Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 14. B. Spoelstra.Ons Volkslewe (1922).F.T. Schonken was die baanbreker op die gebied van Afrikaanse volkskunde met sy dissertasie oor De Oorsprong der Kaapsch-Hollandsche Volksoverleveringen, die Duitse uitgawe waarvan in 1910 verskyn het. Op verskillende punte is sy werk deur latere ondersoekers aangevul o.a. deur dr. C.F. Groenewald se Rympies en Raaisels, dr. Boshoff en Du Plessis se Volksliedjies, en dr. S.J. du Toit se dissertasie Suid-Afrikaanse Volkspoësie. Spoelstra se bundel gee belangrike aanvullings en bevat oorspronklike gegewens, maar dit is blykens die ondertitel, Kultuurhistoriese Leesboek, meer 'n uiteensetting in populêre trant vir skoolgebruik, as 'n wetenskaplike studie. Spoelstra tree deurgaans op as laudator temporis acti en slaan dikwels die toon aan van 'n vaderlike teregwyser. Beskou ons die werk as 'n populêre leesboek, dan het Spoelstra inderdaad 'n nuttige arbeid verrig. Hollander van geboorte, het hy egter sedert 1899 lief en leed met ons volk gedeel en elke bladsy van die leesboek getuig van sy liefde vir al die tipies-Afrikaanse gebruike en oudhede, wat hy, as uitlander, juis so veel noukeuriger waargeneem het. ‘As ons die geskiedenis van ons land nalees, dan kry ons baie bladsye oor oorloë met Kaffers, met Engelse, twis met eie vriende selfs, maar sommige dinge deur ons oumense gedoen in vredestyd - wat ons nie moet vergeet nie - omdat die dinge wys op die lewe van ons volk in sy bestaan as beskaafde nasie, soek ons verniet in al die beskrywings; en oor enkele jare het die mense wat ons van dié dinge kan vertel, weggeval’ (p. 103). Die kultuur-historiese gegewens wat Spoelstra met soveel sorg versamel | |
[pagina 562]
| |
het is 'n waardevolle skat, wat die bewondering vir die voorgeslag ten goede sal kom.Ga naar voetnoot1) Oor die huislike, maatskaplike en staatkundige lewe gee die skrywer uitvoerige besonderhede. Een van die sketse behandel 'n jagparty deur kaffers, 'n onderwerp wat hier nie tuishoort nie. Maar die toekomstige historiese romanskrywer sal sy hart kan ophaal aan welgeslaagde sketse soos die oor die kakebeenwaentjie en die hartbeeshuisie. Spoelstra se strewe om veral die feite noukeurig weer te gee veroorsaak telkens 'n gebrek aan aanskouelikheid en lei tot nugtere opsommings wat in 'n leesboek eentonig word. ‘Die bandolier was gemaak van 'n strook leer van 'n voet lank en min of meer vyf duim breed; so was 'n sak van die leer gemaak, maar in die middel was dit verdeel, sodat twee sakkies gevorm was, waarvan hul een gebruik het vir die koeëls en een vir die vetlappe; 'n afsonderlike kleiner sakkie was nog gemaak vir die doppies.’ (p. 13.) Wetenswaardig seker, maar hoe jammerlik van klank en slordig van bou is so 'n sin tog! Maar laat ons Spoelstra dankbaar wees vir die kosbare inligtings wat hy met soveel toewyding uitgewerk het. Dis 'n voorbeeld wat navolging verdien! |
|