De Gids. Jaargang 117(1954)– [tijdschrift] Gids, De– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Uys Krige Kreet Nou moet jy dit weet, wit man! Nou moet jy dit weet! Dat ek dié wit lig haat bedags en dat ek snags dié swart lig haat, dié lig wyd oor ons albei, wit soos jy of swart soos ek. Omdat jy nie wil hê in die stede en dorpe wat ons bou ek my kop mag oplig in dié lig. Omdat jy nie wil hê ek mag hier soos 'n man staan onbeskaamd, bly, sonder vrees, in hierdie lig. Nou moet jy dit weet, wit man! Nou moet jy dit weet! [pagina 219] [p. 219] Dat ek dié haat haat en dat ek ook joú haat wat my dié haat gegee het soos 'n wurm in my brein, 'n skerpioen in my hart, 'n gloeiende kool in my galstene, 'n groen gif in my bloed. Nou moet jy dit weet, wit man! Nou moet jy dit weet! Dat ek jou haat met 'n haat wat al vaster wortel, al dieper boor tot in die harde been, die safte murg. Kan ons nog oor dié dinge praat? Of is dit reeds te laat? Ek stik in hierdie haat, wit man, soos in my eie bloed. Verlos my van dié haat, wit man, wit man, of ek vergaan en jy vergaan. Verlos my... Verlos... Vorige Volgende