bekoring is heelwat wilde bewerings gemaak. So is byvoorbeeld beduie van ‘wêrelddigterskap’, ‘een van die belangrikste gebeurtenisse in die Afrikaanse poësie’, en van Wyk Louw se digterskap is vergelyk met en hoër geroem as die van C.L. Leipoldt en al sy voorgangers. Heelwat van die menings is met propogandistiese felheid verkondig en dit het tydelik uitgeloop op die vertroebeling van ons letterkundige oordeel. Gaandeweg het daar kalmering gekom en daarmee wen die opvatting veld dat opstandigheid en die ‘krag’ wat daaruit voortspruit nie die skoonste poësie hoef te wees nie. In die rustiger atmosfeer word die digter se waarde juister aangevoel en hy word suiwerder in sy regte perspektief gesien. Ook van W.E.G. Louw het twee bundels verskyn: Terugtog (1940), Adam e.a. Gedigte (1944). Vir hierdie digter - wat intussen hoogleraar geword het - hou die sensitivisme 'n wesenlike gevaar in.
Uys Krige, ook met twee bundels: Rooidag (1940), Oorlogsgedigte (1942), bring eintlik die enigste direkte weerklank van die jongste oorlog in ons letterkunde. Sy bydrae is nog hoofsaaklik romanties, met die verlange na vryheid en na vertes as die wesenlike kenmerke, alhoewel daar groter rypheid waar te neem val.
Van die digteres Elizabeth Eybers het so pas 'n nuwe bundel verskyn: Die Vrou (1945). Wat hierin veral opval is die suiwere beheer van die kunstenares oor die sonnet, 'n digsoort waarvoor sy 'n sterk voorliefde het. Hier word van haar suiwerste poësie aangetref, en die vertolking daarin van die gedagtewêreld van die vrou, is vir die Afrikaanse letterkunde werklik 'n verryking. Swak daarin is die vervaging van die Afrikaanse milieu.
Met die Weerlose Uur (1942) van Ernst van Heerden, Vonke (1943) van S.J. Pretorius, Die Enkeling (1944) van S.V. Petersen, Die Soeklig (1945) van Olga Kirsch, en Die Koning se Beeste (1945) van D.J. Opperman is die beeld voltooi. 'n Gemeenskaplike kenmerk van al hierdie jongeres is die neiging tot oordrewe individualisme en pessimisme, maar tewens ook die tekens van 'n groter liefde vir die Afrikaanse wêreld, die skoonheid van die woord, en 'n groter vormvastheid van die vers. Dis nog te vroeg om nou al 'n oordeel oor die waarde van die heel jongste poësie te vorm, alhoewel die belofte duidelik aanwesig is.
Professor G. Dekker het die ‘magteloosheid’ en die ‘verwarring’ wat daar in ons Afrikaanse kritiek heers, gewyt aan die swak gehalte van ons letterkundige produkte, by name die lae gehalte van ons prosawerk. Volgens sy standpunt kan slegs groot kuns ‘groot’ kritiek te voorskyn roep. Daarby het hy natuurlik o.a. ook aan die magteloosheid van E.J. Potgieter gedink binne die raamwerk van sy tyd, maar ewe gerieflik die kritiek van die Tagtigers vergeet! Maar dit terloops. Van meer belang is sy opvatting dat die poësie van die afgelope tydperk ons prosakuns ver oortref, en daarbenewens die oordeel dat veral ons prosaskrywers magteloos is. Persoonlik beskou ek hierdie uitlating as 'n moedswillige miskenning van die werklike toedrag van sake, 'n optrede wat ander oorwegings inhou en wat seer sekerlik nie