| |
| |
| |
Die palmboom
In die smart van haar barensnood het Martha van Wyle, ver en verwyderd, soos iets stil, koel en kalm, heeltemaal anderkant, heeltemal verhewe bo al haar pyn en lyding, gedurig die geruis van die palmboom gehoor.
'n Warreling van geluide en klanke het aanhoudend deur haar ore gedruis; maar hoog bo dit alles uit soos iets hemels, heilig en onaantastbaar, hoor sy die geruis van die palmboom nes die geruis, yl en koel, van 'n sagte, alles-deurdringende landreën nà droogte. Die pyn wat in vlae deur haar hele liggaam ruk en skok, dit laat sidder en stuiptrek, het 'n duisend beelde voor haar opgeroep. Hulle dwarrel, wissel mekaar immer voor haar oë. Maar een beeld bly pal staan, wyk nooit nie. Agter dit alles, agter al hierdie duiselende deurmekaar wenteling van beelde, gesigte, rys die palmboom op: standvastig, slank en sterk en stewig. 'n Ligte wind speel deur die boom se blare. Hy plooi sy sierlike kruin. Silwer glans hy in die son. Om hom, hoog bo hom (die palmboom is deel daarvan) is die onmeetlike hemel, blou en stil, onpeilbaar, vol vrede en rus.
In haar hardnekkige verset teen haar beproewing, deur die bange martelende ure van haar stryd, klem Martha van Wyle al haar verwarde gedagtes en denkbeelde, al haar geloof, moed en hoop aan hierdie beeld van die palmboom vas, soos 'n drenkeling in sy laaste stoutmoedige poging om homself te red sy houvas aan 'n rotspunt wat vasstaan, niet laat los nie.
'n Tyd lank verlaat die pyn haar liggaam. Doodstil lê sy in haar bed. Met groot wyd-starende oë wat niks om haar opneem nie, kyk sy na die plafon. Die boom se geruis kom nader, suis stil, sag en strelend in haar ore.
Haar seun sou groot word soos die palmboom, groei soos die palmboom met sy wortels diep in die grond, sy kop in die son.
| |
| |
Ruis met die wind, sing met die reën. Die storms sou hom buig, maar hom nie breek nie. Trotser sou by staan en sterker, trots en sterk en selfstandig, soos sy hele ras voor hom, al die lede van die Joubert-familie manne van staal, manne wat 'n slag kon slaan, manne rotsvas en fier, manne, pure manne die laatste een van hulle.
Buite in die lappie tuin voor die huis staan daar geen palmboom nie. In hierdie armoedige deel van Durban kry mens geen palmbome te sien nie. Hulle staan net in lang rye langs die strate en lanings in die deftige, meer gegoede dele van die stad of op die esplanade, langs die paaie wat voor die groot mooi geboue vlak voor die see ver byloop.
Die palmboom, die geruis waarvan Martha van Wyle sonder ophou hoor, bestaan alleen in haar verbeelding. Maar haar neef, Pieter Joubert, het die saadjie 'n week gelede geplant. Hy kom het kuier, 'n koppie koffie saam met haar gedrink, toe in die tuin 'n bietjie staan en rondspit. Toe hy by die hekkie uitgaan, draai hy om en sê:
‘Martha, die korrel saad is onder die grond. Een van die mooi dae steek hy sy kop uit. En dit sal 'n mooi boom wees, verseker ek jou....’
Pieter met sy sagte stem, sy sagte maniere, sy skugter houding, sy hele stil teruggetrokke voorkoms en geaardheid waaraan haar man, Jan van Wyle, altyd so 'n geweldige hekel het. Smalend het Jan hom altyd ‘die meisiekind’ genoem. En Pieter wat maar alte bewus was van sy aangetroude neef se vijandiggesindheid, het hulle maar selde kom opsoek. Af en toe het Martha hom in die stad ontmoet, en dan neem hulle 'n wandeling al langs die see. Hulle het nooit baie gesels nie, maar vir Matha was dit of die stilte tussen hulle die goeie verstandhouding en die gevoel van ware vriendskap wat daar tussen hulle bestaan, verinnig, dit nog dieper en mooier maak en nog duideliker tot haar gemoed laat spreek.
In die helder sonlig, met die bloue skuimende, bruisende branders langs hulle, of onder die palmbome deur waar die wind deur hul toppe roer en die son soos op silwer pluime teen hul kruine glinster, het hulle aangestap. Dan, as hulle van mekaar gaan, voel Martha of sy weer moed het vir die dag van more, of alles tog nie verniet is niet en die lewe weer werd is om te
| |
| |
lewe. Hulle kom oor die snaaksste dinge praat soms: oor die see, die lug, die bome byvoorbeeld. Pieter, dus, wis van haar liefde vir bome en van haar liefde, veral, vir die palmboom.
Drie weke voor haar bevalling het Pieter daar op die rusbank op die stoep gesit. Jan was ook daar, dus het Pieter skaars 'n woord gesê. Een van sy weinige opmerkings was: ‘Martha, man, jou tuintjie lyk maar kaal. Jy hou mos van palmbome. Ek sal vir jou 'n palmboom plant, hier vlak voor die deur. En jy sal sien hou groei hy. Wragtie, hier teen die stoep se trappe aan sal sy skaduwee lê....’
Jan het gelag; maar agter hierdie stil, byna aarselende woorde van die middeljarige man het Martha 'n vriendelikheid, 'n teerheid en 'n besorgdheid oor haar toestand aangevoel wat - so lyk dit vir haar - oor al die eensaamheid in haar, al die sielsarmoede en leegheid van haar lewe, skoorvoetend uitreik, daardie leemte oorbrug, haar bereik en haar hart skielik warm en week laat voel.
Die pyne pak haar weer beet. Dit lyk of die bed haar hoog in die lug opsmyt, haar dan ops pitspunte soos die tande van vurke vang. Sy klem haar tande opmekaar. Haar naels byt diep in die palmvlees van die verpleegster. Sy wil skreeu, gil, maar kan nie.
Haar seun sou groei soos die palmboom, groot word soos die palmboom: standvastig, slank en stewig en sterk. Soos sy oupa, sy ooms, sy hele geslag voor hom. 'n Man, 'n Joubert.... g'n Van Wyle soos sy vader nie.
En toe verlossing kom, haar worsteling verby is, haar liggaam eindelik sy taak volbring het en daar in en deur haar en oral om haar 'n diep stilte en kalmte swewe, was dit vir haar asof in hierdie vreedsaamheid, hierdie afwesigheid van alle pyn, die boom in die kamer self staan, hier naby haar, hier vlak voor haar.... Hy is skoon en slank en hoog, vol stil-fluisterende beweging, en dis asof, veilig, gered, sy in sy diep koelgroen skaduwee lê, asof die palmboom nou oor haar neerbuig, haar in tere arms vol seëning, rus en genade omvou en sy sagte geruis haar liggaam, haar hart, haar siel, haar hele wese, die donker nag en die ganse wêreld daarbuite vul.
Toe die kind al 'n paar jaar oud is en reeds in die tuintjie rondbaljaar, het Martha van Wyle haar seuntjie gewaarsku om
| |
| |
tog versigtig te wees, nie so rond en bont te draf en te rol nie, anders trap hy netnou die boompie plat. Pruilend het die kind belowe; maar toe hy weer 'n slag teen die dun stam aanrol en die boom amper 'n noodlottige knak gee, het Martha 'n draadbeskutting daarom aangebring om dit teen die moontlike knak gee, het Martha 'n draadbeskutting daarom aangebring om dit teen die moontlike gevolge van haar seuntjie se gewerskaf te beveilig.
Haar seun het die eensaamheid, die lang eentonige dae van haar lewe volgemaak, aan al haar handel en wandel 'n rigting en 'n doel gegee wat sy in jare, ná daardie eerste wrede ontnugtering 'n paar maande ná haar huwelik, nie geken het niet. Al haar eienskappe van sorg en toewyding, haar gawes van liefde, teerheid en sagsinnigheid, het eindelik, ná al die jare, hul mikpunt gevind.
Toe haar seun gebore is, was sy reeds 33 jaar oud. Iets wat lank opgekrop, lank versper en vertraag was, had nou ten lange laaste vrye spel. Sy was teruggetrokke en stil in haar geluk wat egter heg en sterk was, en langsamerhand al dieper wortels gevat, al groter en sterker gegroei het.
Die totale mislukking van haar huwelik kwel haar nooit meer nie; zelfs vroeër het die besef daarvan haar slegs af en toe gehinder. Haar man is nou, nog meer as ooit tevore, 'n vreemdeling vir haar. Haar kind is haar enigste lus, vreugde en hoop. Hy is 'n mooi seuntje, met die kastanjekleurige hare, die mond, neus, die aantreklike gelaatstrekke van sy vader....
Maar hy sal 'n Joubert wees, in murg en been, en nie 'n Van Wyle nie. Sy sal sorg dat geen swak papbroekige Van Wyletrekke en -streke op hom vat kry, by hom ontwikkel nie. Sy sal keer en hoed, waak en wag en bid....
Toe haar seun drie jaar oud is en die boom reeds 'n sierlike kruin dra, brand die oorlog tussen die twee Republieke en die Britse Rijk oor die land los. Op die slagveld van Colenso het albei haar man en haar neef Pieter geval: Pieter met 'n netjiese ronde koeëlgaatjie in die middel van sy kop, aan die kant van die Boere; en Jan met 'n koeëlwond in sy rug, aan die kant van die Engelse.
Sonder die geringste gevoel van ontroering het Martha van Wyle die nuus van haar man se dood ontvang. Jare gelede reeds
| |
| |
het sy hom uit haar lewe verban; hy het feitlik nie meer vir haar bestaan, sy dood kon haar glad nie skeel nie. Waarom hy nou eintlik vir die Engelse gaan veg het, het sy haar nie eens afgevra nie, soos sy lank reeds opgehou het om na die waarom en die hoe van Jan se doen en late te vra.
Maar sy het gedink aan haar wandelinge, vanmelewe, met Pieter, die seehoof verby, die strand af, onder die palmbome deur; en sy het haar verbeel: neem sy nou haar hoed en kom sy daar op die esplanade uit, sal Pieter soos altyd met die ou sagte uitdrukking op sy gesig daar voor haar staan. 'n Knop het in haar keel gekom. Skielik, vir die eerste maal ná daardie aand jare gelede toe sy plotseling voor die wrange en vernederende besef te staan kom van de hopeloosheid van Jan as man en mens en van die afgrond wat daar altyd, onoorbrugbaar, tussen hulle sou gaap, het Martha van Wyle gehuil: maar uit teerheid en die gevoel van 'n onmisbare persoonlike verlies: uit 'n groot diepe medelye met haar swaarbeproefde volk, 'n trotse byna juigende bewondering vir die heldhaftigheid van hul stryd: sonder teleurstelling, sonder verbittering en sonder wanhoop hierdie keer.
Die pensioentje wat haar toegekom het as die weduwee van 'n spoorwegbeampte, was skaars genoeg om haarself, wat van die lewe niks vereis nie en wie se behoeftes maar van die geringste is, aan die lewe te hou, laat staan nog 'n kind wat sterk en gesond is, by die dag groter word en nog 'n opvoeding moet geniet. Sy het op 'n liefhebbery en tydverdryf van haar meisiesjare teruggeval, rokke, klere, kantwerk en tafelkleedjies begin maak soos vroeër toe haar hand- en breiwerk die bewondering van die hele distrik was. Haar hande wat vir geen praktiese taak of werk berkeerd staan nie, het niks van hul ou vaardigheid verloor nie. Klante was daar genoeg. Sy kon die huishouding in stand hou, beter nog as toe Jan met sy selfsugtige spandabelrigheid, sy buitensporigheid en al sy uitspattinge vir hul onderhoud verantwoordelik was.
Haar seun het alles gekry wat hy nodig had. Sy het hom met liefde grootgemaak, maar streng, soos haar pleegouers met haar streng was, met al die wyse strengheid van haar ras, die eenvoud en sobere gesonde lewenshouding en -uitkyk van haar voorgeslag wat byna twee eeue lank op die land gelewe het, daardie land in hul drang na vryheid verlaat het om ver in die wildernis,
| |
| |
tussen roofdiere en barbare, hul enigste heil en saligheid te soek en te vind.
Toe Herman al lank nie meer net tot die tuintjie beperk kan word en die palmboom geen gevaar meer loop om vertrap te word nie, het 'n buurvrou een middag by Martha kom kla. Onder by die tennisbaan het Herman sand in die oë van haar dogtertjie gegooi. En, would you believe it, die arme meisiekind boonop 'n stamp in die rug gegee.
Herman met sy bruin hare wat soos ferweel glans en in drie of vier los deurmekaar toutjies oor sy voorkop val, het eers astrant gelieg, toe geskrik en flou ekskusies begin stamel. Martha het hom goed uitgevat, terwyl Herman skop en skreeuw dat die hele huis antwoord gee.
Daardie aand het dit 'n hele rukkie geduur voordat Martha eindelik aan die slaap geval het. Skielik, ná jare, dink sy weer aan Jan, is dit of hy lewe, glad nie dood is nie, of hy hier naby haar in sy eie kamer op sy bed lê.
Herman is soos Jan: dieselfde oë, dieselfde mond, dieselfde hare. Hoe smoorverlief het sy nie dadelik op hom geraak nie toe hij die eerste maal daar op die plaas van haar pleegouers aangekom het! Sy maklike manier van praat en doen, sy sorgeloosheid, sy vrypostigheid, sy astrantheid wat sy in haar plotselinge blinde liefde as 'n krag en 'n sterkte gewaan en bewonder het; hoe geweldig en onweerstaanbaar het hy haar aangetrek en bekoor, en hoe gou ná haar huwelik is dit tog nie alles as leeg en vals en heeltemaal sonder fondament aan haar openbaar nie: 'n skerm, 'n masker vir sy lamlendigheid, sy besluiteloosheid, sy gebrek aan wilskrag en al sy ander onvergeeflike foute; 'n skerm, ja, 'n masker vir wat in werklikheid 'n swakheid was en geen sterkte nie.
Maar die meeste seuns, as hulle nog baie jonk is, maak so. Hulle dink nie, weet niet wat hulle doen nie. Dis al. Sy sal keer en hoed, waak en wag en bid. Herman sal g'n van Wyle wees nie (daarvoor sal sy, Martha Joubert, 'n stokkie steek) maar 'n Joubert, 'n Joubert soos al die Jouberts voor hom.
Dit was 'n jaar of wat later toe sy een middag uit die stad kom en in die straat naby haar huis Herman tussen 'n klompie lawaaiende seuns gewaar. Sy het stil gaan staan, van ver die gedoente daar aanskou.
| |
| |
Herman slaan 'n maer seuntje baie kleiner as hyself. As die seun val, gee hy hom nog 'n venynige skop met die skoen by. 'n Ander seuntje spring vir sy maat in die bres. Ook hy is kleiner as Herman, maar hy is woedend, veg soos 'n tier; sy vuishoue reën op Herman se gesig en liggaam. Herman is meteens op die verdediging, deins al verder terug; sy teenhoue word al flouer. En as hy dan sy ma sien, draai hy vinnig om, hardloop hy na haar om skielik huilend by haar sy nood te kerm en sy maters aan te kla.
Haar gesig strak en spierwit, het Martha Herman by die huis met die bruin sambokkie wat aan sy vader behoort het, 'n afgedankste loesing op die koop toe gegee.
Daardie nag kon sy nie slaap nie. Weer, vir die tweede maal ná al die jare, staan haar man Jan duidelik en helder voor haar oë. Weer neem daardie ou, byna vergete beeld al haar malende gedagtes in beslag, kan sy, ten spyte van al haar verset, al haar teenstand, daarvan nie ontslae raak nie.
Herman se optrede, handeling van vanmiddag was tipies Jan, uitgeknip haar man: sterk en brutaal, op die aanval, selfs wreed teenoor 'n swakkere, maar weifelend en swak, weerloos, niks minder as 'n lafaard nie teenoor 'n sterkere of een wat net 'n bietjie meer moed het as hy.
'n Tipiese Van Wyle-trek hierdie. Maar waar bly al die Jouberteienskappe dan? Hulle sal uitkom, moet uitkom, later. Herman is nog maar 'n seun, 'n bog kind. En kinders dink nie. Dis miskien haar eie skuld. Sy moet net 'n beter moeder wees, fermer, strenger, maar met die regte soort liefde, die regte soort toewyding, voorsorg, vérsiendheid en waaksaamheid.
Die jare het verbygegaan; Martha het ouer, reeds grys geword, Herman groot en sterkgebou, byna 'n jonkman.
Martha van Wyle se familietrots, haar trots op haar afstamming en ras, was so 'n deel van haarself dat hoewel sy daarvan bewus was, sy nooit daarvan gepraat het nie. Maar sy kon, in die deur-en-deur Britse omgewing (dikwels onsimpatiek en selfs vyandiggesind teenoor alles wat Afrikaans was) haar man staan en, veral met haar werkgewers, haar sê sê en prontuit met die waarheid voor die dag kom. Om haar onafhankelikheid van gedagte en daad, haar stil en sterk karakter, haar doodeerlikheid en opregt- | |
| |
heid, had almal 'n groot respek en eerbied vir haar. ‘That Dutch lady.... what a fine woman,’ is wat die meeste van haar bure van haar gesê het as hulle soms van haar praat.
Herman was reeds 15 jaar oud. Martha het nog harder, later gewerk teneinde hom na die beste skool in die stad te kan stuur. Op skool het Herman niet goed gevorder nie. Hy kon nie, wou nie leer nie. Dit was nie omdat hy aanleg of begaafdheid had waarvoor die skoolkursus geen kans tot ontwikkeling aangebied het nie. Hy kon niks aanpak, niks met beslistheid en deursettingsvermoë end-uit deurvoer nie.
Nog voor hij 16 jaar oud was, het hy reeds die skool verlaat en had hy 'n betrekking as klerk in een van die groot besighede in die stad. Ook daar wou hy nie deug nie, was hy gou sy nuwe pos kwyt. Hy het begin rondval, van die een ding op die ander.
Hy het met die verkeerde soort seuns maats gemaak, al sy vry tyd in die biljartsale van die hotels deurgebring, rondgevoeter op 'n motorfiets, in die strate van die stad of op die strand doelloos en dikwels vir kwaadgeld rondgeslenter.
Martha het al geruime tyd opgemerk dat al sy onbekookte opvattings en sienswyses op 'n halfslagtige oppervlakkige manier Engels getint is; dat hy nooit, behalwe in haar teenwoordigheid, sy eie taal praat nie; dat hy soms in sy oomblikke van windmakerigheid en astrantheid (met sy maats veral, as hy dink sy is besig en luister nie) geringskattend, half skimpend en smalend praat van sy eie volk, hul gewoontes en tradisies.
Eendag word hy weer deur sy baas in die pad gesteek. Dis 'n betrekking wat hy deur Martha se toedoen by 'n Afrikaanssprekende handelaar gekry het. Toe Martha haar spyt en teleurstelling te kenne gee, verset Herman hom, gee hy daardie ‘bleddie ou Boer’ die skuld. Martha, bloedig vererg, betig hom:
‘Hoe durf jy so praat? Jy, 'n Boer, 'n Afrikaner.... En jy praat nes 'n verraaier. Jy is geen Engelsman, sal dit nooit wees nie al staan jy ook op jou kop. Jy 's 'n Boer, soos al jou mense voor jou, almal wat ná jou sal kom. Skaam jy jou nie? Weet jy miskien iets van jou familie, die Jouberts? Watter soort mense hulle was? Hulle was manne, dapper, helde almal. Toe iemand in die bres moes spring, was daar altyd 'n Joubert om in daardie bres te spring. Toe iemand vir vryheid en vir reg op die slagveld moes val, was daar altyd 'n Joubert wat die koeël deur die
| |
| |
hart gekry het. En jy praat van 'n bleddie stom ou Boer' jy wat niks beteken, niks kan uitrig nie?’
Herman se prikkelbaarheid en gevoel van skuld veroorsaak dat hy, vir die eerste maal, teen sy moeder in opstand kom. Heftig en woedend val hy haar in die rede:
‘Ag, in hemelsnaam, Ma....’ hy maak 'n moeë gebaar, ‘ek is lankal moeg van al daardie ou stories. Daardie ou geskiedenis, dis vervelend, dood en begrawe, al jare al. Ek wil geen Boer of Afrikaner of wat die joos mens dit ook noem, wees nie. Ek is 'n Engelsman, my Koning die koning van Engeland, en dis die grootste, sterkste nasie op aarde. Kyk 'n bietjie hier in Durban rond. Die Engelse, almal van hulle, het geld, mooi huise. Hulle is fynmense, agtermekaar. En ons? Ons is alles wat arm, agteraf en ouderwets is. Iemand sê gister: “Natal is lousy with Dutch gangers” en hy is niet ver verkeerd nie....’
Herman het nie verder gekom nie. Martha staan vlak voor hom. Daar dreig iets in haar grys oë. Met 'n vinnige swaai van haar arm gee sy hom 'n geweldige klap met die plat hand dwars oor die gesig. Herman is bedremmeld, heeltemal oorbluf. Hy bars soos vanouds in trane uit.
Daardie aand was dit vir Martha heeltemal onmootlik om aan die slaap te raak. Toe, eindelik breek daar iets in haar; en vir die tweede maal ná daardie dag, jare gelede, toe vir die eerste maal die waarheid omtrent Jan se ontrou, sy ontug, sy dronkenskap aan haar geopenbaar is, huil sy lank en bitterlik.
Met oë wawyd-oop lê sy in die donker. Die warm, bitter trane wel een vir een uit haar oë op, loop langs haar wange en nek af en val op haar kussing of in die beddegoed wat sy in albei hande styf beet het.
Weer, vir die tweede maal sedert sy dood, rys Jan, lewensgroot, voor haar op; weer staan sy beeld pal voor haar. Maar vanaand is hy nader aan haar, raak hy, tref hy haar dieper as ooit gedurende sy leeftyd sedert die dag dat sy hom finaal en vir goed uit haar lewe geweer het. Want Jan is nie meer Jan nie, maar Herman.... Dis so duidelik nou soos die slag van 'n piksteel teen jou kop. Herman is geen Joubert nie, maar 'n Van Wyle, in hart en siel en liggaam: 'n mislukking, 'n papsak en wat erger is, 'n lafaard.
Jan, soos 'n Lazarus opgestaan uit sy graf.... Maar 'n Lazarus
| |
| |
wat sy nie verwelkom nie, voor wie sy walg, wat sy verafsku, wat sy haat. En vir die eerste maal haat Martha vir Jan (vroeër kon sy hom nie haat nie, het sy hom eerder jammer gekry), haat sy hom vir die wraak wat hy duskant die graf op haaf neem, haat sy hom met al die krag en sterkte van haar liefde vir Herman.
Ná die matelose vernedering van daardie besef van Jan se eintlike karakter waartoe sy jare gelede gekom het, het daar iets in haar vergoed gebreek, het sy haar swak en hulpeloos en verlore gevoel. Maar sy het haar teen haar swakheid verset en trapsgewyse, stadig maar seker, weer tot herstel gekom. Sy het Jan van haar afgeslaan, soos mens iets van jou afslaan wat dreig om jou blijwend te besoedel, totdat op die ou end sy gans en al onverskillig was teenoor hom, wat hy ook mag doen, wat hy ook mag doen, wat hy ook mag sê. En toe sy 'n tydjie later weet dat sy eindelik haar kind in haar omdra, het sy gedink: haar huwelik met Jan had darem díe een groot goeie gevolg, dat sy 'n seun sou hê.
Jan het sy uit haar lewe geweer, koel en koud, streng, stelselmatig en onverbiddelik. Maar Herman kon sy nie uit haar lewe weer nie. Hy was deel van haar, van haar eie vlees, haar eie bloed.
Herman 'n Van Wyle, en geen Joubert nie.... Daar was 'n Joubert by Vegkop, by Retief, by Piet Uys, by Bloedrivier. In die Kafferoorloë het die Jouberts hul offers gebring. In die Eerste Vryheidsoorlog was hulle aan die spits, en in die stryd om die voortbestaan van die twee Republieke het daar 'n seun uit elke tak van die familie 'n heldedood gesterf.
Is daar geen kans, geen hoop op redding meer nie?
Met oop oë, met haar hande krampagtig in die voue van die laken geklem, het Martha van Wyle gebid, gebid soos sy nog nooit tevore gebid het nie, urelank, aan die God van haar vaders om haar tog moed en hoop en krag te gee vir die toekoms, om haar by te staan in haar nood, in haar strewe om haar seun te help, te red van sy eie swakheid en sy ondergang.
Wie weet, miskien kom hy, met die oorgang van seun tot jonkman, nog reg. As sy net 'n goeie moeder is, as sy net die moed en die krag het as God net help.
Die eerste flou daglig raak reeds die top van die palmboom wat daar stil, asof vooroorgeboë, buite in die tuin staan. Tóe
| |
| |
eers het Martha van Wyle opgehou met bid, om eindelik, moeg en afgemat, in 'n diepe slaap sonder drome te val.
Die uitbarsting van die Wêreldoorlog het die hele Suid-Afrika en ook Durban in rep en roer gebring. Dit was 'n week nadat die eerste tyding van die rebellie Durban bereik het. Generaal Beyers en sy manskappe was in die veld en op die Vrystaatse vlaktes het die ou leeu, generaal De Wet, hom by die klompie rebelle aangesluit.
Gebuk oor haar handwerk sit Martha van Wyle in haar voorkamertjie. Dis skemeraand buite. Sy voel moeg. Sy is nie meer so jonk nie. Deesdae voel sy byna altyd moeg so teen die aand se kant. Haar oë is ook nie meer van die beste nie. Teen sononder kan sy nie meer mooi reg sien nie, moet sy altyd die lig 'n uur of wat vroeër as vanmeewe aanslaan.
Dit word gryser om haar.
Sy dink aan De Wet, aan Beyers, aan die handjievol manne, baie van hulle bog seuns, wat weer hul huise, hul plase verlaat het, wat weer op hul perde sit, deur die velde ry met geweer in die hand, bandolier om die lyf.... Net 'n handjievol van hulle wat in hul sug na vryheid weer die ou magtige vyand uitgedaag het, nou daardie vyand in die gedaante van hul eie mense, hul eie vlees en bloed, trotseer.
'n Gevoel van trots wel in haar op. Die Afrikaner.... ten spyte van sy lamlendigheid, sy verdeeldheid, al sy gebreke, hom onderkry is verniet! So taai soos die kweperlat, die taaibos. In haar dowwe oë glim 'n lig. Werktuiglik kom haar rug meer orent, is haar vat op haar werk voor haar vaster.
In die grys lig kan sy nou skaars meer sien. Dit word al donkerder om haar, maar haar naald werk al vinniger, en sy dink nie daaraan om haar werk neer te sit nie.
Iemand klop aan die deur. ‘Kom binne,’ roep sy in gedagte, sonder om van haar werk op te kyk.
Mev. Fergus, haar buurvrouw, staan op die drumpel. Martha kyk op, groet haar. Die vrou is senuweeagtig en opgewonde. Sy groet nie, gaan niet sit nie, staan teen die tafel aan. Haastig, en op 'n hoë noot, praat sy:
‘Mev. van Wyle ek was daar onder by die Browns. Toe kom mnr. Brown daar aan. Hy was in die stad, vanmiddag.
| |
| |
Hy vertel jou seun is met vanaand se trein weg rebellie-toe. Wat hom oorgekom het, die snuiter, weet nugter alleen. Die hele wêreld is gek. Wat gaan van ons wordt?....’
Die stuk breiwerk val op die tafel neer. Martha sit penregop in haar stoel. Haar oë glans, maar die vae figuur van Mev. Fergus sien sy nie. Haar vingers sluit om die rolletjie wit garing in haar skoot. Hulle klem al harder om die hout sodat die kerfies haar vlees skraap en sny.
Die ras, die bloed.... eindelik.... goddank. Sy het oorwin, sy en hy en haar hele familie, haar hele geslag en ras voor haar. Hy is 'n man, 'n Boer, 'n Joubert. Die Jouberts mag stadig wees, en stom en blind soms. Die bloed mag kruip, maar as hy eers deur breek, losbars, kan niks op aarde wat hom in die pad staan, hom terughou of keer nie.
Al haar twyfel, al haar vrees, al haar wanhoop omtrent Herman was verniet, versinsels.... Sy het haar in hom vergis, hom 'n groot onreg aangedoen. Nou dat die dag daar is, die toets kom, die slag geslaan moet word, is hy klaar daarvoor, reg, reg soos 'n roer. Hy het in die bres gespring soos daar nog altyd 'n Joubert in die bres gespring het as die nood dreig. Hy is 'n Joubert, g'n Van Wyle nie, goddank, goddank....
Mev. Fergus hou aan met praat, maar dit gaan alles buite Martha om. Van haar buurvrou se hals-oor-kop gesprek hoor Martha nou geen woord nie.
Hulle is weg, die hele boel van hulle. Het hulle dan niks beters om te doen nie? Dis mos nie nodig nie. Die Verdedigingsmag sal mos sterk genoeg wees vir 'n paar verbitterde ou verraaiers. Vir wat steek 'n klomp kinders hul neuse in grootmense se sake? Hulle moes gek gewees het of dronk. Daardie ou vuurvreter en dronklap, Whitthorpe, het hulle in die Royal Hotel opgerui. En toe is hulle inskrywingskantoor-toe, het hulle geteken, is hulle weg, sommer op die daad. Die hele gek seksie van hulle, Jack Findlay, Peter Cummins, Cairns, Hanley en Herman....
Mev. Fergus is eindelik uitgepraat, gaan moeg en uitasem op die naaste stoel sit.
Langsamerhand dring die vrou se woorde deur tot Martha se verwarde, verrukte gedagtes, kom sy eindelik tot die besef van die ware toedrag van sake. Die lig verdwyn uit haar oë. Dis of sy skielik 'n knak kry. Haar vingers vou oop. Die wit
| |
| |
rolletje glip tussen hulle uit, rol oor die gladde top van die tafel, val en kom op die vloer onder die rusbank te lande.
Die volgende more het Martha vroeg opgestaan. Sy het haar oorjas bo haar nagklere aan.
Die son is nog nie op nie. 'n Yskoue windjie uit die see huiwer deur die blare van die palmboom, laat Martha se liggaam ril van die koue. Haar oë wat sy die hele nag nooit toegemaak het nie, staar met 'n helder sterk lig strak voor haar uit.
In die ooste lê strepe grys verflenterde wolke teen die bleek gesigeinder. 'n Dowwe goue gloed begin uitslaan bo die dakke van die stad.
Martha van Wyle het na die pakkamertjie gegaan. Sy het die byl daar van die stapel hout opgetel, voor die palmboom gaan staan, toe vinnig, met ferm houe, asof skielik bedeel met 'n bonatuurlike krag, die boom tot vlak by die grond afgekap.
Uys Krige
|
|