Versamelde werke(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 1042] [p. 1042] Piet van Snaar Oom Koos het lankal ‘nee’ gesê - ‘Ons dogter moet 'n ryk man hê. Dis alles uitgemaak en klaar: en jy het niks, klein Piet van Snaar.’ Die ou vrou kon nie weer bedaar. ‘Waar is jou vee, neef Piet van Snaar? Geen grond of goed kan jy my toon, en Annie is 'n huis gewoon.’ ‘Wat praat ons nog? Die neef die dwaal, en Annie het die liefde-kwaal; net môre moet sy pille kry, en Nefie moet maar huis toe ry.’ Die oues is nou kooi toe vort, en Annie laat die trane stort; verleë staan die vryer daar. ‘Dis alles twak!’ - sê Piet van Snaar. ‘Jou pa die snork dat dit so dreun, tant Sannie gee hom goeie steun. Al lyk die wêreld ook hoe naar, daar's altyd raad,’ sê Piet van Snaar. ‘Wat sê jy nou as ons laat spat? Die nag is lank, my perd is glad. Sy soektog sal jou pa laat vaar eer hy die spoor kry van Van Snaar. Jou pa se spaaider is gereed, sy skimmel staan ook daar te vreet. My perd trek hot en syne haar, en môre trou ons’ - sê Van Snaar. Hy soen haar drie maal op die mond; hy vat haar om die lyfie rond. Sy twyfel net vir een minuut, toe laat sy alles oor aan Piet. [pagina 1043] [p. 1043] En sonder moeite, heel gedwee, vertrek die perde met die twee. Slap hou Van Snaar die teuels vas; die donker kom hom goed te pas. Hy ken die pad nie alte goed, en langs hom sit sy bruidjie soet. Hoe kon hy oplet, vra ek jou, as hy haar altyd vas moet hou? Sy hart die klop, sy kop die maal, die liefde is 'n snaakse kwaal! En nouliks het die maan gedaal of Piet is heeltemal verdwaal. Deur slote, en oor rotse heen, hy steur hom aan geen stok of steen. Want voor hom roep die vreugde mos, en agter is die duiwel los. Geen uur het hulle voortgevaar, toe sak die moed van Piet van Snaar. ‘Dit lyk vir my ons word gevang - die ore van die hot-perd hang.’ Die woord was uit sy mond net pas toe stuit die twee ou perde vas. ‘Dit is 'n huis, sowaar; ons trou nog môre!’ - sê Van Snaar. Soos blits is hy die spaaider uit, hy klop aan venster en aan ruit. ‘Die boer slaap soos 'n meulenaar, maar hy moet uitkom’ - sê Van Snaar. En skielik staan die huisbaas daar tot groot verbasing van Van Snaar; hy voel sy hare regop rys, want voor hom staan oom Koos, konsuis! [pagina 1044] [p. 1044] ‘Ag, Annie, ons het teruggekom; die donker maak die reguit krom. Dis julle huis! Die gort is gaar,’ - so suutjies fluister Piet van Snaar. Voor hy kon vra oor plaas of pad, toe het die ou hom beetgevat. Piet soebat, maar dit lyk maar naar met al die planne van Van Snaar. Die nooi moes afklim, teen haar sin, en al haar trane help maar min; die ou vrou was ook gou-gou daar - en huis toe treurig ry Van Snaar. Maar op die bult toe klim hy af. Sy moed die rys weer uit die graf. ‘Al keer die oues hot en haar, ek kry haar darem,’ sê Van Snaar. Vorige Volgende