poten- | ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 257]
| ||||||||||||||||||||||||||||
siaal vir nuwe vervreemdinge word die toekoms se verlede. Ons is nie almal so nie, wil ons graag sê, maar wie kan die verskrikking wat die werklikheid is, ontken? Daar is dus agter die woorde van gesprekke groot en diep stiltes, veral in die Afrikanergemeenskap. Verontskuldiging is onmoontlik. Daar is verslaenheid oor onontkenbare kennis, maar ook die wete dat die toekoms nie in 'n staat van verlamming betree kan word nie. Die individu kan swyg, maar vir die skrywer is dit nie 'n opsie nie. Die skrywer hanteer dilemmas deur te skryf en te vertel, tot eie beswil maar ook dikwels vir en deur en ter wille van die gemeenskap. Dit is hier waar die rol van die storieverteller so belangrik is, dit is hier waar die storieverteller moet help om dit moontlik te maak om verder te lewe. In die volgende afdeling van die artikel gaan ek probeer aantoon hoe drie vroueskrywers te werk gaan om te vertel van dinge wat nie maklik onder woorde te bring is nie, maar wat vertel moet word om die persoonlike en kollektiewe psige te verlig en te suiwer. Elsa Joubert, Marlene van Niekerk en Lettie Viljoen word tans as van die prominentste skrywers in Afrikaans beskou (op gelyke voet met manlike skrywers beoordeel) en die werke wat hier behandel word, is in al drie gevalle bekroon (met verskillende pryse). Die onderhawige romans word dus allerweë as belangrike werke beskou, maar vir hierdie artikel gaan dit daaroor hoe wyd en hoe prominent die tendens manifesteer dat skrywers (en veral vroueskrywers) in Afrikaans in die negentigerjare op direkte en indirekte wyse intens gemoeid was (en is) met die problematiek van die verwerking van die Suid-Afrikaanse werklikhede. Wat egter opvallend is, is dat hoewel hierdie skrywers soos baie ander die kontemporêre problematiek in hulle werke betrek, dit op absoluut uiteenlopende wyses gedoen word. Die keuse van skrywers en tekste hou dus enersyds verband met die feit dat die tema van verwerking duidelik en sterk figureer in die werk van die belangrike vroueskrywers in Afrikaans, maar andersyds was ek in besonder geboei deur die verskeidenheid en die eiesoortigheid van styl en werkwyse wat in die werk van spesifiek hierdie skrywers voorkom. | ||||||||||||||||||||||||||||
5 Elsa Joubert - die verlede as dokumentElsa Joubert is een van die gevestigde skrywers in Afrikaans wat haar regdeur haar oeuvre eksplisiet besig hou met die problematiek van Afrika en sy koloniale erfenis. In 1995 verskyn Die reise van Isobelle, 'n grootse roman wat die geskiedenis van vier generasies Suid-Afrikaners vertel en 'n periode van 'n honderd jaar dek. Die roman fokus deurgaans op kwessies wat met politiek en identiteit te make het, maar die historiese gebeure word beskryf soos wat dit ervaar word deur die vrouefigure in die verskillende generasies. Dit is dus 'n familiesage volgens die maternale lyn. Die vrouefigure is veral in die vroeë jare van die eeu nie dominante rolspelers in die openbare lewe nie, maar hulle lewens word bepalend beïnvloed deur | ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 258]
| ||||||||||||||||||||||||||||
dit wat op politieke terrein gebeur. Die feit dat daar hoofsaaklik van vroulike fokalisators gebruik gemaak word, gee 'n hele nuwe visie op die geskiedenis. Soos wat die verhaal vorder vorm die historiese gebeurtenisse van die eeu die agtergrond van die familie se belewenisse: die Anglo-Boereoorlog, die Eerste Wêreldoorlog, die Rebellie van 1914, die Groot Griep van 1918, die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in 1938, die Tweede Wêreldoorlog, die verkiesing van 1948, die ontwikkeling en voorspoed van die apartheidsjare, die opbouende politieke spanning vanweë die rassesituasie, die aankondiging van 2 Februarie 1990 en die verkiesing van 27 April 1994. Daar word selfs nie weggeskram van die ontnugterende en uiters spanningsvolle tyd tussen 1990 en 1994 nie. Dit is asof die roman na die ver verlede teruggaan om te probeer om 'n bepaalde ontwikkeling na te trek. Waar en hoe het die tendense begin wat die geskiedenis later oorheers het? Wie is die mense wat die geskiedenis gemaak, bepaal en beleef het? Dit is asof die skrywer deur die roman die wortels van die gemeenskap wil vind, asof die afkoms en ontwikkeling nagegaan word om die begin en die verloop van die latere verwording te bepaal (Burger 1997). Die roman begin wanneer die jong Afrikaanse predikant Josias van Velden trou met Emma, wat uit 'n Engelse agtergrond kom. Haar ma, Grandma, en ongetroude suster, aunt Issy, trek saam met Emma in die Van Velden-pastorie in. Emma staan meestal vasgevang tussen haar man met sy toewyding aan die Afrikaanse ideale en haar ma en suster wat nooit hulle Engels/Victoriaanse ingesteldheid prysgee nie. In hierdie gesinsopset veroorsaak die verdeeldheid oor die Anglo-Boereoorlog groot spanning. Emma is byna verlig as Josias vir 'n tyd weggaan om die Boere op kommando as predikant te bedien: ‘Sonder die gedurige wrywing tussen Josias en Grandma en Issy sal die spanning verlig word.... Sy sal haar kan verlustig in die goddelike alleenheid... sonder gevoel van skuld of verantwoordelikheid’ (vgl Joubert 1995, 39). Hierdie patroon van die magtelose vrou wat tussen teenoorstaande ideologieë staan, verander soos die tyd aangaan. Emma se agterkleindogter Leo, is 'n aktiewe en onafhanklike mens wat haar eie besluite neem. Sy neem deel aan die struggle en maak ook 'n bewuste en selfstandige keuse oor haar toekoms in Suid-Afrika. Een van die deurlopende kwessies in die roman is die karakters se vrae oor identiteit. Josias vra homself af: ‘Wat is hy eintlik self? Ingetrou in 'n Engelse familie... Sy eie hart verknog aan sy mense. Wat maak hom dan met hart en siel so deel van die Boerevolk?’ (Joubert 1995, 58). Agnes, skoondogter van die Van Veldens weet nie wie haar eie ouers is nie en bly haar lewe lank soekend. Haar dogter Belle gaan soek na haar moeder se herkoms in Kenia, maar raak verlief op 'n Indiërman en kan daarna nooit weer gemaklik en tuis voel in die identiteit van haar herkoms nie. Belle se dogter Leo raak as student by politieke aktiwiteite betrokke as sy bewus word van die ellende en onreg wat deur die politieke bestel veroorsaak word. Sy en haar neef, Fred raak verlief op mekaar en raak so diep betrokke by die struggle | ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 259]
| ||||||||||||||||||||||||||||
dat hulle albei in hegtenis geneem word. Fred is uiteindelik meer geïnteresseerd in verset as abstrakte konsep terwyl Leo met hart en siel die welsyn van die land en sy mense op die hart dra. Hy kry 'n werkaanbod en wil graag emigreer, maar sy besluit om agter te bly en hulle ongebore kind in Suid-Afrika groot te maak (Wenzel 2000). Leo se optrede gaan gepaard met 'n diepgaande besinning om wat reg en verkeerd is en waarom sy doen wat sy doen. Sy sien haar optrede as iets wat tot die beswil van die land en sy mense sal wees. Sy voel dit is ‘(n)ie verraad teen dit wat goed is in ons mense nie’ (Joubert 1995, 581), want sy bly haarself as 'n Afrikaner sien. In die tronk dink Leo dan ook: ‘Mens het 'n Afrikaner nodig om te verstaan wat jou hiertoe gedryf het’ (Joubert 1995, 570). Met die aankondiging van 1990 verwag almal dat die politieke spanning ontlont sal wees, maar geweld en chaos breek kort-kort los. Vir Leo en Fred verloop dinge nie goed nie. Ten spyte van hulle betrokkenheid by die struggle, sukkel hulle om werk te kry en 'n plek in die nuwe omstandighede te vind. Hulle is immers wit en Leo voel aan dat sy gewantrou word (Joubert 1995, 613). Wanneer Leo op die TV kyk na die inhuldiging van die nuwe president is sy trots op haar bydra tot die nuwe bedeling, al is sy bekommerd omdat sy weet dat Fred graag die werkaanbod in die buiteland wil aanvaar: ‘Weg van hierdie land en hierdie mense sal sy soos 'n plant wat uitgeruk is, verdor’ (Joubert 1995, 612). Wanneer swart straatmusikante egter die ‘ou, geliefde, bedreigde volkslied’, die Stem, en Nkosi Sikelel' iAfrika met dieselfde oorgawe speel, skep sy moed: ‘Wat ook al voorlê, nie wankelende ewewig nie. Eerder geloof in die onmoontlike verby die moontlike’ (Joubert 1995, 616). Elsa Joubert bou hierdie wye tafereel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis op deur haar verhaal op deeglike navorsing te laat steun. Sy gebruik briewe en dokumente soos dagboeke en geskrifte om outentisiteit aan haar rekonstruksie van die verlede te gee. Veral foto's beklee 'n spesiale plek in die roman (Van Coller 1998). Die outentieke foto van 'n piekniektoneel op die buiteblad is inderdaad die toneel van 'n uitstappie wat in die roman beskryf word. Foto's speel egter deurlopend en toenemend 'n rol in die roman. Fotografie en foto's word metafoor van die vermoë om 'n moment vas te vang, maar ook van die bedrieglikheid van representasies en die onmoontlikheid daarvan om ooit 'n moment se essensie te kan weergee: ‘Julle wat foto's neem, is swendelaars, handelaars in die verganklikheid, of in die dood... Altoos die oomblik aan die vaslê wat klaar is, wat verby is’ (Joubert 1995, 234). Foto's dokumenteer, soos geskrifte en selfs hierdie vertelling ook, maar foto's kan ook bedrieg: ‘Miskien nie lieg nie, maar skeeftrek kan hy...’ (Joubert 1995, 371). Dit gaan dus terselfdertyd om 'n poging om die verlede vas te vang en die wete dat die verlede nooit getrou herskep kan word nie. Joubert doen egter moeite om die geloofwaardigheid van die historiese raamwerke op te bou en die karakters as oortuigende mense van hulle tyd uit te beeld. Sy skryf oor elke periode as't ware van | ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 260]
| ||||||||||||||||||||||||||||
binne uit en beoordeel en veroordeel nie met 'n blik uit die hede nie. Al gee die verteller kommentaar, is die dokumentêre historiese getrouheid deurentyd belangrik. Joubert se werkwyse kan dus beskryf word as 'n verbeeldingryke herskepping van 'n wêreld op die basis van ‘realistiese’ en ‘konkrete’ feite wat uit navorsing na vore kom. Dit is asof sy ver teruggaan in die verlede om te probeer uitvind waar die wortels van die hede lê. Die roman is dus sowel vertroostend as ontstellend - die mense uit vorige generasies was nie monsters nie, maar menslike feilbaarheid in voorspoed en teëspoed het verreikende gevolge. Gebrekkige insig en selfsugtigheid, maar ook 'n soort magteloosheid ten opsigte van die persoonlike en sosiopolitieke omstandighede dikteer die gang en ontwikkeling van sake. Die lyding sowel as die tekortkominge van een geslag bepaal die omstandighede vir die toekomstige geslagte. Hoe ook al, hierdie roman verdoesel en vergoelik niks nie. Die verhaal konfronteer sy lesers met 'n omvattende beeld van 'n land en 'n kulturele groep se geskiedenis deur die ‘feite’ of minstens die verhaalbare inligting van die verlede noukeurig te versamel en aan te bied. Joubert is dus besig met 'n soort argeologie van die kollektiewe geheue en trek die lyne na van 'n honderd jaar in Suid-Afrika. | ||||||||||||||||||||||||||||
6 Marlene van Niekerk en die miteIn 1994 verskyn Marlene van Niekerk se roman Triomf, wat handel oor vier lede van die Benade-gesin, twee broers Pop en Treppie, hulle suster Mol en haar seun Lambert. Hulle woon in die voorstad Triomf waar arm Afrikaners gevestig is nadat die inwoners van Sophiatown elders heen verskuif is in die vyftigerjare. Die Benades het Johannesburg toe getrek nadat hulle hulle plaas verloor het in die Depressiejare. In die stad verarm en versleg hulle. Hulle woon aanvanklik in een kamer en die kinders moet dikwels alleen tuis bly. Later word hulle hervestig in Triomf. Hulle troos hulleself daaraan dat hulle nog altyd 'n dak oor hulle kop gehad het en dat hulle mekaar het, maar juis hierdie twee dinge lei tot 'n ongesonde afsondering en bloedskande. Lambert is inderwaarheid Pop se seun by sy suster en die roman sentreer om hierdie geheim. In die roman gaan dit om menslikheid op die droesem van die lewe. Afgesien van die bloedskandelike verhouding tussen Mol en Pop, kalmeer Mol ook Lambert se aanvalle deur haar lyf vir hom beskikbaar te stel. Treppie is 'n soort selfgemaakte filosoof wat in wilde en ongebreidelde toesprake welsprekend raak oor die land, die politiek, die kerk, die lewe self. Hierdie roman werk inderdaad met daardie aardse natuurlike karakters wat Nietzsche ook as die interessantste persoonlikhede gesien het (Muller 1994, 299). Die roman is geskryf in ruie taal, deurspek van growwe woorde, vloekwoorde sowel as gewraakte rassistiese woorde en sleng (mengtaal). Dit is 'n oorwoekerende boek | ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 261]
| ||||||||||||||||||||||||||||
wat met sy oorweldigende energie en detail vir sommige lesers byna te veel is. Humor, ook galgehumor, en patos, die patetiese en groteske, die kleinste en die grootste, al die pole word hier bymekaargebring en deureengevleg. Wanneer die simboliese en filosofiese onderbou van die roman raakgesien en raakgelees word, besef 'n mens dat dit hier gaan om 'n besonder diepsinnige siening van die mens. Dit gaan onder meer daaroor dat die mens kennis van sy sonde en ellende moet hê, 'n ware en eerlike en skokkende kennis van sy eie verderflikheid voordat hy sy behoefte aan genade kan besef, voordat hy ontvanklik is vir genade. En via die Benades staan die Afrikaner en ook alle mense aan hulleself ontbloot. Die bose en verderflike gedy hand aan hand met die goeie en liefdevolle, soos wat Mol in haar bloedskande met haar seun hom daarvan weerhou om sy gewelddadigheid elders te gaan afwerk. Die oorwaardering van 'n eie blyplek en familiebande is 'n genadelose simboliese kommentaar op die Afrikaner se afsonderingsideale in die apartheidsjare. So word die ongesonde kante van positiewe waardes ontmasker - enigiets wat verabsoluteer word, word siek (Viljoen 1995,9). Ontmaskering is inderdaad hier 'n sleutelbegrip, want terwyl 'n mens dink dat hierdie laeklaslewe en taboebestaan ver van jou beskutte lewensstyl is, kan jy die algemeen-menslike gebrokenhede nie ontken nie. Die teks gebruik dissonansie en travestie in die verhaal van die Benades, maar uiteindelik kom daar 'n mitiese dimensie uit die miserabele en skeefgetrekte en verskriklike lewens na vore. Van Niekerk (Hough 1994) sê in 'n onderhoud: ‘As 'n mens jonk is, dink jy filosofie het met groot woorde te make. Hoe ouer jy word, hoe meer begin jy verstaan dat die eintlike taak is om hierdie sogenaamde diep filosofie terug te bring tot by sy wortels van die ervaring en ekspressie by gewone mense, want waar kry die filosowe dit nou eintlik alles vandaan?’ Martie Muller (1994, 297) toon aan hoe Lévi-Strauss en Ricoeur se sienings van die mite in Triomf funksioneer: ‘...natuurverskynsels, personasies, voorwerpe en gebeurtenisse in die mite (is) nie in die eerste plek representasies van die werklikheid nie, maar middele waarmee die mite die natuurlike logiese orde van die realiteit probeer verklaar... die mees fundamentele funksie van die mite (is) dat hy probeer deurdring na die fundamentele enigma van die menslike bestaan’. Die mens leef altyd in 'n tussentoestand vanweë die teenstrydigheid tussen sy strewe na geluk, die geloof dat dit vir hom voorbestem is om gelukkig te wees en die bedenklike werklikheid waarin hy hom inderdaad bevind. In hierdie staat probeer hy oorleef en triomfeer, maar oortree in die proses kultureel-etiese reëls en wette. Volgens Marlene van Niekerk self lê 'n inherente kenmerk van die mite daarin dat daardie dinge wat onmoontlik oop en bloot erken kan word, dit wat vir die bewussyn verborge moet bly, op indirekte wyse deur die mite bely kan word (Muller 1994,303). In die roman Triomf word die leser dus gekonfronteer met 'n uitvergrote oordrewe beeld van menslike gebrokenheid en terselfdertyd word dit duidelik hoe die menslike kondisie bepaal word deur die onskeibare en haas ononderskeibare vermenging van die goeie en die slegte, van die mooie en die afstootlike. Deur die karak- | ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 262]
| ||||||||||||||||||||||||||||
ters kan die leser iets begryp van die mens se verdorwenheid, van sy broosheid, van sy uitgelewerdheid aan homself en sy omstandighede. Deur selfkennis kan die mens dan ontvanklik wees vir deernis en ook in staat om deernis te voel vir ander. Marlene van Niekerk probeer dus tot insig kom en tot 'n vergelyk kom met die verlede deur die mitiese kwaliteit van menslike feilbaarheid in die roman te ontgin. Vir die leser word daar 'n katarsis voorberei om déúr verskrikking en afgryse heen die kompleksiteit en weerloosheid van die menslike bestaan te begryp en te weet dat hy/sy self daarby ingeslote is. | ||||||||||||||||||||||||||||
7 Lettie Viljoen en die onbewuste'n Deurlopende tema in Lettie Viljoen se oeuvreGa naar eind6 is die teenoormekaarstelling van private en openbare ruimtes. Daar is telkens 'n vrou wat die wêreld vanuit 'n meer of minder afgeslote ruimte betrag, maar wie se lewe ingrypend beïnvloed word deur dit wat in die buitewêreld gebeur. Die narratiewe ruimtes in haar werk is dus geografies, geologies en ideologies (polities en ekonomies) tipies Suid-Afrikaans, maar tog sterk afgestem op die psigologiese dimensies van die hoofkarakters (vgl. Du Plooy 1998; Human 1998, 73-98). In die roman Karolina Ferreira (1993) gaan 'n vrou na 'n klein Vrystaatse dorpie om navorsing te doen oor 'n bepaalde motspesie. Sy bevind haar in 'n tussenfase in haar lewe en moet opnuut psigologiese energie genereer om 'n nuwe rigting in te slaan. Sy woon in die hotel waar sy saans in die kroeg saam met die mans snoeker speel, whisky drink en luister na wat hulle praat. Sy oorskry grense op verskillende maniere: deur die manswêreld van die kroeg versigtig maar onbevrees te betree en deur verskillende vriendskappe en verhoudinge met verskillende mans aan te gaan. Sy doen navorsing saam met Willie, praat politiek met Pol, dans met die Koleynkêrel, ry saam met die polisie in die nag en besoek haar minnaar Jess. Sy lê lang tye op haar bed as haar werk vir die dag afgehandel is en droomdink en mediteer. Saterdagaande dans sy met oorgawe met die Koleynkêrel, maar praat nooit met hom nie. In die snoekerkamer raak sy bewus van donker en sinistêre dinge wat in die dorp gebeur. Die polisiemanne wat saam snoeker speel, verdwyn soms geheimsinnig en keer later weer terug en Karolina vermoed dat hulle betrokke is by geweld al sonder sê niemand iets daarvan nie. Net soos wat die hoofkarakter se onbewuste en psigologiese binnelewe nie openbaar is nie en nie kenbaar is nie maar tog die bepalende krag van haar persoonlikheid en lewenswerklikheid is, so het die dorp ook 'n verborge en geheime lewe. Die kollektiewe psige is egter gevul met boosheid en onheil en dit word metafoor vir die Suider-Afrikaanse psige. Onder die oppervlak en sonder dat mense dit weet, gedy geweld, onreg en verworde reg. Karolina verken haar eie psige om opnuut rigting te kry in 'n Jungiaanse individuasieproses. Sy slaag wel daarin om psigies en emosioneel 'n nuwe fase binne te | ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 263]
| ||||||||||||||||||||||||||||
gaan, maar sy bly bewus daarvan dat die proses van groei tot selfkennis en insig nooit afgehandel kan wees nie. Die suggestie is dat die proses van soek na nuwe uitweë, van nuwe maniere van kyk en dink, nie net op individuele vlak vernuwend is of kan wees nie, maar ook kollektief. Soos wat die individu deur individuasie nuwe geesteskrag genereer en nuwe visies verken, moet die gemeenskap ook voortdurend soek na vernuwing en bevrugting om te bly groei. Die stagnasie word in die roman beëindig met die brand in die hotel, waardeur die sentrum van die bose as't ware vernietig word. So gaan vernietiging ook in die gemeenskap die moontlikheid van vernuwing vooraf. In die roman Landskap met vroue en slang (1996) beleef Lena Berg 'n tyd van inkeer (Human 1998, 99-125). In haar lewe verskuif die klem van sterker betrokkenheid by sosiale en ideologiese sake na die gesin en die huis. Lena leef hoofsaaklik waarnemend en beweeg hoofsaaklik in en om haar huis. Haar kontak met die buitewêreld is indirek en geskied tot 'n mate deur haar vriende. Dit is egter asof haar hele verlede sinchronies in haar hede aanwesig is en die hede en toekoms bepaal: ‘In haar werkkamer word Lena omring deur die oorblyfsels van haar lewe’ (Viljoen 1996, 39). Dit is asof Lena se lewe afgelote is van die toekoms, asof die hede 'n raakvlak is waarin sy hang en waaruit die verlede na agter ontvou, maar die toekoms is soos 'n ondeursigtige membraan. 'n Wyse vrou sê vir haar sy moet die verlede agter haar sit (Viljoen 1996, 125) en later sê 'n wyse man vir haar: ‘Jy hoef die verlede nie agter te laat nie... maar moenie te geheg raak daaraan nie’ (Viljoen 1996, 148). Dit gaan in die romans van Lettie Viljoen nie om die alledaagse praktiese probleme nie. Dit gaan myns insiens om synsvrae. Die romans is nie met daadkragtige handeling of etiese kwessies gemoeid nie, al is die roman ingebed in 'n konteks van etiese en ideologiese vraagstukke. Dit gaan oor die manier waarop die mens bestaan en ervaar en sulke synsvrae kan nie konseptueel beantwoord word nie. In die postmodernistiese idioom kan sulke vrae ook nie vanuit een of ander filosofiese of ideologiese raamwerk beantwoord word nie, aangesien die meesterverhale (die denkraamwerke, matrikse of ‘root metaphors’) uitgeput, gekontamineer en gestigmatiseer is (Du Plooy 1998). Die hoofkarakter in Landskap met vroue en slang is dus 'n luisterende en waarnemende mens wat in 'n intieme interaksie met die temporele en ruimtelike omgewing in 'n soort afwagting verkeer. Haar hele lewe is 'n liminale ervaring. Dit is asof sy wegskram van die konfrontasie met die groot en onkenbare werklikheid waarmee sy in geïsoleerde fragmente te make kry. Lena bly vir die grootste gedeelte van die verhaal passief asof sy geestelik verlam is, maar teen die einde kom daar beweging. Wanneer Lena saam met twee vriendinne 'n lykskouing bywoon, vind daar 'n kragtige emosionele beweging in haar plaas. Dit is 'n lykskouing op 'n meisietjie wat gewelddadig gesterf het en met 'n soort gefassineerde afgryse kyk hulle hoe die kind se liggaam deur die medikus oopgesny word. Dan is dit asof die opening in die geskonde kind se lyf, 'n korrelerende emosionele skeur in Lena se liggaam | ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 264]
| ||||||||||||||||||||||||||||
teweegbring: ‘In Lena se lyf - in die middel van háár borskas - voel dit asof daar 'n sluis oopgaan waardeur die teenstrydige emosies soos vloedwater losgelaat word’ (Viljoen 1996, 201). Dit is enersyds asof die konsentrasie op iets heeltemal buite haar, op 'n vorm van geweld waarmee sy niks te make het en waaraan sy niks kan doen nie, haar van haarself losmaak, maar andersyds is dit juis die konfrontasie met die gruwelike, met die onuitstaanbare wat haar uit haar passiwiteit ruk en die ‘droefheid in haar gewelddadig laat loskom’ (Viljoen 1996, 202). Juis vanweë die stiller gang van die roman, vanweë die onkragdadigheid van die karakters, is die skielike aanwesigheid van die afwesige geweld skokkender as openlike beskrywings van geweld. Die subtiliteit van die werkwyse maak die aggressie wat onder die oppervlak skuilgaan, soveel skrikwekkender. En saam met die karakter is die leser gekonfronteer met die skadukant van die werklikheid. In die lig van die Jungiaanse onderbou van die roman, kan 'n mens die kind as 'n soort offerfiguur beskou wat meewerk tot die individuasie van die karakter. Nog Karolina nog Lena is kragdadig met die omgewing in interaksie, hulle is gewoon deel daarvan en hulle het momente van fisiese onttrekking juis nodig om nuwe uitweë te vind, om dinamiese openinge en nuwe denkweë te vind. Vir die skrywer is die teks self so 'n nuwe denkweg - die teks is die opening waardeur die toekoms betree word en is ook die produk van die proses wat daaraan voorafgaan. 'n Soortgelyke proses kan hom in die leser voltrek by die lees van die roman. Lettie Viljoen se romans suggereer die waarde van psigologiese vernuwing, van die belangrikheid van regeneratiewe prosesse wat vanuit die onbewuste op die psige inwerk. Daar kan nooit in enige verlede, persoonlik of kollektief, vasgeval word nie, daar moet steeds gesoek word na nuwe denkweë, hetsy ideologies of esteties of poëtikaal. Dit geskied in 'n oneindig herhalende proses soos wat die relativerende eindes van Viljoen se tekste suggereer. Karolina en Lena vind respektiewelik wel elkeen 'n denkweg, wat, hoewel dit geen finale of absolute oplossing is nie, wel 'n beweging uit die impasse uit bewerkstellig en tot kreatiewe handeling lei. Stagnasie lei tot futiliteit en 'n geestelike dood. Hierdie romans tree dus in interaksie met die persoonlike en kollektiewe verlede, ook en juis met daardie dinge wat verborge lê in die individuele en kollektiewe onbewuste, deur psigiese energie te genereer. Dit word gedoen deur met ontsag waar te neem en te luister en te kyk en te wag op die psigiese regenerasie, wat veral manifesteer in kreatiwiteit (Du Plooy 1998, 21). Hierdie proses vind plaas in 'n periode van onttrekking en deur 'n inkyk op die self. Die produk daarvan is nie net genesing en die vermoë om dinge te verwerk nie, maar ook nuwe geestelike groei en kreatiwiteit. Indien hierdie prosesse stol, in die individu of in die gemeenskap, lei dit tot onberekenbare skade. | ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 265]
| ||||||||||||||||||||||||||||
8 SlotVroueskrywers in Afrikaans skryf oor baie onderwerpe en in baie style, maar ek glo dat die oorsig hierbo toon dat kwessies soos die verwerking van persoonlike en kollektiewe trauma en genesing prominent figureer in literatuur wat in die negentigerjare verskyn. Dit geskied deur sterk te fokus op geheue en getuienis en die vertelling as 'n indirekte middel tot heling beskikbaar te stel. Om kategories te beweer dat vroueskrywers meer met sulke temas werk of dat hierdie dekade 'n dominante voorkeur vir sulke temas vertoon, sou aanvegbaar wees. Dit wil egter tog vir my voorkom asof die historiese omstandighede van Suid-Afrika, juis in hierdie dekade, 'n sterker bewussyn van die helende uitwerking van vertelling vertoon as wat gewoonweg in ander dekades of in ander omstandighede die geval was. Dit sou riskant en arrogant wees om kategoriese uitsprake te maak oor verlede of hede of toekoms in 'n land en in omstandighede waarin mense gekonfronteer staan met 'n oneindige aantal moontlikhede en veranderlikhede. Logika en teorie skiet tekort, maar vertellers kan bly vertel. 'n Mens moet beaam wat Umberto Eco eens gesê het: Dit waaroor nie geteoretiseer kan word nie, moet vertel word (Dipple 1988,118). Ek het probeer aantoon dat dit nie gaan om ligte troos en sentimentele praatjies in die Afrikaanse literatuur nie, maar dat vroueskrywers werklik grondig met die kompleksiteit van die laat twintigste-eeuse geskiedenis in interaksie tree en wel op uiteenlopende maniere. Elsa Joubert se werkwyse gaan om die kreatief-fiksionele invulling van 'n dokumentêr-begronde en ‘realisties’-herskepte historiese raamwerk, Marlene van Niekerk ontgin op virtuose wyse die mitiese en filosofies dimensies van die lewe van die gewoonste mense en Lettie VIljoen werk gedistilleerd Jungiaans, vanuit die onbewuste. Die belangrikste is dat storievertellers soos hierdie inderdaad kan meewerk tot die heling van die gemeenskap, dat in en deur vertelling selfkennis en insig en nuwe groei moontlik gemaak word. | ||||||||||||||||||||||||||||
Bibliografie
| ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 266]
| ||||||||||||||||||||||||||||
| ||||||||||||||||||||||||||||
[pagina 267]
| ||||||||||||||||||||||||||||
|
|