| |
| |
| |
Kronieken
Kroniek der Zuidafrikaansche letteren
Die afrikaanse essay, kritiek en literatuurgeskiedenis
Deur Dr. Abel Coetzee
Senior Lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand
Om die Vlaamse leser te oriënteer, kan kortliks vermeld word dat die Afrikaanse letterkundige produksie tradisioneel in twee groot groepe geskei wordt: 1. Vanaf die bewuste aanwending van Afrikaans as skryftaal (ongeveer 1860) tot aan die einde van die een aan die afloop van die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902); II. Geskrifte wat daarna verskyn het (die gedig Winternag van Eugène Marais in 1904 word gewoonlik beskou as die eerste openbaring van die nuwe geest wat kenmerkend is van die Tweede tydvak). Die eerste tydvak staan bekend as die Eerste Afrikaanse Beweging, en die volgende as die Tweede Beweging. Oor die verdere indeling van die Tweede Beweging bestaan geen eenstemmigheid nie, en daar is diegenes wat nog 'n Derde en Vierde Beweging wil onderskei - min of meer die verskyning van elke nuwe geslag kunstenaars - maar dis nie hier ter sake nie.
Hoofsaak is dat die verdeling in twee tydvakke berus op die verskynsel dat die Eerste Beweging hoofsaaklik propagandistiese en godsdienstige werke en volkskuns opgelewer het; die eintlike skone lettere, kenmerkend van die opperkulturele kunstenaar, neem eers 'n aanvang na 1900, toe geskoolde manne die leiding geneem en die Afrikaanse Beweging in gunstige uiterlike omstandighede laat uitgroei het tot 'n nasionale beweging in die beste sin van die woord, wat uitloop op die amptelike erkenning van Afrikaans in 1925.
In die onderstaande oorsig word die genoemde tydvakke in breë trekke gehandhaaf.
***
Wat die eerste in die oog val sedert 1940 is die mate van aandag wat opnuut bestee word aan die produkte van die Eerste Beweging. Hier het veral twee van die jongeres hulle baie verdienstelik gemaak, die broers dr. G.S. en dr. P.J. Nienaber.
| |
| |
Eersgenoemde, dr. G.S. (geb. 1903), wat ná sy studie in Bloemfontein die graad D. Phil. et Litt. behaal in Gent, het hom beywer vir die stigting van die Patriotvereniging ‘om belangrike Afrikaanse stukke van vóór 1900 in soverre as wat hulle moeilik toeganklik geword het, te laat uitgee’.
Sedert 1940 het reeds tien uitgawes van die Patriotvereniging die lig gesien, elkeen voorsien van 'n deeglike inleiding en die nodige aantekeninge: 1. G.S. Nienaber: Klaas Waarzegger se Zamenspraak en Brieve uit 1861 (Voortrekkerpers, Johannesburg 1940); 2. P.J. Nienaber: C.P. Hoogenhout se Geskiedenis van Josef, en: Catharina, die dogter van die Advokaat (1940); 3. Abel Coetzee: Die verhaalskat van Ons Klyntji, 1896-1906 (1940); 4. P.J. Nienaber: Gedigte van C.P. Hoogenhout (1941); 5. F.C.L. Bosman: Die Bedriegers, Magrita Prinslo, en ander Afrikaanse Dramas en Samesprake tot 1900 (1942); 6. G.S. Nienaber: Afrikaans tot 1860 (1942); 7. P.J. Nienaber: M.H. Neser se novelles, verhale en gedigte (1942); 8. S.C. Hattingh en S.C. Rautenbach: Die Eerste Tydperk in die Lig van die Volkskunde (1942); 9. G.S. Nienaber: Die Afrikaanse geskrifte van Samuel Zwaartman (1942); 10. P.J. Nienaber: Evangeli in di Volkstaal, Afrikaanse preke van ds. P.D. Rossouw en eerw. J.W. van der Rijst, en: So gaat dit, 'n verhaal deur eerw. J.W. van der Rijst (1943). Nog twee bundels is aangekondig, maar weëns papiernood moes die publikasie gestaak word - ons vertrou dat die staking slegs tydelik is, want die behoefte waarin die publikasies voorsien, is werklik. Die besorgers van die eerste tien dele is almal verbonde aan inrigtings vir hoër onderwys, behalwe Rautenbach, onderhoof van die laerskool op Voortrekkerhoogte.
G.S. Nienaber tree op as hoofredakteur. Sy belangstelling in die werk van die Eerste Beweging is enersyds te verklaar uit sy akademiese werkkring; hy is naamlik senior lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Natalse Universiteitskollege, Pietermaritzburg. Andersyds spruit dit voort uit 'n gesonde nasionale gees, wat kenmerkend is van 'n hele aantal voormalige leerlinge van die reeds bedaagde hoogleraar, D.F. Malherbe, die bekende skrywer (Bloemfontein).
Ander tasbare blyke van sy belangstelling in die genoemde tydperk is: 1. Die Afrikaanse Beweging, Dl. I (Pretoria 1931); 2. Honderd jaar Hollands in Natal (tot 1928) (Pretoria 1933); Van Roem tot Selfmoord (Lewensloop van C.E. Boniface) (Johannesburg 1939).
Naas G.S. Nienaber het baie gou kom staan as troue helper, die jonger broer, P.J. (geb. 1910), wat na studie in Bloemfontein die graad D. Litt. et Phil. in 1938 behaal het aan die Gemeentelike Universiteit te Amsterdam, op 'n proefskrif: Die Afrikaanse Romantematologie (Amsterdam 1938). P.J. Nienaber is sedert 1936 lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sedert sy promosie het die jonger Nienaber ywerige versamelaar van Afrikaanse geskrifte geword, en hy besit tans een van, indien nie die volledigste versamelings Afrikaanse geskrifte in die land.
| |
| |
Saam het die twee broers die volgende werke en versamelings gepubliseer, wat meestal uitsluitend oor die Eerste Beweging handel: 1. Afrikaanse Ballades; saamgestel en van 'n inleiding en aantekeninge voorsien deur - (Bloemfontein 1941); 2. Die Afrikaanse Dierverhaal (Bloemfontein 1942); 3. Die Geskiedenis van die Afrikaanse Beweging (Pretoria 1941); 4. Geskiedenis van die Afrikaanse Letterkunde (vanaf die begin tot aan die einde van die 19e eeu) (Pretoria 1941); 5. Die Opkoms van Afrikaans as Kultuurtaal (vir skoolgebruik) (Pretoria 1943).
Van P.J. Nienaber het die volgende beskouings oor aspekte van ons letterkunde verskyn: 1. Die Afrikaanse Letterkunde (A.N.V., Amsterdam 1935); 2. D'Arbez as Skrywer (Pretoria 1936); 3. Ds. S.J. du Toit, die eensame Ismael (Pretoria 1940); 4. Jan Lion Cachet met sy Sewe Duiwels (Pretoria 1940); 5. Ons Eerste Digters (Bloemfontein 1940).
Vermeld moet nog word die proefskrif van F.C.L. Bosman: Drama en Toneel in Suid-Afrika, 1652-1855 (Amsterdam 1928) (Bosman, geb. 1898, is lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit, Kaapstad). As ons nog daarby noem: M.D. Teenstra, De Vruchten mijner Werkzaamheden, enz., uitgegee en toegelig met inleiding en verklarende aantekeninge deur F.C.L. Bosman, benewens taalkundige aantekeninge deur J.L.M. Franken (Die Van Riebeeck-Vereniging, Kaapstad 1943) (Franken is hoogleraar in Stellenbosch), dan het ons daarmee al die belangrikste nuwe beskouings oor die Eerste Afrikaanse Beweging. Die resultaat van die bedrywighede sedert 1940 is in kort dat die produkte van die genoemde tydvak vanuit verskillende gesigspunte belig is deur wetenskaplikes wat goed toegerus is vir hulle taak: kultuurhistories, volkskundig, taalkundig, tematologies, godsdienstig, en belletristies. En die algemene opvatting: die Eerste Afrikaanse Beweging het heel weinig skoonheid opgelewer op die gebied van die skeppende lettere.
***
Vir jare lank was daar slegs 'n paar groter werke wat mens kon raadpleeg oor die produkte van die Tweede Beweging, t.w.: 1. Taal en Poësie van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging, akademiese proefskrif vir die graad D. Litt. deur E.C. Pienaar (geb. 1892), eerste druk 1919, vierde druk 1931. Pienaar is tans nog hoogleraar in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit, Stellenbosch. In Nederland en Vlaandere is hy wel die meeste bekend om sy bloemlesing: Dichters uit Zuid-Afrika (1917, 12e dr. 1942); 2. Die Prosa van die Twede Afrikaanse Beweging, eweneens 'n akademiese proefskrif (Amsterdam, 1922, 3e dr. 1939), deur P.C. Schoonees (hoof van die hoërskool, Vryheid, Natal); 3. Humor in die algemeen en sy uiting in die Afrikaanse Letterkunde, akademiese proefskrif van F.E.J. Malherbe (Amsterdam 1924; Malherbe is gebore in 1894, tans hoogleraar in Nederlands en Afrikaans, Stellenbosch).
Genoemde geleerdes het egter van tyd tot tyd nuwe studies laat verskyn.
| |
| |
Van E.C. Pienaar die volgende: Werda! (Kaapstad 1938); Die Triomf van Afrikaans; historiese oorsig van die wording, ontwikkeling, skriftelike gebruik en geleidelike erkenning van ons taal (Kaapstad 1943). Van Schoonees: Kleingoed (Pietermaritzburg 1929); 'n Kritiese beskouing van Jan Celliers se toneelstuk ‘Reg bo Reg’ (Pietermaritzburg 1925); Martjie en Ampie: hulpboekie vir Matriekstudie (Pietermaritzburg 1926). F.E.J. Malherbe het nog die volgende die lig laat sien: Die Kort-Verhaal as kunsvorm (Kaapstad 1929); sedert 1935 het hy saam met Jonker en Jacques Malan die kwartaalblad, Ons Eie Boek, begin en sedert 1937 is hy die hoofredakteur daarvan; hierin word alle nuwe Afrikaanse publikasies aangekondig en mettertyd geresenseer; 3. Aspekte van Afrikaanse Literatuur: studies van belangrike werke (in hoofsaak voortspruitend uit 2.) (Kaapstad 1940); 4. Lewensvorme: opstelle oor kultuur, kuns en literatuur (strek vanaf 1925) (Kaapstad 1941).
Min of meer tyd- en geesgenote van die ouer geslag is ook nog G. Dekker en M.S.B. Kritzinger, albei hoogleraars, eersgenoemde in die Afrikaanse lettere in Pretoria, en laasgenoemde in Afrikaans en Nederlands in Potchefstroom. Dekker (geb. 1897) het in 1926 aan die Gemeentelike Universiteit, Amsterdam, gepromoveer op 'n proefskrif: 1. Die Invloed van Keats en Shelley in Nederland gedurende die negentiende eeu; en het daarna gepubliseer: 2. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis (Kaapstad 1935, 3e dr. 1941); 3. Causerie en Kritiek (Pretoria 1934).
Kritzinger (geb. 1896 en promoveer in 1930 in Pretoria op 'n proefskrif: Die Opstandsmotief by Vondel) skrywe jare lank reeds resensies in Die Volkstem en bespreek gereeld die jongste werke vir radioluisteraars. Van hom het nog verskyn: 1. Letterkundige Kragte: beskouings oor Afrikaanse skrywers (Pretoria 1932); 2. Oor Skrywers en Boeke (Pretoria 1932); 3. Plate-Atlas by die Afrikaanse Letterkunde (Pretoria 1931); 4. Studies en Kritieke (Pretoria 1934).
Opvallende kenmerk van hierdie geskrifte oor ons letterkunde is, naas die kleiner resensie, causerie, en essay, wel die groot opgestelde handboeke. Dit is hierdie geslag wetenskaplikes wat die literatuurbeskrywing by ons aangevoor het, en omdat die hele veld nog moes opgemeet word, het hulle die vakke breed gesny en oorsigtelike beelde gegee. Wat geld van die literatuurgeskiedenis, geld ook van die oudste akademiese proefskrifte oor die taal en die volkskunde. Vandaar dat so'n groot gedeelte van die werk uit hierdie tyd opsommend is, histories, meer kultuurhistories-beskouend as estetiesbeskouend.
Met die volgende groep, waarvan ons trouens reeds in die werk van die oueres die aanduidings vind, kom daar 'n verandering. Met die resensie en causerie word voortgegaan, maar mens kan begryplikerwyse nie tot in die oneindige voortgaan met 'n totaalbeeld van dieselfde letterkunde nie. Van nou af gaan die afsonderlike kunstenaar meer bepaald aandag ontvang in 'n poging om die bronare van hulle skeppingskrag bloot te lê teneinde so- | |
| |
doende hulle kuns beter te kan tipeer en die gevonde skoonheid te benadruk. Die eerste gepubliseerde studie oor 'n enkele Afrikaanse kunstenaar is wel die akademiese proefskrif van C.M. van den Heever: Die Digter Totius, sy betekenis vir die Afrikaanse letterkunde (Pretoria 1932) (Van den Heever, geb. 1902, studeer in Bloemfontein en Utrecht; is stigter van die Afrikaanse Skrywerskring, eerste kultuurgesant na Nederland en België, hoogleraar in Nederlands en Afrikaans aan die Universiteit van die Witwatersrand). Daarna volg die studie van Abel Coetzee: C.M. van den Heever, die wese van sy kuns (Pretoria 1936); M.P.O. Burgers: Die mens Langenhoven (Kaapstad 1939) (geb. 1909, studeer in Johannesburg en Leiden, berei tans proefskrif voor oor Leipoldt, Radioprogrambestuurder in Johannesburg); F.G. Marais du Toit: Eugène N. Marais, sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (Amsterdam 1940); by sy sestigste verjaarsdag het 'n aantal van sy voormalige studente, onder leiding van dr. B. Kok (tans hoogleraar in Bloemfontein as opvolger van sy leermeester Malherbe) 'n bundel kleiner studies ‘D.F. Malherbe, die mens en sy kuns’ - Bloemfontein 1941 - aan die jubilaris gebied.
Volledigheidshalwe moet vermeld word dat talle skripsies oor afsonderlike skrywers ongepubliseer lê aan ons universiteite, en dat daar tans nog in voorbereiding is proefskrifte oor G.R. von Wielligh en J.H.H. de Waal.
Die letterkundige essay het na 1930 ook goed gebloei by ons. Kleiner werkies van Schoonees, F.E.J. Malherbe, Kritzinger en Dekker, waardeur die genre by ons goed ingelui is, is reeds genoem. Die rypste en vaardigste essays onder die ‘jongeres’ is wel C.M. van den Heever met twee bundels: 1. Die Afrikaanse Gedagte (Pretoria 1935) en: 2. Die Stryd om Ewewig (Kaapstad 1941). Hierby sluit aan die strydlustige opstelle van N.P. van Wyk Louw (geb. 1906, lektor aan die Universiteit, Kaapstad) wat later in twee bundels saamgevat is: 1. Berigte te Velde, opstelle oor die idee van 'n Afrikaanse nasionale letterkunde (Pretoria 1939), en: 2. Lojale Verset, kritiese gedagtes oor ons Afrikaanse kultuurstrewe en literêre beweging (Kaapstad 1940). By hom sluit aan die Nederlander, H.A. Mulder (voorheen van Pretoria, tans lektor aan die Universiteitskollege, Grahamstad, waar W.E.G. Louw intussen hoogleraar geword het in Nederlands en Afrikaans) met: 1. Opstelle oor Poësie (Pretoria 1939) en: 2. Twee Wêrelde, opstelle oor Afrikaanse en Nederlandse letterkunde (Pretoria 1942). Die broers Louw en Mulder het so pas 'n nuwe Afrikaanse tydskrif ‘Standpunte’ begin. W.E.G. Louw (geb. 1913) het in 1942, na studie in Amsterdam, gepromoveer op 'n proefskrif: Die Invloed van Gorter op Leopold (Kaapstad 1942). Verder wil ek hierby nog noem Abraham Jonker (geb. 1905, tot onlangs hoofredakteur van Die Suiderstem, Kaapstad): 1. Prosarigtings en ontledings (Kaapstad 1940), en: 2. Die Roman, sy aard, ontstaan en soort (Akademiese proefskrif, Kaapstad 1942).
Vir die vorser het daar sedert 1940 belangwekkende hulpbronne bygekom vir die studie van die Afrikaanse letterkunde. Ons eie Boek, die kwartaalblad,
| |
| |
het ek reeds genoem. Breedvoeriger oorsigte van die jaar se Afrikaanse boekeproduksie, waarin slegs die beste bespreek word op die gebied van prosa, poësie, toneel en kinderlektuur, word verskaf in die Jaarboeke van die Afrikaanse Skrywerskring, waarvan no. 10 in 1945 verskyn het. 'n Repertorium van Afrikaanse Tydskrifartikels word sedert 1940 gepubliseer deur die S.A. Biblioteekvereniging, met hoofkantoor in die Johannesburgse Stadsbiblioteek. In 1943 het daar in Kaapstad verskyn die ‘S. Afrikaanse Katalogus van Boeke (1900-1942’ van Nico S. Coetzee, terwyl P.J. Nienaber in dieselfde jaar in Johannesburg 'n baie omvattende ‘Bibliografie van Afrikaanse Boeke (1861-1943)’ die lig laat sien het. Nienaber stel 'n vyfjaarlikse aanvulling in vooruitsig, terwyl hy intussen elke maand 'n volledige lys nuwe Afrikaanse publikasies openbaar maak in Die Brandwag, met jaarliks 'n volledige lys in die gemelde Jaarboeke (wat agterna apart herdruk en onder die boekhandelaars versprei word hier te lande). Nienaber het tans in voorbereiding 'n bibliografie van alle tijdskrifartikels vanaf die begin tot 1940. Hierby kom nog dat alle Afrikaanse tijdskrifte (week- en maandblaaie veral, maar ook die dagbladpers) gereëld ruimte afstaan vir die aankondiging en/of resensie van nuwe publikasies.
In 'n kort studie ‘Afrikaanse Letterkundige Kritiek’ (Bloemfontein 1941), wat die eerste poging verteenwoordig om 'n totaalbeeld van ons letterkundige wetenskap te gee, onderskei G.S. Nienaber tussen statiese kritici: Besselaar, Van Niekerk, Pienaar, Schoonees, P.J. Nienaber, Jonker en Kritzinger: en dinamiese kritici: F.E.J. Malherbe, Dekker, Van den Heever, Van Wyk Louw, Burgers en Abel Coetzee.
Met hom kan ons saamstem, dat as ons die gelewerde werk oorskou, die rykgeskakeerde openbaring van ons kritiek in die kort tydjie van ongeveer 'n kwart eeu ons verbaas, want die tyd is kort en die werkkragte gering in aantal.
In bostaande oorsig het ek meer bepaaldelik die jonger werke oor ons letterkunde na vore gebring, in die veronderstelling dat die heel oudste geskrifte - wat tewens uiters moeilik te bekom is - reeds voldoende bekend is. Meer besonderhede, ook van ongebundelde werk, vind die belangstellende in die laasgenoemde werkie van Nienaber. Studies oor die Nederlandse en Vlaamse letterkunde, en werk wat hier te lande gedoen word om die bestudering van daardie letterkundes aan te moedig, en werke wat nie regstreeks die Afrikaanse gedeelte van die Dietse lettere raak nie, het ek hier verswyg.
JOHANNESBURG. 14 Januarie 1946.
|
|