vaardig. Van hulle kan genoem word: Newels Oor Mount Aux Sources, en Ons Staan 'n Dag Oor.
Met hierdie nuutste ontwikkeling betree Afrikaans vir goed die gekommersialiseerde vermaaklikheidswêreld, wat een van die klinkendste oorwinnings is in die taal- en kultuurstryd van die afgelope vyf jaar. Dis tewens ook een van die belangrikste tekens van groei. Trouens, hier het ons die blywende prikkel vir 'n gesonde amateur- en beroepstoneellewe.
Een aspek in verband met die films, wat minder bevredig, moet hier net genoem word. Daar is net 'n aanduiding dat by die vervaardiging van films terug gegryp word na verhale wat jare gelede opgang gemaak het in Afrikaans: Donker Spore, Die Skerpioen. Selfs die jongste, Geboortegrond, verwys na ouer toestande. Wil die film bij ons gesond groei, dan moet hy ook en veral in die volle Afrikaanse werklikheid staan.
By hierdie oorsig het ek natuurlik nie die dierefilms van Sangiro en van Beyers vergeet nie. Hulle werk is egter individuele pogings, wat ondanks die groot verdienstelikheid daarvan, nie uitgeloop het op georganiseerde pogings nie.
Ten slotte: die mins bevredigende gesigspunt van die saak bly nog altyd ons toneelliteratuur. Ons toneeltradisie is kort en ons vaardige dramaturge is uiters beperk in aantal.
Dit kan hier geensins die doel wees om 'n volledige oorsig te gee van ons beskikbare toneelwerke nie. Ek wil slegs die belangrikste persone met beknopte aanduidings vermeld.
Voor 1900 het ons niks blywends op die gebied van die toneel nie. Aan die einde van die eeu en die eerste paar jaar van die huidige eeu staan die klugte van Melt Brink. Die omvang is belangrik, maar van sy werk het dusver niks bly leef nie.
Dan volg die bedrywighede van die eerste geslag kunstenaars van die twintigste eeu, Jan Celliers, C. Louis Leipoldt. 'n Bietjie later volg C.J. Langenhoven, dan J.F.W. Grosskopf, en H.A. Fagan. Van hierdie persone is slegs nog Grosskopf en Fagan produktief en op peil.
Minder is die werk van Van Niekerk, en die omvang daarvan is ook gering. Meer belofte word openbaar deur die jongere Fritz Steyn.
Die sterkste figuur op hierdie gebied onder die jongere kragte, is egter W.A. de Klerk.
As mens in breë trekke mag karakteriseer, dan het ons die volgende kenmerke: Melt Brink - klugtig; Jan Celliers - nasionaal; Leipoldt - Ibsenagtig met toespitsing op die patologiese; Langenhoven - komies en didakties; Grosskopf en Fagan - nasionaal met toespitsing op die ekonomiese faktore wat die volkslewe beïnvloed; de Klerk - toespitsing van die aandag op die sielkundige, nie soseer patologiese in die mens.
Die beeld soos ek dit sien, toon dus 'n sterk opbloei van die amateurtoneel, 'n belowende vervaardiging van Afrikaanse spreekfilms, die verkwyning van die reisende beroepsgeselskappe en die nabloei van die bedrywighede van Paul de Groot, en 'n ontoereikende Afrikaanse toneelliteratuur.