In die romans en novelles van Van den Heever vind mens telkens weer die bewys dat die romanskrywer 'n onderlegde vorser van die lewe van sy tyd moet wees, anders verval sy verhaalkuns tot die aangename navertel van prikkelende gevalletjies.
Nog 'n skrywer in wie se prosawerk ons die trilling kan navoel van 'n sterk persoonlikheid en wat skrywe met kennis van sake, gedra deur eie oortuiging, is Mikro. Opvallend by hom is dat die godsdienstige al meer en meer op die voorgrond dring, so sterk selfs dat dit in sy jongste werke neig om oor te slaan tot die propagandistiese: Nog geen Herberg, en Ons Lampe gaan dood. Dis ook opvallend dat namate die godsdienstige nadruk toeneem, die suiwer realistiese, wat altyd so 'n aanlokkende kenmerk was van Mikro se kuns, afneem. Mens wonder soms of die feit dat hy in die afgelope jare hom ook gaan toelê het op die skilderkuns, kon bygedra het tot hierdie afname in die realistiese deurdat dit in 'n ander rigting tot uiting kom.
Behalve die nadruk wat Mikro laat val op die godsdienstige, hou hy hom ook besig met verskynsels wat saamhang met die aanpassing van die Afrikaner by die stadskultuur.
Nog 'n belangrike bevolkingsgroep wat besig is om hom by die stadskultuur aan te pas, is die Bantoe. Dit vorm die agtergrond van 'n nuwe, verdienstelike novelle deur P.J. Schoeman: Rook op die Horison.
G.B.S. Pasch beeld ook die najaag van stoflike voordele uit in 'n novelle: Swart Skape. Hier het hy dit egter nie te doen met die stadsmens nie, maar met karakoelboere in Suidwes en beesboere.
In al hierdie romans en novelles is dit wel deeglik die maatskaplike wat die agtergrond vorm van die verhaal, maar daarin skuil hulle verdienstelikheid as letterkunde sekerlik nie; wel in die artistieke konsepsie en uitvoering. Daar is genoeg skeppingsvermoë by ons kunstenaars aanwesig om ons die toekoms met vertroue tegemoet te laat gaan.
Effens anders van aard is nog 'n drietal verdienstelike prosawerke: Sol y Sombra - waarin Uys Krige vertel van sy verblyf in Spanje, Profeet in die Boland E.A. Novelles deur Willem van der Berg, en Die Wolkemaker deur W.A. de Klerk. De Klerk, wat 'n verdienstelike dramaturg is, het 'n oog vir die dramatiese, die botsende, en die skepping van karakters is een van sy kragpunte. In Die Wolkemaker skep hy ses karakters, wat weëns 'n vliegramp in 'n onbegaanbare vallei beland, en daar elkeen sy einde vind as gevolg van die swakpunte in hulle karakters. Onder die heel jongeres hou W.A. de Klerk dusver die meeste belofte in vir die toekoms.