Liter. Jaargang 17
(2014)– [tijdschrift] Liter– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 59]
| |
Heilna du Plooy
| |
[pagina 60]
| |
Uit de cyclus Grond en lug[II]
Vir grond het die Israeliete, gesanksioneer,
met trompetgeskal en 'n geraas
hulle vyande se stede platgeskree;
vir roem het Alexander, groot soos hy was,
sy lewe aan die gryp van grond gewy;
vir mag het die sterkstes, die Romeine,
eeue lank bly veg en wen - maar ook gesteel
as mens dink aan die vroue van die Sabyne.
Hoe treurig vir die groot Hongaarse land,
ná Trianon net 'n kwart van wat sy was;
vervreemd en afgeslote van hulleself
die gemaakte lande ná Versailles
en die Ooreenkoms van Potsdam.
Ons Afrika se gang in tyd bly hang
- met durende oorlog as toegif ná elke
gerug - aan grond as die uiteindelike prys.
Hoe strompel die geskiedenis,
hoe strompel ons en ons s'n
voort van buit na buit: ‘Dis bloed,
dis mensebloed! Dis lewensbloed
wat hierdie oord se bossie-wortels
voed’ met liefdesverklarings wat grens
aan gekweel, met lamentasies oor winste
en geld. Sodat ek wens ek kan vra:
| |
[pagina 61]
| |
[III]
Hoe kan jy van alles vir grond die heel liefste wees,
as dit net jou voete is wat met die aarde kan vry?
Op sy beste bly dit 'n plat en platoniese affaire
wat net van aanraking op soolvlak sou moes gedy.
Dis die lug wat jou eintlik en heeltyd omhul
wat elke plooi en vou van jou lyf áánraak
en ken, wat deur jou hare jou kopvel betas,
wat jy inasem, waarna jy daglank en naglank snak.
Kyk maar die bome. Die wortels hou hulle regop
om met die lug te flankeer. Die wind ken elke oksel, soen
elke mik, die dwarrels kielie die blare wat giggel en tril.
Voor sterk wind buig die boom áf, gee dan ekstaties mee.
Die lug dra klank na my ore en lig na my oë,
hou my warm, en koel my af. Soos 'n blom
hou ek my gesig oop dat die lug my kan lek.
My ganse gestalte neig weg van die aarde,
en op in die lug. Saam met hierdie klont
grond hang ek en die sterre in net een eter.
Sal ek dan ingroei op twee stukkies voetsool-
groot grond of sal ek uitreik en hang
in die grensloos omhelsende insluitende
en liefkosende streke van wind en van lug?
|
|