Dietsche Warande en Belfort. Jaargang 91
(1946)– [tijdschrift] Dietsche Warande en Belfort– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 556]
| |
Kroniek van die Afrikaanse letterkunde
| |
[pagina 557]
| |
en soek na die suiwerste vorm wat 'n roos kan besit;
roos, jou tuin is die eeue, want jy groei uit die verre begin en gister
is vir jou soos vandag, die ene verryking tot lieflike vorm,
'n langsame wording soos God, die ontvouing uit gister se droom
tot die eindelike beeld waarin die volmaakte bereik is......
Eintlik moes genoemde gedig hier in sy geheel aangehaal gewees het, maar ek laat dit aan die belangstellende leser om in die bundel self met die skoonheid daarvan kennis te maak.
Die gevoel van die kringloop en die groei na volmaaktheid, is nader verwant aan die Oosterse wysgerigheid as aan die Westerse, by name die leer van Buddha. In die verband moet ons ook aanhaal Die Wyse: Hy het gestadiglik sy wil deurweek
met stil oorpeinsing om die natuur in hom
te eindig en tot menslikheid te kom
waarin die blinde magte oorwonne breek......
Wie daarin egter suiwer die leer van Buddha gaan soek, sal bedroë afkom, want ondanks die ooreenkomste wat ons waarneem, sien ons tog ook grondige persoonlike verskille. Die gedig Musiek eindig byvoorbeeld met hierdie gedagte: So het ek diep geluister hoe wêrelde in wêrelde vloei en kring
en God deur alles as ritme sy hoogste himne sing.
In dieselfde lyn lê 'n aantal gedigte waarin die verwante gedagte aan evolusie vertolk word. Die digter deel mee dat hy in die afgelope paar jaar die gedagte gekoester het om die opvatting van evolusie tot grondslag te maak van 'n bundel gedigte wat 'n eenheid sou vorm. Dit sou begin met die gedig Nimrod, en daarby sou aansluit In die Veld, Die Meerkat, Die Gespanne Boog, Die Tier, Die Diepsee, Die Waterblomme. Later het hy egter die gedagte prysgegee. In die gedig Groei druk hy die evolusiegedagte as volg uit: Uit daardie wêreld waaruit dier na dier
geworstel het na vorm en lig,
uit daardie skemerstrande, blink van waterwier,
is wemelende lewe stadigaan gerig
...............
tot waar ek eindelik staan na baie kringe
van verandering en wenteling en groei.....
| |
[pagina 558]
| |
Uit die chaos van die voortyd het die mens gekom, ‘gesmee uit die eeue; aan sy voet was die laere waaruit hy gekomen het...’ (Die Wording). Maar, al het die mens bokant die aardse moeras uitgestyg, al is sy gees gerig tot God, in hom dra hy die aarde; al is hy tot vorm gewek deur die Goddelike Gees, in hom bly die verkleefdheid, die engsluitende bande van die Stof: Uit die chaos het hy tot 'n wese geryp
met die aarde se stem in sy bloed,
en sy gees het opeens met 'n skreeu gegryp
na God en sy vreeslike gloed (Die Wording).
Daardie tweeslagtigheid bly die mens aankleef, die hoëre en die laere. En as die goddelike in die mens juig: ‘Die vrye en ewige is hier!’ dan ontwaak die stem van die donker dier opeens, ‘genadeloos en rou.’ (Die Vergeefse). Tog word die trek na die lig nimmer gestaak (In die Diepsee), al bly die mens ewig angsvol bewus van die verderf wat in die stof skuil (Die Sneeu). Die vormskoonheid bly toeneem, langsaam, telkens met ontsettende agteruitgang en verval, maar moeisaam bly God's plan deurwerk: Die wêreld, donker in chaos versink, het ontwaak tot die lig
en langsaam en bly is die vormlose stof na die vorm gerig
(Die Vaas).
So word die kruisdrade gaandeweg verweef totdat daar voor ons 'n veelkleurige tapyt hang in wat bedoel was as slotgedig: Die Priester buig voor Ahoeramazda (wat ek sou noem: Die Gebed van die gelowige Siel): U is die sanger en die helder sang,
U is die gees en ook die suiwer vorm,
U is die stroom en oorsprong van die stroom,
U is die heilige dromer en die droom!
U is die krag wat deur die donker wortels
vir eeue styg om eindelik vrug te word.
Ahoeramazda, U is Een wat bly,
ook as die enigste lig wat vlam in my!
Vir die begrip van Van den Heever se lewensbeskouing, is die nuwere gedigte van die grootste betekenis; van ewe groot betekenis is die skoonheid daarvan, en vir ons Afrikaanse poësie 'n rype oes wat ons graag binnehaal.
In my klein bestek wil ek net nog die aandag vestig op een belangrike verskynsel, die eindpunt van 'n baie lang ontwikkeling. Aanvanklik was Van den Heever in sy poësie gebonde aan die ou poëtiese vorms: sonnet, eindrymende | |
[pagina 559]
| |
koeplette, gebonde ritme wat saamval met die maat van die versreël. Gaandeweg kom hier verruiming wat ons skerp begin waarneem in DEINING, maar meer nog in AARDSE VLAM. In die Latere Gedigte is dit opvallend dat die ritmiese beweging van die gedig ver buitekant die perke van die versreël stu; die ritmiese periode en die gedagte-periode het tot eenheid vergroei in verse waarin die eindrym sowat heeltemal ontbreek, maar wat tog vol musikale skoonheid sit. Ek kan my slegs twee voorbeelde veroorloof, albei uit Musiek: Daar was nou geen geweld nie en al wat lewe en groei, het stil
geluister na die vol musiek wat aanswel, na die ritme van die jaargetye
wat bewend breek in kringe en deur die bloed bly roep.
............
Dit was een vloeiing in mekaar, een sirkeling van die ritme wat
in spelende verglying wêrelde bind, weer skei, verenig en laat sterwe.
Heeltemal anders geaard is die vaderlandse gedigte van I.D. du Plessis: anders na vorm, anders na gedagte-inhoud, anders na die stuwing daarvan. (LAND VAN ONS VADERE, Unie-Volkspers Bpk., Kaapstad 1945). Die agtien gedigte in die bundel is saamgebind tot eenheid deur die grondliggende vaderlandsliefde van die kunstenaar. In Soet is die Stryd word die volksman opgeroep tot die (kultuur)stryd wat, volgens die volksvyande, tog uiteindelik verloor sal word. Dit mag so wees, voer die digter aan; wie van ons ken die toekoms? Maar al moet dit ook die geval wees, dan nog moet ons stry, want nie in die oorwinning nie, maar in die stryd lê die waarde, en wie kwel hom dan oor moontlike neerlae? Dis tog die probeerslag wat tel!
Nee, soet is die stryd vir die stryer,
Al moet hy uiteindelik verloor.
Dis juis die wanhoop van sy volk met 'n ‘wurm van wanhoop, / plaag aller plae’, wat hom prikkel om hulle voorspraak te wees (Paradoks). Nou gaan hy oor tot die beskrywing van 'n paar van ons volksondes: droogte (weiering om God te dien), die geseënde (die maatskaplike kleurlyn - een van die mooi gedigte in die bundel), mammon in die Noorde (goud!), en dan die pragtige Af
Soos die snelle dood
Wat neerblits deur die valk se kloue;
Af
Na ons skimmeryk
Deur die aarde se verstikkende voue;
Af
| |
[pagina 560]
| |
Na die holtes waar ons giftige brood
Verdien word, na die stof en slyk
Wat stadig wurg; en as ons nood
Ons óp laat kyk deur die skag se grou,
Dan groet ons jou:
‘Heil Keiser! Ons wat elke dag moet sterwe
Dat jy die Goue Kalf mag erwe.’
(Hellevaart - die naturelle-myngrawer).
Dan volg 'n kalme beskrywing van hoe die mens alles leer beheers het: water, aarde, lug, maar ‘hy moet nog net verleer / om sy medemens te moor’ (Homo Sapiens). In Aartsvyand word die verspoeling van ons vrugbare teelaarde bekla. In die Skuur word ons wolskeersel deur 'n inboorling binnegehaal. Daar is ook mooi dinge in ons volkslewe: die rustige kalmte wat kenmerkend is van ons kultuur en wat volgens die digter In die Bosveld gegroei het tot volkskenmerk; ook die kleure van ons Lente in die Karo. In Die Vals Profeet word die beeld van die hede en verlede verenig. In die hede swaai die aasvoëls ‘in groot swart kringe eer hulle grondwaarts dra,’ en nou - soos toe - in ons land bestrooi met gewyde vee. Hieraan knoop hy vas die Dood van Woltemade, Die Vlieënde Hollander, en Die Ballade van Twee Boere - almal figure van wie die heldedade 'n grootse toekoms vir ons volk voorspel het. Dan kom ons voor 'n Vraagteken: Is dit die begin of einde? Lê die lewe van ons volk reeds agter ons, of het ons nog 'n toekoms? Is dit die drang om te lewe
Wat ons laat hoop dat die dood
Nie die einde van ons strewe
Meebring nie, maar van ons nood?
Hierna volg die Gebed tot God om vergunning om 'n weinigie langer te leef, noudat die belofte van 'n heerlike aardse lot in vervulling wil gaan: ......Vergun my, Here,
Een stralende uur om van die Heilige Brood
Te eet wat U sal gee na hierdie nood.
Land van Ons Vadere, 'n sonnet, sluit die geheel af, 'n gedig waarin die hoop opklink dat ons volk eindelik weer eensgesind sal wees, maar wat my nie heetemal suiwer van gevoel aandoen nie. Alhoewel Du Plessis ook dikwels die vrye vers aanwend, steun hy tog nog meer op die gebonde ritme binne die versreël, en die verhoogde musikaliteit van die eindrym. | |
[pagina 561]
| |
Die skoonheid van hierdie bundel lê meer in onderdele, en soms meer in die konsepsie as in die uitvoering daarvan. Hellevaart en Ballade van Twee Boere behou vir my hulle skoonheid ook buitekant die verband van die geheel. 'n Besondere opmerking verdien die pragtige illustrasies van Le Roux Smith le Roux.
Tot die heel jongste geslag digters behoort S.J. Pretorius met DIE ARBEIDER EN ANDER GEDIGTE (J.L. van Schaik, Pretoria 1945). Pretorius self verdeel sy gedigte in drie groepe: Stad, Land, Ander Gedigte. Daar is ook 'n ander groepering moontlik, 'n groepering wat duideliker sy werk sou tipeer. Die bronaar van die gedigte in hierdie bundel is naamlik botsing met die omgewing, verlange na 'n voormalige toestand van rus, en doodsgedagtes. Al drie groepe hang met mekaar saam. Om dit te begryp, is dit nodig om 'n paar besonderhede te verstrek. Pretorius is 'n seun van die boereplaas, wat dan na die Goudstadsomgewing verhuis agter 'n broodwinning aan. Hier sien hy sy eie mense: Eens voor die eeu was hul grootland-besitters,
met sluheid onterf nou uit vadersgrond,
is hul van rooidag tot die straatlig-stond
asryers, pikslaners en vuilvoor-spitters
Sonnet - Uit MalvernGa naar voetnoot(1)
Hy sien bedelaars, mynwerkers (wat Afrikaans praat), agterbuurtbewoners, armes en dit maak hom seer dat dit sy eie mense is. Maar ook met ander versukkeldes het hy medelye: stadsmuile, 'n valk in die dieretuin, kaffer-asryers wat uit die afval van die stad voeding soek. Die feit dat so'n groot aantal van sy eie mense by die ekonomiese verval betrokke is, loop by die kunstenaar uit op minderwaardigheidsgevoelens, haat - botsing met die omgewing. En die stadsbeeld skrik hom af. Uit hierdie agtergrond is gebore Die Arbeider - seun van die veld wat in die nywerhede kom werk, sy vryheid verloor: ..............................Nee, nee, die mens
kan hier nie vlug, hy is begrens
met staal; beton; van binne blind,
aan ratte en wiele vasgebind............
Die arbeider het naderhand sy siel ook verloor in die sleurgang van die nywerheidsarbeid; hy kalmeer, - maar hoeveel bitterder-gedwee
as eens toe hy van vrees kon skree.
| |
[pagina 562]
| |
Toe lê hy eendag langs 'n rat
wat langsaam maal, stil, en hul vat
en lê hom onder hemelblou
waar hy van oos na wes kan skou,
waar son en wind is, hael en reën,
en die fabriek 'n ver gekreun
word soos 'n siel wat smeek in nood,
want vir masjiene was hy dood.
Nou kan ons begryp dat daar 'n verlange kom na landelike rus en vrede, die ondergrond van die tweede afdeling, en dan die doodsverlangens wat ons in afdeling drie aantref (Dood I, II, Simson, Uitroep oor die Styx). Poësie wat uit hierdie bron gevoed word, loop gevaar van verskraling, want minderwaardigheid, vrees, haat, dien nie die hoogste in die mens nie, en as gevoelens vertroebel hulle maklik, met 'n meegaande geprikkelde sentimentaliteit in die kunsuiting. In laasgenoemde rigting wys reeds die beeld van die draak in Die Arbeider en die patetiese in die Gebed vir 'n Transportryer. Pretorius moet as mens tot versoening kom met sy omgewing, sodat die beste in hom vry kan word, die beste - waarvan daar so helder die beeld te sien is in die gedig NewclareGa naar voetnoot(1) Johannesburg. Hierin beeld die digters eers die armoede uit van die betrokke stadsbuurt: koelietjies, bastertjies, vuil wasgoedwater, krotte met tandelose armes op die stoep, modder en slyk. Maar skielik sien die digter iets: ............agter oor die bruin
kleimure en lae dak aan dak, verrys die kruin
van 'n blom-suiwer stapelwolk
en krul hoog oor die diepblou hemel-kolk!
Suiwer is ook: .........Duisend jaar gelede
het daar nes hede
'n mens geluister,
waar 'n stroompie fluister
soos hy snel vervliet,
na 'n tortellied:
daar is geen dood! (Daar is geen Dood).
Kan Pretorius daardie versuiwering van gevoel bereik, dan hou sy bundel vir ons 'n duidelike belofte in, want sy poësie is onmiskenbaar gewortel in die Afrikaanse werklikheid. In die eerste bundel van J.J. Oosthuizen: IN DIE WOESTYN (J.L. van | |
[pagina 563]
| |
Schaik, 1945) is daar al voldoende gepuurde skoonheid om ons aandag te trek. In die tien gedigte van groep I (As ek so moeg uit groep II hoort eintlik ook hierby), waarin die woestynlandskap van die Namib uitgebeeld word, hoor ons die stem van 'n digter. Hy gee ons te sien 'n: - verlate dorre land! -
hier is die lewe wreed, en maai
die dood met tergend-trae hand (Namibwoestijn)
Ons loop oor die sandduine wat soos oumenshoofde ontbloot neerbuk, ons hoor die wind sag asemhaal; in die verlatenheid kom ons onverwags op die kopbeen van 'n mens af wat toon dat daar tog lewe was, of ons sien 'n strepie voetpad wat verder vorentoe en agtertoe toegewaai is. Orals net sandbulte, duine, verdorde lewe: Die wind suis stilweg teen die duine aan
en skuiwe syig-sag die sand vol riffies fyn en fraai;
grassprietjies buk en bewe heen en weer en wiegel-swaai,
verbleek en lankal dood soos hul daar staan.
(Verlate lyk die wereld hier).
Oosthuizen streef meer na skoonheid van die woord en klank as na die volle menslikheid van die gedagte. Hierin is sy grootste gevaar 'n klankgevoel wat nie orals ewe ryp is nie, met die gevolg dat dit oorladenheid van rymklanke afgee (Die dag was leeg, Die hart sug), en soms 'n nog jeugdige onvermoë om die gelykvloerse woord te vermy, byvoorbeeld van die Koggelmander sê hy: en jy is so lelik
jy maak die ander goggas bang!
En in Gebed: U sorg so mooi en goed vir alles, God
.........
U is 'n liewe goeie God om so
vir ons te sorg.....
Hier is vier bundels met gedigte wat wissel van die volrype skoonheid van ons ouer digters, tot die onvoldrae poësie van die soekende jongeres waar die belofte nog swaarder weeg as die eerlike poging, maar wat nietemin getuig van jong lewe. |
|