Hollands Maandblad. Jaargang 1997 (590-601)(1997)– [tijdschrift] Hollands Maandblad– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 12] [p. 12] Elisabeth Eybers Fase Aarselend kyk ek die trappe aan waarlangs ek binnekort moet gaan... Hoewel ek nog werktuiglik neig om klanke aanmekaar te ryg wanneer ek in die toekoms tuur verdoesel deur herinnering bevind ek my reeds in die buurt bestem vir lukraak mompeling. Kragtens 'n duur verworwe guns word weergee van gewaarwording nie langer, kom wat wil, gedwing deur distilleerkolf van die kuns maar ingekort tot binnensmonds: wat ek van hierdie fase vind is tot op datum wisselend en bly voorlopig onder ons. [pagina 13] [p. 13] Voortgang Onverhoeds en verbasend kom jy op slag deur 'n samespel van beloning en straf. By gebrek aan 'n deugdelike alternatief durf jy die dag aan, al is dit nie iets wat jy uit eie beweging sou kies. Jy neem elke verdraaglike prikkel vir lief, keer op keer waag jy jou selfs in die nag en bring dit sowaar daar nog heelhuids van af. Voortgang gaan voort. Aan die end van die tog klink jou klaarste bevinding: kyk, hier is ek nog. Hier het één voordeel: dat jy dit ken al kos dit 'n leeftyd om daaraan te wen, banneling gebore. Vergeefs moet jy raai wáárom alles per slot van rekening draai. [pagina 14] [p. 14] Erfenis Beide my moeder en vader bestendig ek as't ware, uit hóm stam my lang ledemate, uit háár my ruie bos hare. Hy was bedaard en nadenkend, sy kon lig ongelowig staar, niks was te eerbiedwaardig vir haar om as vreemd te ervaar. Hul onderlinge verskille het allengs versoenbaar geraak: in mý word onverminderd hul strydighede gewraak. Self ook reeds tydgetemper kan ek hulle sonder meer duld; dat man en muis tog moet verdwyn is trouens geen sterfling se skuld. Alleen: húlle bly nog so lewend, lyk opdringender by die dag: om steeds daarmee tred te hou is wat ek al minder vermag. [pagina 15] [p. 15] In laaste instansie Wanneer woorde jou in die steek laat - bedroë laat agterna staar - hoef jy tóg nie, ten einde raad, wat jou óórkom gedwee te aanvaar. Onsamehangende klanke blyk ook uitstekend in staat om waarnemings op te vang, hulle aan 'n vlagstok te hang. Jare lank woeker die neiging om alles noukeurig te noem, om van sóveel seker te wees. Aanskou nou die vrugbare styging van opeengestapelde feite, die verstrooidheid wat vriendelik verbloem, die letter oorstelp deur die gees: moontlikhede te kies en te keur borduur wat waarlik gebeur, lenig wat nie kan genees. Vorige Volgende