De Gids. Jaargang 128(1965)– [tijdschrift] Gids, De– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Elisabeth Eybers Ode aan kontroleur de Laar Meneer de Laar, belastingkontroleur, wys my met kleinste tydverlies die deur: Soek eers die juiste syfers en kom terug.’ Hy draai sy hegemoniële rug en ek wat trap-af strompel mompel: stik voor ek weer skrompel voor jou leenheerblik. (Blote bravado. Binne 'n dag of tien sal hy my, nederig-ingelig, terugsien) Meneer de Laar, dit was jou beste uur toe jy my traanblind, stotterend wegstuur. Jou skamper kommentaar gons agterna: ‘Allicht! U bent niet meer in Afrika.’ Meneer de Laar, my land het leemtes: daar het ek jou soortgelyke nooit gewaar... Miskien vanweë my huid? Ek dink bevrees: so voel dit dus om Gam se kind te wees. Meneer de Laar, ek wil geen skuld ontduik maar gee jou met jou wantroue gelyk betreffende transaksies waarvan ek geen syfers vir jou skema kan verstrek. Jy kan dit ook nie help dat jy hier sit en nou en dan nog mymer oor geluk en jou vergoeding uit my gasie vra. As ek kan eet en klere het om te dra - my bloed loop nog stroomop in jou klimaat -, eens in die maand 'n boek koop of 'n plaat mag jy jou ryklik van die res bedien en hoe ons uitkom moet elkeen maar sien. Die keurigste vereffening kos pyn, meneer de Laar, of vindt u het wel fijn? Vorige Volgende