Liter. Jaargang 17(2014)– [tijdschrift] Liter– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 42] [p. 42] Heilna du Plooy In die streke van die wind Ons sewentig of tagtig is bloot 'n fragment, 'n partikeltjie tyd en 'n spikkeltjie plek in 'n omvang wat ons nooit kan ken nie. ‘Ek dink so baie oor die wind,’ sê jy dikwels in ons laaste gesprekke, soos altyd oor idees, oor stories en oor boeke. Oor die uiteindelike hiërargieë en die groot patrone. Nogtans het ons net vermoedens; die oorkoepelende ordeninge bly onbegryplik. ‘Dit is belangrik om die wind te verstaan, te probeer verstaan. Waar lug is, is wind. Waar lug roer, roer wind.’ Ons praat oor dit wat agter woorde lê, oor die belang van vaagheid, oor die ryklike dink wat glip en gly, syig soos asem. In 'n vriendskap sonder eise, onafhanklik én verbonde kón ons praat selfs oor onsienlike wind: ons was mekaar hartgrondig goed gesind. As ons 'n sentrum of 'n enkelheid nie kan bedink, omvat of voorstel nie, is daar onteenseglik nog die oral en die alles: deurentyd in voel en weet is daar invulling en aanwesigheid, soos lug, soos wind vly iets voortdurend teen ons aan. [pagina 43] [p. 43] Die metgesel, konkreet en wit en asemloos - ‘human kind cannot bear very much reality’ - hou jy weg, van hom weerhou jy die bewussyn. Lewe en begeerte is beweging en net dit wat leef, kan sterf - ‘the bitter apple, and the bite in the apple’ - en waar jy was, sal lug en wind en oopte wees. Nogtans, nogtans, nogtans: Die groot duif tref die motor voluit, slaan gat oor kop, sy vlerke uitgesprei en spat dan op, sy vere verstrooi in die vlugstroom agter die kar. Op die voorruit lê sy vorm, onderstebo in fyn poeier geëts, 'n geboë hoof en vlerke wat afwaarts bly duik. Wat asem was, kan ook lug wees. As jy lug is, kan jy ook wind wees: stormwind, dwarrelwind, aandwind. Daar is drie dinge wat ek nie kan verduur nie, nee, vier wat ek met ontroering onthou, jou stem, jou oë, jou stem en jy, met wie ek steeds in gesprek wil tree. Vorige Volgende