Liefdadigheid neem egter nie al die tyd van hierdie talentvolle vrou in beslag nie. Sy had 'n ontwikkelde kunssmaak, soos elke besoeker van die Strandstraat se museum vandag nog kan sien. Op volmaakte wyse het sy die honneurs waargeneem in haar smaakvol ingerigte woning en sy het ook 'n merkwaardige konversasietalent gehad. Malan getuig:
‘Dit was asof daar 'n soort van magnetisme om haar persoon was, 'n geheimsinnige, betowerende invloed - die uitvloeisel van 'n kragtige, selfbewuste gees.’
Sy verkeer op intieme voet met goewerneurs, eerste ministers en ander hooggeplaaste amptenare, terwyl ook hoë besoekers uit die vreemde na haar woning kom. Maar sy vergeet die eenvoudige onbevoorregtes nie en haar hart is ruim genoeg om selfs op te tree as pleitbesorgster vir die Maleiers, as hul moeilikheid het oor 'n kerkhof. Deur haar bemiddeling word die Kasteel as historiese monument vir die nasie gered en sy word erken as ‘die draagster van die publieke gewete’, waar dit die behoud van kunsvoorwerpe of oudhede geld. Daarby neem sy 'n leidende aandeel in die stryd vir die Hollandse taal. Hoe innig sy meegeleef het met haar volk, blyk uit die feit dat sy 'n Franse pamflet vertaal, toe die filoksera die Bolandse wingerde bedreig.
Marie Koopmans - de Wet en ook haar suster was inderdaad twee merkwaardige figure in die Kaapse samelewing en hulle het reg op die hulde van die nageslag. Die biografie van Malan sal ongetwyfeld 'n weldadige uitwerking hê op die ontwikkeling van die Afrikaanse vrou. Hy het 'n welgeslaagde portret geteken van die twee vroue en op voortreflike wyse sy biografiese gegewens verwerk, 'n taak wat veel moeiliker is as om dit eenvoudig kronologies te rangskik en dan in extenso af te druk, soos die meeste van ons biograwe totnogtoe gedaan het. Malan het 'n intieme kennis van die tydperk wat hy beskrywe en hy beskou die gebeurtenisse van sy jeug met die kalm, besadigde oordeel van die ervare mensekenner. Sy opregte bewondering van Marie de Wet se edele karakter het hom in staat gestel om haar strewe en ideale op talentvolle wyse te vertolk. Hy het hom nog nie heeltemal losgemaak van die Hoog-Hollandse skryftradisie nie en by 'n tweede druk sou daar in hierdie opsig heelwat verbeteringe aangebring kan word. Met belangstelling wag ons ook op 'n meer uitgebreide studie van mevr. Koopmans se omvangryke briefwisseling, wat volgens die skrywer gunstig vergelyk met die beroemde versameling van madame de Sévigné.