| |
| |
| |
Elisabeth Eybers
Nuwe gedigte
Besoek aan 'n psigiater
Ek het hom eers geëien in 'n groep
warsoortiges, vanweë sy beroep
waarby ek my te pas voel: hy is grensdeskundige
siek en gesond genoeg om te kreëer.
Iets van sy heelheid wou ek absorbeer
met tussen ons 'n breë lessenaar
waaroor hy rustig en begrypend staar.
Iemand wat hom verdiep in anderleed.
Denker en kenner. Daarby ook poëet.
Ek dag, verteder en geamuseer,
dat hy miskien van my ook iets kon leer.
Of nie kon leer: mens moet van moederslyf
'n onvermoë hê, nouliks te omskryf,
vóór jy kan monster, goedkeur en belet
volgens 'n duistere versoeningswet.
En nou't ek in 'n impuls om normaal
te doen my klein gehenna uitgehaal
vir hom om te bekyk - verstrik geraak
in woorde toe ek die ontdekking maak
dat ek allenig raad moet weet daarmee
en boonop dit nie maklik prys sou gee.
Terug na die trein oor die bevrore klei
wat bitsig deur my sole vreet. Ek bly
| |
| |
Bang vir die surrealistiese gewoel.
Die klokwyster wip ver verby sy doel.
'n Man in apepak wat oopstrot skreeu
dat alles in die war loop deur die sneeu
beklemtoon (my aksent klink steeds verdag)
van soveel-guldens-soveel-sent toeslag
as ek dit tog waag om die luukse tee
met onbevoegde voete te betree.
Centraal Station uit die verligte trein.
Noord, weet ek, lê die hawe-yswoestyn,
die gragte slinger suid. Tonnels verraai,
wat my betref, geen windstreek. Erens draai
ek sus in plaas van so (of andersom)
om in 'n ongekaarte gang te kom.
Ek skouer 'n deur opsy, die naglug klap
my kaal gesig soos 'n asynnat lap.
Toe'k ná 'n nies wat steierpale wrik
my oë tranerig oopmaak moet my blik
verbysterd teen 'n skeepsromp opwaarts gly,
massiewe spiespunt in die lykwit IJ,
swart soos die nagtelike gedagte: as
iemand 'n kruisgrafiek en 'n kompas
vir die geringste reis behoef kan hy
beter die tog besluit deur tuis te bly.
| |
| |
Vader
Vanmôre tref ek in die helder glas
'n voor-beeld, Vader, van wat jy al was:
vreemd en standvastig van na binne kyk,
en wonder hoe het dit by jou gelyk.
Jy het gestol binne die enkel taak.
Jy kon nie konkel, kompromieë maak,
verbaas dat ek dit minder duidelik sien,
die enkel eis van God en mens te dien.
Hoe het jy dit gebolwerk, met jou teer
hart en die harde stellings van jou leer?
met die gemis en met die nugter moed,
my erfreg as deelhebber aan jou bloed.
Verdraaider vesels, 'n verdraaide tyd
het jou verbaas. Jy het my nie verwyt.
dien ek ook 'n soort suiwerheid, behoort
ek aan 'n wreder Molog van die woord.
| |
| |
Sondagoggend
Die wind wat uit Siberië keer
raap 'n boeket kerkklokke saam,
tas langs die nok, insinueer
hom deur die skrefies om my raam.
Don Goean van die boetseisoen,
ek voel nog steeds oor jou, verstaan,
soos vroue oor vrybuiters doen,
bly as hul kom, bly as hul gaan.
Ek paai jou met 'n flikkervers
dat ons stil gas, melancholie,
lankmoedig onder die kombers,
my nie verdink van kilheid nie
en voeg daarby, daar ons mekaar
nooit wou mislei: ek hou van jou
maar gaan sèlf vort voor anderjaar.
Probeer dit by 'n ander vrou.
| |
| |
Nagwandeling
'n Vloed getregter uit die pool
word deur die iepelaan gepomp,
nogtans sweef vierbeen om die hoek
- twee nylonkuite, klinknaelbroek -
twee koppe op dieselfde romp
vas teen mekaar, laveer hy voort.
Vannag wys elke rigting noord.
'n Man draai aarselend voor die rooigespoelde
knotnek, dik buik, dik beursie, want
hy voel nie bra ramkat vanaand.
Terwyl die wind oop kaarte gooi
en alles voor die voet wegwan
kies hy tog kortpad na die vrou
wat tuis sy ete warm hou.
'n Dame met 'n twaalfuurhond
swalk agter sy behae aan.
Eens, aan 'n heer se arm, was daar
van omwaai nie soveel gevaar,
nou in 'n lamp-tot-lamp bestaan
skuifel sy hol soos 'n kokon
na vasklouplek om teen die kou
nog 'n seisoen of wat te hou.
| |
| |
Daar tree nog een wat hier nie hoort,
wat nie durf omkyk of bly staan,
wat liefgehad het (maar te vroeg),
gewag het (maar nie lank genoeg).
Vanweë 'n ongesproke woord
het sy die ystyd ingegaan:
van hart na huidvlak dans haar bloed
'n silwerbruilof tegemoet.
|
|