| |
| |
| |
Riana Scheepers
'n Omhelsing van 27° celsius
september 1999
Die eerste brief wat ek van Luc Coorevits van Behoud de Begeerte gekry het, was eintlik sy allerlaaste een aan my. Ek het nie geweet dat hy al langer as 'n maand lank op soek was na my, en reeds verskeie briewe aan my geskryf het nie.
‘Ek skryf nou die vyfde brief,’ skryf hy, ‘dit is 'n laaste probeerslag om jou op te spoor...’
Hoe moes hy ook geweet het dat my e-pos adres verander het, dat ek intussen verhuis én van werk verander het?
Behoud de Begeerte wil my uitnooi om in die laatwinter op 'n Geletterde Mensen-toernee te gaan, sê Luc in sy laaste, desperate brief. Vanwee die tydverspilling om my êrens in donker Afrika op te spoor, moet ek asseblief binne dieselfde week nog antwoord of ek kom of nie. Ek sal op toernee gaan met Anne Provoost, een van Vlaandere se voorste jeugboekskrywers.
Ek het lank na Anne se foto op die skutblad van een van haar boeke gekyk. Ek het gedink: wat 'n serene, sagte mens, sekerlik dink sy ernstig oor die lewe en haar kuns... Natuurlik sal ek gaan.
Wat Luc nié vir my gesê het nie, is dat ek op toernee sou gaan met 'n vrou wat weliswaar sag en sereen is, maar een wat terselfdertyd ook sprankelend, onstuimig en vol lewensvreugde is.
Toe ons mekaar die eerste keer ontmoet, was dit oombliklik goed.
| |
Sondag 12 maart
My reis uit Suid-Afrika neem my via Londen na Amsterdam. Ek wéét ek oordryf, maar ek is gelukkig om die vlug te oorleef. Met die landing in Londen bars die vliegtuig se band. Niemand is beseer nie, maar die vliegtuig en die aanloopbaan is beskadig en die passasiers is almal bewerig van die skrik toe ons uitstap en besef wat werklik gebeur het.
Ek kom gou oor die skok. Ek leef en ek is gesond en ek is bruingebrand na 'n hele somer se Suiderse son op my lyf.
Maar ek kan nie verhelp om in my gedagte Mark Schaevers se
| |
| |
ontroerende In Memoriam oor my in De Standaard te sien nie: ‘Geletterde mens kom om in vlugramp - Provoost lewer skitterende solovertoning.’
| |
Dinsdag
In Amsterdam bevind ek my te midde van frenetiese boekbedrywighede. Ek ontvang die eerste eksemplaar van die Nederlandse vertaling van Feeks van my uitgewer, Lidewijde Paris van Querido. Ek reis na Antwerpen vir 'n radio-interview en kom dieselfde middag weer terug Amsterdam toe. Dié aand vergesel ek vir Lidewijde na die Boekenbal wat die begin van die Nederlandse Boekenweek inlui.
Vanaand gaan ek vir Harry Mulisch vra om met my te dans, dink ek. Maar toe die (ten minste) drie miljoen uitgenooide gaste uiteindelik hul sit in die Carré gekry het, begin ek wonder of ek ooit 'n danspassie sal inkry. Die plek is gepak met beroemde skrywers en mooi mense - en hulle is nie noodwendig dieselfde nie!
Die tema van die bal is die Antieke Oudheid, oral tussen die gaste is daar begeerlike manne met gedrapeerde tunieke oor gespierde bolywe, maagdelike godinne wat soos aronskelke tussen die gaste rondsweef en glasies vonkelwyn aanbied. Ek sien wel vir Harry M. op 'n afstand, én so ook vir Connie P. én Adriaan v. D. én Jean-Pierre R., maar of daar sprake gaan wees van 'n geriatriese dansie, is 'n ander saak.
Ná Freek de Jonge se energieke kabaret van vuur en swael en 'n feniks wat tot teen die dak uitvlieg, stroom daar wrintiewaar nóg mense die gebou binne. Die gebou word te klein, dit begin hyg.
Dit hitte styg tot diep in die twintigs. Die Carré word 'n subtropiese eiland, die mensemassa 'n oerwoud van groeiende liane om my.
Ek dink aan die passasies van kloustrofobiese angs wat ek in Heidendogters beskryf het.
Teen elfuur besluit ek om huis toe te gaan.
‘Trut,’ lag Lidewijde vir my, ‘hier beleef jy die opwindendste gebeurtenis op die Nederlandse boekekalender, en jy wil naar huis!’
| |
| |
‘Ja,’ sê ek, ‘Trut gaan naar huis, Trut het moed opgegegee om ooit met Mulisch te dans.’
| |
Woensdag
Antwerpen. Ek sluit my hotelkamer oop en stap met koffers in beide hande in.
En steier terug.
'n Sahara-hitte slaan teen my vas.
Binne-in is die lug kurkdroog en so warm soos 'n Afrika-woestyn. My koffers plof langs my neer, ek soek die skakelaar van die lugversorger. Die temperatuur is gestel op 27° Celsius. Ek skakel dit heeltemal af, stap na die vensters toe en gooi die rame wyd oop.
Die koel Antwerpse lug stroom na binne, maar dit duur 'n hele ruk voordat die temperatuur binne leefbaar is. Ek hang my klere op, pak my boeke uit. Hier leef ek vir die volgende twee weke.
Ons eerste afspraak is met Mark van der Hoof. Ek en Anne lees verhale voor vir sy radioprogram Zeggen en schrijven. Mark het 'n pragtige baard en melancholiese oë. Snags drink hy rooi wyn en lees die poësie van middeleeuse digters, dink ek terwyl ek my stem en my taal vir sy draaiende bandmasjien gee.
Ek kry 'n pragtige geskenk van 'n ou vriend. Vir die eerste keer in my lewe kry ek iets wat ek as kind nooit gehad het nie. 'n Pop. Dit is 'n pragtige Vlaamse heks met lang, wilde hare, 'n krom neus met 'n vrat, 'n swart rok met 'n onderrok en kniebroek afgewerk met die allerfynste kloskant. Sy lag breed en met 'n bek sonder tande vir my, 'n bondel sprokkelhout in haar arms.
Ek en die feeks word dadelik sielsgenote. As ek slaap, staan sy regop langs my bed en lag tandeloos die donkerte in.
| |
Donderdag
Ons kry die nuus dat Luc Coorevits se moeder oorlede is. Die droefnis van verlies, selfs al word dit verwag, ken geen perke.
| |
| |
| |
Vrydag
Laatmiddag neem Ilse en Katleen van Behoud de Begeerte vir my en Anne naar Gent vir 'n laaste repetisie voor die premiere. Ons optrede is in die Balsaal van die pragtige Vooruit.
Ek kom agter dat die seleksie van verhale wat ek voorlees, al my ruigste verhale is. ‘Jy klink asof jy die queen of pots is,’ lag Anne.
Toe ons ná middernag terugry na Antwerpen, gee Ilse se auto 'n paar slukke. Daar borrel pikswart rook onder die enjinkap uit. Sy trek van die pad af en ons klim almal uit. Ons staan koud en bedremmeld langs die pad. Luc Spiegel, die tegniese kunstenaar wat met sy bakkie agter ons in dieselfde rigting op pad was, hou stil en laai ons op.
Met ons knieë onder ons ore vasgedruk sit ons agter in die bagasieruimte.
Ilse trek haar motor effens van die ryvlak af en sluit die deure. Ons sien dié motor nooit weer nie, dink ek, binne vyf minute is hy gesteel of gestroop.
Ek het vergeet ek is nie in Suid-Afrika nie. Die volgende dag staan die auto nog steeds langs die pad. Stukkend, maar dáár.
Laataand sluit ek my hotelkamer se deur oop.
Ek steier terug.
Die mevrou wat die kamer opruim, het die temperatuur weer op 27° Celsius gestel.
| |
Saterdag
Ons openingsaand in Gent. Ek en Anne is altwee senuweeagtig, ons wéét die kritici sit in die gehoor, ons maak foute. My voorlesing is in Afrikaans, maar die gehoor volg die projeksie van die Nederlandse teks teen die skerm agter ons. Ekhet 'n onregverdige voorsprong. Niemand kom agter as ék leesfoute maak nie; ek is eintlik maar net 'n eksotiese, sangerige Afrikaanse klankbord.
Ek het nie 'n idee hoe ons voorstelling oorkom nie, maar die gehoor is simpatiek en entoesiasties.
Het Afrikaans wel 'n plek naas Nederlands?
Tot my vreugde ontmoet ek ná die voorlesing weer vir Deborah
| |
| |
Deschaek, 'n pragtige jonkvrou wat ek bykans drie jaar gelede as skoolkind tydens die Antwerpse Boekenbeurs ontmoet het. In haar finale skooljaar het sy 'n taak oor my kortverhale gedoen, en ons het sedertdien steeds bly korrespondeer. Van Deborah het ek twee jaar gelede oor die pos 'n engel gekry, een wat my voor Kersfees moes bereik, maar wat weke lank (soos die briewe van Luc Coorevits?) oor die lugruim van Afrika gesweef het voordat dit by my uitgekom het.
Die mooiste vrou wat ek nog ooit in my hele lewe gesien het, staan laataand by die boeketafel. Sy sidder onder die wit lig, sy gloei, sy is met krakeel en al uitgesny uit 'n Memling-skildery en lewe gegee.
Sy praat met Anne. Toe ek haar ontmoet, weet ek dat haar naam iets oer en misties sal wees.
Ek is reg.
Ek weet ek staar, maar ek kan nie help nie. Sy is my heks van die vliegtuig, sy is 'n brandende engel met 'n sneeuwitvel, sy is soetheid en genade.
Sy is op die punt om weg te loop, toe ek iets vreemds sê. Moenie uit my lewe verdwyn nie, moenie weggaan nie, ek en jy iets belangriks om vir mekaar te vertel, wil ek vir haar sê, maar al wat ek kan uitkry is. ‘Sal ons mekaar ooit weer sien?’
Sy haal nonchalant haar skouers op.
Ek laat die volgende dag vir haar 'n boodskap op kantoor. Sy hoef nie te reageer nie. Maar sy doen dit wel.
Toe ek uitiendelik met haar praat, 'n afspraak reël, stotter ek.
Ons drink koffie en wyn in die 11de Gebod. Ek weet ons het baie gesels, oor alles en wat, maar wat ek onthou is dat ek kon sien dat sy 'n swart beha aangehad het.
Moenie verdwyn nie, ek moet nog iets lewensbelangriks vir jou sê, ek kan net nie onthou wát nie.
Deborah se engel en my Vlaamse feeks waak oor my, ek weet.
My Vlaamse feeks kry 'n naam.
Eva.
| |
| |
| |
Sondag
By ons optrede In Knokke daag daar 28 mense op. Ek het simpatie én bewondering vir hulle. Ek sal beslis nie op 'n Sondagmiddag om drie-uur na 'n voorlesing gaan luister nie, selfs nie eens as dit Palmen en Van Dis is nie. As Sappho daar kon staan, in lieflike Knokke, op sysagte sandale en 'n wit kleed om haar weerlose skouers, dán, ja, sou ek daar gewees het. Miskien.
Tydens die eerste helfte van die voorlesing staan twee mense op en loop raserig uit.
Na pouse is daar net 22 van die 28 mense oor.
Dit is koud. Na 'n week is die Suid-Afrikaanse somer uit my lyf.
Terug by die hotel draai ek die verwarming af van 27° Celsius na 0° Celsius en gooi die rame oop.
Ek moet onthou om more-oggend vir die mevrou by ontvangs te vra dat die verwarming in my kamer nie aangeskakel moet word nie.
| |
Maandag
Ek is in die trein op pad na Gistel waar ek die leerlinge van St Godelievecollege gaan toespreek, toe ek die resensies van die premiere in die koerante lees.
Ek skrik my yskoud. Daar is fout met ons optrede.
Toe ek later die middag weer tuiskom, stap ek in die Sahara-woestyn in. Die temperatuur het met een graad gestyg na 28° Celsius. Ek is te bang om vir Anne te skakel.
Later, toe ek die rame oopgemaak het en dit koeler in die kamer is, doen ek dit tóg. Sy is kalm en bereneneerd. ‘Ons máák die program beter,’ sê sy.
Een van die veranderinge wat ons aan die program aanbring, is om die verhaal van die vroulike besnydenis te skuif tot voor die pouse. Uit die gehoor het mense laat weet dat hulle asem nodig het na dié verhaal. Hulle het ten minste 'n pouse en 'n Leffe nodig om die beeld van 'n besnede meisie en 'n fokken dom koei in 'n draadheining te verwerk.
| |
| |
Ons maak ons voorlesings korter.
Ons máák die program beter.
| |
Dinsdag
Ons tree op in Tongere. Terwyl die dekor opgesit word en Anne 'n paar laaste verstellings aan haar teks doen, gaan stap ek vinnig deur die stad wat ek nou vir die eerste keer besoek. Pragtig, pragtig!
Hoeveel kos 'n huis hier, in een van die kronkelstraatjies waar die huise al eeue lank op mekaar geknot sit? Sal ek hier kan woon en die Groot Roman skryf?
Waarom het ek die diep behoefte om in elke plek wat vir my mooi is, 'n huis te koop?
Na die voorstelling die aand ontmoet ek 'n hond wat saam met sy eienaar in die restaurant van die Velinkx sit. 'n Pragtige hond met grys wenkbroue en droewige oë wat hartseer na my opkyk.
‘Wat is die hond se naam?’ vra ek aan sy baas.
Die hond se naam is Verdriet.
| |
Woensdag
Ek verlaat die hotel kort na negeuur die oggend. Voor ons optrede vanaand in Eeklo besoek ek direkteur Frans Matteus se skool op Berkem.
'n Televisiespan neem die hele okkasie af.
Ná die tyd vra die mevrou van die televisieploeg 'n paar kinders uit oor dié klas wat vandag anders was vanwee die bezoek van die Suid-Afrikaanse auteur tydens die Jeugboekeweek. Die kinders het dit leuk gevind, hulle kon die rare mevrou begryp, hulle is bly hulle hoef nie kilometers na die skool te loop soos sommige kinders in Suid-Afrika nie, ja zeg, sê hulle.
Eenkant sit 'n seuntjie met 'n beneukte trek om sy mond.
‘En jy,’ vra die mevrou aan hom, ‘vond jij dit leuk?’
‘Neeeei ..,’ sê die kind, ‘ik vind dit niks.’
| |
| |
Ek wil my doodlag, oor sy pront eerlikheid, oor die koppige trek op sy gesig, oor sy spontaneïteit. 'n Ander knapie wat 'n ruk gelede met vakansie in Suid-Afrika was, word ook mikrofoon toe gebring.
‘Kan jy iets in Afrikaans sê?’ vra die mevrou.
‘Ja,’ sê hy.
‘Nou, sê dit dan?’
Die mikrofoon is 'n wolk spookasem onder sy mond.
‘Ek nie kak nie praat nie,’ sê hy.
Dit is die eerste ‘Afrikaans’ wat ek hoor in twee weke. Die driedubbele negatief van my taal is die snaakste ding wat ek nog ooit gehoor het, ek het groot pret tussen die kinders van Berkem.
Anne se lewenslus en pret is 'n antidoot teen my verlange en die winter wat duur. Die serene vrou van die Vlaamse literatuur ontpop ná die spanning van die voorlesing (en 'n glasie Amaretto) in 'n hekelende terggees wat ons almal om haar pinkie kan draai.
Ná ons optrede stel Luc ons voor aan 'n mooi, stil man wat aan die toog sit.
‘En ken jy dié welbeminde heer?’ vra hy aan Anne.
‘Nee,’ sê sy, ‘maar as jy my aan hom voorstel, ek is direk gereed om hom te bemin.’
‘Paul Demetz,’ sê Luc.
| |
Donderdag
Ons voorstelling in Leuven het 'n fantastiese, meelewende gehoor. Ek en Anne begin die toernee geniet, ons begin daaraan dink om professioneel te word, deur die wêreld te reis as twee lesende podiumbeesten.
Na die voorstelling vertel ek vir Jan Simoen van die groot blaps wat ek gemaak het toe ek in 'n sjiek Vlaamse restaurant my verkeerd uitgedruk het. In plaas daarvan om die beroemdste gereg van die Vlaminge, ‘waterzooi’, te bestel, verspreek ek my en vra in alle onnoselheid aan die kelner of ek ‘rotzooi’ mag kry.
Nee, dit het nie goed afgegaan nie. Dit was die eerste keer dat ek in
| |
| |
Vlaandere met yskoue oë aangekyk is. Pardon, Pardon, ek kom uit Afrika!
Jan is 'n befaamde kok, hy nooi my uit om eendag (wanneer?) by hom ‘rotzooi’ te gaan eet.
In die hotel sluit ek my kamerdeur oop, druk die deur oop en staan in die gang en wag vir die hittegolf om uit te walm. Dit kom uitgestoom soos 'n spook met 'n woedende wolk op sy asem.
More, net more moet ek die temperatuur aanmeld. Nie eens in my eie land verduur ons hierdie temperature nie.
| |
Vrydag
Na 'n verblyf van meer as 'n week in die hotel, geluk dit my om die mevrou wat die kamer verskoon, in die gang raak te loop.
‘Dag, Mevrou,’ groet ek so vriendelik as moontlik.
‘Goede morgen,’ glimlag sy terug.
Ek stel my versoek so beleefd as moontlik aan haar. Sal sy asseblief nie weer die verwarming aanskakel nie?
Sy is totaal uit die veld geslaan. Sy laat 'n stortvloed woorde in pragtige Antwaarps oor my vloei. Sy het gehoor ek kom uit Afrika, as gebaar van vriendelikheid en gasvryheid het sy gesorg dat die hitte in my kamer dieselfde is as tuis... Vind ek die weer in België nie afskuwelik nie, dit moet reeds lente wees, maar die weer is mieserig en koud, die winter duur...
Ek moes maar liewer die verstikkende hitte verduur het. Noem my Verdriet, ek voel soos 'n hond...
Ons voorlesing is in Aalst. Dank die vader, ek het nie voor die tyd geweet dat Leen Vermeieren in die gehoor sal wees nie.
Ek omhels vir liewe Leen ná die tyd. ‘As ek geweet het jy is in die gehoor sou ek gevra het dat jy my tekste kom lees!’ sê ek vir haar. ‘Dit is niks,’ sê Leen, ‘jy lees goed. Maar sit stil! Jy woel te veel!’
Toe ek laatnag tuiskom in Antwerpen, is my kamer doodstil en
| |
| |
yskoud. Langs my bed staan my Vlaamse feeks, bibberend en blou van die koue.
Ek verlang skielik oneindig veel na my land.
| |
Dinsdag
In Genk is daar 'n vrou wat ná die voorstelling lank wag om met my te praat. Sy het pragtige, swart oë.
‘Dankie,’ sê sy vir my toe sy uiteindelik alleen by my is. Haar oë skitter.
Ek kyk haar vraend aan.
‘Dankie vir die verhaal “Maar daar is”. Ek moes dit hoor.’
En toe is sy weg.
Lank na die tyd dink ek nog aan die vrou met die pragtige swart oë.
Ek wonder waarom sy vir my dankie gesê het. Maar ek weet waarom.
| |
Woensdag
Dit gebeur totaal onverwags, na agt voorstellings.
Dit wat ek gedink nié mag gebeur nie.
In Hasselt, die négende keer toe ek die verhaal ‘Maar daar is’ lees, vang die inhoud van die teks my. Ek is ontsettend dankbaar dat ek vir dié gedeelte van die voorstelling effens in donkerte gehul, effens weggedraai van die gehoor sit. Ek kan dit nie keer nie, die trane begin oor my wange loop terwyl ek lees. Ek lees nie die teks nie, ek vertel die verhaal van my land, 'n verhaal van droefnis en troos.
Ek kan voel dat Anne met bekommerde oë na my sit en kyk, dat haar hart na my uitgaan, maar ek kan nie my oë lig om na haar te kyk nie. Toe ek klaar gelees het, is ek papnat gesweet en die naels van my linkerhand diep kepe in my handpalm.
Ek is nié 'n podiumbeest nie, besef ek terwyl ek in die donkerte sit.
Ek is 'n skrywer, nie 'n leser nie. Wat moet die mense van my dink?
| |
Vrydag
Ek het 'n interview met 'n joernalis wat nie 'n woord van my Afrikaans verstaan nie. Dit is die eerste mens in Vlaandere wat
| |
| |
my nie begryp as ek my mond oopmaak nie. Dit is ook gou vir my duidelik dat sy hoegenaamd nie voorbereid is vir die interview nie. Haar eerste vraag aan my is: ‘Waar kom jy vandaan?’
Ek is opeens tot die dood toe vermoeid.
Ek kom van nêrens, wil ek sê, ek is 'n uitworpeling, ek is deel van 'n veragte, wit ras, die verwerplike albino van Afrika.
Nog nooit vantevore het ek dit gedoen nie, maar ek staan op, vra of ek maar ons interview as afgehandel kan beskou.
Ek gaan terug na my hotelkamer. Ek skakel die verwarming aan.
Op 27° Celsius.
Ons allerlaaste optrede is in Mechelen, in die pragtige ou bioskoopsaal wat dekades gelede pornofilms vertoon het: Teater Teater! In die donkerte van die coulisse struikel ons oor toue en gordynvoue, ons dekor word aangepas vanweë die kleiner ruimte, maar ons het 'n gehoor wat met elke woord wat ons lees, saamloop. Hulle sug waar die teks sug, hulle glimlag waar die teks 'n huppeltjie maak, hulle lag vir die pragtige, geil landskap van my taal.
Volgens die inwoners van Mechelen is Anne Provoost en Riana Scheepers die beste lewende voorleeskunstenaars in Vlaandere.
Dankie Mechelen, natuurlik is dit so!
| |
Saterdag 1 april
Dit is laaste beeld wat in my geheue vasgelê is: 'n trein wat stadig uit die pragtige, rommelrige stasiegebou van Antwerpen Centraal stoom.
Ilse en Luc en Anne het my kom afsien. Martha en Basil, Anne se kinders, is ook daar.
Toe die treinfluitjie blaas, haal Anne opeens vyf wit sakdoeke uit haar tas. Ilse en Anne en Luc en Basil en klein Martha waai my uit. Die laaste wat ek sien, is hul glimlaggende gesigte. En 'n vyfjarige dogtertjie met skitterbruin oë wat 'n entjie saam met die trein hardloop, 'n spierwit sakdoek wapperend in haar een handjie.
Dit is skielik 'n lieflike 27° Celsius in die kompartement.
|
|