| |
| |
| |
Breyten Breytenbach
Zes gedichten
Vriespunt
Hy staan wydsbeen, die son,
en sy koue druip soos 'n flikkerende keël van ys,
'n harige vlam van koue selfs. Dit is 'n sidderende geluid
wat klip geword het. Hy staan wydsbeen met sy rug bak
teen die potblou omsingeling van die hemel en laat die spieël
sien: waarin geen beeld flonker nie
maar slegs 'n blanke konsentrasie.
Teen die badkamer se muur is 'n plaat van staal
met die vloeiende omlijnings van bandiete wat moet skeer
maar nooit genoeg duidelikheid kry om keel af te sny nie:
die nekare pols ondergronds. Ek voel die appels van verrotting in my bors
en die treine sluk in my gewrigte.
Nou - ná hoe baie maande van eensame opsluiting? -
kry ek eensklaps 'n regte spieël in my sel, 'n ware oog
van water; maar onder die bevrore oppervlakte
woon 'n lokvoël: 'n verrimpelde gebleikte aap
waarskynlik uit Sjina wat buitensporige gebare beduie
en sy mond plooi in 'n lawwe grimas
wanneer hy my oog vang. Laag op laag, grimas op grynslag
en die grysheid van as. Sy mond is die bloederige donkerheid
van die appel se interieur; om sy oë gevlek is die potblou swamme.
'n Ding het in die helderheid kom groei: en ek is nie meer alleen nie
Ek sal my woorde moet tel.
O hoe het dit gebeur? Die winter soos appels
is in die aarde krummelrig en grys. Ook die wind
verfrommel die as, die vodde, koerantwoorde, die kadawers van honde,
patroondoppies, die oop nekare van die strate:
die lyke met derms vol brommers in die hande gebak.
En bo die grafiek van rook sirkel helikopters met oë van staal.
'n Periskoop hoër uit die blou is die yssplinter.
| |
| |
Die boom
Binne-in die nag staan die volle boom gebottel,
haar bloeisels soos verdonkerde mane skommelend aan takkies
wat so dun is soos 'n ooghaar voor die maan,
haar bloeisels soos 'n gedagtevlug van vrugsuigende vlermuise -
elk 'n hinderlaag of pols toegevou in die harige kleed van sy vlerke -
haar bloeisels soos gedoofde klokkloppe met tonge van poeier:
en die nag is heeltemal in die boom;
totdat die trein verbykom in stoom en wind en 'n geklater van ligte
wat mes oor die suigmuise se maannatte tandjies
met die gebroke lag van glasskerwe.
My vrou kyk na my by die grou skynsel
van skommelende gloeilampies en die landskap skreeu verby -
so swart, so grys, en dan soos 'n versplintering van die donkerte
sakdoekies van 'n boom in bloei
wat afskeid neem. Ek soen haar op die nat
witterigheid van tande tussen die twee vlerkies vol silwerige
en ek voel die rilling soos 'n trein deur my spoed.
Ons is in die rapide op sy staallem na Marseilles
met M saam met ons in die kompartement:
my jeugvriend M, perkamentgeel en los soos 'n geraamte in vel ná twaalf jaar
in die gevangenissel, platsak, haweloos, maar nou met 'n borrelende lied
tussen die sigaretstompies van sy tande.
In die rooi sand gestrooi oor die vloer van ons wa
lê beeldhouwerke, ovaalvormig en penisglad
Maar toe ek die kondukteur in die gang hoor klik
klik-klik, en ek die een swaar steen
uittrek om in die toilet weg te steek,
gewaar ek onder my vingertoppe die vreemde inskripsies
soos die note van erosie in been.
M het nie 'n kaartjie nie.
Ons draai hom in 'n pers kombers toe
en versteek hom op die bagasierak.
Hy is 'n boom heeltemal witgebloei.
| |
| |
Hoor Here die lied van die veroordeeldes
wat aan die naelstring van die galgtou verwurg;
en hoor Here die geloei van die Boere se vangwaens
die geknetter van vure in die lope van gewere
soos die broos geluide van klein beentjies wat breek
as 'n haas uit die wolkekrabber gesmyt word.
want die nag is 'n lokval en die dag 'n hinderlaag.
Here hoor die gekerm uit die wit-tand wonde
van die gesneuweldes, die hongerlyers die manne
wat van geen manlikheid kennis meer dra nie
van die vroue met die swart baarmoeders vol pyn
en swart en slymerige sterre -
want dit is genoeg want dit is genoeg Here!
Jy het gesê ons kan maar vra Here
hier is die sagheid van ons tonge
hier die mayday mayday van ons hart -
God! Here, druk jou ore toe en hoor ons
en bespuug dan jou spieël.
En kyk die gat in die lug.
Dié is groot word groter van stilte.
| |
| |
Taalstrijd
‘Clean as the conscience of a gun’
Ons taal is 'n grys reserwis van meer dan honderd jaar
met die vingers styf om die snellers -
en wie sal soos óns kan sing
wanneer ons nie meer daar is nie?
Soos in ons lewe sal ons die aarde verwerp
en die wonderwerke van die vlees wat groei
soos woorde spoel en klop -
Júlle sal die liggame vir ons gedagtes wees
en lewe om ons sterwe te herdenk
en die wysies uit ons beenfluite te tower...
Van die struktuur van ons gewete
en uit die skure van ons liefdadigheid
het ons vir julle swart konstruksies laat bou, bliksems -
skole, klinieke, poskantore, polisiestasies -
en nou waai die pluime swart rook
met die klop en die spoel van 'n hart.
Maar jullie het niet mooi verstaan nie.
Die Taal moet julle nog bemeester
Ons sal julle die ABC van vooraf voorsê,
ons sal julle tou-wys-maak
met die riglyne van ons Christelike Nasionale Opvoeding...
Julle sal leer om gehoorsaam te wees,
gehoorsaam en onderdanig.
En julle sal die Taal leer gebruik,
onderdanig sal julle die gebruik
met die gif in die klop en die spoel van die hart.
Julle is die sout van die aarde -
waarmee sal ons ons sterwe smaak kan gee
as julle nie daar is nie?
Julle sál die aarde bitter en brak en glinsterend maak
van die klank van ons lippe...
| |
| |
Want ons is Christus se laksmanne.
Ons is op die mure om die lokasies
met die geweer in die een hand
en die masjiengeweer in die ander:
ons, sendelinge van die Beskawing.
Ons bring vir julle die grammatika van geweld
en die sinsbou van verwoesting -
uit die tradisie van ons vuurwapens
sal julle die werkwoorde van vergelding hoor
Kyk, ons gee vir julle nuwe monde pasella -
rooi ore om mee te hoor rooi oë om mee te sien al
om die geheime van ons vrees te mag spuit:
daar waar iedere loodpuntwoord vlieg
sal 'n spraakorgaan oopgebreek word...
En julle sal die Taal asseblief leer gebruik,
gehoorsaam sal julle dit gebruik, breek...
want ons lê reeds met die doodsroggel
| |
| |
wanneer die son weer 'n bruidskleed sal dra
sodat 'n gulle wind die angeliere hul wieruik laat rook
soos sterfkerse om 'n katafalk
die berge vol rimpels en vlae
en die spieëls totaal wit word
en die ewebeeld oplaas deur die skerwe ontsnap
ek wil jou gelykenis wees
wanneer die branders met stywe boordjies aan
soos 'n swerm blouvlerk duiwe aangevlieg oor die see
en elke duif 'n duisend blou vlerke
| |
| |
in die Rue Monsieur-le-Prince
aan die linkerkant met die afdaal
die Luxembourgtuine se kant
waar die son saans die klein takkies brand
om in die bome nes te kan maak
en dié van die Odeonteater
wat 'n heuningkorf van vryheid was
so lank gelede nou in Mei agt-en-sestig,
in die Rue Monsieur-le-Prince
is die restaurant waar ons
presies om nege-uur sal ontmoet -
jy sal my herken want ek sal wéér 'n baard besit
al is dit dan ook van goedkoop silwer
en die Algerynse baas-cum-kok
met die moestas in die nes van sy rooi wange
sal sy arms vol bye om my skouers kom lê
alors, mon frère - ça fait bien longtemps...
sal ons couscous mouton bestel vir twee?
ek kan die sneeugeel korreltjies graan
en die bietjie botter al proe -
en 'n bottel baie donker Sidi Brahim
met die smaak van die son en die see?
wat sê jy daarná van 'n thé à la menthe
in die skroeiend klamme glasies met blommetjies versier
hoor hoe roep dieselfde wind
deur Parys se ou-ou strate
‘jy is my liefling en ek is so bly!’
|
|