Daghregister. Deel 1. 1651-1655
(1952)–Jan van Riebeeck– Auteursrecht onbekend
[pagina t.o. III]
| |||||
JAN VAN RIEBEECK
Die Rijksmuseum, Amsterdam | |||||
[pagina XV]
| |||||
Inleidinga. Jan Anthonisz. van RiebeeckDie standaardbiografie van Jan van Riebeeck is gemaak deur Dr. E.C. Godée Molsbergen, oud-hoogleraar in die geskiedenis aan die Victoria-Kollege, Stellenbosch. Voor die tyd is daar, dit spreek vanself, heel wat gepubliseer oor die grondlegger van die blanke nedersetting in Suid-Afrika, o.a. deur McCall Theal in sy History of South Africa. Gegewens vir 'n lewensbeskrywing, altans van die gebeurtenisse gedurende die stigtingsjare, was te vinde in Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift tussen die jare 1824-1840, W.G. Brill se uitgawe van Het Dagverhaal van Jan van Riebeeck vir die Historisch Genootschap te Utrecht, 1884-1893 en H.C. Vos Leibbrandt se Precis of the Archives of the Cape of Good Hope, 1897-1901. Maar dit was vir Molsbergen weggelê om op grond van die Dagverhaal en tevore nie gepubliseerde stukke in die Rijksarchief in Den Haag ‘een juiste en volledige levensbeschrijving’ te gee, waarin ook die jare voor 1651 en na 1662 behandel word.
Sedert die verskyning van Godée Molsbergen se werk: De Stichter van Hollands Zuid-Afrika, Jan van Riebeeck, by S.L. van Looy te Amsterdam in 1912, is daar so goed as geen nuwe bydrae van belang vir ons kennis van Van Riebeeck gepubliseer nie. Jan van Riebeeck en zijn Tijd van dieselfde outeur in die Patria-uitgawe (1937, tweede druk 1943 - dus in die besettingstyd - by Van Kampen & Zoon, Amsterdam) is populêrder geskryf en bevat enkele nuwe besonderhede, maar nie veel nuuts van belang nie. Die nuwe gegewens is ongelukkig selde deur bewysplase verantwoord, sodat dit moeilik is om uit te maak in hoever dit op argiefstudie berus of alleen uit Molsbergen se groot belesenheid en kennis van die tyd geput is. Hierdie kennis en belesenheid is enorm uitgebrei deur sy uitgawe van die vier dele Reizen in Zuid-Afrika vir die Linschoten-Vereeniging, tussen die jare 1916 en 1932. Verder kan genoem word:
Jan van Riebeeck is gebore op 21 April 1619Ga naar voetnoot1.. Van sy jeug is weinig bekend. Wel weet ons dat hy, anders as Theal gemeen hetGa naar voetnoot2., afkomstig was van 'n vername ou | |||||
[pagina XVI]
| |||||
familie uit die buurt van Culemborg en Wijk-bij-Duurstede, waar die drie provinsies Suid-Holland, Utrecht en Gelderland bymekaar kom. Onder sy voorouers van vaderskant was daar lede van die stadsregering van Wijk-bij-Duurstede, uit die tyd toe dit nog 'n belangrike Middeleeuse stad was. Sy moeder was die dogter van die burgemeesterGa naar voetnoot1. van die stad Culemborg (of Kuilenburg, soos dit vandag ook geskryf word). Sy vader, Anthony, die seun van Jan - sodat onse Jan na sy grootvader geheet het - was 'n seevarende man, ‘volgens familie-overlevering een scheepsbevelhebber’, sê Godée MolsbergenGa naar voetnoot2., maar volgens 'n mededeling van Mr. Beltjes, die historikus van Culemborg, 'n skeepsdokter. Sy moeder, Elisabeth, was, soos reeds gesê, die dogter van burgemeester Govert van Gaesbeeck, die seun van Anthonie van Gaesbeeck. (Die naam Anthony, wat Van Riebeeck aan sy oudste seun gegee het, was dus die naam van sy vader en tewens van die grootvader van sy vrou.) Toe Jan ruim 10 jaar oud was, het hy sy moeder verloor. En voor hy mondig was, het hy verneem dat sy vader, blykbaar 'n swerwer wat geen aardse skatte vergader het nie, in Brasilië oorlede en in Pernambuco begrawe was. Ons kan ons voorstel dat die jonge Jan, na alle waarskynlikheid tuis by sy grootvader Govert in Culemborg en daar op skool, sy vader maar met lang tussenpose gesien en dan met spanning geluister het na avontuurlike verhale wat hulle afspeel in ver, oorsese lande. Die jeug van Culemborg, geboorteplek van Goewerneur-Generaal Antonie(!) van Diemen, sal hulle wel bewus gewees het van die romantiese moontlikhede om in diens van die Oos-Indiese Kompanjie carrière te maak, ryk en beroemd te word in die Ooste. En Jan van Riebeeck se verbeelding is seker al vroeg ontvlam deur grootse denkbeelde en planne vir sy toekoms. As sy vader langs die weg van 'n chirurgynskap in betaalde diens gekom het sonder om as matroos of soldaat op die onderste sport van 'n ruwe en gevaarlike loopbaan te begin, dan kan ons ons voorstel dat dit ook vir Jan die aangewese weg gelyk het. As sy vader te enige tyd lang genoeg aan land was daarvoor, is dit selfs moontlik dat Jan sy drie jaar lange vakleerlingskap as chirurgyn by hom deurgemaak het. Nadat Van Riebeeck sy eksamen afgelê het en tot die chirurgynsgilde toegelaat was, het hy nie lank gewag om 'n aanvang te maak met die verwesenliking van sy ambisieuse planne nie. Allig met voorspraak van grootvader Govert, wie weet miskien selfs met dié van die groot Van Diemen, het Jan 'n pos as onderchirurgyn by die Oos-Indiese Kompanjie gekry, en vertrek op 19 April 1639, twee dae voor sy 20ste verjaardag, uit Seeland op die lang reis na Indië. | |||||
[pagina XVII]
| |||||
Die aanvang was onfortuinlik: Die skip waarop hy vaar, vergaan by Sierra Leone. Maar die bemanning word gered. Na meer as ses maande in hierdie ongesonde oord word hulle deur 'n volgende uitvarende vloot afgehaal en in Julie 1640 kom Van Riebeeck in Batavia aan. Sy toekomsdrome het hoër gereik as heelmeester in Kompanjiesdiens. ‘Die advancement soeckt, sal geen naerstigheijt sparen’ was sy leuse en kort na sy aankoms gaan hy as ‘assistent op de penne’ in die administratiewe diens van die Kompanjie oor. Hier kry hy ondervinding van alle soorte kantoorwerk en leer hy uitvoerige ‘missives’ skrywe in die offisiële kanselarytaal van die tyd - 'n bekwaamheid wat hy as Kommandeur aan die Kaap onbeperkte geleentheid sou kry om aan die dag te lê, dikwels tot verdriet van sy lesers. In 1642 gaan hy as sekretaris met 'n luisterryke deputasie na die Koningin van Atjeh en doen sy eerste belangrike handelsondervinding op. Kort na sy terugkeer in Batavia word hy bevorder tot ‘onderkoopman’ en aan 'n handelsekspedisie na Japan toegevoeg, opdat hy ‘in den handel wierde gestyleert’. Op Desjima, 'n eilandjie voor Nagasaki, en later in Tonkin, destyds 'n onderhorige staat van China, word Van Riebeeck verder ingelei in die handel, veral in die handel in systowwe. In 1645 word hy waarnemende Opperhoof in Tonkin, in 1646 Koopman en Tweede Persoon. Hierdie bevordering op 27-jarige leeftyd toon dat Van Riebeeck geen naarstigheid gespaar het om ‘advancement’ te verwerf nie. Hy sit stewig in die saal, met kennis van die moeilikste tak van die handel, ervaring in die omgang met Oosterse vorste en howelinge, goed aangeskrewe as ywerige en bekwame dienaar van die magtige Kompanjie. Sy toekoms het die grootste moontlikhede ingehou, die verwesenliking van sy stoutste drome. Raad van Indië? Goewerneur-Generaal? Waarom nie?
Die ontwaking uit sy drome was wreed. As koopman het Van Riebeeck f 55 per maand verdien. Gedurende die vier jaar van sy handelsbedrywigheid in Japan en Tonkin het hy grootliks meegehelp dat ‘14 tonnen gouts’ in die skatkis van die Kompanjie gevloei het, volgens Molsbergen ongeveer £ 116,666. Die Generale Vereenighde Nederlantsche Geoctroyeerde Oostindische Compagnie het enorme winste vanselfsprekend gevind. Ook geringe salarisse. Wat dus ook vanselfsprekend was, was dat die dienare van die Kompanjie hulle ontoereikende salarisse deur ekstra verdienste moes probeer aanvul. Een van die gebruiklikste en mins laakbare maniere was die sogenaamde partikuliere handel, d.w.s. behalwe vir rekening van die Kompanjie is daar vir eie rekening handel gedrywe en menige soet maar onregmatige winsie gemaak. So algemeen was hierdie gebruik dat van die hoogste amptenare in Indië hulle daaraan skuldig | |||||
[pagina XVIII]
| |||||
gemaak het. Here Sewentien het selfs die Raad van Indië daarvan verdink dat hulle die partikuliere handel oogluikend toegelaat het: omdat die lede van die Raad self met die euwel besmet was. Hierdie aantyging kon die Hoë Raad nie op hom laat sit nie. Daar moes 'n paar sondebokke gevind word. Jan van Riebeeck was een van hierdie ongelukkige sondebokke. Here Sewentien het tereg vermoed dat selfs sommige van Van Riebeeck se regters nie onskuldig was aan die vergryp waarvoor hulle hom moes veroordeel nie. Een van hulle, en nog wel die ‘Generaal-Directeur van de Handel’, is kort daarna weens dieselfde oortreding geskors. Dit hoef ons dus nie te verwonder dat Van Riebeeck se straf nie al te swaar was nie: sy maandgeld vir iets meer as twee maande is gekonfiskeer en, hoewel hy voorlopig sy rang van Koopman en sy volle salaris behou het, het hy sy pos op Tonkin verloor en moes hy terug na Holland om daar uit die Kompanjiesdiens te tree. Hiermee was sy grootse toekomsplanne met een slag die bodem ingeslaan.
Hierdie straf, wat Van Riebeeck as 'n ramp beskou het, was vir Suid-Afrika 'n seën, sê Molsbergen. En dit het daartoe meegewerk dat Kommandeur Van Riebeeck se naam vandag in groter eer gehou word as die van menige Goewerneur-Generaal. Abraham, die latere Goewerneur-Generaal, is vandag bekend as die seun van Jan van Riebeeck en nie Jan as vader van Abraham nie.
Op die terugreis na Holland doen die vloot waarop Van Riebeeck gevaar het in Maart 1648 die Tafelbaai aan en vertoef daar 18 dae, ten einde die bemanning en die lading van die daar gestrande Haerlem te berg. Dit was Van Riebeeck se eerste, en soos dit agterna sou blyk, vir sy lot beslissende kennismaking met die Kaap. Terug in Holland vestig Van Riebeeck hom in AmsterdamGa naar voetnoot1.. Met die bedoeling om weer in die guns van Here Sewentien te kom, skryf hy 'n uitvoerige rapport, ‘seer ampel ingestelt’, oor die handel in Tonkin, waarin hy nie nalaat om te wys op die groot dienste wat hy ‘onberoempt gesproocken’ die Kompanjie bewys het nie. Dit was egter moeite tevergeefs - altans so het dit gelyk. Hy ontvang geen nuwe aanstelling nie, sodat hy tyd kry om sy aandag aan ander sake te wy. In Schiedam, waar sy ouers gewoon het en sy moeder begrawe was, ontmoet hy Maria Quevellerius of de la QueillerieGa naar voetnoot2., 'n beminlike, begaafde, karaktervaste meisie van 19 jaar, die dogter van 'n Waalse predikant in Rotterdam en kleindogter van 'n Franse edelman, wat as veldprediker onder Prins Willem van Oranje gedien en 'n veelbewoë lewe gelei het. In die gemelde outobiografie teken hy aan: ‘Anno | |||||
[pagina XIX]
| |||||
Christi 1649 den 28en Martii, zijnde palmsondagh, ben ik Johan Anthonisz. van Riebeeck (den 21en April aanstaande 30 jaren oudt werdende) door Godes genade van Ds. Levius tot Schiedam getrout, met d' eerbare jonge dochter Maria de la Queillerie, oud zijnde 19½ jaren, wiens vader was Abrahamus de la Queillerie, in syn leven predikant tot Rotterdam van de Franse en Duijtse Nederlandse gereformeerde gemeente, ende haar moeder was Maria du Bois, dochter van d' Hr. Noë du Bois, in sijn leven geweest commandr. en capt. majoor van Nieuvaert of de Clundert’. Die huweliksvoorwaardes van die ondertroudes is as getuie onderteken o.a. deur Van Riebeeck se grootvader van moederskant, Govert Anthonisz. van Gaesbeeck, oud-burgemeester van Culemborg, en sy oom Gerrit Govertsen van Harn, die seun van die oud-burgemeester, en die man wat Van Riebeeck as Kommandeur aan die Kaap sou opvolg, maar op die reis daarheen oorlede is. Voor hulle vertrek na die Kaap is daar in Nederland twee seuntjies uit die huwelik gebore, nl. Anthony (genoem na Van Riebeeck se vader) op 13 Maart 1650, en Lambertus (genoem na sy ‘vaders grootvader’) op 11 Augustus 1651 - nie soos Molsbergen (a.w., bls. 61 en 223) sê ‘in hetzelfde jaar 1650’ nie. Op 9 September 1651 is klein Anthony oorlede en begrawe in die Zuiderkerk, Amsterdam, waar hy ook gedoop was. Van Van Riebeeck se bedrywighede tussen sy aankoms uit Indië en sy vertrek na die Kaap is baie min bekend. Ons weet dat hy 'n paar seereise gemaak het en wel na Groenland en Wes-Indië (Molsbergen, a.w., pp. 61, 62). Maar Van Riebeeck wou terug na Oos-Indië - om sy naam te maak of te herstel en, wie weet, ook sy fortuin. In 1651 kry hy die kans om sy eerste skrede te sit op die weg terug na die Ooste.
Met die drukker wordende verkeer met Indië het St. Helena minder geskik begin word as aanloop- en verversingstasie. Die RemonstransieGa naar voetnoot1. van Leendert Jansz. en Matthijs Proot, opperhoofde van die gestrande Haerlem, oor die toestande aan die Kaap de Goede Hoop, het Here Sewentien op 'n ou plan van hulle teruggebring: om 'n verversingstasie aan die Kaap te stig. Van Riebeeck het dadelik sy dienste aangebied. Hy is gevra om sy mening oor die stuk van Jansz. en Proot. Hy was immers self 'n tydjie aan die Kaap gewees in 1648. Sy Nader Consideratie getuig van skerpsinnigheid en handigheid. Hy beveel die plan - en homself - aan, en eindig met die bede dat God Almagtig hom, as sy dienste aanvaar sou word, ‘met voorsichtigheijt ende verstant soodanigh wil begenadigen dat bequaem moge sijn UEd. saecken aldaar ten meesten dienste ende | |||||
[pagina XX]
| |||||
profijte van d' Ed. Compe. uijt te voeren, ten eijnde UEd. in alles genoegen ende occasie mogen becomen, omme bij tijt ende wijle op ons verder advancement te dencken’. Hierdie keer het Van Riebeeck sukses. Hy word aangestel as Koopman en Opperhoofd van die onderneming vir 5 jaar teen 'n salaris van f 75 per maand. ‘Den 14 December <1651> ben ik, huysvrou en soontje Lambertus, nevens 2 nichtjes, dogters van mijn moeders suster, Lysbet en BastiaantjeGa naar voetnoot1., na Texel gevaren en den 16 do. aan 't schip den Drommedaris aan boort gekomen, omme daarmede in dienst van d' Oost-Indische Comp., volgens conditie in Julij passo. met d' Heren Bewindhebberen van d' opgemelte Comp. gemaakt, te varen na de Cabo de bõa Esperança in comp. van de schepen Reijger, Walvis, Olifant en Hope (daar mij 't commando over bevolen was)’. Omdat die Walvis en die Olifant ‘te diep gingen’, moes hulle agterbly toe Van Riebeeck die 24ste Desember uit Texel vertrek ‘met commissie om aan gemelte Cabo op te werpen voor de meergedachte Comp. een bequame fortresse tot een rendevous voor de gaande en komende schepen van en na India. Aan welke Cabo wij door Gods genade den 6 April 1652 daarna wel zijn g'arriveert en op den 10. volgende begonnen aan de gedestineerde fortresse (de dagen te voren door ons afgestoken) t' arbeyden - welk werk d' Almogende wil zegenen’. Die volgende tien jaar van Van Riebeeck se lewe - die enigste wat ons in besonderhede ken - sien ons hom van dag tot dag in die Daghregister in sy werksaamhede as vestingbouer, tuinman, landbouer, krygsman, koopman, ontdekker, onderhandelaar, planter en stigter van blank Suid-Afrika.
Uit die bladsye van sy uitvoerige en openhartige Daghregister leer ons ook Van Riebeeck se karakter ken en iedere leser kan die beeld vir homself teken. Ek dui hier net 'n paar van die hooftrekke aan. In die eerste plek sy ywer, werkkrag en arbeidsaamheid. Dag na dag is hy rusteloos in die weer. Te voet en te perd is hy op die voorpunt om sy mense aan te spoor en aan te moedig. Die een onderneming is nog nie klaar nie of hy loop rond met planne vir die volgende. In die groentetuin, op die saailande, in die houtbos, waar daar slote gegrawe, walle gegooi, skure gebou moes word, gee hy leiding. Die onderhandelinge met die inboorlinge om die fort lei hy self en vir die binnelandse ekspedisies skryf hy uitvoerige instruksies. Alleen al die skryfwerk wat hy aan die Kaap gedoen het, vervul die Afrikaanse geskiedskrywer Theal met die grootste respek. Die leser van die Daghregister, om nie te praat van die briewe nie, sal hierdie arbeidsaamheid soms al sugtende bewonder. | |||||
[pagina XXI]
| |||||
'n Tweede karaktertrek is sy gedienstigheid, sy byna slaafse toewyding aan sy Meesters. Om die belange van die Kompanjie te bevorder, is die hoofdoel van sy strewe. Gesien die materialistiese, skraapsugtige beleid van die ‘edele’ Kompanjie kan die moderne leser hierdie gedienstigheid moeilik anders as 'n gebrek in Van Riebeeck se samestelling beskou. ‘Om voordeel te behalen voor de Heren Majores zou hij slaven gekocht hebben met vals geld, of inboorlingen van Madagascar doen mishandelen door als Engelsen, Fransen en Portugezen verklede Nederlanders, dan als Hollanders terugkeren en door biezonder vriendelike behandeling de inboorlingen voor goed van andere dan Nederlanders afkerig maken. Als het moest zou hij zonder gewetensbezwaren Hottentotten stomdronken voeren en henzelf en hun vee buitmaken. (Die Hottentotte het sy geduld darem swaar op die proef gestel en so 'n behandeling vrywel uitgelok. - D.B.B.) Vee dat niet helemaal gezond meer was liet hij slachten en aan vreemde scheepskapiteins ten geschenke geven’ (Molsbergen, a.w., bls. 176). Ons moet egter onthou dat daar in die 17de eeu anders geoordeel is oor sulke handelinge as vandag, en dat Van Riebeeck reeds uit ervaring geweet het wat die gevolge kon wees as 'n dienaar nie die belange van die Here Sewentien in alles voorop stel nie. Dit is ook nie uitgeslote dat die gedienstigheid en onderdanigheid wat uit sy briewe en uit die Daghregister spreek 'n mate van lippediens - of pennediens - bevat het nie. Hy het goed geweet wat sy Here Meesters verlang en het nie die selfversekerdheid besit van 'n Van Goens wat Here Sewentien onder die aandag bring, dat ‘noijt een ander heeft connen herdoen, daer ick eens toe gebruijckt ben’ (Missive van 14/4/1657, aangehaal by Molsbergen, a.w., p. 157, noot). Van Riebeeck was 'n onverbeterlike optimis. Van sy nuwe onderneminge, soos die walvis- en robbejag, verwag hy groot dinge: ‘een tonne gouts’ per jaar ‘alsoo na alle apparentie uyt die vanghst 's Comp. hier doende oncosten metter tijt alleen wel mochte goet gemaeckt worden’ (Brief van 13/5/1652). Van die wild wat hy met strikke wou vang, sou ‘vellen in menigte cunnen becomen worden’, wat ‘d' E. Comp. groot voordeel in Japan souden aenbrengen’. En so voort. As dit dan anders loop - wat maar al te dikwels gebeur het - word sy optimistiese planne ‘winderige concepten’ genoem, en die Hoë Regering van Batavia skryf (24 Des. 1655): ‘groot gevoelen en hebben wij noijt van de Caepse concepten gehadt’. Nie alleen hou Van Riebeeck moed nie, maar die instruksie wat hy aan sy opvolger, Wagenaar, agterlaat, getuig nog van sy optimistiese verwagtinge aangaande die handel met die onlangs ontdekte Namakwas en die nog te ontdekke volkere van Monomotapa en van Linschoten se baai Angra das Voltas. In sy onderhandelinge met die Hottentotte en met ander vreemdes aan die Kaap het hy die grootste geduld en omsigtigheid aan die dag gelê. Hoewel hy al lank oortuig was van Harry se onbetroubaarheid, maak hy maar telkens nog of hy hom | |||||
[pagina XXII]
| |||||
vertrou en gee hom telkens nog 'n kans - tot die emmer oorloop. Trouens, geduld en volharding was volstrekte vereistes vir sy stigterstaak.
Van Goens, wat geen groot vriend van Van Riebeeck was nie, getuig van sy ywer en wakkerheid en sê daarby dat hy ‘goet van leeven’ was. Oor sy godsdienssin is dit moeilik om ons 'n objektiewe oordeel te vorm. Stereotiepe formules soos ‘Gode loff’ en ‘d' Almogende verlene daartoe sijn segen’ waarvan die Daghregister vol is, bewys niks. Die bekende ‘gebed van Van Riebeeck’ is deur Here Sewentien opgestel en voorgeskryf - en getuig sterker van die hebsug van daardie Here as van hulle godsdienstigheid. Tog kry ons uit die Daghregister die oortuiging dat Van Riebeeck in gedurige ontsag vir God geleef het. Op elke belangrike onderneming word Gods seën gevra en vir elke geslaagde werk word Hom lof gebring. In die beproewinge van die eerste tyd sien hy Gods kastydende hand en die Almogende word gebid om hulle van die plaag te verlos. As hy aan die einde van die tweede jaar aan die Kaap 'n blik terug werp, merk hy dat ‘Godt de Heere alle die saecken tot den dach van heden met veele segeningen wel ende gewenscht heeft laeten succederen ende voltrecken’ en besluit om die dag ‘den 6den April wesende, tot Godes eere met dancksegginghen te vieren.... ten eynde daerbij des Heeren weldaeden, aen ons bewesen, bij ons.... altijt tot Godes eere ter gedachtenisse in memorie gehouden mogen worden’. Die gelofte van Sarel Celliers in 1838 was nie plegtiger nie. Die leser van die Daghregister word deur hierdie uitgawe in die geleentheid gestel om te lees en self te oordeel oor die egtheid van Van Riebeeck se godsdienstige uitinge.
'n Karaktertrek waaroor daar nie die minste twyfel kan bestaan nie, is Van Riebeeck se liefde vir die tuin- en die landbou. Dit spreek vanself dat die praktiese resultate van hierdie bedrywigheid by die Kommandeur 'n groot rol gespeel het, maar sy liefde vir die werk self blyk op talle plekke in die Daghregister. Dit is hom telkens ‘een lust om te sien hoe schoon’ sy groente gedy en dan weer ‘een seer groot verdriet om aen te sien’ hoe sy gesaaide verdrink en bederf is. Hy teken aan: ‘Hebben vandage de eerste blomcool uyt onsen thuyn gesneden, soo schoon ende delicaet vallende als in 't vaderlant’; ‘Heden is Gode loff van de Caepse druyven voor de eerste mael wyn gepaerst (Dit nogal op 'n Sondag. - D.B.B.) ende van de nieuwe most soo versch uyt de cuyp de proef genomen, synde meest muscadel ende andere witte ronde druyven van seer goede geur ende smaeck’; ‘Is op dato d' eerste Hollantse roos aen de Caep gepluckt’; ‘'s Namiddaghs heeft den Commandeur Riebeeck met syn huysvrouw d' eerste twee lemoenen van een boomtjen, in Compagnies tuynen staende, afgepluckt’. Molsbergen (a.w., pp. 146, 147) gee 'n indrukwekkende lys van die bome, plante, | |||||
[pagina XXIII]
| |||||
sade, pitte, stekkies waarmee Van Riebeeck proewe geneem het. Sy Caepsen Hoveniers Almanack het sy opvolgers in staat gestel om te profiteer van die ervaringe wat hy op hierdie gebied in die nuwe land opgedoen het.
Ten slotte was Van Riebeeck 'n ambisieuse man. Nadat hy eers weer in Kompanjiesdiens was, het hy een ideaal gehad - lid van die Raad van Indië word. Om dié doel te bereik het hy al sy kragte ingespan. Reeds in sy brief van 16 Mei 1652 beloof hy om ‘alle doenlijcke devoiren te contribueren.... opdat wat vroegh door UEd. van hier verlost ende in India tot een capitaeler empleo mogen ontboden worden’. In 1656 bied hy sy dienste vir nog vyf jaar aan om in Indië te dien en versoek Here Sewentien om hom ‘te beneficeren met de qualité van Raedt van India’. In 1660 besluit Here Sewentien om hom na Indië te laat gaan, maar... in sy ou kwaliteit van Kommandeur, en sonder 'n woord van dank. Inteendeel. Here Sewentien was nie tevrede met Van Riebeeck se werk aan die Kaap nie. Van Riebeeck se gunstige rapporte oor die toestande aan die Kaap sou nie akkordeer met wat terugkerende Kommissarisse rapporteer nie en hy sou hulle ‘dienaengaende geabuseert’ hê. Molsbergen (a.w., p. 164) bestry dit met aanhalinge uit die rapporte en sê: ‘Alle Kommissarissen betuigden schriftelik hunne tevredenheid’. Op 12 Oktober 1656, toe hulle sy traktement tot f 130 per maand verhoog het, het Here Sewentien self oor Van Riebeeck gesê dat ‘hij ons in sijne bedieninge contentement gedaen heeft’. Die werklike rede van die here se ontevredenheid was dat die stigting aan die Kaap hom nie self bedruip het nie maar, met twee uitsonderinge, iedere jaar verliese getoon het variërende van f 6000 tot f 18000 per jaar. Net twee jare was daar 'n batige saldo'tje. In die boekhouding van die Kompanjie was daar egter geen pos vir herstelde gesondheid en gespaarde lewens nie! Van Riebeeck kon met 'n tevrede gemoed terugsien op sy tienjarige arbeid aan die Kaap. Van 'n onbeboude, woeste oord het hy 'n hardwerkende, veelbelowende kolonie gemaak - teen die oorspronklike bedoelinge van sy Meesters in. Hy het sy doel bereik om ‘alle saecken soodanigh in treijn te hebben dat de brugge genoeghsaem sal geleijt wesen, waerover onse navolgers met gemack sullen cunnen gaen’.
Die ‘verlossing’ na Indië bring nie vir Van Riebeeck die ‘advancement’ waarop hy hoop nie. Na twee maande op see kom hy met sy vrou en drie dogtertjies - twee seuntjies is jonk oorlede en twee ander was in Holland op skool - in Julie 1662 op Batavia aan. Wel word hy lid gemaak van die Raad van Justisie en kry hy opdrag om na Malakka te gaan, maar as Kommandeur, nie as Goewerneur soos sy voorganger nie. En Malakka was 'n pos wat ‘verklein’ moes word omdat dit in die | |||||
[pagina XXIV]
| |||||
laaste jare telkens groter wordende tekorte gelewer het. Van Riebeeck doen wat hy kon en hy slaag daar selfs in om binne drie jaar 'n batige saldo te toon, maar hy was ontevrede en ongelukkig op Malakka, veral nadat sy vrou, wat vir hom soveel beteken het, hom op 2 November 1664 deur die dood ontval. 'n Jaar tevore het sy hom nog 'n dogtertjie geskenk en 'n week voor haar dood op 26 Oktober, 'n onvoldrae seuntjie. Van Riebeeck ordonneer om op haar ‘sark te stellen dit volgende advijs’:
Wie Rotterdam het licht, Leyden goede zeden gaj,
Wiens troudag sagh Schiedam, leijt nu hier in het grav,
October twintig zes nam vrught, bragt pokkies by,
November twee ontsielt Marij la QuellerijGa naar voetnoot1..
Op 25 Oktober 1665 word Van Riebeeck op sy versoek na Batavia verplaas, maar nie voordat hy in Julie van dié jaar ook nog sy ‘jongste dochterken op een na.... genaamt geweest Joanna’ op Malakka begrawe het nie. Kort na sy aankoms op Batavia word Van Riebeeck deur die Goewerneur-Generaal en Rade van Indië tot Sekretaris van die Raad benoem - op een na die hoogste sport op die leer wat hy altyd wou bestyg. Raad van Indië sou hy nooit word nie. As Sekretaris van die Raad kon Van Riebeeck nog elf jaar lank die rapporte van sy opvolgers aan die Kaap, van Wagenaar tot Bax, lees, vermoedelik met meer ergernis as plesier. Behalwe dat die vryburgerkolonie stadig uitgebrei het, het daar die eerste jare na sy vertrek nie veel verandering en vooruitgang gekom nie. Die bou van die Kasteel van 1672 sal Van Riebeeck wel met lede oë aangesien het, want dit het beteken dat die ou fort, een van sy grootste werke aan die Kaap, in 1674 afgebreek is. Die opbloei onder Van der Stel kon hy nie meer aanskou nie.
Van Riebeeck het hulp nodig gehad met die opvoeding van sy dogtertjies en die nakoming van sy sosiale pligte as Sekretaris van die Hoë Regering, en hy is op die 10de Maart 1667 hertroud met 'n ander predikantsdogter, Maria Scipio, dogter van Ds. Isaac Scipio. Van Riebeeck was haar derde man. Uit hierdie huwelik is op 24 Januarie 1670 'n seun, Joan van Riebeeck, gebore. Die aantekening van die geboorte en die doop van hierdie naamdraer is die laaste inskrywing in Van Riebeeck se ‘outobiografie’. Blykbaar het sy lewe daarna geen belangrike gebeurtenisse of hoogtepunte geken nie. Ons kan aanneem dat hy ywerig en getrou sy hoë offisiële pligte vervul het tot volkome tevredenheid van sy owerhede. Weinig blankes het dit reggekry om oud te word in die Indiese klimaat, ook Van Riebeeck nie. Op 57-jarige leeftyd het hy bedleërig geword. In die vyf maande | |||||
[pagina XXV]
| |||||
wat hy die bed moes hou, sal sy gedagtes dikwels teruggegaan het na die Kaap en na Holland, veral na sy twee seuns wat hy in sestien jaar nie gesien het nie, Lambertus en Abraham, wat toe net in Leiden in die regte gepromoveer het en op weg was na Indië - maar te laat aangekom het om sy vader nog in die lewe te sien. Op die 18de Januarie 1677 is Jan van Riebeeck ‘in den Heere ontslapen en wyders op 19 do. namiddaghs statelijc in de groote kerck deser stede <Batavia> in geleyde van Zijn Edt. <die Goewerneur-Generaal> nevens alle de heeren Raden van India en veel gequalificeerde ministers, gaende de Comp. soldatesque des casteels met volle geweer vooraen; en wiert het wapen van den overledene oock vooruijt gedragen door den coopman, Adriaen van Lier’Ga naar voetnoot1.. Hiermee verdwyn die naam van Jan van Riebeeck met sy grafsteen voorlopig uit die rolle van die geskiedenis. Sedert 1824, met die verskyning van die eerste aflewering van die Dagverhaal van den Commandeur van Riebeek, in Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift, is ons besig om hom aan die vergetelheid te onttrek en die plek te gee wat hom toekom as Eerste Stichter der Colonie aan Cabo de Boa Esperance. In 1952 lê Nederland en Suid-Afrika die laaste hand aan die eerherstel. | |||||
b. Uitgawes van die DaghregisterDie Redaksie van Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift skryf in die tweede aflewering van sy eerste jaargang (Mei-Junie 1824) dat boeke oor die geskiedenis van Suid-Afrika ‘niet veel voor handen zyn, eenige oude oorkonden zyn verloren geraakt, andere zyn onleesbaar geworden, sommige zyn zeker niet dan met zeer groote moeite te bekomen, en onder deze is zeker zeer belangryk het Dagverhaal van den Commandeur van Riebeek, den aanlegger der Hollandsche Volksplanting aan dezen Uithoek. De toestand van dit voorgebergte by zyne aankomst, en de vele moeyelykheden waarmede de eerste aanleg gepaard ging, zyn daarin aangestipt. Deze bladeren de vergetelheid te ontrukken, voor dat de knabbelende muis ze heeft verslonden, meenen wy onze pligt te zyn, en met dat dagverhaal in deszelfs oorspronkelyken styl en bewoordingen door middel van dit Tydschrift het licht te doen zien, hopen wy elken Zuid-Afrikaan eene aangename lectuur te verschaffen’ (ald. p. 104). Na 'n kort inleiding, waaruit bostaande gehaal is en waarin die vertrek van Van Riebeeck op 14 Desember 1651 met sy familie aan boord van die Drommedaris, die eentonige van die seereis en die eerste gesig op Tafelberg in 'n paar reëls vermeld word, begin die eintlike dagverhaal op 5 April 1652: ‘Omtrent vyf glazen in den nademiddagwacht, zagen wy, Gode lof, het land van de Cabo de boa Esperance.’ | |||||
[pagina XXVI]
| |||||
Die eerste jaargang van die NZAT bring die verhaal tot 11 Oktober 1652 en eindig met die aantekening: ‘Is voormelde sententie ter executie gesteld’. Die Dagverhaal - soos die Daghregister hier vir die eerste maal genoem word - word in volgende jaargange gereeld voortgesit, ongeveer 10 bladsye per aflewering. Die spelling is gemoderniseer en die taal hier en daar ook enigsins. Af en toe word daar stukkies - soms stukke - weggelaat sonder om die weglating aan te dui. Daar kom voetnote voor, maar nie veel nie. Om ruimte te bespaar word die Dagverhaal in die latere dele in kleiner letter geset. Die uitgawe is nie wetenskaplik nie maar vir sy tyd verdienstelik. Die publikasie word voortgesit tot 1840 (deel XVII, afl. 1) en eindig, sonder enige verklaring, met die aantekening van ultimo Desember 1658.
Wie was die bewerker van hierdie uitgawe? In die eerste aflewering van die NZAT (Maart-April 1824) kom op bladsy 2 'n noot ‘Aan Korrespondenten’ voor waarin dit heet: ‘Het Dagverhaal van den Gouverneur van Riebeek, is allerbelangrykst. Het kwam te laat om in het eerste nommer iets daarvan te gewagen. Wy hopen om in het toekomende er een goed gebruik van te maken. De Redakteur <Ds. A. Faure> gevoelt zich zeer verpligt aan zynen vriend, den Wel-Ed. Hr. B. die hem dat gedenkwaardig stuk der oudheid heeft geleverd.’ As hier gestaan het Wel-Eerw. in plaas van Wel-Ed. sou ek wou dink aan Ds. M. Borcherds van Stellenbosch. Nou moet ons miskien dink aan P.B. Borcherds, D.F. Berrangé, C.J. BrandGa naar voetnoot1.. Die publikasie van die Dagverhaal van den Wel-Ed. Heer Jan van Riebeek, Eersten Gouverneur aan den Kaap de Goede Hoop in Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift van 1824 tot 1840 het nie die waardering ontvang wat dit verdien het nie, seker nie in Suid-Afrika nie. Die Historisch Genootschap te Utrecht, in 1842 onder 'n ander naam opgerig, het hierdie Dagverhaal egter al vroeg opgemerk. In die Koninklijke Bibliotheek in Den Haag is daar 'n seldsame boekie: Dagverhaal/van/ Jan van Riebeek/Eerste Gouverneur aan de Kaap de Goede Hoop/1651./ Uitgegeven door het Historisch-Gezelschap te Utrecht./ Utrecht/Kemink en Zoon/1848. Die boekie beslaan 87 bladsye en bevat 'n soort voorwoord, waaruit ek aanhaal: ‘Onze vestiging aan de Kaap de Goede Hoop dagteekent van 1651, en is door Valentyn,....van Kampen,....Kolbe behandeld....doch geen dezer schrijvers | |||||
[pagina XXVII]
| |||||
treden in bijzonderheden. Van Jan van Riebeek, die als eerste grondlegger der Kolonie moet beschouwd worden, melden zij genoegzaam niets. Intusschen bestaat er een dagverhaal, waarin deze wakkere bevelhebber al het voorgevallene beschrijft, en wat wij daarvan in het tijdschrift de Zuid-Afrikaan <1824> hebben aangetroffen, deelen wij thans mede. Ook het slot hoopen wij magtig te worden, in welk geval er op dit kleine bundeltjen eerlang een tweede gedeelte zal volgen.’ En dan volg daar 'n letterlike afdruk van die Dagverhaal in die NZAT, wat loop tot 11 Oktober 1652 en eindig met die woorde: ‘Is voormelde sententie ter executie gesteld’, d.w.s. die eerste drie afleweringe van die NZAT tot einde 1824. Die lang notas van die NZAT word weggelaat. In verband met hierdie uitgawe ontstaan allerlei vrae, byvoorbeeld in verband met die naam van die tydskrif in die voorwoord aangegee en die feit dat in 1848 blykbaar net die eerste jaargang (van 1824) bekend was.
In die Kronijk van het Historisch Genootschap te Utrecht kry ons die voorgeskiedenis van die volledige uitgawe van die Dagverhaal in drie dele in die Werken van die Utrechtse Genootskap onder redaksie van W.G. Brill - die eerste deel in 1884 by Kemink en Zoon te Utrecht, die twee latere dele in 1892 en 1893 by Martinus Nijhoff te 's-Gravenhage. In verband met hierdie uitgawe gee ek enige uittreksels uit die Kronyk. In die 4de jaargang (1848), bls. 226 (vergadering van 2 Des. 1848) ‘geeft de heer Berg van Dussen den wensch te kennen, dat het door het gezelschap uitgegeven verhaal van Jan van Riebeek, (overgenomen uit het tijdschrift de Zuid-Afrikaan) mogt worden voortgezet’. Op bls. 227: ‘Ten aanzien van het vervolgen van het dagverhaal van Jan van Riebeek wordt, op voorstel deswege van den heer voorzitter, door de leden besloten, den meergenoemden heer <Berg van Dussen Muilkerk> beleefdelijk uit te noodigen, om dezen arbeid wel op zich te willen nemen of althans door zijne voorlichting het bestuur daartoe in staat te stellen.’ Vyfde jaargang, bls. 7, vergadering van 6 Jan. 1849: ‘De gemelde heer <B.v.D.M.> acht het allezins belangrijk, om ook het slot van dit verhaal uit het tijdschrift de Zuid-Afrikaan, in een afzonderlijk boekdeeltje over te nemen en verklaart zich voorts bereid, om, zoo het bestuur alsdan dit volledig dagverhaal nader wenscht toe te lichten, daartoe zijne medehulp te verlenen.’ Hier kan opgemerk word dat as die heer B.v.D.M. bewus was van alles wat toe reeds in die NZAT verskyn het, dit nie 'n ‘boekdeeltje’ nie, maar 'n boekdeel van ongeveer 1000 à 1200 bladsye sou uitgemaak het. Ons hoor niks verder van die voorgenome uitgawe van die dagverhaal nie tot in 1853, toe die heer P.A. Leupe kom met die versoek om ‘eenige stukken, die in betrekking staan tot de vestiging der onzen aan de Kaap....bij de voortzetting van het Dagverhaal van Riebeeck’ as bydraes op te neem (IXde jg., bls. 400). | |||||
[pagina XXVIII]
| |||||
Tewens doen die heer Leupe 'n belangrike mededeling: ‘Onder de van de Kaap aan de Oost-Indische kompagnie (kamer Amsterdam) ingekomene stukken heeft de heer P.A. Leupe het ontbrekende aan het dagverhaal van Jan van Riebeeck, hetwelk in het tijdschrift de Zuid-Afrikaan tot ult. 1658 loopt, aangetroffen.’ Hier vind ons vir die eerste maal melding gemaak van die volledige materiaal van die Daghregister. Latere jaargange van die Kronyk bevat verdere mededelinge van Leupe oor stukke in verband met die vestiging aan die Kaap, o.a. briewe van Van Riebeeck van 5 Maart en 17 Mei 1657 (IXde jg., p. 400), 'n brief waarin Wagenaar vra om Van Riebeeck te mag opvolg, gedateer 10 April 1662 (Xde jg., 1854, pp. 126-132), 'n mededeling oor die voorgeskiedenis van die vestiging, o.a. die besluite van Here Sewentien van 20 Aug. 1650 en 20 Maart 1651 met instruksie aan Van Riebeeck (XIIde jg., 1856, pp. 229-237). Die Kronyk word gestaak in 1875, nege jaar voor die verskyning van die eerste deel van die Dagverhaal. Vir die volgende gegewens is ek dank verskuldig aan Dr. J.H. Kernkamp, Bibliotekaris van die Rijksuniversiteit, Utrecht, en Mnr. G.A. Evers, Bibliotekaris van die Historisch Genootschap, Utrecht. Volgens die notule van die Genootschap is die heer P.A. Leupe reeds in 1855 uitgenooi en het hy hom bereid verklaar om die uitgawe van die Dagverhaal te versorg (Not. 29 Okt. 1855). Leupe word gemagtig om die gedeelte van die joernaal wat nie in die NZAT (daar is nog altyd sprake van die ‘Zuid-Afrikaan’) afgedruk was nie, te laat kopieer. Die joernaal was destyds in die Oud-Koloniaal Archief te Amsterdam. Nog dieselfde jaar berig Leupe dat die Minister van Kolonies toestemming gegee het om 'n afskrif te laat maak en in 1856 word die afskrif oor die jare 1659-1662 in Utrecht ontvang (Not. 6 Okt. 1856). Hierdie vlot aanvang loop egter onmiddellik dood. Van 1856 tot 1878 ‘bleef het afschrift te Utrecht rusten’. In 1878 word die aandag van die Bestuur van die Genootschap weer op die saak gevestig, nl. deur 'n brief van Dr. J. Brill van Bloemfontein, die bekende vroeë voorvegter van die reg van Afrikaans as skryftaal. ‘Op aanzoek van de autoriteit aldaar’ (wie was dit?) maak Dr. Brill die wens kenbaar om die Dagverhaal in sy geheel uit te gee. Dan kom daar onmiddellik weer skot in die saak. Die voorsitter onderneem om te ondersoek ‘of het volledige handschrift in het Rijks- of het Koloniaal Archief berust’ (Not. 6 Mei 1878). In die bestuursvergadering van 12 Mei 1883 word besluit om die Dagverhaal ‘ter perse te leggen’ en in November d.a.v. blyk dat met die set en druk 'n aanvang gemaak was. 'n Jaar daarna, in 1884, verskyn Dagverhaal van Jan van Riebeeck, Com- | |||||
[pagina XXIX]
| |||||
mandeur aan de Kaap de Goede Hoop. 1e Deel (1652-1655) as no. 39 in die Nieuwe Serie van die ‘Werken van het Historisch Genootschap, gevestigd te Utrecht’, by Kemink en Zoon, Utrecht. Uit die notule blyk nie wie die uitgawe versorg het nie. Die Inleiding op die eerste deel is nie onderteken nie. Leupe was tot 1881 aan die Rijksarchief in Den Haag werksaam en daar is aanduidings dat hy hom met die maak van die nuwe afskrif - waarskynlik die van 12 Oktober 1652 tot 31 Desember 1655, waar die hs. van die Rijksarchief en nie meer die teks van NZAT gevolg word nie - bemoei het. Hy is in 1881, drie jaar voor die verskyning van die eerste deel van die Dagverhaal, oorlede. Blykens die notule van 18 Okt. 1884 sou die Genootschap daar werk van maak om ook 'n afskrif van die joernaal oor 1656-1658 te verkry. Vir dié doel is dit toegelaat om die hs. van die Algemeen Archief in Den Haag na die Rijksarchief (blykbaar was dit destyds die benaminge) in Utrecht oor te bring, waar dit gekopieer is, nadat die voorsitter (Dr. W.G. Brill) ‘aangetekend heeft wat bij de druk kan worden weggelaten’. Hiervan word rekenskap gegee in die Inleiding tot die tweede deel, p. VIII. In die bestuursvergadering van 4 Okt. 1890 word die aandag daarop gevestig ‘dat het eerste deel nog steeds op voortzetting wacht’, maar reeds op 4 April 1891 word die voorsitter gemagtig om die tweede deel na die pers te stuur. In Maart 1892 was die tweede deel afgedruk - Nieuwe Serie no. 58, uitgegee deur Martinus Nijhoff, 's-Gravenhage. Die ag jaar wat daar lê tussen die verskyning van die eerste en die tweede deel hou stellig verband met die maak van die afskrif. Die 3de Januarie 1891 staan genotuleerd dat Dr. W.G. Brill die wens uitspreek om die toe nog onuitgegewe gedeelte van die Dagverhaal (die 2de en die 3de deel) ‘nog te mogen uitgeven’. Aan die wens is klaarblyklik sonder meer voldoen. Uit die vorm waarin hy die wens uitgespreek het, sou ons mag aflei dat Dr. Brill ook die uitgawe van die eerste deel versorg, of help versorg het. In die tweede paragraaf van die Inleiding tot Deel 2 vereenselwig Dr. Brill hom met die skrywer van die Inleiding tot Deel 1, ten minste as ons die ‘wij’ as redaksionele meervoud mag beskou. In 1892, onmiddellik na die verskyning van die tweede deel, word die vervolg na die uitgewer gestuur en Dr. Brill weer met die uitgawe belas. 'n Jaar later verskyn hierdie derde en laaste deel. Die Inleiding van die tweede en derde deel is deur Dr. W.G. Brill onderteken. Waarom die uitgawe aan hom toevertrou is, blyk nie uit die notule nie, maar ons kan vermoed dat die versoek van Dr. J. Brill van Bloemfontein daar iets mee te doen het. | |||||
[pagina XXX]
| |||||
Die uitgawe van Brill moet beskou word as 'n blote teksuitgawe. Die kort inleidinge en die uiters spaarsame voetnote kan dit nie tot 'n tekskritiese uitgawe maak nie. Die tallose kopieer- en setfoute - dit is moeilik om tussen die twee klasse te onderskei - ontsier ook maar al te dikwels die werk as blote teksuitgawe. Die klaklose herdruk, op die eerste 72 bladsye, van die populariserende tydskriflesing van die NZAT, is moeilik te begryp. Dat die twee lesinge van die joernaal van 16 en 17 Maart 1656 sonder enige kommentaar gegee word, dui daarop dat die afskrif van die ms. vrywel meganies gedruk is. Met al sy tekortkominge was die Dagverhaal stellig een van die waardevolste uitgawes van die Utrechtse Historisch Genootschap. Dit het ons in staat gestel om Theal se beskrywing van die man en sy werk krities te beoordeel. Dit het Godée Molsbergen en honderde ander van ons toegang tot die oorspronklike gegee sonder dat ons al die moeisame argiefwerk self moes doen. Dit het ons Stigter vir ons toeganklik gemaak.
Volledigheidshalwe moet hier nog genoem word die publikasie in 1897 by W.A. Richards & Sons, Government Printers, Cape Town, van Riebeeck's Journal &c. in drie dele deur H.C.V. Leibbrandt, Kaapse argivaris, as onderdeel van sy Precis of the Archives of the Cape of Good Hope. Hierdie Journal is in die vorm van uitvoerige, in Engels vertaalde, uittreksels uit die Daghregister. In hoever die uittreksels geneem is uit die Kaapse Kopie, uit die sogenaamde Verbatim Copy in die Kaapse Argief, of gebaseer is op Brill se uitgawe van die Dagverhaal, is nie uit te maak nie, behalwe in so ver dat die uitreis van Van Riebeeck na die Kaap ook geresumeer is. Soos hiervóór aangedui kom die reis nie voor in Brill se uitgawe nie en is dit vandag ook nie meer aanwesig in die Kaapse Kopie van die Daghregister nie. Leibbrandt se Precis het in die verlede belangrike dienste bewys aan skrywers oor die vroegste tydperk van die blanke nedersetting aan die Kaap. Net soos Brill se Dagverhaal behoort die Journal vandag tot die skaarse Africana. | |||||
c. Die teks‘Van alle 't geene omtrent u passeert sult correcte notitie ende daghregister houden sonder daervan te blijven in gebreecke’. Uit hierdie instruksie ‘geresolveert ter vergaderinge van de seventhiene binnen Amsterdam den 25en Maart sesthien hondert een en vijftich’ spruit die ‘Daghregister, gehouden bij den oppercoopman Jan Anthonisz. van Riebeeck, vertrocken per de schepen Drommedaris, Reijger ende Goede Hoope voor opperhooft naer Cabo de boä Esperance, in dienst van de Generale Vereenighde Nederlantsche G'octroyeerde Oostindische Comp. uijt Texel, van de Camer Amsterdam.’ | |||||
[pagina XXXI]
| |||||
Van hierdie Daghregister is daar kopieë bewaar in die Kaapse Argief en in die Rijksarchief in Den Haag. Die Kaapse kopie (K) is onvolledig en swaar gehawen. Die eerste elf maande van die joernaal - van 14 Desember 1651 tot 13 November 1652 - ontbreek heeltemalGa naar voetnoot1., en van 13 November 1652 tot einde Maart 1659 is die onderste gedeeltes van die bladsye grotendeels vergaan, sodat daar gewoonlik 'n reël of ag, 'n enkelekeer byna 'n halwe bladsy van die teks ontbreek. Ook die laaste gedeelte van K is sleg bewaar en teen die einde is daar groot gapinge in die bladsye. Die oorspronklike plan van die Van Riebeeck-Vereniging om die Kaapse teks te publiseer, het dus by nader ondersoek ondoenlik geblyk. Die Haagse kopie (H) is oor die algemeen in goeie toestand bewaar. Alleen | |||||
[pagina XXXII]
| |||||
ontbreek daar, soos ons later sal sien, die joernaal oor die periode 22 April 1654 tot 23 April 1655. Op versoek van die Van Riebeeck-Vereniging het die Suid-Afrikaanse Regering in 1946 daarin toegestem om vir die doel van hierdie uitgawe 'n volledige fotokopie van die Haagse teks te laat maak. Die werk is pragtig uitgevoer op die Rijksarchief in Den Haag, en bevind hom nou in 15 bande folio-formaat op die Kaapse Argief. Van die aanhef van die Daghregister is daar op die Haagse Argief twee kopieë: die een (HA) in die foliant gemerk Koloniaal Archief, 1079, folio 192 tot 212, lopendevan 14 Desember 1651 tot 18 April 1652; die ander (H) in foliant Koloniaal Archief, 3966, fol. 26 tot 150, lopende van 14 Desember 1651 tot 10 Maart 1653. 'n Besondere merkwaardigheid van HA (Kol. Arch. 1079, fol. 212 verso) vind ons onder datum 18 April 1652, nl. 'n inskrywing in die handskrif van Van Riebeeck en deur hom onderteken! 'n Verdere eienaardigheid van hierdie inskrywing is dat die naam van die tweede verstekeling: Juriaen Vruchtnight van Hamburg, ontbreek in die teks van Kol. Arch. 3966 en nêrens elders teruggevind word nie, nog in die resolusie van 19 April 1652, nog in die uitgaande brief van 25 Mei 1652 aan Goewerneur-Generaal en Rade van Indië, in albei waarvan die drie ander name genoem word, nog in latere monsterrolle. Die slordigheid van die skrif sou aan haas kan | |||||
[pagina XXXIII]
| |||||
toegeskrywe word, maar nie die invoeging van die naam van 'n denkbeeldige persoon nie. 'n Foto van die bladsy en 'n transkripsie van die inskrywing word gegee. Transkripsie: 18en do. is onse schipper met den schipper van den Salmander uijt vissen gevaren, en hebben van haer overgenomen vier personen die haer versteecken hadden, als naementlijck
Joan van Riebeeck 1652 | |||||
[pagina XXXIV]
| |||||
Die dagverhaal word vervolg op 9 blaaie in eersgenoemde deel, Kol. Arch. 3966, fol. 255-263, van 9 Maart 1653 tot 2 Mei 1653, en daarna in Kol. Arch. 3967, fol. 58-121, van 9 Maart 1653 tot 21 April 1654. Dit sal opgemerk word dat die aantekeninge vir 9 en 10 Maart 1653 drie maal en dié vir 11 Maart tot 2 Mei 1653 twee maal voorkom. (Ons teks volg Kol. Arch. 3966, fol. 26-150 en Kol. Arch. 3967, fol. 58-121.)
| |||||
[pagina XXXV]
| |||||
Die drie verskillende weergawes van die aantekeninge vir 9 en 10 Maart 1653, vertoon drie verskillende handskrifte. Volledigheidshalwe kan hier by voorbaat nog opgemerk word dat die verhaal van 8 April 1656 tot 3 Junie 1656 ook dubbel opgeneem is - ons teks volg Kol. Arch. 3969 - sowel as die grootste deel van die aantekeninge op 11 April 1657. Kol. Arch. 3967 dra die opskrif: Brieven en Papieren van de Cabo de Bonne Esperance / Begint den 13 October 1653 / Eindigt den 8 Augustus 1654. Op fol. 58 begin die vervolg van die Caeps Daghregister, soos gesê, weer op 9 Maart 1653, en gaan tot fol. 121v. waar die gebeurtenisse van 21 April 1654 vermeld word. Die volgende deel, Kol. Arch. 3968: Brieven en Papieren van de Cabo de Bonne Esperance overgecomen per de schepen Malacca, Walvis, Orange, Oliphandt, en Nieuw Enckhuijsen gearriveert den 25 July en 7 September 1656’, bevat van fol. 62 tot fol. 129v. die gebeurtenisse van 23 April 1655 tot 16 Maart 1656. Dit blyk hieruit dat die dagverhaal van 22 April 1654 tot 23 April 1655 in die Haagse Argief ontbreek, en nie alleen die dagverhaal nie maar blykbaar alle Kaapse stukke wat in 1655 moes oorgekom het. Om die gaping tussen 22 April 1654 en 23 April 1655 te vul, is daar deur die Rijksarchief aangevra en ontvang van die Kaapse Argief: Kopieën over de Kaap (Koloniale Aanwinsten 179c). Hierby is aangeteken: ‘Deze ontbrekende stukken in ons Archief van het Engelsch Gouvernement in 1878 aangevraagd en January 1879 ontvangen’. Hierdie afskrif van K gaan van 7 April 1654 tot 22 April 1655 en verder van 6 April 1656 tot 23 April 1656. Dit is nie duidelik waarom meer gestuur is as wat in Den Haag ontbreek het nie. Van 7 tot 20/21 April 1654 was wel in die Haagse Argief (Kol. Arch. 3967, folio 117-121) sowel as die gedeelte 6 tot 23 April 1656 (Kol. Arch. 3968, fol. 312 vlg.). Die Daghregister in Den Haag word dan vervolg, soos bo aangehaal, in Kol. | |||||
[pagina XXXVI]
| |||||
Arch. 3968, en fol. 62 tot fol. 129 bevat die gebeurtenisse tussen 23 April 1655 en 17 Maart 1656, en word voortgesit op fol. 288 (16 Maart 1656) - maar die inhoud van hierdie folio kom nie ooreen met wat op folio 129 onder 16 en 17 Maart gegee word nie! Trouens, om een of ander rede was die kopiïs hier erg in die war. ‘Sondagh den 13den’ volg op ‘Sondagh den 12den’. Buitendien het die kopiïs eers die 14de uitgelaat en later in margine ingevul. Die vervolg op fol. 288 gaan tot fol. 291 - net vier dae - en eindig op 7 April 1656. Dan vervolg die joernaal op fol. 312 (8 April) en gaan tot 3 Junie 1656. Die vervolge van die Daghregister in die Haagse Argief (Kol. Arch. 3968-3972) gee weinig aanleiding tot verdere opmerkinge. Daar is meer herhalinge - so van 8/4/1656 tot 3/6/1656, reeds genoem, - en 'n gaping van 6/2/1658 tot 28/2/1658 - maar origens loop die verhaal deur tot aan Van Riebeeck se vertrek...en daarna.
Sowel in die geval van die Kaapse as van die Haagse teks het ons te doen met kopieë. Wat die Haagse teks betref, blyk dit al dadelik uit die woord gecolla <tionneerd> op die eerste folioblad. Dit wil sê, dit is 'n gelyktydige afskrif aan die Kaap gemaak, met die oorspronklike vergelyk en as offisiële stuk na die Here Sewentien in Nederland gestuur. Op dieselfde manier word daar kopieë van alle stukke gestuur na die Goewerneur-Generaal en Rade in Indië - onder wie die Kaapse ‘ommeslagh’ geressorteer het - en wel ‘in alles dubbelt’ (Brief Van Riebeeck, 16 Mei 1652, by Leibbrandt: Precis of the Archives of the Cape of Good Hope, Letters Despatched, dl. I, p. 35). Hierdie verdubbeling het o.a. geskied met die oog op die gevaar dat die ‘posskip’ vergaan. Ons kan aanneem dat ook die stukke na Nederland, om dieselfde rede, minstens in duplo gestuur is. En aangesien daar blykbaar, altans in sommige gevalle, kopieë na verskillende Kamers in die Vaderland gestuur is, begryp ons waarom ‘bijna alle stukken zes à zevenmaal werden gekopieerd’ (Godée Molsbergen: Jan van Riebeeck, p. 136). Dat meer as een kopiïs vir hierdie doel gebruik is, en dat die kopieë nie altyd met religieuse nougesetheid gemaak is nie, lê voor die hand en blyk uit die bewaarde tekste. In die Kaapse, sowel as in die Haagse teks, kom daar gedurig verandering van handskrif voor. Die aangeduide herhalinge in die teks kan verklaar word deurdat die verskillende afskrywers nie altyd op dieselfde punt afgesluit het, en dit nie altyd die afskrif van dieselfde kopiïs is wat as vervolg dien nie. Om dieselfde redes kan daar ook lacunes ontstaan, soos die van Februarie 1658. Dat ons in die geval van die Haagse teks met 'n kopie te doen het, blyk ten oorvloede uit die vele gevalle waar die kopiïs blank ruimtes gelaat het, vermoedelik omdat hy die oorspronklike nie kon ontsyfer nie. So kom daar in Brill se uitgawe van die dagverhaal telkens stippeltjies voor met 'n voetnoot daarby: niet ingevuld of in de copie oningevuld (Dl. I, pp. 97, 198; 371, 394, 402, 449, ens.). | |||||
[pagina XXXVII]
| |||||
Van die talle gevalle van verskrywinge word daar in die note by die teks herhaaldelik voorbeelde gegee, hoewel die duidelike gevalle dikwels stilswygend verbeter is. Dat ook die Kaapse teks 'n kopie is, blyk al voldoende daaruit dat herhaaldelik woorde, en selfs reëls weggelaat is wat in die Haagse teks voorkom. So ontbreek daar byvoorbeeld onder datum 10 November 1652 in die joernaal van Turver die woorde: ‘ende het rollen van die zee haer beletten. Ick sont se’ na ‘een musquetschoot van 't lant’Ga naar voetnoot1..
Wat van die oorspronklike teks of die ‘minuten’ van die Daghregister geword het, weet ons nie. Die enigste aanduiding wat ons daaromtrent besit, kry ons in 'n briefGa naar voetnoot2. van Abraham van Riebeeck, seun van Jan van Riebeeck, en Goewerneur-Generaal van Nederlands-Indië, wat aan sy skoonseun Joan van Hoorn, Oud-Goewerneur-Generaal, in 1711 as volg skryf: ‘UEHoogEdt. heeft onder mijn gesien de minuten van het Caebse dagregister die hij (“mijn vader salr.”) nevens d' afgaende brieven selfs heeft moeten formeeren’ (Brief van 13/1/1711 in Koloniale Aanwinsten, 224, Rijksarchief, Den Haag, aangehaal deur Godée Molsbergen, Jan van Riebeeck, p. 253, sonder opgaaf van vindplaas). Uit die aangehaalde passasie sou mens kan aflei dat Jan van Riebeeck die oorspronklike van die Daghregister met hom meegeneem het na Indië en dat dit daar verlore gegaan het. Navraag by die Landsarchief in Batavia het geen gevolg gehad nie. | |||||
d. Verantwoording van die gedrukte teksDie bedoeling van hierdie Nederlandse uitgawe van die dagverhaal van Van Riebeeck is om 'n so getrou moontlike weergawe van die beste hs. van die Daghregister te gec. Die teks is dus in sy geheel en, behoudens die gewone reëls vir die uitgee van dergelike historiese beskeide, onveranderd afgedruk. Die betrokke reëls laat toe of skryf voor, o.a. dat afkortinge opgelos word; nuwe alineas aangebring of oue weggelaat kan word; woorde wat blykbaar deur slordigheid weggelaat of vir 'n beter begrip van die teks noodsaaklik beskou word, tussen skerphoekige hakies < > in die teks ingevoeg word; hoof- of klein letters op rasionele manier aangewend word; die ou interpunksie deur 'n rasionele vervang word. In hierdie uitgawe is nie alle verkortinge opgelos nie, deels omdat verkorting van praktiese belang is by dikwels voorkomende gevalle, bv. etc. vir et cetera, do. | |||||
[pagina XXXVIII]
| |||||
vir dito (of ditto), voorsz. vir voorschreven, ens.; deels omdat meganiese oplossing gevaarlik kan wees, soos in hierdie uitgawe ongelukkig blyk. Die verkortinge Ul. en passo. is naamlik deur die afskrywers reëlmatig opgelos in Ulieden en passato. Tog kom ook die onverkorte vorme luyden naas lieden en passado naas passato voor. Sover moontlik is die onverkorte Ul. later herstel; die onverkorte passado kom so selde naas die dikwels voorkomende onverkorte passato voor dat die oplossing passato gelaat is. Die taalkundige leser word egter gewaarsku dat passato en 'n enkele Ulieden oplossinge kan wees vir passo. en Ul. waar die skrywer miskien passado en Uluyden bedoel het. Die dagverhaalstyl van Van Riebeeck ontaard soms in telegramstyl, en om tegemoet te kom aan Afrikaanse lesers, wat ook daarsonder moeite genoeg met die taal mag hê, is daar meermale bv. 'n <wij> ingevoeg wat nie strik noodsaaklik is nie. Ook is daar om dieselfde rede rojaal te werk gegaan met kommas, dikwels om byeenhorende woordgroepe af te baken ten einde die bou van die sin duideliker te laat uitkom. Oor die algemeen is die fonetiese sisteem van interpunksie gevolg, nie die logiese nie. Die aaneenskrywe van woorde het dikwels groot moeilikhede veroorsaak. Samestellinge soos noordooste-wind of sonneschijn-weer word altoos aaneengeskryf of met 'n koppelteken verbind, hoewel die dele in die hs. gewoonlik los staan. Daarteenoor word samekoppelinge dikwels gelaat soos hulle in die hs. verskyn, behalwe wanneer aaneenskrywe bydra om die teks makliker verstaanbaar te maak. Taalondersoekers word gewaarsku dat op hierdie punt geen gevolgtrekkinge gemaak kan word aangaande die oorspronklike toestand nie. Sowel wat samestellinge as samekoppelinge betref, heers in die hs. die reinste chaos. Die oorspronklike het bo aan iedere bladsy: In 't schip den Drommedaris of Aen Cabo de boä Esperance of In 't fort de Goede Hoope, soos die geval mog wees. Dié opskrifte is, behalwe die eerste keer waar hulle voorkom, in die gcdrukte teks weggelaat. Ook is weggelaat kanttekeninge wat sporadies voorkom as aanduidinge van wat in die teks behandel word. Daarenteen is bo aan die bladsy die maand en die jaar aangegee en in die marge die no. van die foliobladsy, bv. 46, 46v, waar v staan vir verso. Die oorgang van een foliant na die ander bv. Kol(oniaal) Arch(ief) 3966 na K.A. 3967 word gereeld aangedui. Sodoende kan sonder moeite 'n plek in die gedrukte teks teruggevind word in die oorspronklike argiefstuk. Die eerste deel van die gedrukte teks (van 14/12/1651 tot 31/12/1652) is van die handskrif afgetik deur Mej. M.K. Jeffreys, destyds van die Kaapse Argief, die tweede en verweg die grootste deel (van 1/1/1653 tot 21/4/1654 en van 23/4/1655 tot aan die end) deur Mnr. H. Brouwer van die Rijksarchief in Den Haag. Die gedeelte van 22/4/1654 tot 23/4/1655 is afgedruk na 'n fotografiese kopie van die sogenaamde Verbatim Copy in die Kaapse Argief, gemaak in 1878 en waaroor gehandel word in die paragrawe oor die teks. | |||||
[pagina XXXIX]
| |||||
e. Aantekeninge by die taal van die DaghregisterVir die leser bekend met Middel- en Sewentiende-eeuse Nederlands bevat die note aan die voet van die bladsye, hoe beknop ook al, stellig veel wat oorbodig is. Die redakteur moes egter rekening hou met die feit dat vir baie intekenaars van die Van Riebeeck-Vereniging selfs moderne Nederlands in mindere of meerdere mate 'n vreemde taal is. By die opstelling van die aantekeninge is veronderstel dat die leser vertroud is met Nieu-Nederlands en sonder te veel moeite die gewone taal van die 17de eeu sou kan verstaan. Maar die taal van die Daghregister is ook vir 'n goeie kenner van Nederlands nie altyd musiek om van die blad te speel nie. Ons wil dus hoop dat die aantekeninge aan die een kant nie te rojaal sal wees nie en aan die ander voldoende hulp sal bied om die teks te begryp. Dit sal opgemerk word dat die redakteur self baiemaal maar 'n slag moes slaan na die betekenis en dikwels genoeg sy onvermoë met 'n vraagteken aangedui het. Vir sintaktiese beskouinge was daar by die aantekeninge geen plaas nie - die teks- en woordverklaringe neem al baie ruimte in - en vir etimologiese hoogs selde. Die meeste wat gedoen kon word, was om 'n enkele keer die aandag van 'n taalkundig geïnteresseerde leser op 'n interessante ooreenkoms tussen die sintaksis van Van Riebeeck en die huidige Afrikaans te vestig. Uit die aard van die saak is die aantekeninge meestal woordverklarend. Vandaar die veelvuldige verwysinge na die Woordenboek der Nederlandsche Taal (WNT). Dit word gehoop dat die bewerkers en hersieners van die WNT in hierdie uitgawe ook hier en daar iets van hulle gading sal vind - al was dit maar net 'n verbeterde lesing. Die verwysinge van een deel van die Daghregister na 'n ander, hoewel vir die gewone leser miskien hinderlik, beskou ek as verantwoord. Dat dieselfde woord, konstruksie of sametrekking meer as eenmaal verklaar word sonder verwysing na die voorafgaande gebruik daarvan, geskied vir die gerief van die leser. Meestal sou so'n verwysing geen ruimtebesparing gewees het nie. Vir die gerief van sommige lesers volg hier enige opmerkinge in verband met die mees voorkomende afwykinge in die skryfwyse in die Daghregister en die teenswoordige Nederlandse spelling: ae = aa: mael, daernae; oe staan meestal vir dieselfde klank as in Nieu-Nederlands: groen, moet; maar soms oe = oo: voert, moey vir voort, mooy. Die verband moet dan aantoon of bv. coeyen = koeien of kooien. Ook kry ons royen vir rooien sowel as vir roeien. Die tweede lid van 'n diftong word gewoonlik deur y voorgestel: fray, leyden, coeyen, fluyt; uy voor r = gewoonlik uu: duyr, guyr vir duur, guur; c = gewoonlik k, selfs in gewone Ndl. woorde soos comen, coningh; | |||||
[pagina XL]
| |||||
qu = kw ook in Ndl. woorde: quam, queecken; s = s of z, sodat die verskil tussen Nederlands s en z in die spelling meestal nie aangedui word nie; gh vir g; cq, ck vir k is baie gewoon: dagh, Liesbeecq, Riebeeck; x, cx = ks: stux, bax, sulcx, dagelycx; f aan die end van 'n woord of lettergreep word meestal dubbel geskryf: aff, heefft, hooffd; enklitiese t (uit 't) en proklitiese s (uit des) word dikwels aan die vorige, resp. die volgende woord vasgeskrywe: int, hoet, begont (begond, begondt), uyt, dat vir in 't, hoe 't, begon 't, uyt 't, dat 't; smorgens, savonds, sanderdaeghs; assimilasie van slot- en beginkonsonante van opeenvolgende woorde word dikwels in die skrif aangedui: metten, uytter vii met den, uyt der; er en der word dikwels aan die voorgaande woord gekoppel: isser = is er; heeffter = heefft er; daerder (8 man van gestorven waren).
Die taal van die Daghregister is 'n te groot onderwerp om hier, al was dit maar skematies, te behandel. Kloeke (Herkomst en Groei van het Afrikaans) noem dit ‘een enigszins hachelijke onderneming, daar we niet weten in hoeverre copiïstenhanden wijzigingen in de tekst van het Dagverhaal kunnen hebben aangebracht. De uitgave van Brill geeft daaromtrent generlei uitsluitsel en is bovendien ontsierd door talloze drukfouten.... Van Riebeeck's taal verdient een afzonderlijke monografie, maar een gemakkelijke taak is dat niet’ (blss. 292, 293). Behalwe na die waardevolle skets van Van Riebeeck se taal wat Kloeke aldaar gee, kan ek nog verwys na 'n tesis van Mej. S.F. du Plessis, geskryf vir die Universiteit van Pretoria en 'n doktorale proefskrif van Dr. J.A. Verhage vir die Universiteit van Kaapstad. Die eerste is 'n algemeen taalkundige, die tweede 'n sintakties-stilistiese studie van die Daghregister, albei ongelukkig (nog) ongepubliseer. Een van die hoofdoeleindes van hierdie uitgawe is om 'n so betroubare moontlike teks van die Daghregister te gee. Maar dit is en bly 'n afskrif waarin die hand van die verskillende kopiïste maar al te dikwels kennelik is. Van Riebeeck se opleiding as assistent op die kantore van die Oos-Indiese Kompanjie het hom tuis gemaak in die kanselarytaal van die 17de eeu; omslagtig, dikwels hoogdrawend, vol stereotiepe beleefdheids- en handelscliché's en deurspek met woorde van vreemde afkoms: Latyn, Frans, Portugees, Spaans en verskillende Oosterse tale. Hoewel sy styl dus weinig persoonlik was, kry die leser van sy volumineuse stukke - so iemand dan het Van Riebeeck gely aan cacoethes scribendi - tog 'n gevoel vir wat sy styl onderskei van dié van honderde 17de-eeuse dagboekskrywers. Dr. Verhage se dissertasie gee 'n ontleding van hierdie stilistiese kenmerke. Ondanks al die stereotiepe en clichéagtige van die kanselarystyl kry ons voort- | |||||
[pagina XLI]
| |||||
durend blyke van taalonvastheid en -onsekerheid wat histories van groot belang is as voorstadium van die latere Afrikaanse defleksie. In die eerste plek is daar die verwarring op die gebied van die woordgeslag. Van Riebeeck skryf de crael naas het crael, de strant naas het strant, de feest, de middel, de oogenblick, het oorlogh, de ende, selfs dese volcq. Hierdie onvastheid - wat in die spreektaal nog groter sal gewees het - dateer al uit Middelnederlands en het 'n taalpous soos Huydecoper vereis om daar, altans in die ‘korrekte’ skryftaal, voorlopig paal en perk aan te stel (vgl. Bosman: Oor die Ontstaan van Afrikaans, 2de uitgawe, p. 114). Die veelvuldige gebruik van den in die 1ste naamval: is den Commandeur uytgegaen, ens., wys dat die latere afbakening van die de- en den-gebiede by Van Riebeeck nog nie gegeld het nie. Die differensiasie van die en de as aanwysende voornaamwoord en lidwoord is by Van Riebeeck self al grotendeels voltooi - hoewel ook by hom twyfelagtige gevalle voorkom - maar by sommige van sy tydgenote, veral onder die seelui, soos Van Riebeeck se helper, skipper Turver, was dit glad nie die geval nie. Soos bekend, bestaan die de-vorm vandag nie in Afrikaans nie. (Vgl. Bosman: Afrikaans en Maleis-Portugees, bls. 97 en Oor die Ontstaan van Afrikaans, blss. 92, 105, 109-110.) Ek sou nog hier kon wys op die onvaste verbuiging van die byvoeglike naamwoord en die besitlike voornaamwoord, die gebrekkige vormkonkordansie (bv. meervoudige subjeks- by enkelvoudige predikaatsvorm) waarop in die voetnote by die teks so af en toe die aandag gevestig word. In die aangehaalde werke en by Kloeke (o.a. blss. 313, 314) is hierdie ‘afbrokkeling van de flexie’ en ‘grenzenloze slordigheid’ (deur De Vooys by Bredero gesinjaleer) reeds uitvoeriger bespreek as ek dit hier kan doen. 'n Afbrokkelingsverskynsel waarop, sover ek weet, nog nie die aandag gevestig is nie, geld die vorme vir die genitiefsverhouding by Van Riebeeck. Naas die ‘korrekte’ vorme soos des chirurgyns vrou (24/7/1652, 21/5/1654), met der metselaars (meervoud) hulpe (17/9/1657), kry ons omskrywinge soos den capiteyn syn vader (28/1/1654), de hoenders hare nesten (9/12/1652), de Hottentoos haer leger (22/8/1654) ens. Maar dat die normale verboë genitief aan die afbrokkel was, sien ons aan vorme soos den sieckentroosters vrou (12/3/1652, 6/6/1652), den opperchirurgijns huysvrouw (22/7/1652), den Engelsmans groote boot (26/12/1655), 't forts wallen, 't forts grachtjen (18/10/1657) ens., waar die snw. nog normaal verbuig word, maar die lidw. nie; den kan hier beskou word as 'n ‘neutrale’ vorm. Wanneer Van Riebeeck skryf: de schipper ende stuyrluyden.... daghregisters (27/1/1656), de vrye luyden huysen (26/9/1657), dan is daar van 'n genitiefvorm niks meer oor nie en sou ons kan praat van ‘onverboë’ genitiewe. Alleen die woordorde toon aan dat ons hier met genitiefkonstruksies te doen het. Met die oog op al hierdie defleksieverskynsels in die stadhuistaal van die Hol- | |||||
[pagina XLII]
| |||||
lander Van Riebeeck, kan ons met Kloeke (bls. 313) vra: ‘Wanneer dergelijke chaotische ontwikkelingen reeds aan het groene hout in Holland waren waar te nemen, hoe moest het dan met het Hollands in Afrika gaan?’ Met alle beskeidenheid kan verklaar word dat die teks in hierdie uitgawe betroubaarder is as dié van Brill. Mag dit aanleiding wees vir taalondersoekers om verder te gaan op die weg wat Prof. Kloeke aangedui het.
Die volgende paragrawe oor die styl van die Daghregister is van die hand van bogenoemde Dr. Verhage, aan wie hierby daarvoor dank betuig word. | |||||
‘I. Die amptelike karakter van die DaghregisterDie Daghregister is 'n tipiese voorbeeld van die 17de-eeuse amptelike styl. Dit blyk o.a. uit die baie basterwoorde, die rykdom aan swaarwigtige sinsverbande, die talryke gevalle van ongemotiveerde inversie, die groot aantal partisipiale konstruksies, die menigte konjunktiewe en die konsekwente gebruik van die eerste pers. mv. en die derde pers. enkelv. i.p.v. die eerste pers. enkelv. Kenmerkend vir die skrywer se neiging tot oordrywing en sy hang na die deftige is die hoë frekwensie van hierdie amptelike vorme en, in die geval van sinsverbande en partisipiale konstruksies, hulle verswaring. Die offisiële taal word gekenmerk deur sy uitvoerigheid. Die Daghregister is hierop geen uitsondering nie; inteendeel, dit gaan in breedvoerigheid soortgelyke geskrifte van die tyd nog te bowe. Alles is stof vir die verslaggewer se pen waarmee hy “geen de minste debvoiren” gespaar het nie. Lengte van stof gaan gepaard met lengte van sin. Veral in die gedeeltes handelende oor die neem van besluite, die tref van maatreëls en die uitvoer van instruksies, word baie plek ingeruim vir die “hoe” en die “waarom”. Hierdie nadere toeligtings, wat blykbaar ook moet dien om moontlike besware te ondervang, word, waar doenlik, in- of aangelas. Maar hierdeur skiet die skrywer sy doel verby, want sy poging om die bysake direk in die hoofsaak te betrek, lei tot lang en moeisame sinne wat dikwels nog verder oorlaai word deur kondisionele of beperkende bepalings en bysinne, 'n uitvloeisel van tipiese amptelike omsigtigheid. Hierdie oormatige strewe na duidelikheid en versigtigheid, en die behoefte aan uitdieping maak die styl van die Daghregister nog breër en meer analities as die van die deursnee-amptenaar van die tyd. Dit skyn asof die skrywer behae skep in die “formeer” van lang sinne. So vleg hy graag die datum en weerberig in die sin in, waardeur soms baie geforseerde verbande ontstaan. 'n Ander geliefde procédé is die opeenstapeling van kousale en konsessiewe sinne, gevolg deur die hervattende soo, wat soms teruggaan op 'n inleiding van meer as een bladsy. Al die bogenoemde verskynsels werk saam om die Daghregister 'n sterk amptelike karakter te gee. Sy styl is in baie opsigte 'n reliëfkaart van die kanselarystyl: | |||||
[pagina XLIII]
| |||||
sy eienskappe (gebreke) is nie slegs sigbaar nie, hulle staan uit as verhogings. Die oorsaak hiervoor moet ons, behalwe in 'n mate van ongeskooldheid, hoofsaaklik soek in die skrywer se te grote stilistiese ambisie. In 'n poging om sy sinne breed aan te voor, veel ineens te wil sê, maak hy sy sinsbou te los en onoorsigtelik. Hy verwater sy styl omdat hy enersyds te veel “sustantie” in een sin wil verwerk en andersyds die vermoë mis om met hierdie stof 'n sin van hegte, eweredige struktuur op te bou; m.a.w. sy sintaktiese bekwaamheid skiet te kort by sy stilistiese ambisie. | |||||
2. Strewe na beknoptheid'n Ander kenmerk van die Daghregister is 'n strewe na beknoptheid van vorm. Hierdie strewe is nie in teenspraak met die reeds vermelde lus tot uitvoerigheid nie, maar eerder 'n uitvloeisel daarvan. Die skrywer het soveel om mee te deel dat hy herhaaldelik sy toevlug neem tot verkorte of beknopte vorme. Tot op sekere hoogte is dit dus 'n haastigheidsverskynsel. Die strewe openbaar hom trouens nie soseer as kernagtigheid van uitdrukking, bondigheid van segging nie, dan wel as woordbesparing, d.w.s. die weglaat van logies-funksionele woorde soos die verbum finitum, die vanselfsprekende onderwerp, voegwoorde ens., in die gebruik van beknopte of gedronge vorme soos die vooropstaande attributiewe groep met participium of infinitief, en in 'n sug na sametrekking. Ook hier tree 'n neiging tot oordrywing aan die dag. Ons merk dit o.a. aan die baie gevalle van oorspanne sametrekking, die groot getal metonimiese deelwoorde en die verswyging van die subjek waar dit nie goed gemis kan word nie. | |||||
3. Sintaktiese afwykingeDie styl van die Daghregister is dikwels sleg versorg; dit toon tekens van haastigheid of slordigheid. Die outeur is 'n veelskrywer en 'n snelskrywer wat bowendien geneig is om sy sinne te ooreis. Verskeie van sy lang en ingewikkelde sinne verloop nie logies-korrek nie, ofskoon gevalle van anakolouthon vrywel beperk is tot partisipiale onderbrekings. Hy slaan sonder enige noodsaak oor van die aktief na die passief, veral na partisipiale bysinne. Meermale gebeur dit dat 'n inleidende partisipiale groep sy aansluiting mis, of dat in outonome groepe die participium praesentis dieselfde funksie verrig as die verbum finitum. In die lang uitgerekte sinne kom die relatiewe bysin of partisipiale groep dikwels ver van die antesedent te staan, waardeur die verband uiters los word. As gevolg van die frekwente en ongemotiveerde skeiding van die verbale dele in die bysin ontstaan lomp sinne soos: “dat deselve hadden sien noch een schip seylen”. Verder bevat die Daghregister behalwe die gewone, min of meer normale, gevalle van prolepsis heelwat voorbeelde van die volgende soort konstruksie: “buyen - die sommige (veele) soo fel waren als orkanen -”, wat blykbaar 'n analogiese uitbreiding is van die gangbare vorm met alle. | |||||
[pagina XLIV]
| |||||
4. VerhaaltrantOfskoon die skrywer nêrens aan die dwang van die stadhuistaal ontkom nie en sy oorbelaste sinne en te kort sintaktiese vorme die leesbaarheid van sy werk nie ten goede kom nie, wil dit nog geensins sê dat die styl duf en dor is nie. Omdat hy meeleef met sy onderwerp, uiting gee aan sy wisselende stemminge en dus meer is as net 'n nugtere verslaggewer, is sy styl minder objektief as die van die gewone offisiële beskeide. Ook ontlok sy veelsydige belangstelling en sy lus tot uitvoerigheid die skrywer menige passasie waarin hy ons boei deur onderhoudend te vertel oor allerlei wetenswaardighede, interessante gebeurtenisse en komiese insidente. Dan verras hy die leser meermale met 'n pakkende beskrywing, 'n rake tekening, 'n snedige opmerking of pittige gesegde en gee hy blyke van 'n gevoel vir humor. In sulke gedeeltes is hy natuurliker en spontaner, en wen sy verhaal, mede deur die gebruik van 'n tipiese volkswoord of uitdrukking, aan frisheid en lewendigheid.’ | |||||
f. Geskiedkundige AantekeningeDie Daghregister van Van Riebeeck is 'n onoortroffe bron van allerlei wetenswaardighede in verband met die land en die klimaat, die plante- en die dierelewe en die inboorlinge van Suid-Afrika in die 17de eeu. Alle vroeëre gegewens was afkomstig van mense wat hoogstens enige weke aan die onbekende en onherbergsame Kaap vertoef het - met uitsondering van die skipbreukelinge van die Haerlem wat sowat 'n jaar in hulle sandfort, die ‘vasticheyt Zandenborgh’, deurgebring het. Nou vir die eerste maal kon die wilde gerugte oor die ‘mensgeneeters’ en die ryk binnelandse vorste van Monomotapa en Butua, die verhale oor leeus, olifante, renosters, seekoeie, die verslae oor kuste, eilande, baaie, strome en winde ondersoek en bevestig of ontken word. Vir ondersoekers op allerlei gebied, maar natuurlik veral vir die Suid-Afrikaanse historikus, bevat die Daghregister 'n groot massa kosbare gegewens wat nou vir 'n groter publiek as tevore toeganklik gemaak word, veral ook deur die publikasie van 'n volledige Engelse vertaling. (Tevore was alleen in Leibbrandt se Precis of the Archives of the Cape of Good Hope, Riebeeck's Journal, die dagverhaal in uitvoerige vertaalde uittreksels vir Engelse lesers beskikbaar.) Vir die redaksie van hierdie vertaling van die Daghregister is Dr. H.B. Thom, professor in die geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch, verantwoordelik. Van sy geskiedkundige aantekeninge word ook in die Nederlands-Afrikaanse dele gebruik gemaak. Na hierdie aantekeninge word in die teks verwys deur middel van superieure letters, terwyl die superieure syfers in die teks slaan op die voetnote.
D.B. Bosman Den Haag, 1951. |
|