| |
| |
| |
Ontmoeting
Langs die hoofstraat van my lewe
kom ek steeds my dae teen,
stap ek hul verby, een vir een.
Waar ek deur die metropool
slenter deur die skare heen,
suf-wanhopend, doelloos dool
kom ek steeds my dae teen.
mense langs die sypad gaan,
teen die grys geboue aan.
Stil-geduldig wagtend waar
winkelligte straal en bewe;
immer vind ek hulle daar,
wag hul, wag hul, almelewe.
Elkeen krom, 'n bedelaar,
elkeen in sy flenterdrag,
swyend-starend immer daar,
hul wat op 'n aalmoes wag.
Hul, die beed'laars langs my pad,
hul maak geen geluid, gebaar;
starend-strak hul nood verklaar.
| |
| |
droewig en bedruk; o lyk hul
Is hul blik soos 'n gekerm,
stil geprewel, wat vermaan
Skuil daar so 'n diep misnoë,
wat aanhoudend smeek en pleit,
voel ek plots'ling medelye
met hul armoed, soos 'n pyn
wat daar dringend deur die swye
van 'n matte weemoed skryn;
voel ek steeds hoe smeek hul oë,
hoe hul hunkerstaar weemoedig,
afgeleef en oud, deemoedig.
Wag hul, wag hul nog, gedwee
in hul eensaamheid verslae;
wil ek nog 'n aalmoes gee
aan 'n ieder van my dae -
| |
| |
Stap ek egter ongeduldig,
haastig hul verby, met fel
in my sat gemoed, 'n skuldig
diepe skaamte wat my kwel.
Groei my wanhoop sterker aan;
haas ek my om weg te kom,
trag ek bruusk my pad te baan
sneller deur die mensedrom.
Groei my wanhoop sterker aan...
om die hart wat immer smag,
van verlangens onvolbrag.
Wanhoop, wanhoop, mateloos,
om verpligtings onvoldaan;
om geluk wat teer en broos,
vlugtig soos 'n droom vergaan...
Om die vrag wat ek moet tors
van verwagtings onvolkome;
om my honger, om my dors,
om die druklas van my drome.
Wanhoop om die dor verlede,
om die lange dag verlore,
om die wansmaak van die hede,
wanhoop om die dag van more...
| |
| |
Waar ek deur die metropool
slent'rend deur die skare heen,
suf-wanhopend doelloos dool,
kom ek steeds my dae teen.
Skou ek t'rug waar langs my pad
blik hul oë, wagtens-sat,
dof van droefnis, my nog aan
staar hul my nog altyd aan,
met 'n blik wat strak en stom,
immer my verwyt, vermaan.
Langs die hoofstraat van my lewe
kom ek steeds my dae teen,
stap ek hul verby, een vir een...
Marseille, Desember 1932.
|
|