C.M. van den Heever
Hulde aan Styn Streuvels
Op skool was Nederlands, naas Engels, 'n taal wat ons so deeglik as moontlik moes bestudeer. Afrikaans was wel die spreektaal, maar nog nie amptelik erken nie, en met toewyding - alhoewel sonder veel geesdrif - het ons lang, eentonig lyste van die sogenaamde ‘de’- en ‘het’-woorde van buite geleer, en waar ons in 'n stereotiepe opstel oor die geslag van 'n woord getwyfel het, was die beste en veiligste uitweg om gebruik te maak van die verkleinwoord of die meervoud! Dáármee kan jy tenminste geen fout begaan nie, al was die inhoud ook onsin. So het die volgende gedrogtelikheid in 'n pynlike opstel sy oorsprong gehad: ‘De leeuwen sprongen over het watertje’!
Naas die taai, droë grammatika, wat ons bladsy na bladsy uit 'n onaantreklike rooi boekie moes deurknaag, was daar die sogenaamde ‘voorgeskrewe werke’, gladgeslyt van al die hanteer. Hulle het o.a. bestaan - vir die eindeksamen althans - uit 'n bloemlesing uit die gedigte van De Genestet, Majoor Frans van Bosboom-Toussaint, die onmoontlike boek Akbar..... en Tony se Ernest Staes. De Genestet se weemoedige en sentimentele gedigte, sonder veel werklike diepte, het ons in 'n mate geboei, Majoor Frans en Akbar was 'n woud van woorde, vol vreemde situasies en ver weg van ons daaglikse lewe, asof sulke wesens in ander, haas onbestaanbare lande bly, maar nie van gelyke bewegings as ons is nie. Alleen in ‘voorgeskrewe werke’ kon hulle bestaan!
Maar met Ernest Staes - nog ruik ek die geur van die boek - was dit anders. Hier was 'n lewende mens wat blykbaar net soos ek voel en dink, en van die eerste bladsy af met sy gevoelige beskrywing van die ruisende populiere tot aan die einde waar ons van die jong advokaat afskeid neem, was dit vir my 'n mooi en 'n boeiende boek, wat ek 'n paar keer herlees het.
Van die tyd af dateer my kennismaking met die Vlaamse letterkunde en my liefde vir die Vlaamse skrywers. Later moes ek, soos dit maar met ons almal gebeur, van die wysneuse en ‘kenners’ verneem dat Ernest Staes nou nie juis eersterangs is nie, 'n bietjie te gemoedelik en oorgevoelig..... maar wat het dit te doen gehad met die vreugde wat die werk aan my as jong, ongevormde mens verskaf het? Maar later het tog ook goeie dinge gebeur, want aan die universiteit het ek met Guido Gezelle kennis gemaak, en toe op 'n dag, terwyl die son wit en helder op die vensters van die universiteitsbiblioteek geskyn het, met Styn Streuvels! Die letters van die boek was swaar en swart op die