Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekendUit die Lewe (1921).Die skrywer vertel in 'n paar kort sketse hoe die Boereseuns in sy jong dae skyfgeskiet, vis gevang en klippe gerol het. Hulle wys 'n Hollander, wat sy Hoog-Hollands blykbaar eers in Afrika geleer het, hoe om kalwers te ry en met 'n nooi op te sit. Verder gee Otto 'n verslag van die eerste twee maande van sy lewe, en skets die ongerustheid van 'n paar armblankes wat urelank op die Bloemfonteinse trein wag. Prof. Jan Celliers het in sy voorwoord die bundeltjie goed gekarakteriseer: ‘Sonder te danig hoë pretensies, wil (die skrywer) net die Afrikaanse lewe weergee, en padlangs-eenvoudig met ons daaroor praat.’ Die klein stukkie lewe wat hy teken, ken hy goed, maar hy is nie by magte om sy sintuiglike waarnemings op te hef tot 'n hoër plan nie, omdat dit hom ontbreek aan styl en uitbeeldingsvermoë. | |
My Heideblommetjie (1924).In hierdie sketse word 'n paar bekeringsgeskiedenisse verhaal. Hoofsaak is die godsdienstige strekking, wat goed uitgewerk word, sonder onnodige omhaal van woorde. Aandoenlik is die geval van die vereensaamde Oupa, wat onder die invloed van die onskuldige ‘heideblommetjie’ ('n verlore kindjie) tot bekering kom en daarna deur voorbeeld en lering ander op die regte pad help. In sy soort is hierdie boekie seker een van die beste wat ons totnogtoe besit. |
|