Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 2. Didaktiese Werk.Ons Weg deur die Wêreld (1913).Ons Weg deur die Wêreld is grotendeels van didaktiese aard. Daar is ligte lekeprekies en 'n duisend spreuke, maar ook verhale, samesprake, fantasieë en verse. In die eerste verhaal raak ou Verkeerde Faans ‘'n onvermoeide ou twismaker’ onder die strelende warmte van die kaggel al sy kwellings kwyt. Maar daar sal ‘nie more weer vuur in die kaggel wees nie’ en daarom moet neef Kerneels maar dadelik die saak oor die bogslootjie tussen hom en sy buurman skik. Lammetjie en Wolf is die verhaal van 'n verdwaalde kindjie, wat in die hande raak van 'n verstokte misdadiger, vir manslag tot lewenslange gevangenisstraf veroordeel. Klein Miemie verteder die ou sondaar se hart, en hy bring haar terug na haar ouers. Die omkeer by Hans Bonsa word alleen op betogende wyse beskryf; daar is geen plastiese uitbeelding, soos van Miemie se | |
[pagina 476]
| |
dwaaltog nie, wat met mooi innigheid geteken word. Dieselfde innigheid tref ons in Twee Oues van Dae, waar 'n grysaard op gevoelige wyse uiting gee aan sy liefde vir 'n troue hond. Die Nuwejaars-offer is 'n verhaal van 'n jong man, wat gewillig die dood tegemoet gaan om 'n medeminnaar te red. In Die Brief klink die fyn sarkastiese toon van Doppers en Filistyne al helder op, en ook die Sonde-met-die-Bure-motief is aanwesig. ‘Eergister het Bertus Bakbene weer 'n straal van my beurt water gesteel om sy ou patatta-tuintjie nat te maak en ek het sy jong se graaf daar uit sy hande geruk en hom 'n skrams raps daarmee oor die korrelkop gegee en toe in die uitkeerplek ingerol om weer reg te lawe’ (p. 48). Waterleimoeilikhede gee ook in Doppers en Filistyne aanleiding tot kostelike humor, maar oom Stoffel moet op die dorpse bure 'n meer verfynde taktiek toepas. Die naskrif van die brief is 'n mooi voorbeeld van misplaaste moederliefde. Die Kluisenaar van die Karro ‘kon.... uit elke bossie 'n preek haal’ (p. 60). Dit is 'n botaniese les in aantreklike vorm. Meester bevat skoolherinneringe, wat ‘nie heeltemal denkbeeldig is nie’ en 'n dankbare hulde aan 'n Hollandse onderwyser wat die kinders van 'n buiteskooltjie in die begin oorbluf het deur sy ‘suiwer’ Nederlandse aksent. Piet Rympies, wat êrens 'n krakie gehad het, vind die menigvuldige Nederlandse fleksie-uitgange besonder nuttig vir sy rymfabriek. Hy lewer 'n vermaaklike parodie op Scott se Lochinvar en terselfdertyd deur die koddige taalgebrou ook 'n geestige persiflage van ons Nederlandse taalywer in die verlede. In Aan Stille Waters het Langenhoven later die orige vyf versies van hierdie stukkie kultuurgeskiedenis afgedruk. Teenswoordig word Piet Rympies se taal nog net gehoor in die gebede van ouerige mense. Die Fantasieë begin met 'n allegorie in Bybelse styl. In die orige stukke is ‘Boet Nelie’ 'n grysaard, wat soos Jonathan in Waarheid en Droomen op weemoedige wyse aan mymer gaan. Hy het 'n hunkering na die ou ‘romantiese, skilderagtige’ boereplase ‘met onbewerkte hoekies en kweekplekkies onder 'n skaduboom om op te lê en droom’ van sy kinderdae.Ga naar voetnoot1) Niks is daar wat hom so treurig stem nie as die gestadige verwoesting van soveel heerlikheid in die natuur deur die moderne boerderymetodes. ‘Alles moet nou gelyk gemaak word - gelyk en reghoekig en reglynig. Die tyd van sentiment is verby: dis nou die dag van besigheid’. Daarom gaat Boet Nelie verlaas kuier na die ou watersloot en hy gesels op vertroulike wyse daarmee oor die ou dae. Hy is ook die vriend van die ou wa, wat vir brandhout moet verkoop word. Dié sê van Nelie: ‘Sy hart is so vol liefde dat daar plek is vir al die ou goedjies wat hy as kind mee maats gemaak het en al is hy nou 'n bejaarde man.... dan kom hy nog met my gesels net soos toe hy 'n kind was - met my, die stomme ou wa asof ek 'n mens was net soos hy’. Die motor waarmee Nelie plaas- | |
[pagina 477]
| |
toe ry ‘is 'n masien. Daar is geen siel in hom nie en hy roof my van my siel ook.’ Op die ou geboorteplaas vind hy nêrens troos nie. ‘Al die ou dinge wat sy hart aan vasgekleef het en die metgeselle van sy skooldae en die dierbare van sy huisaltaar word een vir een weggeruk....’ Maar die ou berg het staande gebly en dié moet vir hom die raaisels van die lewe help oplos. ‘Seg my, my ou berg, wat is die plan van die hele besigheid?’ Net soos Elia wil hy weg wees ‘van die kranksinnige gewoel van die wêreld en nader naar die troosvolle rus van die voorportaal van die hemel’. En die berg vertel hom: ‘dis nie die groot dinge wat belangrik is nie.’ Op die weemoedige kadans van sy mymerstemming laat Nelie hom saggies voortwieg, en die klare eenvoud van sy volsinne, wat met rustige en kalme geleidelikheid mekaar opvolg, is in harmoniese ooreenstemming daarmee. Maar die doodnugter opmerkings oor mishandeling van die maag, en die walging vir ‘insak-gansveermatrasse’, waarin party mense op ‘bloedige Karro-somerdae’ kruip - dit is wanklanke in die fantasieatmosfeer. Tog behoort hierdie fantasieë ongetwyfeld tot die beste gedeeltes van die bundel. Terwyl hy ‘die onsigbare ou skaduweebeelde van vergete gebeurtenisse’ sien, word sy stem week van aandoening. Hy bestyg die bergtoppe, ver weg van die wêreld se gewoel, en daar vind hy in kalme oorpeinsings rus vir sy siel en wysheid vir die entjie pad wat hy nog moet loop. In die ‘Onbesproke Spreuke’ word bestaande spreekwoorde aangevul, verbeter of ontken. ‘Dis wáar, klere maak nie die man nie. Maar slordigheid nog minder.’ ‘Een swaaltjie maak geen somer nie. Hy maak nie eers 'n nes nie.’ ‘Daar mag halwe eiers wees wat beter is as leë doppe, maar die halwe eiers wat naar my koers toe gekom het was nog altyd vrot.’ 'n Groot aantal spreuke is woordspelings: ‘Om te weet is net so maklik as om nie te weet nie. Wat swaar is, is om te weet wát jy weet deur te weet wat jy nie weet nie.’ In ander klink daar 'n sarkastiese toon: ‘In 'n vrye land behoort elke koerantskrywer die reg te hê om dwaasheid te verkondig.’ Die Sonde-met-die-Bure-motief is hier ook aanwesig: ‘Dis makliker om die gemeente lief te hê as jou buurman, en die hele menslike geslag as jou vrou se famielie.’ Oom Stoffel sal seker instem met die volgende: ‘As die son nou met die beskawing wil saamgaan, moet hy in die nag skyn wanneer die mense wil wakker wees en in die oggend ondergaan wanneer hulle wil slaap.’ ‘Vroutjie’ se redeneerkuns word so getipeer: ‘Oortuig 'n vrou dat sy nie reg is nie, sy klap jou om met simpel almiskié.’ | |
[pagina 478]
| |
Die spreuke is 'n pittige samevatting van die skrywer se lewenswysheid. Daar is raak opmerkings, wat getuig van 'n helder, logiese gedagtegang, diepe selfkennis en 'n uitgebreide ervaring; nuwe waarhede, op pakkende wyse uitgedruk; ou waarhede, in 'n nuwe, oorspronklike vorm. As voorbeelde van sy kernagtige styl kan die volgende dien: ‘Waar die vader op 'n donkie gery het en die seun op 'n galop, kry jy die kleinkinders te voet.’ ‘Kleinserigheid is die voorkant van seerkleinigheid.’ By die ‘besproke spreuke’ word daar kritiese opmerkings gevoeg ‘uit die mond van die denkbeeldige, wêreldkundige ou Lazarus wat beter bekend is onder die naam van Ou Stoffel Gieljam’. Op hierdie manier kry die skrywer geleentheid om die waarheid ook nog van 'n ander kant te belig, om te wys op die verskil tussen teorie en praktyk (‘die bekwaamste sedeleraar is die wat nie sy eie leerling is nie’), of om 'n praktiese toepassing te maak wat van groot selfkennis getuig. (‘Hierdie raad is so maklik om in beoefening te bring dat ek dit ook altyd aan ander mense gee’.) 'n Groot aantal spreuke behandel die verhouding tussen man, vrou en kinders. Vir die vrou het die skrywer groot waardering; vir dié wat haar eer geringskat niks as veragting nie. Maar hy het ook 'n studie gemaak van haar eienaardigheidjies, o.a. haar babbelsiekte (181) en besorgdheid oor klere (3), terwyl hy ook nog 'n aanwysing van haar humeur ontdek het: ‘As jy wil weet of 'n vrou kwaai is, kyk of sy knaend vloere vryf’ (285). Oom Stoffel kry natuurlik 'n kans om die vrouens 'n rapsie te gee: ‘Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was; aan 'n oue of dit 'n goeie wamaker was. (En dikwels aan die nuwe gelaatskleur dat dit 'n ou skilder is).’ 'n Hele paar spreuke lê klem op die verskil tussen geleerdheid en opvoeding van kinders; ander gee die jongkêrels goeie raad in verband met die huwelik: ‘Koop 'n blous wat nie pas nie en reken hy sal regkom met die dra. Trou 'n jongetjie wat nie deug nie en reken dat hy sal verbeter met die getroude lewe. (Van die blous kan jy nog 'n lyfie maak. Van die jongetjie mag jy nie eens 'n lyk maak nie).’ Telkens gebruik Langenhoven sulke huislike beelde met goeie effek. Ander beelde is weer ontleen aan die dierelewe (517, 661 b.v.), en dan kry oom Stoffel met sy praktiese kennis 'n uitstekende kans om die spyker te klink. Uit sy praktyk as regsgeleerde het Langenhoven 'n groot aantal stellings opgeteken. Die mense wat so graag prosedeer kry 'n treffende waarskuwing: ‘Prosedeer oor 'n baatjie en hou jou broek klaar vir die onkoste. | |
[pagina 479]
| |
(En hou jou verder klaar om hom te was vir die nuwe besitter).’ Dieselfde beeld word ook in 581 gebruik om teen borgstaan te waarsku. In hierdie spreuke word verder nog 'n groot aantal onderwerpe op pittige wyse behandel: vriendskap en buurskap, deugde en ondeugde, soos spaarsaamheid en verkwisterigheid, waarheidsliefde en leuenagtigheid en fariseïsme, ens. Die resensente moet natuurlik ook verbykom! (251, 717). Meestal word die gedagte in algemene vorm uitgedruk, maar in sommige spreuke voel ons die warmte van 'n intiem-persoonlike belydenis: ‘My medemens het my vergewe, en ek hoop my God het my vergewe. Maar ek soek nog altyd naar my eie vergiffenis.’ (559.) Uit die paar aangehaalde voorbeelde blyk al voldoende dat Langenhoven beskik oor 'n diepe mensekennis en selfkennis, en dat hy in kernagtigheid van uitdrukking nie hoef onder te doen vir die beste spreukskrywers van ander nasies nie. Hierdie kostelike skat van wysheid sal deur sy bondige en verrassende segging, maar ook deur sy innerlike gehalte, steeds 'n onmiddellike beroep op die volksgemoed maak. In die Ligte Leekprekies is daar 'n preek vir kinders oor wedywer. ‘As julle nie weet wat kompetiesie is nie, soek 'n handvol koring en gooi die vir 'n klompie hoenders. Dan sal julle kompetiesie sien.’ Die verskille tussen ‘hoender- en mens-kompetiesie’ word dan uitgewerk na aanleiding van wedywer op sportgebied. Die deurmekaar Engels- en Hollandspratery ‘is my skoolmeester se skuld’ verklaar Langenhoven. Mooi is dit seker nie! In 'n Preek vir Nooiens word die deugde van die voorouers teenoor die hedendaagse nuwighede geplaas, en die vergelyking val nie ten gunste van die laaste uit nie, soos blyk uit die volgende lang-asem sin met sy komieklike nadraaitjie: ‘En onse jonge dogters begint in te teken vir ryk ge-illustreerde mode-joernale en 'n aangeleerde smaak te ontwikkel vir bloedsomloop-versperrende nou-ryg borste-rokke, voet-martelende en senuwee-renewérende spyker-polfytjies; vir die gesig-belemmerende wawiel-hoed en die bene-belemmerende hobbelskirt; vir die lae-nek blous en die opewerk kous.’ Teen die wedywer in huweliksgeskenke word ook protes aangeteken: ‘Maar onder die teenswoordige opjaagvendusie wat van menige bruilof gemaak word, weet jy nie watter geskenk 'n konvensionele pligvervulling verteenwoordig en watter werklik van harte gemeen is nie....’ In Beweging word die ontwikkeling van ons vervoermiddels geskets en die voorgeslag verheerlik: ‘Baie van ons voorouers had stoomharte by die remskoenwaens; baie van ons het remskoenharte by die stoomwaens.’ Al die menslike voertuie is egter onvolmaak, wanneer dit vergelyk word met een ‘deur die liewe God gemaak.’ ‘So stil, so absoluut eengalig, loop die ou aarde wat vir ons oor en deur die peillose afgronde | |
[pagina 480]
| |
van die hemelruim veilig meevoer, dat die oorgrootste meerderheid van die mensdom vandag nog oortuig is dat sy dood-stil bly staan in een plek, beweegloos, roerloos.’ Die aarde is ‘ons ou moeder-wa’ waarop die lewensreis afgelê word. Dan ontstaan die vraag: ‘Waarheen? Waartoe? Waarom?’ In die kinderprekie oor Ideale word die volgende spreuk nader uitgewerk: ‘Die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die wêreld is maar die oeste van ongesiene gedagtesaadjies.’ In die derde deel, waaraan die boek sy naam ontleen, tree Langenhoven op as 'n gids op Ons weg deur die Wêreld. In 'n honderdtal kort prekies, elkeen voorsien van 'n pittige teks, word onderwerpe van 'n groot verskeidenheid behandel. Daar is preke oor die mode, dronkenskap, skindery, politiek, sedelike kwessies, ons eksamenstelsel, opvoeding, skuldmaak, fariseïsme, liefdadigheid, eerlikheid, borgstaan, godsdiens, die dood. Ook maatskaplike vraagstukke, soos die verhouding tussen kapitaal en arbeid word bespreek. Hy probeer om homself en sy bure grondig te leer ken. Hoe moeilik die ken jouself is, weet hy maar alte goed: ‘Die enigste mens in die wêreld wat in die posiesie is om jou te beoordeel is jyself, maar jy is die onbevoegdste, want jy is tegelyk regter en beskuldigde. Jy alleen kan in jou hart inkyk: maar ongelukkig dis jy wat inkyk - die baas en dienaar van die hart.’ (72.) Op sy weg deur die wêreld vind hy baie dinge wat verkeerd is, maar tog bly hy optimisties: ‘Laat ons moed hou, maat, die ou wêreld is darem nie so sleg nie!’ (92.) ‘Die grote waarhede van godsdiens en wetenskap en idealisme en vaderlandsliefde: immers dié regeer die wêreld.’ (id.) Tog moet hy af en toe peins oor die volmaakte wêreld, wat sou ontstaan as die menslike natuur anders was: ‘Veronderstel die hele mensdom sou volkome waarheidsprekend word, wat sou almal nie win daarby nie!’ (50.) ‘Die wêreld kon 'n soort van lushof gewees het waar ons al singende en huppelende 'n lower-beskadude en bloem-bestrooide weg vervolg het van ons wieg tot aan ons graf.’ Maar ons moet ‘met skaamte bely:.... Alles is hier skoon en edel en groots behalwe die inwoners.’ (53.) Enkele volkstipes word raak gekarakteriseer; in nommer 10, die man wat by alles voor-op-die-wa wil wees, in 64 die lastige kuiergas, wat ‘nie gesels nie, maar gesels-maak’. In 78 kom een van die weinige anekdotes voor, want die direkte preektoon word maar uiters selde deur 'n verhaal onderbreek. In die honderdtal preke vind ons veel wat fris en oorspronklik is, en selfs die ou waarhede word op 'n besonder persoonlike wyse uitgedruk, sodat dit prikkel tot nadink. ‘As jy op trou staan sal jy geen goeie raad aanneem nie, en as jy op sterwe lê sal jy dit nie kry nie.’ (14.) ‘My liewe man, moenie vrees vir jou dood nie: vrees vir jou lewe. By jou dood sal jy verby kom: hy sal nie te swaar wees nie; want as hy te swaar sou | |
[pagina 481]
| |
wees, sou hy onmooglik wees; en as hy onmooglik sou wees, sou jy onsterflik wees. Wees gerus oor daardie laaste plig wat van jou gevorder sal word op die aarde: jy sal nie kortkom nie - daardie laaste skuld sal jy betaal tot op die uiterste greintjie van die uiterste penning’ (55). Dit is deur so 'n ongewone manier van sê, deur sulke verrassende wendings, dat Langenhoven meestal daarin slaag om ons aandag vas te hou, want sy preke is pure pit-kos, wat nie in oomblikke van verstrooiing moet gelees word nie. Die oorvloedige gebruik van abstrakte begrippe, die epigrammatiese styl met sy vernufspelings, paradokse en parallelle sinsbou vorder die grootste opmerksaamheid van die leser. ‘'n Bekwame booswig sou minder van 'n booswig gewees het as hy 'n onbekwame booswig was. Dáár, o mens, is jou kostelikste besitting: jou karakter wat jou bekwaamheid bekwaam kan maak ten goede’ (68). ‘Die meeste wyse mense wat ek nog raak geloop het is dom mense, en die meeste slim mense dwaas’, ens. (9). ‘Leugenliewende waarheidgierigheid (92), die ontsag vir sy gesag (93), die onreg dat 'n ander die reg.... het’ (77) - vir sulke knal-effekte is Langenhoven besonder lief. Dat hy met sy puntige gesegdes meestal 'n mooi indruk maak, is seker; maar die vuurwerk van sy vernuf verteer ook soms die gedagte wat hy wil uit. Op dié manier gaan die eenvoudigheid wat hy bo-alles na streef verlore. ‘Die eenvoudigste sprekers, die eenvoudigste skrywers, is die wat die diepste, diepste denkers is.... 'n Suiwere gedagte, 'n suiwere waarheid, is vanself soveel wêrd dat hy die beste indruk maak as hy op sy eie verdienste, op sy eie waarde, ten toon gestel word in plaas van deur 'n misdamp onduidelik bespeurbaar te wees.’ ('n Goeie Toespraak). | |
Die Opdraende Pad (1923).Onder dié titel het die skrywer vyf interessante voordragte gebundel. Op populêre wyse behandel hy sosiale, politieke wetenskaplike en letterkundige vraagstukke. Met die Stellenbosse studente gesels hy oor Belangstelling op 'n ‘onfilosofiese’ wyse, met die A.C.V.V. oor Inkomste en Uitgawe. Daar is ‘lange aaneenskakelinge van logiese redenasie-kettings’. Rustig en kalm word die onderdele van elke onderwerp behandel, meestal aan die hand van 'n aanskoulike beeld, soos o.a. die van die skulpad, wat met goeie effek gebruik word in Die Krag van 'n Nasie. Die aanwending van ‘konkrete beelde’ word dan ook in die verhandeling oor Letterkundige Styl as een van ‘die geheim(e) van sukses’ geroem. Daar vind ons ook die stelling: ‘Somtyds verbreek 'n skrywer 'n erkende reël opsettelik om die leser se aandag deur 'n skok te tref.’ Hierdie ‘skoktaktiek’ word dan ook af en toe tussen die argumente aangewend, b.v.: ‘Dis op verre na nie altyd weelde of wellus of luiheid wat ten grondslag lê aan verkwisterigheid nie: in die meeste gevalle is dit 'n oordrewe goeiigheid en goedgelowigheid en papbroekerige ja-broerigheid en slop- | |
[pagina 482]
| |
sopperige vriendskappelikheid wat vir ons tot prooi maak van die rower en die skurk en die parasiet.’ ‘In die verheerliking en veredeling van die lewe, leg die diens van die kuns’ verklaar die skrywer. Dis 'n opdraande pad waar hy die jeug van Suid-Afrika na toewenk, maar bo-op die bergtop is daar skatte wat nie deur mot of roes verteer word nie. Vir die kennis van Langenhoven as denker en mens bevat hierdie bundel belangrike gegewens. |
|