De Gids. Jaargang 125(1962)– [tijdschrift] Gids, De– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 92] [p. 92] Elisabeth Eybers Gedigte Digter Sy woorde was 'n gruisreën teen hul ruit, 'n skadelose tinkelende klag. Eers het hul deur die raam geknik, gelag, daarna hom ingelok en opgesluit, lewend oorhandig aan die stipte wraak van hoogtemeter, loodlyn, winkelhaak. Met woorde, met geslepe woorde, kap hy 'n klein tonnel om weer te ontsnap. [pagina 93] [p. 93] Besluit Die golfstroom laat my - uit 'n oop verskiet in hierdie koers getregter - nooit meer los. Op steil Itaka flikker nog vannag wit marmergroewe, vlymende kwartsiet, alwyn en kaktus, wag-'n-bietjie-bos. Die jong maan het sy angel opgelig maar aan die boegkant glim die einder sag. My voetsole onthou die diep venyn van te veel letsels: selfs die sober pyn - jou swye - buig my roerpen nie meer terug. [pagina 94] [p. 94] Wet Geen wonderwerk of dit is puur natuur. Gewone mense roep soms halt en slaan, sonder te weet wat hulle daarheen stuur, 'n rigting in wat in die sterre staan. Geskeidenheid, soos elke ope wond, word halsoorkop weer deur die bloed herstel: so het Leander in die hellespont gespring voor hy die brandertoppe tel. So leer ons, losgeskeur, ons daaraan wen om blindelings die afgrond te misken, om bo die bodemloosheid te ontmoet. Regstreeks en onverbiddelik is dit soos die gedans in spitsende gelid van spelde wat 'n streng magneet begroet. [pagina 95] [p. 95] Immigrant Niks as my hande en voete het ek hier, die res het met die oortog soek geraak: die katswink hart, die prikkelbare klier, wat moet mens bowendien met hulle maak? Om wat verlore is te vergelyk met die omringende, om klank en lig te gryp sonder te luister of te kyk het ek tog nog sintuie aan my gesig. Ook aan my bors en buikruimte gewaar ek dat daar vroeër wel iets anders was. Wie het geweet dat leegte ooit so swaar sou word en onbelemmerdheid so 'n las? [pagina 96] [p. 96] Episode Omdat sy dit nie langer kon verduur het ridderlike liefde hand en mond die bose mag van ou gebrek besweer, sag en behendig oor die wakker wond 'n goue salf van saligheid gesmeer: genoeg vir elke tik van elke uur. Die benediksie het sy bly aanvaar, maar ná 'n kort en bondige seisoen moes radelose liefde nog 'n klein en onontkombare pligpleging doen: die plegtige toesê van nuwe pyn, genoeg vir elke dag van elke jaar. [pagina 97] [p. 97] Afloop As jy 3 maande lank kalenderloos uit nooddruf vir die onbekende oorbekende die valbrug neerlaat, die beleëraar se teer en tydelike triomf aanvaar, daarna 3 afgemete weke lank bevrore in die rigor mortis van ellende, jou oë koppig op één kwas gerig, kruisarrnig uitgestrek lê op jou rug en dan uit blinde wraaksug 3 dae lank die gros van 50 vel prima gelinieerd (Kantoorboekhandelaars Gebr. Winter) soos 'n dik heipaal afsplits tot 'n splinter bly alles hoe ookal nog ongedeerd. Vorige Volgende