kou water en die asyn, Sophie.
Verraad, Ryk? (Lag.) Wat vir 'n grap is dit? Ek verstaan nie wat jy bedoel nie.
ryk (druk Marie minagtend opsy).
Moet jou nie inmeng nie. Ek meen net wat ek sê. Ek het verraad gepleeg. Deur 'n swart spioen het ek die vyand vertel waar om jou te vind. Hulle mag enige oomblik hier wees. Ek sal ongewapen saam met jou gaan tot waar jy my kan verhoor en veroordeel.
Ag Rykie. Rykie wat praat jy?
ryk (druk haar minagtend opsy).
Moet jou nie inmeng nie! Jy het al genoeg ellende veroorsaak. (Almal staan 'n tyd lank verbysterd.)
misry (kom nader voor De Ridder).
Ek verstaan nie, luitenant. Sê bietjie weer. Is dit alles 'n grap? (Kyk hom stip aan, met sy gesig teenaan dié van De Ridder.) Nee, ek kan sien dit is geen grap nie.
De Ridder maak 'n beweging om hom met veragting opsy te skuiwe.
Mias gryp hom aan die arm en druk tussen hom en De Lannoy in.
Ryk de Ridder, meen jy dat dit jy is wat die Rooikoppe van die generaal vertel het? Is dit jy wat hulle gestuur het om hom dood te maak? Meen jy dit, luitenant? (Pouse.) Het jy dit gedoen, De Ridder?
Ryk laat sy kop op sy bors sak en antwoord niks.
de lannoy (sak op stoel neer).
Ryk, Ryk! Jy! Jy! Dan is dit klaar met alles. Ek het gedroom dat daar iets in die Afrikanersiel is wat hulle nie kan oorwin nie. Maar nou sien ek dat dit slegs 'n droom was. Tante, nou gooi ek tou op! Tussen my en Ryk was nie vertroue alleen nie. Hy was vlees van my vlees, been van my been.
mias (word skielik waansinnig woedend. Hy gryp rewolwer van die kaggel).
Wag, generaal. Ek sal hom skiet! (Haal rewolwer oor.) Ryk de Ridder, is jy klaar? Staan regop, luitenant. Staan julle vroumense opsy! (Wuif hulle na een kant. Sophie gee histeriese gil. Hy kom nader met rewolwer aangelê.)
de lannoy (spring vorentoe. Gryp sy hand en dwing rewolwer in die lug).
Misry, ek verbied jou! Keer hom, help my; keer hom.
Marie en Sophie klou ook aan Misry. Hy dwing vorentoe met rewolwer bo sy kop deur die generaal so hoog gehou. Hy maak vreeslike geluide en trek woedend gesig.
Gee pad! Los my! Los my! Almal uit my pad! Jou hond! Jou hond! Ek sweer voor God. Gee pad! druk die deur toe! Ek moet hom skiet; ek moet hom skiet. Hy durf nie lewe nie!
Ryk staan al die tyd met kop op bors - neem geen notisie van lawaai nie. De Lannoy gryp hom om die lyf en pak die rewolwer met een hand. Sophie en Marie gryp hom ook met uitgestrekte arms. Almal praat en roep tegelyk terwyl Mias worstel om los te kom en die rewolwer bo sy kop uit die hand van generaal De Lannoy te ruk.