Dietsche Warande en Belfort. Jaargang 91(1946)– [tijdschrift] Dietsche Warande en Belfort– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 399] [p. 399] C.M. van den Heever Gedichte I Die jagter treur oor sy vriend Ek het jou langs die pad laat staan, ek het jou langs die pad laat staan en gaan nou verder voort, terwyl 'n kruis jou afskeid teken van jou huis wat steeds die wye velde was met bulte blink van somergras en verre paaie wit soos as, 'n horison ver om jou rond - maar steeds in jou die dood se wond. Ek het jou langs die pad laat staan ek het jou langs die pad laat staan en gaan waar winde in die bosse sing die wolke grys-blink vlae bring van najaarsreën wat diep en wyd die aarde vul met diensbaarheid - waar saans die tarentaal se lied sag met my praat oor ou verdriet. Ek het jou langs die pad laat staan en gaan waar vleie klam en geurig is, die aand een goud, die duisternis 'n see waarin ek daal en daal na jou wat verder van my dwaal die diep grot van die newels in waarheen jy my ook straks sal win. Ek sien die maan wat uit die dood [pagina 400] [p. 400] herrys en roep, steeds blink en groot, tot ek my vrees verslaan, die jag weer voortsit en die spel met bloed my vir allenigheid vergoed. Maar jy bly ver, net in die wind is as wat wegwaai - jou hervind moet ek tog eindelik as ek aan die laaste grens, verower, staan. II Die slagter Hy is 'n slagter en reëlmatig val sy byl al kappend op die harde blok; vuil is sy baard, sy oë flets en stom, en in sy hande ruk die ouderdom. Maar as sy smerige deur gegrendel word en hy sy skraal profytjie langsaam tel, dan dink hy aan sy vrou se vroeë dood: jare wat nou bitter na die lippe wel. En vroeg gaan hy dan na die geel hotel; soos elke middag drink hy; langsaam rys uit sy verwarde gees en troebel jare 'n vrou en sy verlore paradys. Vorige Volgende