verhouding, en baie materiële voordele, geld inbetaal op die naam, gedeelde groceries maandeliks twak, ens. - en hy sal loop jag tot hy weer een kan uitkeer en makmaak en mesmeriseer, geduldig. Hy is 'n opgeleide bedryfsielkundige en bowendien 'n verouderde soort hippie, 'n verlepping in die skemertyd: hy gooi die prooi met 'n psycho, spin hom toe in 'n net van sg. Oosterse eksotika - eintlik net 'n patetiese en nihilistiese rondtastery. Aan die kern het hy 'n self-probleem, 'n verskriklike afwesigheid - hy het homself nooit aanvaar nie; en moet nou déúr ander, deur die óópmaak van ander, tot selfvervulling - selfs blote selfbesef - probeer kom.) En hy's 'n Kapenaar. Gaan die omgewing en die klimaat hier mos mis. Daarby is sy mense hier. En sy boeke, sou hy die kon saamneem? (Al die klaptrap van geheime dit en geheime dat, van obskure kennis waarby mens ingelyf kan word, van wit magte en zwart magie, wondere in Egipte, en meer - die slopende narcisme.)
Toe hulle hom aansê om te gaan het hy reeds geweet wat hom te doen staan. As hulle hom dan in Groothuis tot niet moet maak, dan liewer híér, dat hy dit self doen. In sy sel (dis aand; die afbeeldings het hy reeds van die mure gestroop, die boeke in kartondose verpak) bind hy 'n aar in die waai van die arm af. Hy sê jy moet dit op twee plekke sny: die aar het glo kleppe en een snit moet bó die klep gemaak word om te verhoed dat die toegaan, sodat jy mag aanhou bloei. (Ek het altyd geglo dat die bloed sal stol nog voor jy leeg is, tensy jy 'n slagaar in die nek kan beetkry, of met die polse oop in 'n bad louwarm water lê - maar hy, Sjiwa, is oortuig dat sy manier ook sou gewerk het.)
Hy slag die aar en ook nog twee plekke by die hakskene. (Simbolies?) Dit spuit. Hy was niet daarop voorbedag nie. Dis vieslik eintlik. Dit spuit so 'n boog by elke doef van die hart. (Ek het self die volgende oggend die sproei teen die selmuur gesien, en die halfgestolde gemors op die vloer: daar was baie bloed, en teen die middag het dit reeds begin ruik. Selfs nou, met die gesprek - al is die mure geskrop, nog steeds kaal: die goedkoop prente nie weer opgeplak nie - kry mens die onaardige gevoel, dalk a.g.v. die beknopte vertrek en die ietwat muwwe reuk, van binne-in sy bloed en uiteindelik dolende ruimte te sit.)
Hy kry lus vir rook. Nou wikkel hy 'n handdoek om die wond in die arm (dit spuit so) en was die ergste bloed aan die hande in die wasbak af. 'n Man wil nie jou blaadjies bemors nie. Swaai 'n skyf. Lê terug, rook dit. Dan voel sy mond droog. Hy wil opstaan om water te drink en besef dat hy nie kan nie, dat hy reeds te moeg is. En hy begin sukkel om genoeg asem in te kry. Haal diep diep asem en daar is niks, dit maak geen verskil nie. Te min bloed om die suurstof te dra, dink hy. Laaste gedagte: ek hoop nie ek bly té lank by my positiewe nie want hierdie versmoring is onplesierig. Dan blackout. Niks meer nie.
Die res - die laaste waterman in die gang (alma! lank reeds toegesluit) wat per ongeluk of per geluk op de petalje afkom toe hy 'n potplant - wat nie saam Piraks toe sou kon gaan nie - wou kom erf; die geskreeu by die traliehek: oplaas die kennisname deur bampte; die gehol in gange; die uitwiel op draagbaar; en al díe: dis 'n ander storie.
Met binne-aarse voeding het hy gou