De Gids. Jaargang 101
(1937)– [tijdschrift] Gids, De– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 38]
| |
AfspraakAan Dr. J.L.M. Franken
Petrus:
Onthou ons afspraak, liefste: môre staan
ek voor jou vensterraam; vroeg dou voor dag
sal ek 'n klippie gooi, 'n tydlang wag....
om met wakker tred, bly glimlag te gaan
die wyd oop velde in.... ver van die stad
wat ewig raasrumoer, met al sy rommel
van strate, roetfabrieke, kras gestommel
van trams en vragwaens op 'n hobbelpad!
Vort deur die velde, vrolik hand aan hand!
So kommerloos, so bly soos twee Israeliete
ontsnap uit 'n Egipte van verdriete;
vry soos twee swaeltjies langs die waterkant.
Ver deur die veld al met die kronkelpad,
waar die eerste skuins skig van die son hom vang;
hy swaai en slinger, oor heuwelrug en - hang,
verder, al verder, waar hy koers mag vat.
Deur duik, deur drif oor koel swart spruit waar nog die skyf
van die bleek maan dobber, verder, al verder
- sorgloos soos windekind, die hemelherder,
sy wit wolkkudde langsaam oor hul weiveld dryf.
| |
[pagina 39]
| |
Die velde slaap nog om ons heen. Ons kom
waar nog die maanlig daal so teer, so sag
soos sneeu op gras.... Ons stap tot die ligdag
stil opluik om ons soos 'n wonderblom
waarin 'n honderd teer yl tinte glans en gloei,
dof smeul deur elke blad.... Met diép in sy wit kelk
'n purper gloed. O blom wat net voor hy verwelk
pragtiger bot, volmaak verlaas in skoonheid bloei!
'n Haan se roep sal deur die stilte ril,
die dag sy blou boog span, sy pyle trek
wat goudgeveer vlam deur die asuur-bestek,
om teen wit poorte van die trans te tril!
En voëls sal ons daar verwelkom, vir ons fluit en sing;
in koorsang kweel hul gorr'lende roelades,
hul siel uitstort in vrolike aubades
wat hul as bly dankóffers tot die rooidag bring!
* * *
Nog nooit so heg soos nou, Marie, was ons verbind
met bande teer, in hart en siele één.
'n Dou-nat dal, ver velde's om ons heen....
Om jou lokke blond die soet spel van die wind!
Sag langs jou slape streel hy, soen jou mond,
vloei oor jou lippe soos die koelste wyn,
gee aan jou wange 'n nog warmer skyn,
speel met jou krulle, pluk hul rond en bont!
Jy kom nie waar? - tot waar die witdag lonk,
en goud net soos die graal die bulte oor
die golwende graanland glans en gloor,
bont die papawers teen die tarwes pronk.
Mild sal die môre uit sy blou bokaal
die helder geel wyn van sy sonlig stort.
Geen sprietjie gras dan sal die gawe skort,
in ons rooi hart se kruik die goudvog straal.
| |
[pagina 40]
| |
En ons verheug sal deur dié rykdom drentel,
wyl warm en felgekleur soos ons geluk,
bloedrooi papawers teen ons knieë druk,
en bo ons - koel - vaalvalke teen blou steiltes wentel.
Só in ons droom verloor sal ons gaan wandel
waar vrugtebome oor ons neig en buk
of hul ons nooi om van hul vrug te pluk
- die peer, die moerby, en die wild amandel.
Waar elk olyfboom soos 'n vensterruit
by dagbreek straal.... slank die popliérebome
soos silwer torings staan aanskou in drome,
ruisend van blink lig en 'n lief geluid.
Waar hals-oor-kop bo van die krans se rand
'n stroompie tuimel met 'n soet geklater,
sal ons ons neervly, drink.... en die klaarwater
sal flits in die skulpholte van jou hand.
Nie lank of ons sal sien hoe koorsig bo die rande
kaboutermannetjies van blink lig trippel
(bekies van blydskap soos wit lammers huppel,
kopspeel en bokspring deur die somerlande).
Hoe dààr die spieëling ver oor die vlak
met berge en heuwels konsertina speel,
so lustig sy ivorenote streel
dat hy moet hyg en diep na asem snak.
Kasteel en slot en klooster.... dyns'rig ver lokale
vreemd in 'n fabelagtige kontrei,
waar eilande soos grys trekskape wei
oor mere silwerskoon soos sang van nagtegale.
Ver woude vol geheime skemering....
En doér die lig! wat vlak met vlak verbind:
'n skitt'ring, glinst'ring wat die oog verblind
soos van triljoene swaarde omhoog gedring!
| |
[pagina 41]
| |
Dié lig-gelyktes tril tot in die oneindigheid,
vol van 'n sidderlig, 'n gloed, 'n glans
wat dans en dobber tot die verste trans.
O branding en bewing oor die wêreld wyd!
Wat alles, later, soetjiesaan sal taan
- soos uit 'n awendlug die vespersang
van verre klokke kwyn, of uit jou wang
die tere purper van 'n blos vergaan.
* * *
Die sonnebesies sing! Die heel' gewelf
lyk of dit bewe en gons van dié geluid. Dit ril
uit elke boom of bos: soos die eentoon'ge skril
verklanking van die flikk'rende warmte self.
Waar blou die lug welf oor ons soos 'n koepeldak,
en flitsende eskaders bye met blond geweld
in strooptog trek oor die stil sonverligte veld
om teen boomstamme bruin te soem en saam te pak;
die trae nanoen loom'rig is en swoel en swaar
van 'n broeiende warmte, goudstilte wat suis,
van lui brombyé, sleurende, hul dof gedruis
teen elk gousblom se kelk blink soos 'n kandelaar;
waar wyd 'n reuse-vyboom vrindelik
sy skad'wee strek, sal ons ons maal geniet
met bo ons, kalm, die bloue luggebied
- sal ons ons in mekaar se arme skik;
ons sink in rus en sluimer weg wat onvermoed
ons meesleur op 'n loom gety van weelde
- waar die ou gedroomde, verre, in waan verbeelde
skoon dinge waarheid word, só hul gemis vergoed,
sal ons die drywer van die dag gebied
om tog sy perde in hul spoed te toom,
die tyd dan sag vloei soos 'n murmelstroom,
en ons ons vreug soos in 'n droom geniet.
* * *
| |
[pagina 42]
| |
Diep in jou oë waar die blydskap straal,
in daardie evangelie van geluk
waaragtig-innig, sal ek lees verruk
jou liefde vir my soos 'n skoon verhaal;
blank, o so rein soos ryp by môrerood,
vreedsaam en stil net soos die wye veld
- tog forser dan die bergwind in geweld,
sterker, bestendiger dan selfs die dood!
Jy kom nie waar nie? om die dag te pluk
- 'n lus, 'n heerlikheid, 'n salige genot -
wat pragtig, al hoe pragtiger vir ons sal bot.
Vreugde, o kommerloosheid, o geluk!
Die daeraads rooie roos sal ons vergaar,
die namiddag se geur - swoel lotusblom
swaar - sondeurstowe; en in die aand se kom
die nag se lelie, maanwit nenufaar....
Tesaam ons twee die liewe lange dag!
Tot eindelik, tril-lewend teen die ver
skemerende kim die silwer awendster
straal soos 'n lamp.... en traag en stil die nag
daal.... dit 'n grys voël is wat wydgewiek
swewe oor die wêreld, wyl nes fluitjiesriet
sag windgeroer, diep stilte ruis....’
Marie:
‘Maar Piet,
môre's mos Saterdag! Wat van die fliek?’Ga naar voetnoot1
Nice, Julie 1932 Uys Krige |
|