Versamelde werke(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Wanneer Dit Reën op Rietfontein Wanneer dit reën op Rietfontein en deur die stof 'n straal van groen verskyn, wanneer die wolke, swart en swaar belaai, in voue oor die berge pak en swaai, dan sit oom Gysbert op die stoep alleen; hy asem sag die geur gemeng van stof en reën en as jy net sy kalm gelaat bespeur, sou jy nooit dink iets wonderliks gebeur - dat daar 'n jaar van knagend' angs verdwyn, wanneer dit reën op Rietfontein. Van agter uit die groot kombuis kom daar aanhoudend die gesuis van kole op die vuurherd aangeblaas, van pot en pan die klinkende geraas - dis net so seker as die boek, tant Malie bak nou pannekoek. Op toontjies dring die kleintjies om die deur en watertand betrag elkeen die geur, wat walm deur sleutelgat en skeur - ja, almal weet die werskaf is nie blote skyn, wanneer dit reën op Rietfontein. Wanneer dit reën op Rietfontein, dan skielik op die werf verskyn ou Sammie met sy bondels groot en klein; 'n gloed van rein liefdadigheid bestraal die sinne van sy vrolike verhaal: - ‘Wie praat van geld; wie droom van hael of roes? Niks sal ek vra - so waar, my Nooi - tot ná die oes. [pagina 1041] [p. 1041] Ek sweer, ou Nooi, op elke skoen verloor ek geld! - maar wat kan doen?’ Die meisies om hom dig vergaar, betas verlangend al die skone waar, geduldig word elk stuk ontvou, van lowergroen tot baftablou; en krale skoner as die môredou versier elk hals van sag satyn, wanneer dit reën op Rietfontein. En onder dreigend' hondgeblaf, klim Cohen by die voordeur af; so vriend'lik was hy nooit in jare; hy lag en groet met groot gebare. So vrolik is hy nou, jy kan jou lig verbeel hy het net aangekom om skatte uit te deel. ‘Wie praat van geld of skulde-eis, ek vra maar net die klein bewys; ons hoef nie te bepaal die dag, tot ná die Nagmaal sal ek wag!’ En almal koop en praat en lag - 'n roes van vreugde gaan oor groot en klein wanneer dit reën op Rietfontein. Vorige Volgende