De Gids. Jaargang 125
(1962)– [tijdschrift] Gids, De– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 184]
| |
[pagina 185]
| |
November
Die winter kom my te na,
die mis het te veel verteer,
wat ek met my mee wou dra
het die ewenaar afgekeur.
In nederige skemering
laat die son sy bestaan vermoed,
reëndruppels trommel: dis goed,
dis gedaan, dit is uitgedoof.
Die wekker wek my, ek sing
en wandel in geloof.
| |
[pagina 186]
| |
Toeskouer
Die oog eerbiedig swart-en-wit,
die kaperhart vernietig dit.
As kind het ek te kort gekyk,
toe wou ek plotseling besit,
my hele wese omgevou
om te ontvang en vas te hou.
Maar noudat alles my ontwyk
mag ek van meet af kyk en kyk.
| |
[pagina 187]
| |
Heimwee
'n Huis is iets wat teen 'n helling staan
deur son gekonfronteer aan elke kant.
Maar let op: sê jy huis in hierdie land
dan dui jy drie beknelde kamers aan.
Hier is geen op- of afwaartsneiging, geen
geleidelike hemelvaart, geen lig
behalwe dié uit draad en glas verdig.
Die eendersheid is redelik en gemeen.
Agter 'n grou en anonieme wal
hys die abrupte trap jou uit die straat
op na die sogenaamde huis, en laat
jou later stiptelik in die straat terugval.
Nooit wesenlik, alleen kineties, mag
jou hartritmiek, jou ribbehok wat hyg
die dodelike waterpas ontstyg
terwyl jy knutsel aan 'n nuwe dag.
| |
[pagina 188]
| |
Oggend
Die nag was 'n ontreddering,
teen voordag word ek weer verras,
deur skimgrimasse ingekring.
Die swaar reisdeken van verdriet
lê om my lede vasgevou,
die lug is laag en aardesiek,
met stopverf toegedik en grou.
Vir hierdie parallele las
te houvasloos en te onfiks,
gewoond aan verte, hoogte, lig,
stoot ek die wakkerwordgewig
dubbel opsy om op te staan
om op my voete in te gaan
in die smal skemerspleet van Niks.
|
|