De Gids. Jaargang 123(1960)– [tijdschrift] Gids, De– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 358] [p. 358] Elisabeth Eybers Vooraand Wat lank na einde lyk blyk 'n begin. Nou, met die leë afloop van die dag, het grouheid van my weggegly. Die wag, weet ek, sal langsaam die klein dood oorwin: wat donker opgeberg is sal ontwaak soos uit die saaddop as die reën dit raak. Binne 'n bleek verskiet van lood en lei moet oë troosteloos meetkundig wei. Die winter het my stil vooruitgeloop, stingels vertrap en takke kaalgestroop: wat harsdig toegegrendel is sal skrik soos uit skorsweefsel as die son dit tik. Gevoeg tot 'n vergetelheid van saad wat onder broeierige korrels kwyn, snak ek na bytlug, koel nasmaak van pyn. Ontwaking bly altyd 'n wanhoopsdaad: 'n skeut moet waswit uit die pit oopkrul dat die benoudheid hom nie meer omhul. Uitwissing is denkbeeldig, dink ek. As één wat die skemer haarfyn ken hier was sou hy koelbloedig en met sagte vlyt beslag lê op elke besonderheid, ontbinding teen die lig bekyk, en dood telkens 'n voelsprietlengte van hom stoot. Vorige Volgende