van Staatspresident S.J.P. Kruger se oudste biograwe, J.F. van Oordt, gevolg en kort na die einde van die oorlog het - soos dit wil voorkom - u bestuur sy aandag hoofsaaklik op die Kaapkolonie toegespits.
In 1904 het, met betrekking tot hierdie deel van Suid-Afrika, die volgende benoemings goedkeuring ontvang: J.H. Hofmeyr, dr. N.J. Hofmeyr, A. Moorrees, A. Murray en prof. dr. P.J.G. de Vos.
Maar ook die tydelik oorwonne Boererepublieke van weleer is nie deur u bestuur vergeet nie. Daarvan getuig die benoemings van voormanne soos ds. J.D. Kestell (1904) en oud-President M.T. Steyn (1907). Kultureel gesproke het hierdie Afrikaners onskatbare dienste aan hulle land- en lotgenote bewys waardeur die stryd vir erkenning en gelykstelling op taalkundige- en staatkundige gebied na verloop van tyd op 'n oorwinning vir die Afrikaner sou uitloop. Ander benoemings uit dieselfde tydperk is dié van genl. J.C. Smuts, een van die toekomstige Eerste Ministers van die Unie van Suid-Afrika (1904), F.S. Malan (1908) en J.H.H. de Waal (1908).
In 1910 het die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom en in hierdie gedenkwaardige jaar is sowel die onvermoeide stryder vir die regte van die Afrikaner en sy taal, genl. J.B.M. Hertzog, as die toenmalige dr. T.H. le Roux as lede benoem. Terwyl genl. Hertzog in die toekoms sy land en volk, o.m. as Eerste Minister sou dien, het prof. dr. Le Roux tot die opkoms en bloei van die Afrikaanse taalwetenskap bygedra. Na 56 jaar is hy vandag nog een van u medelede en die nestor onder die Suid-Afrikaanse lede van die Maatschappij.
Uit die jare na 1910 noem ons die volgende lede in Suid-Afrika: Jan F.E. Celliers (1911), Frederik Rompel (1912), dr. J.D. du Toit (1914), dr. D.F. Malherbe (1921), dr. S.P.E. Boshoff (1922), dr. D.B. Bosman (1923), dr. C. Graham Botha (1924), prof. J.J. Smith (1925), dr. E.C. Pienaar (1926), dr. J.L.M. Franken (1931), dr. G. Dekker (1934) en prof. dr. S.P. Engelbrecht (1936). Elkeen van hierdie Afrikaners het, op sy eie wetenskaplike terrein, belangrike werk verrig.