De Gids. Jaargang 129(1966)– [tijdschrift] Gids, De– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 235] [p. 235] Elisabeth Eybers Vyf gedigte Liefdesverhaal Berekenaars kan lank uithou. Die man wis toe hy die meisie by die put sien staan dat daar 'n rusplek is wat nie deur lis verower word en wou niet verder gaan. Sy oom hoort tot dieselfde krom geslag, aan afding kom voorlopig nie 'n end. Eers sewe jaar geduldig swoeg en wag en boontjie kry sy loontjie. Kind na kind het hy verwek en slegs van haar gehou tot sy haar eerste baar wat binnekort, soos te verwag, nuusdraer en dromer word. So het die seun van die beminde vrou die wrok van 'n hele bende broers geërf en toe sy nog een baar het sy gesterf. Redder Hy't jou gevind. En wou jy hom nou faal? Verbeel jy jou omdat hy ander red dat hy nie redding net so nodig het? Hij krimp nog altyd aan dieselfde paal. Ter sake Die eerste (ná ontswagtling) wat Lasarus nodig het om die wonderkuur te keur is 'n nuwe alfabet... Half-tuis nog in die grotland waaruit ek tastend keer moet ek van jou 'n huistaal vir hierdie lewe leer. Jy sal die dinge opnoem, die pasmuntname sê en wat op die punt van jou tong is my tussen die lippe lê. Nomadepaar Nuwe tentamen van tente: geen mure op fondamente, geen dak, wel 'n baldakyn, hier en daar in die leë woestyn 'n karmosyn baldakyn. Konsumentebondslede Tuis is ons gesinsversorgingsautomate, in die openbaar bied ons ongeklede clichés. Maar bid vir ons, êrens behels ons klein meisietjies wat alles vir soetkoek opeet en ou vroutjies wat hik van die lag. Vorige Volgende