T.J. Haarhoff, mnr. L.W. Hiemstra en prof. dr. F.E.J. Malherbe met ere-lidmaatskappe vereer.
Terwyl prof. dr. G. Dekker 'n ere-doktoraat van die Universiteit van Pretoria ontvang het, het mnr. L.W. Hiemstra die goue Markus Viljoenmedalje vir joernalistieke prestasie van die reeds genoemde S.A. Akademie ontvang.
Die bekende skrywer en Hertzogprys-winner mnr. F.A. Venter is tans 'n volle Akademielid, terwyl dr. Jan Bouws die erepenning van die N.Z.A.V. (Amsterdam) ontvang het.
Ten opsigte van die Afrikaanse taal en letterkunde verwys ons na die gekeurde boekelys 1861-1968, soos deur die keurkomitee vir Afrikaanse boeke (S.A. Akademie), onder voorsitterskap van prof. dr. P.J. Nienaber, saamgestel is. Op hierdie kumulatiewe lys verskyn slegs Afrikaanse publikasies van onbetwisbare verdienste en hierdie publikasie kan o.m. as 'n betroubare gids vir die verspreiding van die goeie Afrikaanse boek beskou word.
Ook word die aandag op die verskyning van deel I van die ‘Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek’ (hoofdred.: Prof. dr. W.J. de Kock) gevestig. Hierdie gesaghebbende naslaanwerk beteken 'n nuwe, belangrike deurbraak.
In 'n vergevorderde stadium verkeer die ‘Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika’.
Die Akademieprys vir vertaalde werke is gesamentlik aan Uys Krige en prof. dr. W.J. du P. Erlank (Eitemal) met betrekking tot ‘Twaalfde Nag’ en ‘Faust’ toegeken.
Jan Ploeger, Verteenwoordiger (R.S.A.)