| |
| |
| |
Zuidafrikaanse letteren
Bydrae van Nie-Europese groepe tot die Afrikaanse letterkunde
deur Abel Coetzee (Johannesburg)
As mens die Dagverhaal van Kommandeur Jan van Riebeek, die leier van die eerste groep blankes uit Europa wat hulle aan die suidpunt van Afrika kom vestig het, lees, kom jy al heel gou te staan voor die groot vraagstuk wat van die begin af die blankes hier te lande gekwel het: gebrek aan werkkragte. Wanneer 'n nuwe nedersetting gestig word, en dan veral nog 'n nedersetting soos die aan die voet van Tafelberg wat bedoel was as halfwegstasie om vars vleis en groente te verskaf aan die vloot van die Verenigde Oost Indiese Compagnie sowel op die heen- as die terugreis en ook nog siek matrose en soldate te verpleeg, dan is daar ontsettend veel werk om te verrig. Die lewensomstandighede is bemoeilik deur die vyandige inboorlinge (hottentotte) wat nie graag hulle weivelde bedrieg sien nie, deur die ontsaglike afstand van die Europese stamland asook van Batavia, en deur die geaardheid van die land self met sy droogtes, woeste rukwinde teen die hange van die berg af, en gebrek aan geskikte inheemse houtsoorte vir boudoeleindes.
Jan van Riebeek met sy handjievol manne moes fort bou, nuwe grond uitsoek en braak om tuine aan te lê, beeste en skape ruil van die inboorlinge en dit nog beskerm teen die roofsug van hulle voormalige eienaars, huise bou, 'n hospitaal bou en inrig om honderde skeurbuikelinge per keer te huisves, vis en robbe vang vir voedsel en olie vir die soldate en ander lede van die nedersetting.
Ons kultuurmense, wat gewoond is daaraan om elke dag alle geriewe te geniet as vanselfsprekende reg in 'n beskaafde land, kan moeilik bedink hoeveel hande nodig is om 'n beskaafde lewenspeil in 'n europese gemeenskap te handhaaf. As ons egter 'n oomblik nadink oor Jan van Riebeek se opgelegde taak en die omvang van die moeilikhede wat hy moes oorwin, kan ons maklik begryp dat hy reeds van die begin af 'n nypende tekort aan werkkragte moes gehad het.
Verskillende pogings is aangewend om die inboorlinge te gebruik as werkkragte. Die Hottentotte en Boesmans was egter heeltemal ongeskik en hulle volksaard het soseer verskil van die van die Europeaan dat ongeveer dadelik
| |
| |
afgesien moes word van kragte uit hierdie bron. Aanvulling uit die stamland was weëns die groot afstand en moeilike seereis nie doeltreffend nie. As kind van sy tyd het Jan van Riebeek hom toe verlaat op slawe-arbeid. Vir hom was dit die doeltreffendste oplossing. Vanaf 1658 word slawe in groot getalle ingevoer uit die Ooste, uit die Angoolse gebied, uit Nu-Guinië en uit Madagaskar. Die werkkragte is later aangevul deur politieke gevangenes uit Batavia na Kaapstand te verban.
Om die toestand aan die Kaap ekonomies voordeliger te maak vir die V.O.I.C., is in 1658 ook 'n begin gemaak met die stelsel van VRYBURGERS - die werklike aanvangspunt van die permanente nedersetting aan die Kaap, want eers die Vryburgers is koloniste in die volle sin van die woord.
Allerlei pogings is aangewend om die blanke groep te versterk. Tot 1691 is die bevolkingsaanwas deur geboortes geringer as die aanwas deur immigrasie. Teen die einde van die eeu kom die Franse Hugenote en Amsterdamse weesmeisies na die Kaap. Veel later, as die Kaap reeds vir Nederland staatkundig verlore is, kom die Britse Setlaars (1820) en die nedersetting van leëroffisiere na afloop van die Krimoorlog.
Intussen kom die ontdekking van diamante, goud, en onedele delfstowwe (verloop van die XIXe eeu). 'n Betreklik geringe groep blankes raak nou versprei oor 'n ontsaglike oppervlakte (143,000,000 morge) (1 morg = 2 1/9 acre). Mynontginning, verbindingsweë, boerdery, en die ontwikkelende nywerhede verg kolossale hoeveelhede werkkrag. Blanke aanwas (geboortes en immigrasie) is te gering om alles in stand te hou, en daarby is veral die immigrasie nie selektief om alle terreine van die lewe te dek nie (tydens die neentiende eeu hoofsaaklik fortuinsoekers wat nie hande-arbeid verrig nie). Vir die suiker- en teeplantasies in Natal (XIXe eeu) word koelies onder vyfjarige kontrakte ingevoer - kontrakte wat deur die suiker- en teebase nie uitgevoer word wat betref repatriasie van werkers na afloop van die dienstermyn nie. Mynwerkers uit Wallis (‘Cousin Jacks’) en Sjinese arbeiders (meestal misdadigers uit oorvol gevangenisse!) word ingevoer aan die einde van die XIXe begin van die XXste eeu. Albei misluk.
Intussen word die Bantoe al meer en meer betrek as werkkrag in ons ekonomiese en nywerheidslewe.
Hierdie gebrek aan werkkragte was dus heeltemal van die begin af aanwesig, en dis interessant dat ons oplossing van die vraagstuk nog altyd slegs tydelike waarde gehad het, om ons daarna te laat met nog groter moeilikhede as voorheen.
Die invoer van slawe het uitgeloop op die vrylating van slawe, en 'n nuwe bevolkingsgroep wat vandag 'n klein miljoen tel. Die invoer van die koelies in Natal het ons die Indiërvraagstuk van vandag besorg - met 'n groep van ongeveer 'n kwartmiljoen. Die inskakeling van die Bantoe laat ons met 'n vraagstuk van ongeveer vier inboorlinge vir elke blanke en 'n verhouding wat nog daagliks ten ongunste van die blanke verswak!
| |
| |
Gelukkig dat ons destyds genoeg deursig openbaar het deur die Sjinese sonder uitsondering terug te stuur na hulle land.
Soos te verwagte is, het hierdie verwikkelinge op die gebied van die bevolking 'n ewe belangwekkende uitwerking op ons taalbeeld. Van die blankes is iets meer as 1 1/4 miljoen Afrikaanssprekend, iets minder as 'n miljoen Engelssprekend. Die klein miljoen kleurlinge is nagenoeg uitsluitend Afrikaanssprekend. Die Soeloes in Natal ken meestal net hulle eie taal, en waar hulle 'n Europese taal aanleer is dit gewoonlik Engels. Die Basotoe in Transvaal en Vrystaat daarenteen leer Afrikaans i.p.v. Engels. Die keuse van die Europese taal by die Bantoe hang af van die feit dat die Engelssprekendes hoofsaaklik beperk is tot Natal en die Oostelike Kaapland, terwijl die Transvaalse, Vrystaatse en Kaapse platteland en dorpe sterk oorwegend Afrikaanssprekend is. Op die Afrikaanse platteland aanvaar heelparty Bantoes Afrikaans as huistaal.
***
Van al hierdie nie-Europese groepe het die slawe en hulle nasate die langste intieme omgang met die ‘Hollandse’ Afrikaners. Dis hierdie groep wat in Suid-Afrika gewoonweg bestempel word as die kleurlinge, Slamse, Slamaaiers, Maleiers (Slamaaier: Islam + Maleier), en dis ook die groep wat die mees volkome die Afrikaanse taal en kultuur aanvaar het. Hierdie groep tel 'n aansienlike aantal Europeane onder hulle voorouers.
Wanneer Arikaans bewus as skryftaal gebesig word vanaf die begin van die XIXe eeu, dan is hierdie groep reeds aanwesig, en hulle lewer waarskynlik 'n sterk bydrae tot die ontstaan van Afrikaans. Toe die Groninger M.D. Teenstra in 1825 in ‘De Vruchten mijner Werkzaamheden’ (bis. 360-3066, Dl. I) in die vorm van 'n ‘Zamenspraak’ 'n staaltjie insluit van die ‘eenigermate verbasterde’ Hollands van die koloniste van destyds, is die dramatis personae hy self, 'n boer, ‘deszelfs vrouw en hunne slaven te Caledon’. Toe C.E. Boniface in 1832 die oordrewe temperantistiese beweging onder die kleurlinge aan die Kaap aan die kaak stel, in ‘De Nieuwe Ridderorde’ - Kluchtig Blijspel in Vier Bedrijven - (Kenspreuk: We abstain from brandy and never get drunk), is daar 'n hele aantal Hottentotte (die skeidslyn tussen ‘Hotnot’ en kleurling het ongeveer heeltemal vervaag) onder die spelers om die laglus op te wek van die blanke skouburggangers: Klaas Galgevogel, Hans Droogekeel, Piet Dronkelap, Dampje Waterschuw, Manus Kalfachter, en Griet Drilbouten. Ook in die bekende Kaatjie Kekkelbek, wat in die veertigerjare in Grahamstad gedig is, is Hottentot-persoonlikhede op die toneel gevoer.
Tydens die XIXe eeu nog, met die doelbewuste beweging ten gunste van Afrikaans as ampstaal, skrywe G.R. von Wielligh in die tydskrif Ons Klyntji (1896-1906) 'n roman, Jacob Platjie, met die doel om die aard, lewenswyse en taal van die Griekwas, Boesmans en Hottentotte uit te beeld (hulle taal is Afrikaans).
Tydens die Tweede Beweging na 1900 in die Afrikaanse letterkunde word
| |
| |
die kleurling of Hottentot, en later selfs die inboorling (outa of aia) die lagwekkende, die komiese figuur in ons toneelwêreld en in die romanwêreld die kommerlose karakters wat dans en sing en vrolik is en wat die vrye teuel laat aan hulle oerdrifte. Anders gesê, beteken dit dat die kleurling in die Afrikaanse letterkunde so weinig betekenis het dat hulle altyd as nie-gedifferensieerde groep optree en nie as enkelinge nie. Eers in 1926 sou die eerste individuele kleurling as geslaagde figuur - maar dan nog erg ondergeskik - in 'n Afrikaanse roman sy verskyning maak, nl. Velbaadjie in ‘Die Meulenaar’ van D.F. Malherbe.
'n Geslaagde uitbeelding van die kleurling, sy lewensomstandighede, sy kwellinge, sy vreugde en leed, sy strewinge en sy verdierliking in menige opsig, en veral sy houding teenoor die blanke en sy begeerte om die wêreld binne te dring, met die botsings en verskeurings wat dit in eie siel veroorsaak, kry ons eers in die Afrikaanse letterkunde met die optrede van Christoffel Hermanus Kühn (geb. 1903, skuilnaam: Mikro) (onderwyser te Kuilsrivier naby Kaapstad) as skrywer. Die beste bekend is sy kleurling-trilogie: Toiings (1934, Nedl. toddens), Pelgrims (1935), en Vreemdelinge (1944). In Toiings is veral fris die aanwending van die kleurling se eie soort Afrikaans, met sy koddige wendings en sy vermenging met Engelse bestanddele. Miskien het die nadruk te seer op die taalgebruik geval. In Vreemdelinge het die taal heeltemal versober, die bonte uiterlike handeling het verdwyn, en die nadruk val op die gedagtelewe, met die gevolg dat die deel 'n duideliker sentrale gedagte en ‘boodskap’ aan die leser oordra. Die hele trilogie is 'n beeld van die kleurlinglewe soos hulle gesien is deur 'n simpatiekgesinde Europeaan.
By die strekking van die trilogie sluit aan die bundel novelles Rou Rieme (1935) en die langer roman Huisies teen die Heuwel (1942) waarin ons die beste eienskappe uit die trilogie verenig vind met 'n groter ewewig tussen waargenome werklikheid (soos dit veral tot uiting kom in die kleurvolle taal) en die kunstenaar se eie lewensoortuiging.
Anders van aard is die twee romans Oeslande (1938) en Die Donker Stroom (1946) waarin die ekonomiese en kulturele botsing tussen gekleurd en blank, en veral die kleurling se bewuste poging om as blanke te geld, uitgebeeld word. Dis 'n belangrike aspek in die aanraking tussen die twee bevolkingsgroepe, maar die uitbeelding daarvan deur Mikro bevredig esteties nie naastenby soos die eersgenoemde groep werke nie. Hiervoor kan daar verskillende verklarings wees: die skrywer is te bewus lid van die blanke groep, of hy het nie deurgedring tot die wese van die botsing sodat dit deel van sy lewenshouding geword het nie. Dis elk geval 'n nuwe aspek van die hele vraagstuk wat hier deur die skrywer aangeraak word, en die aanduiding is daar dat hy hom in die toekoms juis op 'n vollediger, skoner uitbeelding daarvan gaan toespits.
Daar is ook nog ander aspekte van die aanraking tussen die verskillende bevolkings- en kultuurgroepe wat in ons romanliteratuur behandeld word. So byvoorbeeld behandel Jochem van Bruggen in Booia (1931) die lotgevalle van 'n naturellekind wat van die plaas af in die grootstad beland; terwyl Regina
| |
| |
Neser die proses van rasseverbastering tussen Europeaan en Bantoe, wat nog aan die gang is, en die maatskaplike verstoting van die kleurlinge behandel in Verstoteling (1932) en Kinders van Ismael (1933), en Abel Coetzee in Waarheen Vader? (1940) die naamlose leed beskryf van sulke ongelukkige wesens van gemengde afkoms wat in 'n blanke gemeenskap ‘ontdek’ word. Die maatskaplike probleme wat vir die inboorling opduik by aanraking met die blanke beskawing word insigryk behandel deur die hoogleraar in volkekunde P.J. Schoeman in die Werke Mboza die Swazi (novelles 1939) en Op die Groot Spore (roman 1942) - laasgenoemde besonder verdienstelik vanuit 'n estetiese standpunt. Die gees van die noordelike of Transvaalse Bantoe word treffend uitgebeeld deur G.H. Franz - 'n sendeling - in Moloisi die Wyse (1942 kortverhale).
Watter verdienstes hierdie werke ookal mag besit gesien vanuit 'n suiwer letterkundige of vanuit 'n maatskaplik-kulturele standpunt, bly dit tog waar dat dit werke is wat deur blankes vir blankes geskryf is, terwyl die skrywer hom plaas op die standpunt van die blanke gemeenskap. Anders gesê, beteken dit dat die kleurling in al die genoemde werke slegs voorwerp is van die beskrywing deur blankes.
***
Bedrywende onderwerp in die Afrikaanse letterkunde is die kleurling eers besonder laat in die geskiedenis. Hulle letterkundige produkte is uiters skraal in omvang en is uitsluitend beperk tot die gebied van die poësie. In hierdie verband is dit besonder insiggewend om die proefskrif van I.D. du Plessis te lees: Die Bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse Volkslied (1935) (met die aanvulling daarvan: Die Maleise Samelewing aan die Kaap, 1939), en om dan te weet dat die gebied van die mondelinge oorlewering die terrein is waar die Maleier dusver sy sterkste bydrae gelewer het tot die Afrikaanse kultuurskat - sy dit dan meer in die opsig van bewaring, vervorming en oorlewering as in die opsig van nuwe skepping.
In verspreide tydskrifte en koerante verskyn al geruime tyd verdwaalde gedigte, wat, as mens nie vooraf weet dat die digter 'n kleurling is nie, deur ongeveer niks onderskei word van die werk van verdienstelike leerlinge uit die hoërskool of van minderrangse werk van digters van Europese afkoms nie. Hier volg, as voorbeeld, 'n gedig van H.W. Franks, van Maclear, Kaapland. Die Hogsback is 'n bekende rusoord twintig myl van Fort Hare af waar die naturelle-universiteitskollege gevestig is:
Hogsback!
En eind'lik het ons hier geland
Waar bosbegroeide berge pryk
Om elke helling, dal en rand
Met soet blomgeure te verryk.
| |
| |
Vallei en dal staan dik begroei
Van eikebome, lowergroen,
Want al die boompies bot en bloei
As stil die son hul blare soen.
Teen die helling met groot lawaai
Kletter 'n stroom die kranse af.
Hy spat en rol en skuim en swaai
En maak vallei en velde saf.
Mens wat hier jou rus kom soek,
Die vrye wêreld staar jou aan
En elke bultjie, elke hoek
Praat van 'n liefde wat sal bly bestaan.
As mens naarstig soek, sou jy wellig sowat 'n vyftigtal sulke gedigte bymekaar kan maak en dan nie veel wyser daaruit word as dat die digters gewone lede is van die Afrikaanse gemeenskap nie. Inderdaad is dit ook bewus hulle strewe, en begryplikerwyse volg hulle - wanneer hulle kom tot poëtiese uiting - die voorbeeld van erkende Afrikaanse digters na. Dit kan nie anders nie. Ek het met 'n paar van hierdie aspirant-digters gesels, en dit het vir my duidelik geword dat hulle nie iets anders beoog as 'n normale bydrae tot die Afrikaanse poësie nie. Hulle ken dan ook die werke van Totius, Celliers, Leipoldt, van den Heever en van Wyk Louw goed.
In hierdie toestand het daar verandering ingetree. Telkemale as daar 'n oorlog uitbreek waarby Suid-Afrika betrokke is, doen die kleurlinge aan die verrigtinge mee, nie as vegsmanne nie, maar as kampwerkers. Dit geld as krygsdiens, en die betrokke kleurlinge het nog elke keer die bewys van krygsdiens probeer aanwend om die voorregte van blankes te bekom. Met so 'n bewys probeer hulle byvoorbeeld om hulle kinders te laat opneem in skole vir Europeane, want hulle redeneer so: ‘As ek goed genoeg was om krygsdiens vir die blankes te verrig, is ek ook goed genoeg om maatskaplik sy gelyke te wees!’
Die jongste oorlog was weer so 'n geleentheid wat vir die kleurling 'n lokkende moontlikheid gebied het van volledig blanke te word. Met die botsing tussen Engelse en Afrikaners, verg dit nie 'n groot verbeeldingskrag om te besef dat die kleurling juis hier die speelbal van die omstandighede word nie. Die blanke Afrikaanssprekende gemeenskap sluit as beskermingsmaatreël sy geledere teen indringing van die kleurlinge. Oënskynlik lyk dit asof die Engelssprekendes liberaler teenoor hulle staan; dis egter slegs oënskynlik, want slaan mens reaksies en houdings nugter gade, besef jy dadelik dat die Afrikaanse en Engelse optrede teenoor indringing presies dieselfde is. Dis egter betreklik maklik om in krisistye van die kleurling 'n dupe te maak, en sy begeerte om blank te wees, maak hom 'n gewillige slagoffer. Later volg die ontnugtering
| |
| |
met dubbele verbittering. Dan raas en skel hy die Europeaan uit om sy meerderwaardige houding, maar binne-in voel hy steeds die drang om blank te wees, want ruim die helfte van sy voorsate was blankes. Hier lê die wortel van die tweespalt in die siel van die kleurling, die rede waarom hy 'n wese is met 'n verskeurde gees wat hulpeloos ronddobber tussen twee wêrelde: bruin (vermenging van Oosterling, slaaf, inboorling en blanke aan die Kaap) en wit (Europeane). Bruinmens wil hy nie wees nie; die witmense weer hom.
Onder hierdie toestande maak die eerste digbundel van 'n kleurling sy verskyning: Die Enkeling der S.V. Petersen (1944). Dis 'n beskeie bundeltjie, met 42 gedigte, maar daarin lê meer opgesluit as wat alle kleurlingdigters dusver bereik het, sowel wat betref omvang as die openbaring van die kleurlingsiel. Openbarend is die gedigte in groep I. Dit begin met die skildering van 'n jongeling wat vol verwagting die toekoms voor hom sien oopgaan; dan geniet hy onbekommerd van die skoonheid van die lewe. Nou verskyn Die Vreemde:
Vertroue was trots en sterk op sy gelaat,
Sy treë, gespierd en vry...
Maar toe sy oë op my klere val
...toe weet ek: dit is helgroen gal
Ek vloek hom, - hy met sy geboortereg:
Sy blonde haar; sy breë bors!
Regstreeks hierop volg die gedig Verwantskap, wat in sy geheel só lui:
Vir mu bly jy 'n vreemdeling,
as dit by vaders kom, is ons
En vreemde broer, durf jy
ontken, die broederband?!’
As mens aandagtig na die vier groepe gedigte in hierdie bundeltjie luister, dan hoor jy hoe hierdie digter soek na 'n houvas in die lewe, hoe sy smag om uit eie krag sy verdeeldheid van gees te kan afskud, hoe hy die stempel van minderwaardigheid voel as 'n brandende vloek wat hom agtervolg tot in die diepste skuilkamers van sy droomwêreld. Maar waarheen hy ookal vlug, daar volg die hoonlag van die blanke hom: ‘Jy 's 'n kleurling!’
Verskeur is sy gees, en verskeur is sy poësie.
| |
| |
Veel in die bundeltjie openbaar 'n tere gevoelvolheid vir die Afrikaanse natuur waarmee ook die kleurling intiem vertroud is; veel is daar wat spreek tot jou diepste menslikheid en jou deernis opwek vir 'n medeskepsel wat só moet buk onder 'n ‘sonde’ wat hy nie gepleeg het nie; veel is daar wat die aandag vestig op wanverhoudings wat ontstaan as mens jou eie afhanklikheid van gees nog nie verower het nie.
***
Dit bring ons vanself by die vraag waarom die kleurling nog so weinig bygedra het tot ons letterkunde en of daar verandering in die toestand te wagte is.
Die kleurling en die Hottentot het 'n besonder waardevolle rol gespeel by die aanpassing van die Europese en Oosterse dierverhaal by afrikaanse omstandighede, 'n rol wat merendeels bewarend en vervormend as herskeppend was. Hier gaan dit natuurlik om die mondelinge oorlewering.
Dat die kleurling, en aansluitend by hom die Hottentot, nie gebrek het aan skeppende krag nie, word bewys deur hulle bydrae tot die Afrikaanse volkslied, waar hulle nie net bewarend en vervormend opgetree het nie soos in die gevalle van Alibama en Suikerbossie. Maar dit geld alweer die mondelinge kunsvorm en nie die geskrewe vorm nie. Die bydraes bly dus anoniem, soos die bestanddele van die egte volkskuns, en die lig val glad nie op die enkeling nie.
Die skerp beligting van die individuele kunstenaar kry ons hoofsaaklik by die literêre kuns. En dit, glo ek, is een van die belangrikste oorsake waarom die kleurling dusver so angsvallig byna, geswyg het want sodra hy as kunstenaar optree, word sy skepping aangekondig as die werk van 'n kleurling - iets wat hy wil vermy. Ek gee toe dat die geestelike ontwikkeling van die groep as geheel ook met die saak gemoeid is, maar die hele samestelling van die kleurling se gees openbaar te duidelik die drang na blankheid. Om dus as kunstenaar op te tree, bring maatskaplike magte in werking wat regstreeks indruis teen daardie diepste drang. Om kunstenaar te word, is dus om moeilikheid te soek. Vandaar dan ook dat slegs die geeskragtiges, wat hulle gemengde afkoms as iets vanselfsprekends aanvaar, as iets wat nie besmet nie, sal die nodige durf hê om kunstenaarskap te aanvaar. Vandaar dan ook dat mens by sulke individue van die kleurlinggemeenskap skerp oortuigings moet verwag. Die uitwerking van sy optrede op sy eie groep moet wees die versterking van die groepsgevoel, die trotse aanvaarding van gemengde afkomst, en uiteindelik 'n groter mate van sielerus en geluk.
Aansien, aanvaarding van eie herkoms, oorwinning van minderwaardigheidsgevoelens en die wrok wat daaruit voortvloei - dis alles dinge wat die kleurling vir homself moet bereik, want dit veronderstel 'n geestelike groei wat die blanke nie aan hom kan gee nie, al is hy ookal hoe goedgesind teenoor die kleurlinggemeenskap. Hoe die kunstenaars, wat so 'n gemengde kulturele en sielkundige erfenis het, die taak gaan aanpak en deurvoer in 'n samelewing wat so saamgestel is soos die van ons in Suid-Afrika, is iets wat ons met belangstelling afwag en gadeslaan.
|
|