Band. Jaargang 13
(1954)– [tijdschrift] Band– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 469]
| |
Miel Roos Vertolker van die vroulike PrinsiepGa naar voetnoot(1)DIE mens het nou maar eenmaal 'n wese geword wat aan homself rekenskap wil gee van sy indrukke, wat elke ervaring en elke emosie onder woorde wil bring. Saam met Stefan George glo ons (te vas!): ‘Kein Ding sei wo das wort gebricht’. Nadat die kuns van Miel Roos my aanvankelijk verbyster het, was ek - kind van my tyd! - dus verlig en dankbaar toe die insig bij 'n tweede besoek aan sy uitstalling meteens deurgebreek het: Hierdie kunstenaar is 'n vertolker van wat ek wil noem ‘die vroulike prinsiep’. Soos Augustinus, glo Miel Roos: ‘Zyn’ is goed; ‘Niet-zyn’ is boos. Maar in die taal van sy onbewuste - en Miel Roos skilder vanuit die onbewuste dieptes van sy gees - daar heet dit: lewenswil en skeppingsvreugde word behels in die vroulike prinsiep maar in die manlike prinsiep skuil 'n kiem van die dood. Die vrou is vir hom dan simbool van lewe - lewe in 'n ongerepte paradys waarin die bose, die dood, die prinsiep van ‘Niet-Zyn’ nog nie verskyn het nie. Want in die begin was dit die vroulike prinsiep wat oorheers het. Innig verwant aan die aanvankelike vreugde waarmee die Skepper uit Sy volheid 'n deel van Homself in die skepping uitstort, is die vroulike lewenswil. Die vrou het haar volkome vereenselwik met die skeppingswil en - vreugde van God, en daarom is die vroulike prinsiep die gelukkig, natuurlike, harmonieuse verhouding tussen God, mens en skepping. Terwijl dit dan terugwys op ontstaan, wys die manlike prinsiep heen op voleinding.
Dit was uit 'n wêreld waarin die irrasioneel-vroulike elemente geheel en al deur die rasioneel-manlike verdring is, dat Miel Roos wou ontsnap toe hy na Afrika gekom het. En sy kuns is 'n protes teen die rasionalisering, die meganisering, die ‘vermanliking’ van die lewe. Maar hy kon homself eers vind in 'n primitiewer wêrelddeel, weg van die oorspanne Wes-Europa. | |
[pagina 470]
| |
Dan skilder hy die vrou, nie alleen as simbool van lewe, van die syn nie, maar ook van die mens in gesonde verhouding teenoor God en natuur (of eintlik: God-in-die-natuur!) 'n Opvallende kenmerk van Miel Roos se skilderye is die wyse waarop gestalte en omgewing feitlik in mekaar versmelt. Soms is die vroue slank en lenig (‘Lewensbloeisel’ en ‘Eva’), soms swaarder en ‘ryper’ (‘Vrugbaarheid’). In die oggend is hulle met goue lig deurstraal, en in die aandskemering is hulle net skimme, met hul vroulike aanloklikheid heel fyn belig. Maar in ‘Stoere krag’ en ‘Dolce far niente’, byvoorbeeld, het die figure soliede, selfbewuste krag. Sy voorstelling van die seisoene roep Elizabeth Eybers se vers, ‘Die Vrou’ in gedagte: ‘Sommer en herfs en winter trek in wye
onafgebroke wisseling deur die land
maar sy bly draer van die lente...’
Daar is iets innig en teer in die wyse waarop die getye hulself feitlik óm die gestaltes van die vroue en moeders rangskik. In een groep skilderye is dit asof die vrou byna eteries in die omgeving wegvloei; in ander weer vloei die gestalte sterk en uitdagend belyn uit 'n omgewing van gesuggereerde oerwoudgeilheid. Saam groei vrou en ritmies-stygende lyn uit die aarde op, soms byna verstrengel in mekaar. Sy agtergronde suggereer gedurig lewenskragtige ritmes. Hy skilder 'n wêreld waarin die mens nog ‘in tyd’, in harmonie met die ritme van die ganse skepping leef. In ‘Lewensdeining’ gee hy hom heeltemal oor aan die heerlikheid van louter ritme. In spirale wat die liggaamskontoere van die engelagtige gestalte in ‘Lewensbloeisel’ herhaal, styg die ‘lewensritme’ lyne links van haar; regs gaan dit kelkvormig oop. Sy ‘Eva’ gooi haar arms vreugdevol vir die lewe oop; gehoorsaam stel sy haarself tot beskikking van die lewe. Seënend buig die boom (van die lewe?) oor haar, en die boog volg die lyn van die stralekrans om haar hoof. Lewe is heilig! Maar traag, peinsend oor die hele vraag wat die vrou en die lewe nou eintlik is, bly Adam nog lê. Want die vrou se skeppingsmag en vreugde, haar organiese gewaarwording, haar kosmiese bewussyn was vir die man, wat meer geneig was tot verwondering oor natuur- en lewensverskynsels, 'n misterie. Die man staan meer gespanne teenoor sy omgewing. Van God voel hy pynlik afgeskei en vervreem. Want in teenstelling met die skeppingsvreugde is die pyn van skeiding tussen God en skepping in sy siel geprojekteer. Daarom verlang hy na heling, na verlossing uit die skepping. En in hierdie verlange skuil 'n kiem van die dood. Want in teenstelling met die begrypende lewensaanvaarding van die vrou voel hy meer ‘ontuis’ in die wêreld. | |
[pagina 471]
| |
Die vrou bejeën hy met argwaan. Dat sy kan voortbring soos God (deur die oer-man as Demoon voorgesteld vanweë die skrikwekkende manifestasies van sy krag in natuurverskynsels) dit het hom met angs en 'n gevoel van onmag vervul. Die vrou en die geslagtelike bring hij in verband met die demoniese, die bose, en eindelijk word sy vir hom die sondige verleidster. Hierdie geslagsvrees van die man het grusaam kulmineer in die middeleeuwse jag op die hekse (geslagsgesellinne van Satan) en in ons eie tyd het die manlike prinsiep sy finale triomf behaal - en wel die sogenaamde ‘emansipasie’ van die vrou. Want so geslepe het die man sy beginsels propageer dat hij die vrou laat glo het sy is ‘vry’ toe sy haar eie waardes, natuurlikheid, skeppingsvreugde, organiese gewaarwording, intuïsie, spontaneïteit, teerheid, deemoed, verruil het vir syne: geweld, (wat sinoniem is met vernietiging) kritiek, analise, meganiek, hoogmoed. Betekenisvol is die skerp teenstelling wat die enigste manlike figuur op de uitstalling met die vroulikes vorm. Teenoor die vrou in haar natuurlike, onskuldige naaktheid, wat in haar omgewing versmelt om 'n organiese eenheid te vorm, is die geharnasde en gewapende Don Quichotte vasgevang in die dooie meganiek van die windmeulens wat vir hom so 'n reuse belangrikheid besit. In ‘Betowerde Woud’ gee hy weer gestalte aan sy idee van kosmiese eenheid. Sy bome is méér as bome; hulle is byna wesens. Dis asof hulle enige oomblik kan begin asemhaal en beweeg. (En sy mense is soms byna bome!) Hierdie ‘wesens’ van die betowerde woud, die paradys, wond opeens verskrik deur die ‘Verskyning van die Bose’. In ‘Inwyding’ maak Eva kennis met die Bose. Sy word ingewy in die prinsiep van ‘Niet-Zyn’. En nou is die harmonie vir goed versteur. Die wesens van die paradys kry definitiewer identiteite, en besete worstel hulle met mekaar in ‘Oerstryd’. Miel Roos se terughunker na 'n wêreld waarin die irrasionele vroulike waardes gegeld het in teenstelling met die manlike wêreld van die koue intellek, moet nie verkeerd opgevat word nie. Alleen die man wat geestelik volgroeid is en die wese van die vrou deurgrond het (byvoorbeeld Christus teenoor Paulus wie se geringskatting van die vrou sy geslagsvrees verraai) alleen so 'n man is geëmansipieer ten opsigte van sy oer-geslagsvrees. Hy besef dat die harmonie in die skepping versteur is toe die manlike prinsiep die vroulike geheel en al vervang het. Maar Miel Roos het sy laatste woord seker nog nie uitgespreek nie, want met sy ‘Getuies’ vra hy eintlik: ‘Wat is waarheid?’ Elke getuie verteenwoordig per slot van rekening 'n ander faset van die waarheid; elkeen getuig vir sy eie waarheid.
Johanna du Plessis |
|