Versamelde werke(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 1026] [p. 1026] Don Quixote Na A. von Chamisso Nog 'n avontuur wat my roem beloof! Sien jy al dié reuse, klaar om weer te roof? Toringhoog, misgeskape; as jy vinnig kyk, is dit of die rakkers net soos meules lyk! Met verlof, heer Ridder, kyk hulle stip maar aan. Dit is blote meules, wat daar draaiend staan. Sien jy, arme domkop, gapend waar jy staan, al die ongediertes vas vir meules aan? Oogverblindery mag 'n Kneg bedrieg, maar 'n edel Ridder kan g'n Reus belieg Met verlof, heer Ridder, glo my dit is waar, net opregte meules op die bultjie daar! Beef, jy, vette lafaard? Dit is klaar en hel, stryd met sulke skepsels is net kinderspel! Een teen almal - daag ek, vol van riddermoed! Netnou drink die aarde al jou ketterbloed! [pagina 1027] [p. 1027] Ag, my liewe Ridder, glo my tog dié keer! Meules is dit waarlik; ek kan dit besweer! ‘Soetste Dulcinea! Bron van al my hoop!’ - En die brawe ridder druk sy ros op loop; storm af op die eerste met die lans gemik - en oorrompel stort hy in die stof verstik. Leef jy, edele Ridder? Ek het jou gesê - net so seker Meules as jy nou daar lê! Vra jy my miskien - - soos baie mense meer - was dit werklik reuse soos die Baas beweer? Of net blote Meules glo ek met die Kneg? Gee ek onbedenklik onse Ridder reg! Met die heer ooreenstem, is die kloekste kreet. Wat van sulke dinge kan 'n Kneg tog weet? Vorige Volgende