| |
| |
| |
Inleiding
1. Ek het hierdie heruitgawe van die Patrjot-Woordeboek onderneem omdat ek glo dat die Suid-Afrikaanse Akademie met sy serie ‘Teksuitgawes’ 'n groot diens bewys aan die taalstudent deur op hierdie wyse vir hom toegang te verleen tot ons ouer bronnemateriaal. Daar word voortdurend deur dosente, en in taalkundige werke, verwys na ons ouer leksikografiese werke, maar weinig studente kry die geleentheid om hierdie werke ter insae te kry - die meeste biblioteke besit hoogstens een enkele eksemplaar en dié word nie uitgeleen nie. Daarbenewens het sommige stukke nog nooit in druk verskyn nie. Vir behoorlike (vergelykende) bronnestudie is dit noodsaaklik dat hierdie ouer monumente in die Afrikaanse taalgeskiedenis toeganklik moet wees vir elke student van Afrikaans, wat ongetwyfeld ook moet bydra tot 'n duideliker begrip van Afrikaans in sy Dietse verband.
Daar bestaan lank reeds groot behoefte aan 'n behoorlike historiese grammatika van Afrikaans, en dit kan bespoedig word met die beoogde reeks teksuitgawes, waardeur die nodige bronne beskikbaar gestel kan word.
2. Die onderhawige werk, die Patriot-woordeboek, was die vervulling van art. XI van die Genootskap van Regte Afrikaners se werkprogram. Die Patriotmanne, en veral die leier, ds. S.J. du Toit, het die samestelling van 'n woordeboek van die Afrikaanse taal uit die staanspoor gesien as 'n ideaal, maar hulle het ook besef dat dit 'n groot taak was wat nie meteens volbring kon word nie.
Intussen was verskeie persone besig met die saamstel van woordelyste. Na my kennis is Antoine Nicolas Ernest Changuion (1803 - 81) die eerste wat 'n dusdanige lys aangelê het. As professor vir klassieke en moderne tale aan die pasgestigte Zuid-Afrikaansche Athenaeum (later Universiteit van Kaapstad) het hy hom, in sy ywer om Nederlands te bevorder in Suid-Afrika, toegelê op die versameling van ‘barbarismes’, dus van ‘afwykende Nederlandse taalgebruik’. In 1844 (2de druk 1848) publiseer hy sy belangrikste werk: De Nederduitsche Taal in Zuid-Afrika hersteld, zynde een handleiding tot de kennis dier taal, naar de plaatselyke behoefte van het land gewyzigd. Dis in hoofsaak 'n grammatikaboek, maar agterin verskyn sy bekende Proeve van Kaapsch Taaleigen. Dit beslaan sowat 20 bladsye en bevat woorde wat betrekking het op die taalgebruik in Kaapstad. Met hierdie werk het hy nie net die grondslag gelê vir woordeboekmakery in Suid-Afrika nie, maar hy het ook die weg aangedui vir die Afrikaanse woordondersoek, dus vir 'n studie per se van Afrikaans, 'n taal wat toe reeds so ver ontwikkel het dat hy wetenskaplike aandag verdien het. [L.W.: die werk en betekenis van Changuion en ander voorlopers word breedvoerig deur my behandel in een of twee verdere dele wat eersdaags onder die titel Leksikologiese arbeid tot 1900 in hierdie serie sal verskyn.]
Na Changuion verskyn daar korter of langer ‘woordelyste’ van o a. D.U.M. (English and Cape Dutch, 1872), H.A.L. Hamelberg (Het Nederlandsch in den Oranje-Vrystaat, 1879), Theod. M. Tromp (De Afrikaansche Taal, 1879), F. Baron van Hogendorp (in 'n bespreking van Tromp se boek, 1879), adv. Wessels (Cape Dutch, 1880), H.C.V. Leibbrandt (Het Kaapsch Hollandsch, 1882), C. Stoffel (Eene wettige dochter der Hollandsche Taal, 1882), N. Mansvelt (Kaapsch-Hollandsch Idioticon, 1884), J. te Winkel (Het Nederlandsch in Noord-Amerika en Zuid-Afrika, 1896 - hy het veral geput uit Changuion en Mansvelt), ds. Willem Postma (Afrikaanse woord- | |
| |
gebruik, 1896 - in ms.), D.C. Hesseling (Het Hollandsch in Zuid-Afrika, 1897), G.J. Boekenoogen (Afrikaansch en Noord Hollandsch, 1903).
Tot rondom 1900 is voorgaande die belangrikste, moontlik die enigste, wat op die gebied van die Afrikaanse leksikologie iets gedoen het. Tot dusver weet ek nie van ander stukke nie, behalwe dié van A. Pannevis. Hieroor iets meer, want dit is 'n belangrike vonds.
In sy Afrikaanse Spreekwoorde en Verwante Vorme (Bloemfontein 1924, p. 3) skryf D.F. Malherbe: ‘Pannevis is in 1884 oorlede, sodat sy taamlik lywige versameling afrikanismes, in handskrif bewaar na sy dood deur Ds. S.J. du Toit en teenwoordig in besit van Dr. J.D. du Toit, waarskynlik al in die sewentige aangelê is. Hoewel dit die spraak van Pêrel en omgewing weergee, met hier en daar 'n los strooisel van Onderveldse eienaardigheid, en vandag hoofsaaklik historiese waarde het, bly dit 'n vername verdienste van Pannevis met sy praktiese kennis van 'n hele aantal Wes-Europese tale dat hy die pad geopen het vir belangstelling in Afrikaans met suiwer wetenskaplike oogmerk.
Die Hs. self is onafgewerk; menige kopstuk verskyn sonder aanvullende aantekening, ook daar waar 'n verklaring gebiedend was, terwyl meer as een aantekening onklaar bly lê het. Ook kom 'n mens teë enkele aanvullinge in potlood in die handskrif van Ds. S.J. du Toit wat die versameling noukeurig gelees het by die samestelling van die Patriot-woordeboek. Die vier eerste bladsye van die Hs. wat uit ongeveer 370 bladsye (7 1/2 × 5 duim) bestaan, het verlore geraak. Ek herinner my nog dat by eerste kennismaking daarmee ongeveer 16 jaar gelede die hele eerste bladsy gehandel het oor die kindertaalwoord a.’
Ook S.P.E. Boshoff verwys hierna in sy artikel ‘'n Standaardwoordeboek van Afrikaans’ in die Gedenkboek ter ere van die Genootskap van Regte Afrikaners (Potchefstroom, 1926). Op bl. 311 skryf hy: ‘Arnoldus Pannevis, die man wat so veel te doen gehad het met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875, het 'n lys aangelê van Afrikaanse woorde, woordvorme, woordbetekenisse en woordverbindinge, 'n lys wat totnogtoe nie in druk verskyn is nie, waarvan die manuskrip aan Dr. J.D. du Toit behoort en wat by Prof. J.J. Smith berus.’ Dan verwys hy na D.F. Malherbe (hierbo aangehaal).
Intussen het die bekende snuffelaar, prof. P.J. Nienaber, wat self nie hierdie ms. kon opspoor nie, my 'n faksimilee laat kry van 'n brief van Mansvelt van 9 Junie 1884, waarin hy aan Pannevis o.a. skryf: ‘Daar 't U tot mijn leedwezen onmogelijk schijnt te zien (lees: zijn), U arbeid zelf te voltooien, zal ik gaarne de bouwstoffen, door U verzameld, overnemen om ze voor een mogelijke tweede uitgave van mijn Idioticon te verwerken. Met 't debiet hiervan gaat 't tot heden maar zwak; toch wil ik nog niet aan de zaak wanhopen ... Van de voordeelen van de gehoopte tweede uitgave zal ik U natuurlijk gaarne 't U toekomend deel afstaan.’ Aan kollega Nienaber my dank hiervoor.
Hierdie ‘verlore lys’ (soos Nienaber dit noem) het ek eindelik gedeeltelik teruggevind! Met die vriendelike bemiddeling van mnr. J. Willemse (Universiteitsbibliotekaris van die Univ. van Suid-Afrika) het mej. Anna Smith (dogter van wyle prof. J.J. Smith en tans bibliotekaresse aan die Openbare Biblioteek van Johannesburg) weer 'n keer haar vader se ‘papiere’ gefynkam en daaronder het sy 'n vyftal dun skrifte gekry, waarin haar vader in keurige handskrif die ‘Bouwstoffen’ van Pannevis oorgeskryf het. Maar ook hier ontbreek die eerste 4 bladsye. Intussen het prof. S. du Toit van Potchefstroom onderneem om weer sy vader (wyle Totius) se nagelate stukke te fynkam; moontlik diep hy die verlore oorspronklike ms. op.
Ek wil langs hierdie weg my opregte dank betuig aan mej. Anna Smith vir haar vriendelike medewerking en ook vir die toestemming om eventueel die ‘Bouwstoffen’ te publiseer. Intussen wil ek vertrou dat prof. S. du Toit se soektog nie tevergeefs sal wees nie, en by voorbaat my dank aan hom.
Uit die datum van Mansvelt se brief (9 Junie 1884) en die een sinnetjie ‘Met 't
| |
| |
debiet hiervan gaat 't tot heden maar zwak’, is dit duidelik dat hy nie Pannevis se ‘Bouwstoffen’ ter insae gehad het voor die verskyning van sy Idioticon nie, 'n feit wat verder bevestig word deur 'n vergelyking van die twee lyste.
3. In sy ‘Foorberig’ tot die Patriot-woordeboek stel S.J. du Toit dit duidelik dat hy wel van Pannevis se nagelate lys gebruikgemaak het: ‘Intussen erken ons dat ons heel wat hulp gehad het fan uitfoerige antekeninge wat gekry is onder di nagelate geskrifte van o'erlede Mnr. A. Pannevis, een fan di grootste taalgeleerdes wat Suid-Afrika besoek het en wat di eerste stoot gegé het an di beweging om Afrikaans tot skryftaal te erken en te beoefen’ (ald., p. v).
Dieselfde paragraaf lui voorts: ‘Oek het ons heelwat geput uit die “Idioticon” van Mnr. N. Mansvelt, toen Professor in Moderne Tale an di Stellenbosse College, hoewel hy destyds mar kort in Suid-Afrika was en nie feul gerys het ni; sodat syn gegéwens mar afkomstig is van syn leerlinge, wat hom blykbaar heel wat op die mou gespelde het, sodat syn werk met omsigtighyd moet gebruik worde.’
Wanneer al hierdie leksikologiese werk eers gepubliseer is, behoort dit 'n interessante studie te wees om vas te stel in hoeverre die Patriot-woordeboek ook van ander bestaande lyste gebruikgemaak het. 'n Wins-en-verliesrekening behoort interessante lig te werp op S.J. du Toit en andere se wetenskaplike benadering.
Aangesien voorgaande eintlik die stof vir 'n volgende uitgawe is, soos ek reeds genoem het, sal ek my verder net by die Patriot-woordeboek bepaal.
4. A. Die Patriot-woordeboek het in 1902 verskyn en wel onder 'n tweetalige titel, maar eers in 1904 het Part II: English-Cape Dutch verskyn. Die eerste deel, Afrikaans - Engels, beslaan 'n Foorberig / Preface van 6 bladsye plus die ‘woordelys’ van 276 bladsye in dubbelkolom. Hierteenoor beloop deel II 355 ble.
B. Spelling. Hieroor skryf die samesteller: ‘Sofeul molik het ons di regel gefolg “skryf soos jy praat”.’ Die konsekwensie hiervan is dat hy ‘di woorde wat in Hollanse Woordeboeke foorkom onder C hiir ferplaas onder K, soos “Konstitusi”, of onder S, soos “sement”; woorde op Qu kom hiir onder Kw; en Z onder S.’ Vir sover ek kon vasstel, is hierdie bepaling konsekwent deurgevoer. Dis interessant dat die reëling insake C/K/S, Qu/Kw, X/Ks en Z/S (behoudens in wildvreemde woorde) nog vandag deur die Taalkommissie toegepas word. Ongelukkig het ons, in hoofsaak om historiese oorweginge, nie voortgegaan met die v/f-bepaling nie - hoeveel sorge sou die Afrikaansspeller nie hierdeur kon gespaar gewees het nie. Miskien hak ons nog eendag die knoop deur en skryf net f!!
‘Dan het by ons di ei en y persiis diselfde uitspraak, daarom gé ons dit almal onder y.’ Ook in hierdie geval is dit te betreur dat ons nie voortgegaan het met die Patriot-spelling nie, want wesenlik sou dit (behoudens om historiese redes) geen verskil gemaak het nie.
Woorde soos eier, eigenaar, eigendom, eina, einde, eindelik, ens. moet nou gesoek word onder Y: y'er, ygenaar, ygendom, yna, ynde, yndelik, ens. Hierdie volgorde sou 'n mens dan ook in die gewone alfabetiese opeenvolging verwag, soos by afgekruipte, afgekryde, waar y volg na ui, maar juis in hierdie opsig vind ons die minste reëlmaat. In die volgende geval (nog op dieselfde bladsy) kom y direk na e (soos ei na e): afgelege, afgelyde, afgelekte! 'n Bietjie verderaan: afgeroste, afgeryde, afgerykte, afgeruilde. Hierdie opmerking geld ook vir -f. Trouens, hierdie on-alfabetiese rang-skikking is een van die vernaamste gebreke van hierdie werkie, want daar is haas geen bladsy waar die alfabetiese orde van die lemmas korrek is nie.
Ten opsigte van die klinkers vorm die volgende die grondslag: ‘Konsekwent ferdubbel ons nooit 'n klinker in 'n op (sic!) lettergreep nie, dis dan fanself lang; en ewe konsekwent gé ons in geslote lettergrepe di lange klanke an met ferdubbeling fan diselfde klinkers, dus bat baat, met meet, dip diip, op oop, ur uur.’ Ten spyte van hierdie stelling (wat nogal betreklik konsekwent toegepas is) het daar heelwat ‘foute’ ingesluip, soos by op in voorgaande aanhaling.
| |
| |
Verder wys ek op die volgende: Die voorvoegsel aan- verskyn betreklik konsekwent as an-: anbeeld, anbesté, anbid, ens.; ook amby. Net op bl. 1 kom woorde met aa-voor.
Die bw. ver word van vir soos volg onderskei: fêr x fer. Selfs vandag nog is daar baie wat vêr skryf, wat nogal handig kon wees in verrykend en verreikend! (In die Patriotspelling sou dit só lyk: ferrykend x fêrrykend.)
Naas batji (lees: baatji) verskyn wel onderbaatji. S.J. du Toit sou seker bewus gewees het van die herkoms van baatji (<badjoe) en dat -tji dus nie 'n verkleiningsuitgang is nie, maar moontlik was dit 'n momentane vergissing. Hierteenoor skryf hy wel patje (= patji), verkleinwoord van pa, en ook potji bedoelende pootji. Moontlik was die redenasie dat potji nie die verkleinwoord van pot kon wees nie, want dan skryf hy pottji, nes plattji. Vandag skryf ons poot-jie maar pa'tjie.
Waar 'n intervokaliese konsonant uitgestoot is, word dit met 'n apostroof aange= dui: fo'el, aasfo'el, aasfo'elkrans (ek is verbaas dat hy hier dubbel-a skryf!), stoot= wa'entji, o'erbly, o'erbluf, o'erdag, ens. By saal (Eng. saddle) word die uitstoting nie aangedui nie. Naas ma'er word mager gegee, maar verder: ma'erhyd/ma'erte, ma'er= man, ens. Dit word egter nie by leuenaar, ens. gedoen nie.
Toring verskyn as wisselvorm van toren, maar daarnaas net torenklok. Hierteenoor is dit deurgaans doring, doringboom, doringdraad; karring, karringmelk; maar tog lantern. Interessant is die spelling lostorn (= -torring), maar torn ontbreek as los= staande woord. Dit verbaas 'n mens dat jy nie reeds die vorm torring hier kry nie.
Sou die vorme leunsriim, reuns (hilly country), reuns (backwards), euntji x uintji en selfs seuwe x sewe dui op 'n besondere neiging in die destydse uitspraak? Hoeveel het daarvan oorgebly? Hiervoor kan die leser S.A. Louw se taalkaarte raadpleeg.
Perbeer en perbeerslag (= probeer) word nog dikwels gehoor. Orlosi weerspieël 'n klankwettige uitspraak. Vandag word oorlosie x horlosie erken (vgl. my Die korrekte woord vir oorlosie, hotel, oordentlik, ens.).
Die ontronding soos in stukvat tot stikfat was vermoedelik vroeër meer verbreid as vandag. Tog moet die saak verder ondersoek word. Stefasi (= stoffasie) is 'n mooi voorbeeld van die verdowwing van 'n klinker sonder hoofklem, 'n verskynsel wat voortdurend in die Afrikaanse uitspraak voorkom. Prijeel (= prieel) sluit ook aan by ons uitspraak: fejool, pensejoen, spejoen, skerpejoen, ens. Dis duidelik dat S.J. du Toit 'n oor gehad het vir die Afrikaanse uitspraak, maar soms het die Nederlandse skryftaaltradisie hom in die pad gestaan, soos by lostorn.
Verder skryf hy steeds an, kopye, mar, oek; follens, Hollans.
C. Woordeskat. Die samesteller skryf: ‘Ons gé egter ongeveer 16,500 woorde, en daaronder ruim 1,100 suiwer Afrikaanse woorde, dit wil sê woorde wat in Hollans ni foorkom ni, of wat in Hollans ander betekenisse het, en di gé ons met skuinse letters’ (ald., bl. iv). Ek het uit hierdie lysie ‘suiwer Afrikaanse woorde’ 'n steekproef gemaak en bespreek enkele aspekte daarvan.
a) Wel Nederlands. Dis duidelik dat S.J. du Toit nie 'n diepgaande kennis van veral die Nederlandse volkstaal en dialekte gehad het nie. Die meerderheid van die woorde wat hy as suiwer Afrikaans bestempel, kom wel in Nederlands voor. Moont= lik het die toentertydse Nederlandse woordeboeke hom 'n bietjie in die steek gelaat, sodat hy nie oral sy stelling kon kontroleer nie. Ek het hiervoor in hoofsaak Van Dale se Nieuw Groot Woordenboek (7de druk 1950) gebruik, en dis besmoontlik dat Van Dale later woorde opgeneem het wat in sy vroeër drukke (die eerste is van 1864) of in ander woordeboeke ontbreek het.
Aan die hand van Van Dale vind ek dat die volgende ‘suiwer Afrikaanse woorde’ tog ook in Nederlands voorkom: afsloof, agtelosig, agternaam, basta, biesmelk, blaker, boer, bol, dubbeltji/duwweltji, fersiin (= herstel), flentertji, flenters, flous (moontlik via Ndl. uit Hgd.), flussiis, fo'el, foorslag (vgl. Boshoff-Nienaber), gemak= huisi, glad (entirely, fully), inboet, inkalwe, jammer, jarig, jawoord, jekkert, kabaai, kapittel, knapsak, laksman (via Ndl. uit M.), miliis (milie reeds Mnl.), moesi
| |
| |
(Ndl. moesje), mofeer/moffeer (vgl. Boshoff-Nienaber), mors (-dood) - Ndl. sedert 17de eeu-, muishond, neul, omloop, omskyn, omsingel, onverskillig, onordentelik, onweer, ou-lap, pikel, plattji, prijeel/prinjeel, saffraan (via Ndl. uit Arab.), sambal (via Ndl. uit M.), sambok, sakreet = sekreet, siimsleer (seems- ook Mnl.), skoelapper, skorri-morri, smaak (dit - my dit gaan reent), soebat (via Ndl. uit M.), stink, weer= wolf.
b) Tog van Nederlandse herkoms. By baie van die volgende groep het ons nie volkome sekerheid wat die etimologieë betref nie, maar volgens die Afrikaanse Etimologieë van Boshoff-Nienaber is die Nederlandse herkoms tog duidelik of hoogs waarskynlik: dalkiis (< dalk < dadelik < dadelijk < datelyck; hou verband met daad), danki, dophou, Dopper (Mnl. dorper), hekelpennetji, hulle/hul (wel uit Ndl. hun= lieden/hunlui), jou (= boek; reeds Hollands voor Afr. tyd; vgl. Boshoff-Nienaber), kaings (waarsk. Ndl. kaan), konkelooi (tog Ndl. verband), konsuis, kyl (= pluishoed), mos (Ndl. immers), ongestorwe weduwee (Ndl. onbestorwe = vrou van wie die man nog lewe), ou/outji, ouma/oupa (sal wel verband hou met Ndl. oma/opa), sens/seis (Ndl. zeis), seun, seur, skoppelamaaia = skoppelmaai (waarsk. Ndl.), skramskoot (schamschoot by van Riebeeck; wel uit Ndl. schram = ligte verwonding; het die -r-uitgeval by vR? Wat verbaas, is dat Du Toit nie skrams opgeteken het nie), skut, smous (?), stroeweling = struweling, tanni, wa'enhuis, watter (wat voor; eienaardig dat waffer ontbreek in die Patriot-woordeboek).
c) Met ander betekenisse. S.J. du Toit het hierdie tipe as suiwer Afrikaans geklassifiseer omdat hulle betekenisse verskil van dié in Nederlands, maar die herkoms is tog onmiskenbaar Nederlands: amper, hot (Ndl. haar, en andersom), kapok = sneeu, klip, kuier (besoek aflê), neuk, opneuk, renons (via Ndl. uit Fr., maar in daardie tale slegs i.v.m. kaartspel).
d) Kleiner verskille. Hierdie groepie kon miskien net so goed onder a. tuisgebring word, maar omdat daar soms effense vormverskille bestaan, groepeer ek hulle apart: eenders (Ndl. eender), harslag (uit hartslag; vandag in Afr. doeblette), koggel (dial. Ndl.), krink (Ndl. krengen), misski (vermoedelik via Ndl. uit P.), oorkrawwetji (by vR 'n vorm met -b-), ou-ta (ta ook Ndl.), perbeerslag, poedelnakend (Ndl. poedel= naakt), roei (Ndl. roede = stert van komeet), skaam (Ndl. schaamachtig), skai = skaai (Ndl. schaden, ouer schay), wenakker (Ndl. wendakker).
e) Ander herkoms. Ofskoon die samesteller in die Foorberig sê dat by woorde van vreemde herkoms die taal van herkoms aangedui word, is dit net hier en daar gedoen. By die volgende gee ek die (waarskynlike) herkoms aan, soos meestal te vind by Boshoff-Nienaber: barlewiit (E.), dan-en-wan (Hgd.), disnis (E. distance), eksiperfeksie (gedeeltelik reduplikasievorm; moontlik E. perfection), froetangs (MP. uit P.), frok (E.), gansegaar (waarsk. Hgd.), gelling (E.), gogga (H.), jentoe (Indies-Eng. uit P.), jummers (hou verband met Ndl. immers; die Pw. gee nie jimmers nie, wel al= jimmer), kaboemiliis (Zulu uit Boesmans), kapok (wel Ndl. uit M., maar met ander betekenis), karnalli (F.), kiri (H.), lemoen (Oosters), luiters (uit Luthers), maai
(waarsk. MP.), maaster = weesheer (E.), okshoof (E.), onderbaatji (ss. met baatji uit M. badjoe; kom ook in Ndl. en by vR voor); oorlam (M.; snaaks dat oorlams nie opgeteken is nie), oorwaks (Hgd.?), pirinki (M.), pisang. (M.), ramki (P.), riil (E. reel = dans), sambreel (MP.), saroet/seroet (M.), setlaar (E.), slipper-maak (wel uit E. slipper), skoolplaas (vert. van E. missionary station?), splits (E.), strawasi (dial. Ndl. uit Hgd. uit It.), tamaai (P.), tammeletji (F. tablette), tender (E.), terentaal (uit Terra Natal), tjou-tjou (E.), waks = skoenpoets (E.), yna=eina (H.?), yts = aits (H.?).
Die belangstellende kan gerus self kyk wat Boshoff-Nienaber oor hierdie vorme sê. Dit geld ook van die volgende groep.
f) Etimologie onseker. By enkele van die volgende vind ons 'n moontlike verklaring by Boshoff-Nienaber, maar die afleiding is nie altyd seker nie; daarom dui ek hulle liefs aan as onseker: halfnatji, katswink, kluitji, korrelkop, makou, miirkat, nartji, opdrifsels, ot, otji, paaiboeli, pappelellekoors, plat-anna, poliits, rondawel, skuiwer=
| |
| |
gat, spaander = weghardloop, spens, steeks (Ndl.?), tjali (MP.?), tjap (Oosters?), koorsblaar (E.?).
g) Eiegoed? Na aftrekking van die voriges uit die steekproef, bly die volgende oor as moontlike eiegoed, ofskoon die (waarskynlike) Nederlandse (dialektiese?) inslag tog dikwels duidelik is: basboom (acacia; black-wattle), dri-wiler, flêrts = oorveeg (klanknabootsing?), goeters, hans (hanslam), hiirdi (Ndl. deze), hoekom, karkatji (vermoedelik eufemisties vir Ndl. strontje), kekkelbek, kili, klits (ww.), klynbaas, knelter = kniehalter (Ndl. kniepoten), malkop, miskruier, na'elskraap, naasagter, naasfoor, naas-o'er-morre, oleeuenboom/-hout, opbrand (to force payment), opdel (blow with fist; eufemisme?), opdraand, padkos, patji (= pa'tjie = pappie), pleks, rant (= heuwel), raps, rats, rekker (voëlrek), remhoogte, Rooinaat/Rooinek, sam= balbroek, Slamaaier, slytig, smeerware/smeerwinkel (kruideniers=), soetskeel, speeklos (eienaardige ss.; kyk Boshoff-Nienaber), stokkiesdraai, struis (uit strooi= huis; hiernaas stroois), suikerfooltji (-fo'el-te verwagte!), takhaar, twaalfuur (mid= dagete), uitbaster, wawiil-ore, windam, wurgsiikte, wynfligi.
h) Nog gebruik lik? Dit sou interessant wees om te weet hoeveel van die volgende nog êrens in ons spraakgebruik voorkom: bode (= afslaer), dwarsdrywer (dwars= trekker), faikonta (kastig), fessie (E. fashion), fiêrig (self-conceited), Filippyn (negro= fiel), flêrsi (dirty, profligate woman), gedagte-kry (onthou), lons (to tame a horse), meestergoed (medisyne), o'erres (res), omdom (oorhaal, opbrand (force payment), opdel (blow with fist), reuns (hilly country), reuns (backwards), rukslag (a while), settel (van setlaar), slipper-maak (escape secretly), smoor (hard lines), sosys (via Ndl. uit Fr.), tjoep (done for), witlag (laugh treacherously).
Sommige kom wel in WAT voor, andere nie, bv. afsloer (to waste one's self), apeflooi (nobody), beskaamte (skaamdele).
i) Uit die Seemanstaal: kombuis, kooi(goed).
j) Toegif. Interessantheidshalwe verstrek ek die volgende lysie sonder kommentaar: geselsery (confidential talk), haakplek (place of sticking fast), hekelpennetji (hook-pin), ontstoke (bereft, deprived), opgenome (taken up with) - na al die jare leef lg. twee se foutiewe gebruik nog voort! -, skrap (tide - vermoedelik ‘tight’ -, scarcely fitting; skraps ontbreek), tamaai (very large - vulgar; is dit werklik in vulgêre sin gebruik?).
Aan woorde vir ‘pakgee’ ontbreek dit nie; vgl. uitfel, uitraps, uitwiks, maar uitlooi ontbreek.
Inkonsekwensie. Dat hierdie eerste proewe van 'n breedvoeriger ‘sakwoordeboek’ van die Afrikaanse taal heelwat inkonsekwensies sal laat sien, is begryplik. Dis maklik om agterna te kom met kritiek, maar elkeen wat hom al besiggehou het met die leksikografie, weet dat dit 'n moeilike taak is; hoeveel te meer nie in 'n tyd toe ‘woordeboekafskrywery’ nog nie 'n fyn kunsie geword het nie, al het die samesteller Mansvelt en Pannevis se werke ter insae gehad! Ek het die grootste eerbied vir hierdie baanbrekerswerk en daarom moet die volgende opmerkinge nie in neer= halende sin gesien word nie. Vergelyk die slot-paragraaf van die Foorberig: ‘En hiirmé stuur ons di nuwe werk di wêreld in. Fer elkeen wat weet wat 'n moeielike werk dit is om 'n woordeboek te maak, feral di eerste woordeboek fan 'n taal, sal dit wel ni nodig wees om ferskoning te fra fer gebreke ni. Maar daarom temeer roep ons elke welmenende beoordelaar op om ons liwers te help met ferbeterings as om fout te soek en te fit.’
a) Alfabetiese indeling. Ek het reeds daarop gewys dal daar feitlik geen enkele bladsy is waarop die alfabetiese rangskikking van die lemmas volkome korrek is nie. Op enkele plekke het die samesteller dit self raakgesien en dan by wyse van 'n voetnoot aangedui watter verskuiwing daar moet gemaak word. Aanvanklik het ek ge= meen om dit so te laat, veral vanweë die kosbare tyd wat die regstelling sou vereis, maar omdat dit vir die gewone leser soms onmoontlik sal wees om te vind waarna gesoek word, het ek dit tog maar verander. As ek daaraan dink dat in die meeste van
| |
| |
ons leksikologiese publikasies daar tog nog voorbeelde van hierdie tipe fout voor= kom, kan ek maar net hoop dat ek darem die meeste raakgesien het. In hierdie verband wys ek daarop dat ek f, dus ook waar dit v sou wees, streng in alfabetiese volgorde onder f geplaas het. Dit geld ook van y, wat ek nou konsekwent plaas waar ons y sou verwag, ook waar dit ei weergee. Verder het ek opvallende spel- of setfoute verbeter.
b) Afleidinge. Dit gebeur meermale dat die attributiewe vorm van die verl. dw. gegee word, bv. afgefatte, sonder dat die grondvorm (i.c. affat) gegee word. Dit sal wel aan vergissing te wyte wees, omdat Du Toit soms 'n ander werkswyse gevolg het as die hedendaagse woordeboekmaker.
Soms word 'n vorm, bv. aflig, aangedui as tipies Afrikaans, terwyl dit nie by ver= wante vorme gedoen word nie, bv. afgeligte. In hierdie opsig is die woordeboek besonder inkonsekwent. Hieraan het ek niks verander nie.
c) Engels - Afrikaans. Waar in die eerste deel ruim 1100 woorde in skuinsdruk verskyn as synde ‘suiwer Afrikaans’, daar ontbreek hierdie tipe aanduiding in deel II heeltemal. Ek het 'n steekproef uitgevoer en o.a. afbeen, afdam, afdraand, affoeter gekontroleer. So word affoeter aangegee as ‘to bungle, to botch’, maar in deel II soek jy tevergeefs onder lg. twee na ‘affoeter’. Hierteenoor gee hy wel orange: limoen, oranje; en onder lime: fo'ellym, kalk, limoen; lime-juice: limoensap, maar lemmetji ontbreek soos dit in deel I lui: lemmetji: lime. Dit gee my die indruk dat by deel II eenvoudig gebruikgemaak is van 'n Engels - Nederlandse woordeboek, sonder om ‘suiwer Afrikaanse’ woorde daarby te betrek. Hierdeur het deel II vir ons weinig waarde vir bronnestudie en daarom word dit nie ingesluit in hierdie uit= gawe nie; dit sou m.i. ongeregverdigde koste meebring.
5. Grondlegger
Met die Patriot-woordeboek het ds. S.J. du Toit die belangrikste grondlegger van die Afrikaanse spellingsisteem geword. Dit sluit nou aan by die spelling van Pannevis, maar dis veel Afrikaanser as dié van Mansvelt. Hiervoor het Du Toit reeds in 1874 voorbrand gemaak met sy reeks artikels oor Afrikaans in die Kaapse koerant De Zuid Afrikaan, maar dan onder die skuilnaam ‘Ware Afrikaner’. Na aanleiding hiervan rig ‘Klaas Waarsegger, Jnr.’ (C.P. Hoogenhout) 'n brief aan die blad en vra dat daar tog ‘vaste regels, hoe een mens mot spel’ moet kom. Hierop het Ware Afrikaner sewe reëls voorgelê:
1. | ‘Skryf soos jy praat.’ |
2. | Eiename en vreemde woorde behou hulle spelling. |
3. | Z word vervang deur s, behalwe in gevalle onder 2. |
4. | In oop lettergrepe word 'n klinker nooit verdubbel nie. |
5. | Die wegval van 'n medeklinker word met ' aangedui. |
6. | Daar word 4 e's onderskei: a) en b) ‘die gewone e en skerpe é’, soos onderskeidelik in die twee lettergrepe van gegé; c) ‘die dowwe ê’, soos in hê, pêrd, wêreld; d) die ‘korte è’ in nè. |
7. | Sch word vervang deur k. |
KW betuig sy instemming hiermee, waar wys op WA se onooglike ma'ka'er. Dit lei daartoe dat WA later die' net gebruik waar die uitspraak dit vereis: ho'e, da'e (en tog skryf hy oral o'er).
Uit die brief en latere werk is dit duidelik dat hy, behoudens reël 2, oral ch ver= vang deur g en au deur ou. Stom w val weg, behalwe waar dit deur u voorafgegaan word: leeu, pou, vrou x nuws, ruw, uw. Slot-d word egter behou: hand, tand. Mettertyd word (steeds behoudens reël 2) f en v net deur f weergegee, ei en y net deur y. So het hy algaande tot 'n skryfsisteem geraak soos eindelik konsekwent toegepas is in die Patriot-woordeboek.
Voorgaande was nie net die eerste proewe van spelreëls vir Afrikaans nie, maar dit
| |
| |
het ook in later jare die grondslag vir ons spelling uitgemaak. Ongelukkig het ons intussen die f/y-spelling prysgegee, maar gelukkig het ons weer die i-klank in geslote lettergrepe met ie weergegee. Feit bly dat S.J. du Toit groot insig in ons spelling= probleme geopenbaar het en dat hy vir ons die rigting aangedui het. Hiervan sê T.H. le Roux (vgl. sy artikel in Gedenkboek) o.a.: ‘Hier was nou tenminste 'n bruikbare sisteem, wat 'n end kon maak, en grotendeels gemaak het, aan die inkonse= kwensies en reëlloosheid van vroeër (ald., bl. 259). En verder: ‘Op meer as een punt is die spelling van hierdie tyd af te keur ... In sommige gevalle is daar nie genoeg reke= ning gehou met taalvorme buite die naaste gebied van die redaksie nie, of met wat as die algemeenste beskou mag word nie. Die merendeel van die destydse spelreëls geld, hoewel anders geformuleer, egter ook vandag. Sommige is prysgegee omdat hulle nie deug nie, of gewysig. Ander sou bes moontlik vandag reeds ingang gevind het, as dit nie was dat die orgaan, die Patriot, in die laaste jare van sy bestaan haas alle invloed verloor het deur sy politieke kleur nie. So 'n geval ag ek f i.p.v. v’ (ald., bl. 264).
Dat ds. S.J. du Toit goed waargeneem het, blyk onder andere daaruit dat hy onderskei tussen doeblette (afpars x afpers), soms 'n dubbelspelling gee waar hy blykbaar nog twee uitsprake verneem het (ma'er x mager, euntji x uintji) en dat hy veral net die Afrikaanse spelling gee waar hy nie ook 'n ander vorm gehoor het nie (doring, karring, ens.). Dat hy soms misgetas het, lê voor die hand, maar desondanks het hy vir hom 'n blywende monument geskep deur te begin met die sistematisering van die Afrikaanse spelling. Dis 'n moeilike taak wat nie deur een man alles afge= handel kan word nie, getuie waarvan die breëre Afrikaanse Taalkommissie wat nou al meer as 50 jaar voortdurend daarmee besig is!
‘Wat ons gé is egter ni 'n uitfoerige woordeboek ni; ons het ons toegeleg op korthyd gepaard met folledighyd, om 'n handige sakwoordeboek te kry’ skryf Du Toit in die Foorberig (bl. 111), en daarmee erken hy self die onvolledigheid van sy woordeboek; daarom sal dit ook onvanpas wees om op leemtes in die omvang te wys. (Die belangstellende leser kan S.P.E. Boshoff se meergenoemde artikel in die Gedenkboek, bl. 314 e.v., naslaan vir 'n betreklik volledige samevatting van wat in 'n groot woordeboek verwag word - maar Du Toit het nie probeer om 'n groot woordeboek saam te stel nie!) En tog het hierdie Patriot-woordeboek, nes Mansvelt se Idioticon van vroeër, baie jare lank die bron gebly waaruit woordeboekmakers geput het. En daarvoor verdien die samesteller ons blywende dank.
| |
Bronne
Boshoff, S.P.E. & Nienaber, G.S.: Afrikaanse Etimologieë (S.A. Akademie vir Wet. & Kuns, Pretoria, 1967) |
Changuion, A.N.E.: De Nederduitsche Taal in Zuid-Afrika hersteld (J. van der Vliet, Cz., Rotterdam, 2de druk, 1848.) |
Gedenkboek (ter ere van die Genootskap van Regte Afrikaners), uitgegee deur die Afrikaanse Studentebond, ‘Die Weste’, Potch., 1926 |
Mansvelt, N.: Proeve van een Kaapsch-Hollandsch Idioticon (Van de Sandt de Villiers en Co., Kaapstad, 1884) |
Nienaber, G.S.: Taalkundige belangstelling in Afrikaans tot 1900 (Afr. Pers-boekhandel, Johannesburg, 1950) |
Pannevis, A.: Bouwstoffen (ms.) |
Patriot-woordeboek/Dictionary (D.F. du Toit & Co., Paarl, 1902) |
Van Dale: Nieuw Groot Woordenboek der Nederlandse Taal (Nijhoff, 's-Gravenhage, 1950) |
|
|