Inleiding
Toe ek Willem Oltmans in 1987 ontmoet het, was ek in my middel-twintigerjare en 'n jong verslaggewer met slegs 'n jaar of twee se ondervinding in die koerantjoernalistiek agter my naam. Vandag, met die wysheid en ervaring van dertig jaar later, het ek nuwe waardering vir wat ek by Oltmans geleer het en besef ek opnuut hoe ons verbintenis my lewe verryk het.
Ons kennismaking in Pretoria aan 'n aandete-tafel gedek vir twaalf gaste, staan my steeds helder voor die gees. Oltmans se flinke brein, vlymskerp humorsin en gewoonte om met aandag te luister na sy gespreksgenote (ook dié van ons wat streng gesproke nog nat agter die ore was), het my daardie aand opgeval. 'n Verbintenis is gebore wat ondanks die ouderdomsverskil en die vele kronkelpaaie wat ons lewens geloop het, tot met sy dood standgehou het.
As kind van apartheid en produk van die Afrikaanse koerantwêreld - koerante wat in my vormingsjare die apartheidstelsel in stand help hou het - had ek nie destyds die insig om die gehalte en meriete van sy werk as joernalis na waarde te skat nie. Tydens vele gesellige etes en ure se gesprekke in sy woonstel in 'n pragtige Art Deco-gebou in Hillbrow, het my waardering vir hom as mens oor die jare gegroei. Die Oltmans wat ek leer ken het, was iemand met 'n onverbiddelike sin vir regverdigheid, hy was greineerlik, kompromisloos en 'n opregte en lojale vriend. Soos ek in ‘Tell me who your friends are...’ (Oltmans, Willem, Papieren Tijger, 2002) geskryf het: ‘As ek net een sin gegun word om hom te beskrijf, zal dit wees: Willem Oltmans is 'n man van sy woord.’
Desnieteenstaande sy wye internasionale ondervinding en eerste-handse kennis van die land, het Oltmans ná jare se verblyf in Hillbrow steeds niks in Nederland oor die politieke gebeure in Suid-Afrika gepubliseer nie. Hierdie besluit het gestaan in skerp teengestelling met vele buitelandse joernaliste wat hulle dikwels ná 'n kort besoek met groot gesag oor die situasie uitgelaat het. ‘Ek begryp die kompleksiteit van die land nog nie ten volle nie,’ het hy oor sy keuse teenoor my opgemerk. As joernalis het ek 'n waardevolle les geleer: respek vir jou onderwerp is nooit onvanpas nie.