Mededelingen van de Stichting Jacob Campo Weyerman. Jaargang 20
(1997)– [tijdschrift] Mededelingen van de Stichting Jacob Campo Weyerman– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 17]
| |
Die onbenullige skelm: Fransiscus Lievens Kersteman
| |
[pagina 18]
| |
Te Winkel skryf in die eerste deel van die Ontwikkelingsgang 'n teoretiese inleiding waaraan hy, te oordeel aan die onleesbaarheid daarvan, waarskynlik nie die grootste plesier aan gehad het nie. In (baie) breë trekke kom dit neer op 'n pleidooi vir die waardevryheid en objektiwiteit van sy eie geskiedskrywing, in kontras tot die toenmalig heersende romansierige chrestomatieë waarteen hy hom afset. Te Winkel beoog dus eksplisiet om homself te weerhou van subjektiewe estetisering. Onvermydelik blyk dit natuurlik dat Te Winkel sommige outeurs veel meer ruimte gun as ander, en dat hy homself interessant genoeg nie altyd weerhou van ad hominem opmerkings by die outeurs wat skraps behandel word nie. Om te ondersoek of daar enige patroon sit in Te Winkel se afkere, het 'n werkgroep onder leiding van dr. Karel Bostoen aan die Leidse Universiteit gedurende 1995 in detail ingegaan op enkele van hierdie negatiewe passasies in die Ontwikkelingsgang. So het sy behandeling van Franciscus Lievens Kersteman onder die loep gekom. Ek het Te Winkel se omgang met sy bronne nagegaan, en in die proses die bekende feite omtrent Kersteman op 'n rytjie probeer sit. Die benadering karakteriseer ook tot 'n mate die verskillende oogpunte waaruit Kersteman deur die jare heen beskou is.
Kersteman se naam duik op in die boekdeel De verfransching der letteren, 1680-1780 (vervolg), in die hoofstuk ‘De prozaromans, novellen en sprookjes’.Ga naar eind1. Te Winkel stel sy uitgangspunt onomwonde in die eerste sin van die hoofstuk: ‘Van het proza der achttiende eeuw geldt nog meer dan van dat van het zeventiende, dat het nog maar zelden het voertuig der eigenlijke kunst bij ons was’ (409). Volgens hom was dit alleen in die ‘Spectatoriale geschriften’ waarin daar hoegenaamd gestreef is na 'n ‘kunstvollen vorm’ (408). Hy beoordeel dan ook die behandelde prosa aan die hand van spesifiek De Hollandsche spectator (408). So begin hy byvoorbeeld die paragraaf waarin Pieter Kersteman ter sprake kom met die stelling dat dit hier gaan om literatuur ‘waarmee De Spectator trouwens nog niet tevreden zou geweest zijn’ (409, 411 en 423). Sy enigste positiewe opmerking is dat ‘deze werkjes’ darem van ‘waarde voor de zedengeschiedenis’ mag wees (409).Ga naar eind2. Dit lyk my dus veilig om te sê dat, gesien Te Winkel se uitgangspunt, die Kersteman broers nooit regtig 'n kans gehad het om indruk te maak nie. Terwyl hy by Pieter Kersteman tenminste nog die titels van 'n vyftal van sy talryke romans noem, bly Franciscus se produksie heeltemal naamloos. Na aanleiding van sy bespreking van ‘oorspronkelijk Nederlandsche of zich althans niet als vertaald verradende avontuurromans’ besluit Te Winkel: ‘Geen van de bovengenoemde geschriften kan als een ernstig kunstwerk worden beschouwd. Wil men zulke in proza aantreffen, dan moet men onder de vertaalde romans gaan zoeken’ (423). Dit blyk dus dat Te Winkel eintlik gladnie sy hande wil vuilmaak aan die populêre prosa van die agtiende eeu nie. Te Winkel verwys na 'n enkele bron, naamlik Haverkorn van Rijsewijk se De oude Rotterdamsche Schouwburg. Daar word die een en ander (op hoorsê) verhaal oor Pieter, Franciscus en Angélique Kersteman se afkoms en hul ‘zeer zonderlinge levensloop’. Ons lees van buite-egtelike kinders, laat troues, en van Franciscus se outobiografie, regshandboeke en voorspellinge van Ludeman, sy inhegtenisname, tronkstraf en dan sy trieste einde.Ga naar eind3. Te Winkel verswyg egter 'n aantal gegewens. | |
[pagina 19]
| |
Die verskillende KerstemansTe Winkel en sy bron kan nou aangevul en bygestel word aan die hand van meer resente ondersoek. In 1937 kon Ter Horst trouens nog skryf: ‘Men kan zeggen, dat er over de merkwaardige figuur van Kersteman eigenlijk in 't geheel geen litteratuur bestaat, behalve dan zijn belangrijke autobiografie’. Ter Horst vertrou in sy eie biografie met 'n geruste hart op hierdie outobiografie, aangesien Franciscus om die een of ander rede by hom die indruk wek ‘van een alles ontwapenende eerlijkheid ten opzichte van zichzelf en eigen leven’.Ga naar eind4. Van Iterson kon op grond van argief-ondersoek etlike korreksies op Kersteman se eie beskrywing van sy lewensloop aanbring.Ga naar eind5. Ter Horst se dramatiese openingswoorde (‘Den twintigsten Maart 1728 werd te 's Gravenhage een kind geboren, welks naam in de Haagsche doopboeken niet voorkomt’) moet verval. Kersteman is gedoop op die 23e Maart 1728, aldus Van Iterson.Ga naar eind6. Hy gaan nie nader in op Franciscus se skooljare nie, maar staan wel stil by die geval van die juwele. Kersteman is inderdaad in hegtenis geneem, en op 21 Julie 1752 gevonnis: ‘Recht doende op diens confessie’ word Kersteman ‘gecasseert van zijn militair employ’ en ‘inhabil om den lande meer te kunnen dienen’ verklaar. Ten slotte: ‘[hij] werd veroordeeld in de kosten van het proces [en] om zo lang op zes stuivers daags bij den provoost-generaal te blijven zitten totdat hij alle de voorschreeve kosten sal hebben betaalt.’Ga naar eind7. Daar is geen sprake van 'n pensioen, vrywillige ontslag, of die goedgunstige tussenkoms van sy oom, soos Ter Horst - met Kersteman - skryf nie. Die oom versoek trouens om Franciscus in ‘het beterhuis Klein Padua te Rotterdam’ te mag onderbring, op voorwaarde dat hy alle pogings sou aanwend om aan sy lastige neef ‘eene hem convenable post nae Indiën te bezorgen’. Franciscus verset hom egter in die een smeekbrief na die ander teen verskeping, en bly ten slotte ses jaar en vier maande in die ‘beterhuis’. Hy belowe selfs om te gaan veg: ‘Het zoude vrij meer eer voor mij, en die van mijne familie zijn, Mijnheer, om door de wapenen te sneuvelen, dan mijn leeven in dit rampzalig inquisitiehuis te verslijten’.Ga naar eind8. Tog verslyt hy sy lewe weldeeglik daar, tot sy oom tot sterwe kom in 1757. Sy tante het daarteen opgesien om langer tronkgeld te betaal, en so word Franciscus dan uiteindelik vrygestel.
Omtrent die ander voorval wat alle vroeër bronne omtrent Kersteman vermeld, naamlik dat hy vanaf 1773 elf jaar lank opgesluit is weens die vervalsing van 'n wissel, deel Ter Horst ons mee dat daar van Kersteman se skuld geen sekerheid bestaan nie.Ga naar eind9. Die ondeursigtigheid van Kersteman se apologie moes hom gewaarsku het. Van Iterson volg die hofsaak aan die hand van die offisiële beskeide, waarin 'n totaal van ‘acht ten laste gelegde feiten’ ter sprake kom. Dit gaan om wissels, loterykaartjies en ‘adsignaties’, en die bedrae wissel tussen f 200 en f 2.000. Ondanks alle getuienis en bewysmateriaal hou Kersteman sy skuldontkenning vol. ‘Hierdoor toch verzwaarde hij zijn misdaden aanmerkelijk’, aldus Van Iterson.Ga naar eind10. Die voorgestelde vonnis, met presedent, is die doodstraf. Die ‘schepenbank’ volstaan egter met ‘opsluiting in het stadswerkhuis voor de tijd van dertig jaren, waar hij met handenarbeid de kost moest verdienen; daarna voor altijd verbannen uit de landen van Holland en West-Friesland en veroordeeld in de kosten van het proces’.Ga naar eind11. Weens regerings-veranderings en weereens vele smeekbriewe verlaat Kersteman weliswaar in 1786 die tronk, maar die waarheid was kennelik veel meer verwikkeld as die beeld wat | |
[pagina 20]
| |
Te Winkel gee. Van meer belang is die feit dat die skamele gegewens wat Te Winkel omtrent Kersteman bied, en waarop die leser sy negatiewe oordeel moet aanvaar, deurgaans ongegrond of verkeerd geïnterpreteer is. Danksy die noulettende boekwetenskaplike opsoekinge van Aart Vos is dit moontlik om 'n enkele periode in Kersteman se lewe veel beter in fokus te kry.Ga naar eind12. Vos gaan in op die werksaamheid van die Bommelse boekhandelaar en uitgewer Johannes Willem Kanneman, wat in die twintig jaar ná 1744 daarvoor sorg dat die stadjie Zaltbommel op nasionale vlak literêr belangwekkend word. Vanaf omstreeks 1760 voel Kanneman hom blykbaar as diaken (en dus lid van die ‘regenten-elite’ van die stad) veilig ingeburgerd - in die volgende jare konfronteer hy herhaaldelik die ‘schepenbank’ weens (hetsy sedelik, hetsy polities) aanstootgewende uitgawes. In hierdie jare, tussen 1761 en sy vertrek in 1764, kom daar ook etlike publikasies in samewerking tussen Kanneman en Kersteman tot stand, waarby Kanneman, byvoorbeeld deur die voorsiening van tekste ter vertaling, self 'n deel van van die initiatief toekom. Kersteman het hom trouens oorspronklik as gevolg van Kanneman se uitnodiging in Zaltbommel gevestig, en deur Kanneman se bemiddeling verkry hy selfs die ryk niggie (Geertrui van der Linden) van 'n Bommelse ‘burger-kapitein’ tot vrou. Hul samewerking wissel van Kersteman se eie en pseudonimiese produseersels na vertalings en bundels voorspellings. Die hand van Kersteman is volgens Vos ook onmiskenbaar in Kanneman se periodieke Boekzaal voor Dames en Heeren. Benewens die lig wat Vos werp op die omstandighede van Kersteman se skrywerskap te Zaltbommel, voorsien hy biografiese details ten opsigte van Kersteman se dosentskap (in Zaltbommel en later in Heusden, in beide gevalle blykens sy argiefondersoek - en in teenstelling tot Kersteman se outobiografie - as private leeraar, sonder enige offisiële aanstelling) en sy huwelik, o.a. aangaande die armoedige omstandighede van sy verlate vrou en kinders.Ga naar eind13. Dit is pikant dat die so pas verhaalde geskiedenis tot sulke teenoorgestelde interpretasies aanleiding kon gee. Dit beweeg Van Iterson tot die beskrywing van Kersteman as ‘een vulgaire beroepsoplichter’.Ga naar eind14. Desnieteenstaande is die aanvanklike ondersoek na die Kersteman-familie egter juis te danke aan hul romantiese beeld as ‘[...] uiterst fantasierijke, welbespraakte en immer opgewekt blijvende avonturiers. Een soort Spaanse Brabanders, hoog op de poten, kaal in de veren’.Ga naar eind15. Vos se beskrywing van Kersteman as 'n ‘pathologiese jokkebrok [...] niet zonder talent’ kan gelees word as sintese van hierdie twee stadia, 'n waardering van die koddige sonder miskenning van die kwaadwillige, hoewel dit tog wil voorkom of hy meer oog het vir die kleurryke van sy twee onderwerpe, en Kersteman se familie betreklik vaal skilder.Ga naar eind16. | |
OeuvreDie literêre werksaamheid, feitlik volkome afwesig by Haverkorn van Rijsewijk en nog verder doodgeswyg deur Te Winkel, kan nou ter sprake kom. Ter Horst se voorlopige bibliografie tel ruim 42 publikasies:Ga naar eind17. nege biografieë, twaalf regsgeleerde hand- en woordeboeke, drie satiriese werke (waaronder die heel omvangryke Boere studeerkamer), en minstens tien uitgawes van Ludeman-voorspellings. Daarbenewens is daar nog vier geskrifte gerig of opgedra aan hoër gesag, wat grotendeels geld as apologieë om 'n wankele reputasie te dokter, 'n drietal pogings om aktuele kwessies te beïnvloed,Ga naar eind18. en twee ‘amusementsverhaaltjes’. | |
[pagina 21]
| |
Die kategorieë vervloei natuurlik. So is Kersteman se eerste biografie ook te lees as 'n apologie,Ga naar eind19. en verskeie van sy voorspellings-geskrifte blyk geestiger satires te wees as van sy latere hekelskrifte.Ga naar eind20. Dit was gemaklik te beproef danksy 'n heruitgawe van Nieuws tyding uit de andere waereld, waarin Ludeman gesatiriseer word by monde van Weyerman.Ga naar eind21. Aangesien Te Winkel se negatiewe oordeel oor Kersteman deels daarop berus dat hy ‘vriend en handlanger van den befaamden astrologist en wonderdokter’ sou wees, behoort dit reeds hiermee aan geldigheid in te boet. 'n Verdere faktor wat tot 'n mindere of 'n meerdere mate van toepassing is op al die bogenoemde, is die feit dat Kersteman 'n broodskrywer was. Sy werke is deurspek van herhalings en slordighede, en selfs die meer geslaagdes is onewe. Dit geld sowel sy triviale geskrifte,Ga naar eind22. wat oorwegend anoniem, met enkele letters of die half-pseudoniemiese ‘Meester Franciscus’ op die titelblad gepubliseer is, as sy regsgeleerde werke, waarop sy volle name deurgaans pryk.Ga naar eind23. Geen argument op estetiese grondslae gaan Kersteman dus die literatuurgeskiedenis binne haal nie. So 'n argument sou in elk geval nie rym met Kersteman se eie idee van sy werksaamheid nie. Solank hy maar sy Ludeman-vervalsings kon kwyt aan 'n liggelowige mark, kon hul literêr-kritiese ontvangs hom nie minder skeel nie.Ga naar eind24. Sy ambisie was eerder om naam te maak as juris, en, inderdaad: ‘Zijn juridische boeken, hoewel over het algemeen in populaire vorm gesteld, zijn nog altijd van belang voor onze kennis van het oude Nederlandsche recht en men vindt dan ook niet minder dan zes zijner werken genoemd bij S.J. Fockema Andreae, Overzicht van Oud-Nederlandsche rechtsbronnen’.Ga naar eind25. Dit is dus geheel ten onregte dat Te Winkel hom brandmerk as 'n soort Ludeman-epigoon, veral by verswyging van sy orige bedrywighede. 'n Dergelike rangordening van Ludeman en Kersteman is in elk geval bedrieglik, aangesien Ludeman (buiten Kersteman se vervalsings) prakties geen skriftelike spoor nagelaat het nie: sy legende bestaan dus eerstens danksy Kersteman. Beoordeel ons hom, volgens Te Winkel se eie uitgangspunt in sy inleiding, op grond van sy invloed op tydgenote, verdien Kersteman ongetwyfeld sy plek in die geskiedenis, al strek dit sy tydvak nie noodwendig tot eer nie. Want tot ná sy dood ‘is het bijna heiligschennis bij veelen fatzoenlijk gekleede lieden aan de voorspellinge daarin gedaan [met andere woorden in Kersteman se Ludeman-vervalsings] te twijfelen’.Ga naar eind26. | |
Ekstra-literêre belang, soos behandel in moderne uitgawesEk het drie onlangse uitgawes van relatief vroeë werke van Kersteman onder oë gehad. Hulle was De Bredasche Heldinne, Kersteman se eerste biografie, uit 1751; Zeldzaame levens-gevallen van J.C. Wyerman uit 1763; en die Nieuws Tyding uit de Andere Waereld, sy tweede Ludeman-uitgawe, uit 1768.Ga naar eind27. Die agtergrond wat Van der Plank voorsien omtrent Ludeman en ‘de drieëenheid piskijkerij-Paracelsus-Böhme’ toon duidelik dat geen beeld van Kersteman daarsonder voldoende is nie.Ga naar eind28. Hy slaag ook daarin om aan Ter Horst se geliefde ‘bohémien’Ga naar eind29. meer wêreldwysheid toe te skryf: ‘Kersteman geeft [in de Spiegel der weereld] echter nog meer dan Ter Horst aangeeft: in de achtste brief houdt hij zich bezig met politiek. Daar wordt een aanval gedaan op de partijzuchtige, oproerkraaiende sevenenveertigers, die hij onder meer uitmaakt voor “wereldduivels” en “Pesten des Vaderlands”’.Ga naar eind30. Die historiese agtergrond wat hy hierby voorsien, laat blyk dat Kersteman ook op hierdie vlak studie waardig is. | |
[pagina 22]
| |
In Dekker se voorwerk by De Bredasche heldinne gaan hy veral in op die sterk travestie-tradisie wat daar blykbaar in die tyd bestaan het, sowel in die literatuur as, verbasend genoeg, in die werklike lewe.Ga naar eind31. Die boek tree na vore as 'n verteenwoordigende lid van 'n hoogs populêre kontemporêre genre. Dit bied trouens 'n interessante variasie op die gebruiklike genre-kenmerke en enkele moraliserende taferele, aangesien ook die nugtere, enigsins onaangename karakter van Maria lewendig uitgebeeld word deur die eerstepersoonsvertelling waarin die verhaal gegiet is. Van Vliet karakteriseer Kersteman se Weyerman-biografie ook in terme van die populêre misdaadliteratuur.Ga naar eind32. De Bredasche heldinne voldoen ook aan die eise van hierdie genre, insoverre dit voldoen aan Van Vliet se beskrywing van die gebruiklike vertel-kader: ‘In de achttiende-eeuwse misdaadliteratuur is het feit dat de hoofdpersoon werkelijk bestaan moet hebben, bijna een conditio sine qua non, evenals het gegeven dat deze om zijn daden moet zijn gevangen genomen, gevonnist en gestraft.’Ga naar eind33. | |
KonklusieIn sy Ontwikkelingsgang vermeld Te Winkel net vier vae biografiese aanduidings omtrent Kersteman: dat hy advokaat van kwade sake was; dat hy weens vervalsing van 'n wissel in die tronk was; dat hy vriend en handlanger van Ludeman was; en dat hy verskeie werke van Ludeman gepubliseer het. Van die vier is net die eerste relatief juis, al is dit so algemeen dat dit aan verdagmakery grens. Die tweede is hoorsê via Haverkorn van Rijsewijk, so ook die derde, en wat die vierde betref het ‘Meester Franciscus’ weldeeglik voorgegee om Ludeman se vertroueling te wees, sodat Te Winkel in die twintigste eeu nog altyd Kersteman se reklameset uit die agtiende napraat. Te Winkel vermeld nie die aantal of die verskeidenheid van Kersteman se publikasies nie; ook nie hul kontemporêre populariteit of hul betekenis vir die sosiale geskiedenis nie. Hy minag Kersteman as literator, terwyl Kersteman alleen sy juridiese werke onder sy eie naam laat druk het, en dan wel vandag nog vermeld word in die regsgeskiedenis. Verder behoort Kersteman in verband gebring te word met die satiriese tradisie van Weyerman, wat naas en teenoor dié van Te Winkel se gerespekteerde ‘Spectatoriale geschriften’ staan, en geensins volgens Van Effen se maatstawwe afgewys behoort te word nie. |
|