Op weg deur hierdie aardse woesteny het dit gebeur
dat ek op 'n plek van afsondering beland het.
Daar het ek gaan lê en aan die slaap geraak:
en terwyl ek slaap, het ek gedroom...
Hierin lê 'n halwe waarheid, want omdat my vingers
te koud was het die droom my ontvlug
en ek moes voel hoe die slaap
onder my aanraking bewe. Ook, die plek van ontsinning was
in waarheid 'n baniaan, 'n benjaminsvy met lugwortels
en siervrugte waarvan ek, met die onlesbare dors na lumen,
geëet het, om illuminator te word. Sny die blou randjie
stil-stil weg en mens kry stilte
wanneer berge net rook is op die retina
met die sagte ystersmeul van as. Wie moet aan
die hart verdompel? Lig is die vuursteker se testament.
Elke ster is erts: en hierdie land se ster word koud.
Toegegee, die ander helfte is dat dit wel sterfte is
tussen rowers, verkragters, moordenaars en psigopate;
dat dit ook 'n deurbring is van tyd:
die koei ken geen orgasme nie.
(Maar kom kyk, liefs 'n Saterdagoggend in die vierkant
wanneer deune uitgekreun kring van blue eyes
cryin' in the rain, hoe hulle ommuur skaduhurk, skuthonde
onder die waringin - en weet: só is binnehuil.)
[pagina 19]
[p. 19]
Ek dwaal af... Ver gekom weliswaar
al met die kurwes van die tregter; geïnsereer
waar die Breërivier sag nat sillabes oor die oue
se mond stort. Of so-iets. 'n Infiks op 'n stam,
met kinderjare wat steg tot 'n goeie jeug -
'n horison vol regte berge, koring soos deug op die land,
totdat die vlamme kom steganografeer, skoonskroei van taal
en met sulke anderwêreldse - of ‘dieper’ oranje hoede óp.
Spoedig dan 'n preludium van spaltgang tussen, sêmaar,
papierblom en Soter. En gou 'n vermenigvuldiging
van bedoelings - uitsorteer, verwerp, heilandsbrekfis, klik-klik,
kromrugklim, kuiflek, spetter - tot waterskeidend 'n diaspora,
d.w.s. letterlik 'n spoormaak van die dag. Ek was jonk
van swart van baard, diknek ook van baie kwaak.
Vuurhoutjies verkoop op straathoeke in Parys
en met die donker die evasvye van liefdesgluk gepluk.
Daar is roersele wat die lippe nooit verleer nie,
smake geproe wat die mond nie kan verweer
al bloei die wind swárt: die enigma van ander
vasgehart waarmee jy swerf tot jy die dag kapsewe
of met drie rukke doodloop in die gat. Dis net,
onder die witsteekson in hierdie tranetaledal, dat alles
met die deurbragte tyd verdof én skerper bot.
Dat jy móét knaak maak met die withol of bekverrek gaan jittel
in die kabaret se kol. Want ek leer dat ek geen vat het nie.
Dat die voël wat hom met die skreeu verspreek 'n spreeu is.
Dat om jou woorde te meet is om te teem.
Dat die duurste musse gemaak word van jonghondjiesvel
wat jy lewendig moet stroop vir die soepel en die blink.
Of dat sjampoe slegs getoets kan word deur die konsentraat
in 'n proefhaas se oë te drup - die kop
in 'n skroef, sper die oogwalle met metaalklampe oop -
[pagina 20]
[p. 20]
en meet verby die rooipswel en die pyn die horingvlies se skroei:
'n haasoog het nie traanklier nie.
Dit is by wyse van spreke dit wat niet gesê kan word
omdat dit te eie is aan die tong.
Arme B.B.! Dat die bouvier 'n brak is
wat moet leer min of meer die middelpunt van die spiraal!
Nou kan ek niks voor my oë vashou
en ek het gedroom ek slaap in afsondering.
Daar is tóg geen moeite op die Groot Weg nie.
Dis hier waar bespiegelinge wit op wit stapelskryf
en kennis kan dit nie peil nie. Leeg, ligryk
soos 'n uitgebrande brand: verder as alle tale -
vir dit is daar geen verlede, geen hede, geen toetrede nie.
Die tuin is oud is leefkoud oud daarom die wind
'n moederlose mompel. Aai
aai daai oopborskraai hiervandaan tot in mossel of maai.
Pollsmoor: 30 November 1982
Parys: 8 Desember 1982
Woordverklaringen
baniaan: wilde vijg, boom waaronder Boeddha tot Nirvana is gekomen
yster: ijzer
verdompel: neologisme
skuthonde: asielhonden
waringin: Indische vijgeboom met luchtwortels
geïnsereer: van to insert: invoegen
koring: koren
spaltgang: samentrekking van spalt (scheur) en gaan
sêmaar: zeg maar
Soter: Grieks voor redder
heilandsbrekfis: heilands ontbijt
kromrugklim: met kromme rug de liefde bedrijven
diknek: bazig
vuurhoutjies: lucifers
vasgehart: vastgegroeid als een hart
kapsewe: gevangenistaal voor sterven
doodloop met drie rukke: gevangenistaal voor sterven
knaak maak: drinken
withol: witte alcohol, eau de vie
jittel: neologisme, soort Sint-Vitusdans
kol: plek, vlek; schort
oë: ogen
rooipswel: samentrekking: rood opzwellen
aai, aai oopborskraai, etc: verwijzing naar het volksliedje: aai, aai die witborskraai/hiervan daan naar mosselbaai/kom ek by saldanhabaai/gooi hul my met 'n halwe haai.