Dietsche Warande en Belfort. Jaargang 98(1953)– [tijdschrift] Dietsche Warande en Belfort– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 160] [p. 160] Ernst van Heerden Gedigte Die vreemdeling O gryse hemel, gryse stad en naakte bome, einders grys, gee ek vir grysheid van die hart ooit daardie eerste liefde prys? 'n Klip in 'n rivier gewerp sal sink en nestel in die klei, die sware water stroom daaroor, dit sal vir jare klip maar bly. So dwaal ek vreemd deur hierdie stad, terwyl die najaar oor my vloei en mis die strate somber maak; in lig en ruimte sal ek bloei. [pagina 161] [p. 161] Nocturne Die wufte adem van die bos slaan op die weide oor; en stil deurvloei 'n siddering die kroesflank van 'n ree; daar's maling, hoefgestamp, en in die kerker van die woud 'n uitgerekte paringsnuif; kastaiingtoppe roer en wieg uitbundig as die nagwind blaas; Maar kyk: die hemel staan in brand! want vorstelik groot sit vasgevang die somermaan se silwer skaal in 'n edelhert se ruig gewei. [pagina 162] [p. 162] Vlaandere Ek sien die bloeisels aan die kerselaar, die boorde waswit, en die herte dragtig, en voel my enkel arm en onmagtig om sap uit hierdie aarde te vergaar. Ek hoor ou klokke langs die stil kanaal en skuitgeloei by brug en waterstroke, en voel my huiwerend en my stem gebroke, onwaardig om dié toonklank te herhaal. Hoe kon ek wanhoop? Want die diepe groei van ons verbondenheid voltrek hom beide in jou Belforts, vlasland en die heide van jou smart en vreug wat ook in my ontbloei! Vorige Volgende