Bzzlletin. Jaargang 7
(1978-1979)– [tijdschrift] Bzzlletin– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 12]
| |
Nostalgiese versOm weer aan glinstering te glo
- die oer-uitstippeling van die hemel -
moet ek herinnering inroep,
die nag met stof-en-bloekomwasem,
my veldbed op die sandsteenstoep
skraal teen die klipomskanste huis,
die uitgedoofde dorp, daarbo
oneindige diamantgewemel.
Die aandklok tingel en die lied
uit die vereilande lokasie
bly vlaag op donker vlaag aanspoel:
veelstemmige, bedwelmende verdriet.
Orion die kopstaan-harlekyn
het sy smal middel ingebind
en rats 'n halwe rad geslaan
om op sy voete te beland,
sy swaard juweelstyf aan sy sy,
maar watter rol het vir hom oorgebly?
Die sterre is geblus tot skyn van skyn.
Al sien ek op 'n winteraand
die wakker Hondster lig uitpols
is die onwrikbare Suiderkruis
vir goed verby die ewenaar verdrink.
| |
BBC Wêreldomroep:Sender waarop ek snags my radio stel
om my deur die lang geul te vergesel
van wag om in te slaap. So om die uur
kan ek somber my seëninge tel
gemeet aan wat die menigte verduur.
In smetteloos gemoduleerde taal
met eeuelang geoliede aksent
ontvou 'n Grieks-afgryslike verhaal,
flikker die vlammeskigte uit die hel
wat mense grimmig op mekaar afstuur.
Die onverskilligheid van die natuur
- daaraan is ons van kindsbeen af gewend -
neem sagter vorms aan, maak opgelug.
Ek tuimel oor die drumpel met 'n sug,
die hordes worstel skimmiger, en ag,
straks daag - één minder nou - 'n nuwe dag.
| |
SatellietKijk maar, die arme satelliet
kan nooit aan die planeet ontvlug
en wil ook nie: wat sou sy doen
diep in die eindelose lug?
Op lyn geslaan deur swaartekrag
het sy ten minste nou 'n baan,
sy moet, as sy 'n systap waag
onmiddellik te pletter slaan.
Daarom dat sy aandagtig tol
en nougeset afstand bewaar,
geoefen in die wakker rol
wat lig in stand hou teenoor swaar.
Sy lei, soos dit 'n maan betaam,
sy oseane heen en weer,
vir haar part kan die heelal vergaan
terwyl sy op hóm konsentreer.
Res net 'n skerfie filigraan
- nuut noem hulle dit, maar ai, hoe oud
word sy by tye, klein en koud -
bly sy nog met hom in die weer.
|
|