Sy sê by haarself: ‘Wat ek altoos gevrees het, het my nou oorgekom; hier sit ek met my groot verdriet. Hy, aan wie ek my met opregte trou gegee het, het my verlaat. Maria, Liewe Vrou, as dit U behaag, bid vir my en my twee kinders, sodat ons nie van honger sterwe nie. Wat moet ek, arme ellendige vrou, doen? Ek moet beide siel en liggaam met sondige dade bevlek, Maria, staan my by! Al kon ek ook spin, ek sou in twee weke nie eers een brood daarmee verdien nie. In my uiterste nood sal ek verplig wees om buitekant die stad op die veld te gaan geld win met my liggaam om kos te koop. Ek mag in geen geval my kinders in die steek laat nie.’
Onder sulke omstandighede het sy 'n sondige lewe begin te lei, want dis maar alte waar dat sy sewe jare as publieke vrou geleef het. Sy het baie sondes gepleeg wat haar met die uiterste walging vervul het, want dit het haar glad geen singenot verskaf nie; sy het dit net gedoen om 'n verdienstetjie te kry waarmee sy haar kinders aan die lewe kon hou. Waarom sou ek al die skandelike sondes vertel, waaraan sy haar al die tyd skuldig gemaak het?
Maar nooit in haar grootste verdriet het sy nagelaat om elke dag trou die sewe gebede ter ere van die Heilige Maag te lees nie. Sy het dit gelees tot lof en eer van Maria, sodat sy kon verlos word uit die sondige lewe, waarin sy nou al so lang verkeer.